Ons werk vir normaliteit

ANC-ondersteuners by ‘n saamtrek in Durban 24 April 1994. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

Die Solidariteit Beweging verlang nie terug na die verlede onder die NP nie, maar sien nie uit na die toekoms onder die ANC nie.

Ons doel is om te werk vir normaliteit. Ons wil ʼn normale lewe in ʼn normale land lei. Ons staan nie vir ʼn vreemde ideologie nie en het nie onderduimse planne nie. Terselfdertyd gun ons ook vir alle ander mense die normaliteit wat ons vir onsself opeis.

Die uitdaging is dat sommige mense al so gewoond geraak het aan “abnormaal”, dat hulle dink dit is normaal en dat ons abnormaal is. Daarom is dit nodig om ons beweging se 12 punte vir normaliteit kortliks uit te spel.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die bekendstelling van die ANC-verkiesingsmanifes by die Moses Mabhida-stadion in Durban (24 Februarie 2024) (Foto: @myanc/Twitter)

  1. Veiligheid

Ons streef na ʼn normale lewe in ʼn normale land waar die misdadigers in tronke toegesluit is en wetsgehoorsame burgers vry en veilig buite kan rondloop.

  1. Werk

Tweedens wil ons ʼn normale werksbedeling hê sonder dat abnormale rassekwotas bepaal wie mag werk en bevordering kry en wie nie.

  1. Gelykheid

Derdens wil ons normale gelykheid hê. Ons is nie bó ander verhewe nie, maar wil ook nie ónder ander wees nie. Gelyke burgerskap of gelykwaardigheid beteken dat mense op grond van hulle karakter en vermoë, in plaas van hulle ras, behandel moet word.

Die Solidariteit Beweging het in 2022 sy 120ste bestaansjaar gevier. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

  1. Vryheid

Vierdens glo ons aan normale vryheid. Regte soos vryheid, gelykheid en menswaardigheid geld mos vir ons ook. Regeringsbeleid soos “Afrika-hegemonie” wat bepaal dat alle instellings onder die beheer van swart Afrikane moet wees volgens die rasseformule van 80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Indiër, is mos abnormaal.

Dit sal beteken dat die lewens van minderhede op alle gebiede deur swart mense beheer sal word. Dis mos abnormale rasseoorheersing en tas ons vryheid, gelykheid én menswaardigheid aan.

Demokrasie moet oor die vryheid van almal gaan en nie net dié van die meerderheid nie. Dit is net normaal om inspraak te hê in besluite wat jou raak – dit is normale vryheid. Die transformasieformule lê buitendien aan die wortel van die mislukking van soveel staatsinstellings, en dit is abnormaal dat ʼn formule wat keer op keer misluk telkens herhaal word.

  1. Onderwys en opleiding

Ons wil ook die normale reg hê wat enige ander mens het om te kies in watter taal ons kinders moet skoolgaan en in watter taal hulle op universiteit of kollege moet klas draf. Ons wil ook hê dat normale toelatingsvereistes geld, want die rasseteikens wat vir toelatings en beurse gestel word, is abnormaal. Dis nie normaal dat jongmense, wat nooit bevoordeel was nie, nou benadeel word terwyl mense wat nooit benadeel is nou bevoordeel word nie.

Sol-Tech se kampus in Pretoria bied studente die geleentheid om in hul moedertaal, Afrikaans te studeer. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

  1. Belastingwaarde

Dan wil ons normale waarde vir die belasting op ons swaar verdiende inkomste kry. Dit is mos abnormaal om hemelhoë belastings vir staatsdienste te betaal wat ons nie kry nie. Daarna moet ons weer ʼn keer betaal vir duur privaat mediese dienste, onderwys, privaat sekuriteitsdienste en vir bykans alle ander dienste wat plaasvervangend privaat gelewer word. Net so is dit abnormaal dat hardwerkende mense, wat self sukkel om na behore vir hul gesinne te sorg, nog almal in die land wat nie vir hulself sorg nie ook moet versorg.

  1. Werkende dienste

In die sewende plek eis ons normale staats- en munisipale dienste waarvoor ons betaal. Hoekom moet ons op soveel dorpe met abnormale probleme sukkel soos water- en kragonderbrekings, ondoeltreffende staatskantore, slaggate in die paaie en onhulpvaardige staatsamptenare wat nie doen waarvoor ons hulle betaal nie?

  1. Eerlike en bekwame regering

Punt agt is ʼn normale, eerlike regering wat nie belastinggeld steel of wanbestee nie en wat die burgery se dienaars in plaas van hul heersers is. Dit is mos abnormaal as talle onbekwame politici openlik korrup is en baie staatsamptenare straffeloos aanhou kwaaddoen. Dit is ook totaal abnormaal as ministers ons werk in gevaar stel deur die ekonomie met radikale beleid te ondermyn; as ekstremistiese rassehandveste beleggers laat onttrek; of as die ANC ons oor die rommelstatusafgrond sleep met hulle wanbestuur.

Die ingang na die Apartheidmuseum in Johannesburg wat ontwerp is om die rassesegregasie tydens apartheid uit te beeld (Foto: GIANLUIGI GUERCIA / AFP)

  1. Rassebetrekkinge

In die negende plek wil ons normale rassebetrekkinge en samewerking tussen almal in die land sien. Politici wat wit mense beledig en die massa teen ons opsweep en dubbele standaarde handhaaf ter wille van politieke steun skep ʼn abnormale toestand.

