Ons is die hartklop

Argieffoto (Foto: Chris Hilbert/Pixabay)

Deur Johan Conrad Schoeman

Suid-Afrika beleef tans reuse-uitdagings. Die staat se spaarvarkie is leeg, Eskom stotter tussen beurtkrag en bankrotskap, misdaad vier hoogty, werkloosheid is ons enigste Guinness Book of Records-inskrywing en die ekonomiese groeikoers, wel, hy groei, maar in die verkeerde koers. Minderheidsgroepe, veral wittes en Afrikaanssprekendes, word uitgesonder vir ras- en taaldiskriminasie en is oënskynlik net goed om te swoeg onder die juk van ál meer erfsondes. Ons, die inwoners van hierdie pragtige sonskynland, deel ieder en elk in hierdie uitdagings.

Die ANC gaan ons egter nie red nie. Inteendeel, dis juis hierdie kripvretende korruptes wat die land tot vandag se wanhoop bevry het. Die faksie-verlamde ANC stel meer belang in populistiese praatjies en grootse sosialistiese eksperimente as om die land uit ʼn selfopgelegde wedloop na selfvernietiging te red. Hulle antwoord op ons uitdagings is net nóg ʼn bietjie diskriminasie, net nóg ʼn knippie kommunisme. Intussen is die staatskas leeg gesteel en word daar met begerige oë en sweterige kloue gekyk en gegryp na grond, mediese en pensioenfondse.

Daar word dadels gesien van vervolging vir Prasa, VBS, Estina en ʼn legio ander rooftogte. Dit geld egter nie in gevalle van bleek sondaars soos Sparrow en Catzavelos nie. Onskuldige wittes word aan moord skuldig bevind, maar ʼn swart rassis kan sonder gevolge in die openbaar losbrand met ʼn AK47. Tesame hiermee het afleggings toegeneem en verhogings opgedroog. Skoolgelde, mediese koste, kragtariewe en kospryse laat ons steier onder die las van dunner beursies en dalende lewenstandaarde.

Daagliks sien ons hierdie rampspoed afspeel op koerantvoorblaaie. Onwillekeurig word daar ingeskakel op Carte Blanche en kykNET Nuus vir nog ʼn oordosis kykgenot. Moord, roof, rassistiese rampokkers met rooi barette en die Proteas se jongste rugbytelling het stapelvoedsel geword. Terselfdertyd deel selfingenome politieke kommentators en ekonomiese doemprofete hul swartgallige wyshede met eentonige reëlmaat op televisie en radio. Vir ʼn bietjie ligter vermaak vind ons ruimskoots ontvlugting op Facebook en Twitter. Nóg ʼn plaasaanval, nóg skel, skinder en skelmstreke. Ons rol pens en pootjies rond in die modder van skade en skande.

Uitgeput en wanhopig gaan lê ons saans en dink oor al die verval en nóg ʼn kennis wat besig is om tasse te pak. Dink en droom ons oor emigreer, semigreer of finansieel distansieer – al weet ons dis ons nie beskore nie. Ons sien ons kinders se gesiggies en wonder of ons eendag alleen oud gaan word hier in Afrika. Tussen trane en gebede oorval die slaap ons ná nog ʼn dag van worstel en swaarmoedigheid.

Die nuwe dag bring egter nuwe hoop, vir dié wat dit wil raaksien. In die verkeer op pad werk toe, besef ons dat ons nie alleen is nie. Voor ons, agter ons en langs ons is duisende ander soos ons. Ons ry in motors, busse en treine – werk toe. Van Slaapstad tot Goudstad en elke slaggatstad tussenin is mense van alle kleure en kulture besig om te beweeg. Ondanks al die swartgalligheid is gewone Suid-Afrikaners ywerig besig om te wikkel en te woeker vir ʼn beter môre – vir hulself en vir hul kinders. Miljoene landgenote werk dag ná dag om hulself en die land waarvan hulle onlosmaaklik deel is uit te bou.

By die ingang van die inkopiesentrum kyk ons nou en dan op, vas in die stroewe gesig van ʼn belangelose veiligheidswag. Amper per ongeluk groet ons beleefd … en die groet word beantwoord met ʼn glimlag en groet so gulhartig soos ʼn boeremakietie. Ook die kassier en rakpakker, restaurantkelner en winkelassistent – almal honger vir erkenning en almal vrygewig met hulle vriendelikheid wanneer hulle wel erkenning ontvang. Ons is saam in hierdie verknorsing en dra saam swaar aan die uitdagings van die land. Moedeloosheid en ergerlikheid is ons gemene deler; dít en die feit dat ons saam in hierdie ding is en saam daardeur gaan moet kom.