Die selektiewe rassisme waardeur wit mense deur magtige mense geteiken word, vergiftig verhoudinge en is abnormaal. Rassewette wat ondernemings mikrobestuur knel werkskepping; maak dit abnormaal moeilik om ʼn onderneming te bedryf; en dryf top-entrepreneurs wat werk skep landuit. Rassevoorvalle wat histeries opgeblaas word en alle wittes summier skuldig bevind is abnormaal en vervreem ons.

  1. Reg en geregtigheid

Die tiende maatstaf vir normaliteit hou verband met die regstelsel en die oppergesag van die reg. Die Hoofregter kla tereg lankal dat politici wat in die Staatskapingsondersoek as korrup uitgewys is nie vervolg word nie. Die Strafregstelsel straf nie korrupte politici nie.

Dan is dit ook abnormaal as sekere regters al hoe meer politieke uitsprake lewer as dit by sake soos ras, taal of kultuur kom. Almal moet mos gelyk wees voor die reg, ongeag ras of taal – dis mos normaal?

Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, aan die woord (Foto: Solidariteit)

  1. Taal, kultuur en geskiedenis

In die elfde plek word ons taal, kultuur, geskiedenis en erfenis ook abnormaal behandel. Ten spyte van die normale grondwetlike bepalings wat vir taal en kultuur geld, word ons taal en kultuur abnormaal en ongelyk behandel. Boonop word ons geskiedenis gekriminaliseer en word ons erfenisse verwaarloos, of val dit onder ANC-beheer, soos in die geval van die Boererepublieke se Oorlogsmuseum.

Ons wil net die normale reg hê om ons taal na goeddunke te gebruik; om ons kultuur normaal uit te leef; en om ʼn normale geskiedenis te hê, met al sy goeie en swakpunte. Ons wil soos enige normale gemeenskap plekke hê waar ons kan tuis voel en waar ons nie deur getalle oorheers word nie.

  1. Normale toekoms

Ons wil nie eersteklas belastingbetalers wees, wat soos tweedeklas burgers behandel word en Derdewêrelds regeer word nie. Ons wil ʼn normale toekoms hê waar ons ook eersteklas burgers is en tuis en welkom voel.

Dit is abnormaal dat mense twyfel of hul kinders ʼn toekoms in die land gaan hê en dat talle emigrasie oorweeg vanweë al die abnormaliteite wat hierin genoem is. Té veel oupas het al “Grandpa” geword! Ons weet dat ʼn normale toekoms net moontlik is as ons self oor ons toekoms besluit. Ons wil nie die abnormale toekoms hê wat radikale politici vir ons beplan en waar ons net belastingbetalers sonder inspraak in ons eie land is nie.

“The Star” kondig op 2 Mei 1994 Nelson Mandela as volgende president van Suid-Afrika aan na aanleiding van die ANC-oorwinning in die algemene verkiesing. (Foto: PHILIPP LITTLETON / AFP)

Die ANC het al vir 30 jaar ʼn gulde geleentheid by hulle laat verbygaan om ʼn normale land te skep. Terwyl hulle vol verwyte oor die vorige abnormale rassebedeling is, het hulle dit net omgekeer en voortgesit.

Soos die Afro-Amerikaanse denker Thomas Sowell sou sê: “Die afgelope dekades is die verhaal van die vervanging van dít wat gewerk het met dít wat polities mooi klink.” Daarom werk en veg ons vir normaliteit. Normale werk en ʼn normale bestaan is nou eenmaal nie moontlik in ʼn abnormale land nie.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Droom voort. Nie een van daai 12 punte sal realiseer nie. Na 30 jaar behoort jy dit te weet. Van nou af sal dit erger gaan. Bekommer jou eerder oor jou mense se verval in armoede. Ons mense gaan ellende ervaar op ons oudag. Dis terug tekenbord toe, meneer.

skurweberg ·

Die wie se geheue sterker is as hulle visie vir die toekoms, besef nie dat dit in 2024 die enigste volhoubare alternatief is. Die Skrif leer dit vir ons met die woesrtynreis. Laat ons dit in 2024 as “n metafoor gebruik, want omdraai is nie ‘n opsie nie. Moontlik is die reis korter as wat ons dink. “Hou Koers” Ons is nie in beheer nie.

Pieter ·

Goeie artikel ek stem grootliks saam. Dit is iets waarvoor ons kan werk. @ Skurkweberg ons is in beheer, niemand kom ons red nie, as ons ‘n beter wereld soek dan is dit ons wat dit moet bou. Jy kan nie net op jou hande sit en daarvoor hoop nie.

skurweberg ·

@Pieter As die “hoop” waarvan jy praat net nie deur die sondige natuur van die mens gemotiveer word nie. Stem ek met alles saam wat jy sê.

Santie Gildenhuys ·

Puik uiteensetting onder 12 punte van ons land se problematiek. Dit wat NORMAAL behoort te wees in ‘n demokratiese bestel is nou vir lank genoeg skeefgetrek deur waninterpretasies, vervolgingswaan en opperste selfsug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.