Gaan dit regtig so swaar? As die nuus stil word en sosiale media vervaag, is die lewe dan werklik so droewig en ondraaglik? Is ons nie soms besig om selfvervullend donker wolke in donderstorms te omskep nie? Baie van ons se rygoed staan steeds blink voor landgoedhuise. Naweke word gebraai, gekuier, gelag. Ons kinders is in goeie skole en die huishulp was getrou ons Old Khaki-hemde en gebruikte gholfsokkies. Haarafsprake ding mee met pottebakkerklasse vir ons tyd. Beesstert word opgedis in oranje Le Creuset. Kinders speel op slimfone en al lê Steve se skottel in die motorhuis, volg ons die Bokke oor veselinternet. Steeds is daar die alewige verlammende oortuiging dat Suid-Afrika nie ʼn toekoms bied nie.

Suid-Afrika beleef reuse-uitdagings … maar slagofferskap, eiegeregtigheid en swartgalligheid gaan dit nie beter maak nie. Ja, dis nodig om realisties te wees en te besef dat sake verder kan agteruitgaan. Dis nodig om voorbereid te wees op al die werklike en selfs gewaande onheile wat om elke hoek en draai mag skuil. Natuurlik moet daar kennis geneem word van ekonomiese en politieke werklikhede. Tikkende duime en tonge wat kerm, het egter nie die krag om drome in werklikhede te omskep nie. Daarvoor moet daar gewerk word. Mismoedigheid en die futiele soeke na ontsnaproetes gaan nie ons en ons kinders se toekoms verseker nie. Dit kan net met deursettingsvermoë en sweet verwesenlik word.

Dis tyd dat ons vrede maak met ons tyd, plek en rol. Vergeet van 1994, hoe dinge was en ʼn regering wat ons ter wille was. Vergeet van Trump, Boere-boksombendes, Cyril se wederkoms en Mauritius se strande. Dis nie genoeg om die werklikheid van ons situasie raak te sien nie; hierdie werklikheid moet aanvaar word. Aanvaarding bring berusting en daarmee saam nuwe krag en motivering om die leefwêreld waarin ons ons bevind na ons wil te omvorm. Elke dag bring nuwe geleenthede vir dié wat deur die donker wolke wil sien.

Suid-Afrika gaan nie verdwyn nie en hier gaan ons leef en eendag doodgaan. Arm of ryk, wit of swart en kwaad of blymoedig. Dis wat ons self daarvan maak. Almal van ons, want ons is saam in hierdie ding. Óns is die hartklop en óns bou die toekoms.

  • Johan Conrad Schoeman is ‘n sakeman van die Suidkaap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Deon ·

Die mense met blink motors voor die landgoedhuise is ook maar vrot van die skuld. Soos my oorle oom gesê het “as ek sink sal ek blink sink”.

Jimmy ·

Die kinders sal eendag vir hulself besluit of hulle wil bly of gly. Ek dink hulle sal wel gly, sonder emosie en skuldgevoel. As ouers moet ons help om seker te maak hulle het goeie opleiding. Die ouer garde sal daarna die beste van die saak moet maak onder die warm Afrika son, totdat die laaste een asem uitblaas.

Kobus ·

Dis onnodig om emosioneel te raak. Ons is almal op geleende tyd en moet doen wat die beste is vir ons families. Dis al wat belangrik is. Irrasionele besluite gegrond op sentiment gaan ons nerens bring nie.

lewies ·

Die ooglopende, bewysbare en groeiende wanbestuur van verskillende entiteite in Suid-Afrika behoort as klagstaat teen die ANC regering gebruik word. Weet nie of daar so gevallestudie iewers in die wereld bestaan waar daar reggespreek is ten gunste van die belastingbetalers nie. In ‘n demokrasie is die stembus seker maar die enigste geweldlose wyse waarop hierdie saak besleg kan word. Maar ek is bevrees as ons moet wag dat die wiel van die demokrasie hier moet draai gaan daar nie veel van SA oor wees nie. Ek twyfel of daar enige regsbank in Suid-Afrika bestaan wat by magte is om ten gunste van belastingbestalers uitspraak te geen. Om die Westerse howe te betrek gaan nutteloos wees, ‘n Eie strategie om die koppe van die meerderheid te swaai sonder om mee te doen aan die vernietiging van Suid-Afrika gaan Salomo se wysheid verg.

lewies ·

Die ooglopende, bewysbare en groeiende wanbestuur van verskillende entiteite in Suid-Afrika behoort as klagstaat teen die ANC regering gebruik te word. Weet nie of daar so gevallestudie iewers in die wereld bestaan waar daar reggespreek is ten gunste van die belastingbetalers nie. In ‘n demokrasie is die stembus seker maar die enigste geweldlose wyse waarop hierdie saak besleg kan word. Maar ek is bevrees as ons moet wag dat die wiel van die demokrasie hier moet draai gaan daar nie veel van SA oor wees nie. Ek twyfel of daar enige regsbank in Suid-Afrika bestaan wat by magte is om ten gunste van belastingbestalers uitspraak te geen. Om die Westerse howe te betrek gaan nutteloos wees, ‘n doelgerigte strategie om die koppe van die meerderheid te swaai sonder om mee te doen aan die vernietiging van Suid-Afrika gaan Salomo se wysheid verg.

Venter ·

Dankie vir die ewewigtige perspektief! Ons moenie onsself moedeloos praat nie!

Vaaljapie ·

Ek beaam graag hierdie mening, doen wat jy kan daar waar jy is en bly glo en vertrou soos my vriend likkewaan sou se. Ek sit hier in Aus vir jare, almal het my vertel die verlange na jou land en mense sal verdwyn met tyd, wel dit het nie, en of my nasate ooit Afrikaans sal bly weet ek ook nie, maar hulle het beter geleenthede nou. En miskien kan hulle eendag teruggaan en help opbou na die groot afbreek. In ons menslike vermoe is daar geen enkele antwoord wat die oplossing vir almal en alles is nie, slegs die wete, hierdie lewe gaan nie oor jou en my nie, dit gaan oor die God van hemel en aarde en jou vermoe om sy wil te soek. Lewe dag vir dag, gee jou beste en vertrou.

Expat ·

As jy kan emigreer moenie die kans verspeel nie. Dis tragies hoeveel mense die ouderdom afsny punt mis omdat hulle te veel dink en niks doen nie. Doen dit net, ja dis moeilik en duur en daar is nog heelwat ander redes, maar die eind resultaat is soveel meer die moeite werd. Jy sal hierdie woorde eers regtig verstaan as jy lank genoeg uit is.

Jerry ·

Wanneer jy n volk wil wees vir jou God en jy stap die pad saam met jou God van liefde en voer sy opdrag uit om vrede te bewerkstellig met ander volkere en om in harmonie met mekaar te lewe, dan volg goedheid jou tot aan die einde van jou dae. Indien die volk en die se leiers, hierdie opdrag versaak, dan verlaat die volk hulle God van liefde en dan volg dit wat verkeerd gedoen is die volk en dan straf dit die volk vir geslagte lank totdat die volk weer terugkeer na hulle God van liefde! Wanneer die volk aanhou struikel en sukkel om terug te keer na die God van liefde, dan hoef dit vir jou en my nie daarvan te weerhou om as individue onsself onteenseglik los te maak van die volk en in ons persoonlike hoedanigheid terug te keer na ons God van liefde en sy opdragte aan ons, uit te voer! In eenvoudige Afrikaans beteken dit dat as daar nie meer salf te smeer is nie, red jouself en diegene wat te redde is!

Stephan de S ·

Ek dink dis n noodsaaklike en tydige perspektief. Dankie. Tog gaan my hart uit na die arm Afrikaners……. hul lewens het n afwaartse kurwe getref wat amper onherstelbaar is. n Groot persentasie vd deelnemers aan hd debatte is professionele mense, sakemense en boere……mense wat iets kan produseer uit die middele waaroor hul beskik……..hoe moelik die omgewing ookal is. Maar wat vd mense wat nie oor hd middele bv professionele opleiding, kapitaal,eiendom ens beskik nie. Vir hulle ……wat ook nie geredelik werk kan kry agv hul velkleur…..is dit nie maanskyn en rose nie. Dit boonop terwyl baie Afrikaners in die sakewêreld nie n snars omgee om hul volksgenote opsy te skuiwe twv swartbemagtiging nie. Ons kan nie debatte voer wat nie hd mense se lot insluit nie……in sommige streke het Afrikaners se voorspoed met n paar honderd persent geval……ek het die uitwerking daarvan met my eie oë gesien. Wie sal vir hd mense intree. Almal is bekommerd oor die groot inkomste-gaping in ons land. Min sien die geweldige inkomste-gaping raak tussen Afrikaners onderling nie……..dis nie polities-korrek om daaroor te praat nie.

John ·

… my hart gaan uit… maar my hand gaan uit na arm ‘verstes’. Hierdie is die tipiese ontkenningsmentaliteit van meeste rykes. Wag net totdat boetie self teèspoed ondervind dat hoor jy die gekerm… dat selfs die armste naaste se depressie na ‘n grappie lyk. Mens sien nie eintlik dankbaarheid teenoor die Vader nie… meer ‘n soort Job-se-meerwaardige-prekerige-vriende. Ons hoop die goeie weer hou daar in die Suidkaap.

Blom ·

Ek het ook al besef die ouens ini kaap het ‘n anders siening as ons hier in Johannesburg!! By dinge lyk anders hier pel.. Ons kan nie eers meer saans braai buite ons eie huise nie die blink motors en landgoedhuise is in ons drome.. Werk ook.. Geld ook.. Ons oorleef dag vir dag en betaal hoë somme vir 24 u veiligheidswagte en mpy’s.. Leef in tronke.. Dstv ook al in die verlede..meeste bure het hulle werk verloor.. Maar ons kyk op en vra die Here om ons te bewaar en beskerm vir nog ‘n dag.. Geniet dit in die Kaap!

Babs Brouwer ·

Dit is waar wat Jerrie en ook Vaaljapie sê dat diegene wat God nie meer in die prentjie wil hou nie, sal maar later uitvind dat Hy die hele wêreld steeds in Sy hand hou. Hy sal seën daar waar hy wil en straf waar Hy moet. ‘n Regering en die volk moet Hom aanroep en hulle sondes bely en Hom dien en Hy sal weer help…net soos met sy volk van ouds. S Afrika is in barensnood..hy kreun..

Erik ·

Dink dis ‘n baie goeie, geblansseerde artikel. Dit verwoord ook my hart. Ek weet daar is baie swaar, maar tog is ons nog baie bevoorreg. Meeste mense van my ouderdom, die met klein kinders, oorweeg emigrasie baie sterk. Ons oorweeg dit ook, maar genadiglik is ons goed geposisioneer in SA en leef eintlik baie gemaklik. Net bekommerd oor ons kinders se toekoms. Ek weet ek gaan terug hunker in ‘n ander land. Ek weet ook my kinders gaan meer geleenthede en ‘n goeie toekoms hê daar. Ek is egter nie seker of hulle so gelukkig gaan wees nie. Baie mense kom terug… Soms kom die kinders terug en die ouers bly alleen oorsee. Meeste bly wel. Makliker gesê as gedaan, maar posissioneer jouself reg en leef voluit. Die lewe is eintlik so kort! En bou eerder as afbreek. Daar is altyd meer mooi as lelik, meer positiewe elemente as negatiewe. Verder hou Suid-Afrika my naby aan die Here en is ek elke dag bewus van sy groot genade.

nabetragting ·

Dit gaan nie oor negatiwiteit , pessiemisme en swartgallgheid nie dis drie woorde wat in ‘n sekere mate sinoniem is en dieselfde emosie ontketen . In Psigometrie staan hierdie emosies bekend as meganismes wat ‘n individu ontwikkel as ‘n verdedigingsmeganisme om te coup, in tye van onsekerheid. Om te oorleef is die sterkste emosie wat ‘n mens het. In tye soos ons dit nou ervaar beweeg mense uit Suid-Afrika gemotiveer deur die oorlewingmeganisme wat ‘n sterk verband
het met die verdedigingsmeganisme. Die punt wat ek wil maak is dat dit ‘n sielkundige motiveerders is vir mense om SA te verlaat. In die Ou Testament het byna al die profete bv Amos: 3+4 ; Esegiel: (13) en Sagaria: (1) opdrag gehad om Israel oor die gees van “valse gerustheid” te waarsku, maar hulle het nie geluister nie en dit het een van die belangrikste redes geword vir hulle wegvoer in ballingskap. Hulle het die strategie van Satan onderskat wat voortdurend verander het. Van ‘n brullende leeu na die koer van ‘n duif en die praat soos ‘n lam. Die oenskynlike voorspoed wat hulle beleef het, het ook bygedra tot hierdie gees waarteen hulle gewaarsku is. ‘n Les uit die Ou Testamenmt ook vir die mense in SA vandag.

Sarel ·

Wat baie van ons nie besef nie is dat dit die resep van kommunisme is. Breek jou vyand sielkundig stukkie vir stukkie af .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.