Onteiening van hoop sonder vergoeding

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Deur Connie Mulder

“Ons vereis grondhervorming toepaslik vir ons behoeftes, voorsiening vir ʼn wet om grond te onteien sonder vergoeding in die publieke belang, afskaffing van belastings op grond en die voorkoming van alle spekulasie in grond.”

Hierdie is nie ʼn EFF-beleidstuk nie, maar eerder punt sewentien in die Nazi-manifes van 1920. Die ironie daaraan verbonde dat ʼn ver-linkse Afrika nasionalistiese-sosialistiese party die sentimente van Adolf Hitler se Nazi-party verkondig is klaarblyklik verlore op Julius Malema en sy trawante.

Reichstag-retoriek

Dinsdag 27 Februarie 2018 het Suid-Afrika se rasretoriek ʼn laagtepunt getref met die debat oor die onteiening van grond sonder vergoeding in die parlement.

In die middel van die wittebroodshoop op president Ramaphosa het die werklikheid van Suid-Afrika se politieke diskoers ons almal hard terug aarde toe gebring. Ná Jacob Zuma se era van verdelende Bell-Pottinger-rasretoriek het hoop liggies opgevlam dat ons kan begin beweeg na gematiger objektiewer retoriek rondom ras.

Met rooi oorpakke en gebrekkige geskiedeniskennis het die EFF daardie vlammetjie doodgeblaas. Retories was dit ʼn tydreis na die 1930’s se Nazi Reichstag-toesprake in Duitsland. Ongelooflike kragtige woorde is gebruik, sonder aarsel, om ʼn sekere etniese groep uit te sonder en te verguis.

Daar is wyd en syd verkondig dat die krimineel Jan van Riebeeck begin beplan het aan ʼn swart volksmoord toe hy voet aan wal slaan, sy enigste doel in Suid-Afrika om die swart bevolking uit te moor. Verskeie geskiedkundige Voortrekker-veldslae is omskep in volskaalse rassistiese volksmoorde deur Malema se geskiedenisles. Spreker na spreker het ʼn hele etniese groep as kriminele, moordenaars en besoekers gebrandmerk.

Alhoewel die debat klaarblyklik oor grondhervorming en regstelling gaan, het die EFF en ANC se swart-nasionalistiese onderrok ver uitgehang. Voormalige minister van grondhervorming, Gugile Nkwinti, stel dat die regering nie titelaktes gaan oordra aan individue nie, want dan verloor die regering daardie grond. Die rede hiervoor – die regering alleen moet grond besit, want dit is die regering.

Met een stelling vee hy enige gedagte uit dat die debat oor regstelling gaan.

Wat Minister Nkwinti as verloor beskou, is die wettige proses van onteiening soos tans in die grondwet vervat. Die grond wat die staat glo “verloor” is wettig onteien, daarna is die grond oorgedra aan swart mense na gelang van grondeise. In baie van die gevalle verval hierdie plase en kan die nuwe eienaars nie hulle skuld betaal nie. Dan word die grond uiteindelik opgeveil om uitstaande skuld te delg, soos ʼn normale kredietstelsel werk. Op hierdie veilings koop wit boere dan die grond terug.

Kortliks – onteiening het wettig gebeur op hierdie grond. Regstelling teenoor die grondeisers is gedoen, hulle het die grond waarop hulle aanspraak maak, ontvang. Daarna het die mark sy gang gegaan.

Minister Nkwinti se probleem is letterlik dat wit mense die grond regverdig in ʼn vrye mark gekoop het en nou besit na die wettige en afgehandelde onteieningsproses. Dit het niks met regstelling te doen nie en alles met ras-telling.

Die EFF het die debat suiwer in rasterme gesien en gestuur. Julius Malema se openingstoespraak het al gestel dat die tyd vir versoening verby is. Dit is geëggo deur Floyd Shivambu wat uitwys dat slegs die swart partye die mosie gesteun het en nie die wit partye nie. Dit is die raamwerk waarbinne die EFF en die ANC hierdie sien, dit het niks met regstelling te doen nie – dit is eenvoudige rasgebaseerde nasionalisme.

Die breë boodskap deur die debat was – wit mense het die grond gesteel, hulle het nooit daarvoor betaal nie, hulle het nooit boetedoening daarvoor gedoen nie en die tyd vir vergelding is nou.

Rasse-ondertone is gebruik om ʼn sterk sosialistiese agenda te verbloem. Wysigings aan artikel 25 spesifiseer nie ras nie – elke liewe grondeienaar se regte word bedreig. Inteendeel – die EFF se voorstel dat alle grond aan die staat behoort en dan deur die staat geallokeer word, gaan meer swart mense as wit mense onteien.

Wat het werklik gebeur?

Privaat eiendomsreg is die hoeksteen van enige suksesvolle ekonomie. As jy dit afskaf rafel die res van die land se ekonomie onwillekeurig uit, en moet burgers, soos in Venezuela, uiteindelik kies watter van hulle troeteldiere om te eet.

Die Grondwet is nog nie verander nie, maar die proses is aan die gang gesit. Tans is die grondwethersieningskomitee besig om te besin oor hoe om artikel 25 te verander. Die komitee moet teen Augustus terugrapporteer aan die parlement met hulle bevindinge, wanneer die proses dan verder geneem word.

Breedweg gesien is hierdie die ANC se desperate poging om voor 2019 se verkiesing hulleself te verskans teen ʼn aanval van links af deur die EFF. Die kortsigtigheid is om van naar te word, maar vir die ANC is ʼn hongersnood oor 10 jaar ʼn kleiner bedreiging as die mag verloor oor een jaar.

Ons moet onsself dus voorberei op meer rasverdelende populistiese opruiery in aanloop tot die verkiesing.

President Ramaphosa weet bitter goed wat die implikasies van onteiening sonder vergoeding vir die ekonomie inhou, en het basies vir die kantlyn geskop met die mosie. Ná die ANC-kongres in Desember die besluit geneem het om onteiening sonder vergoeding goed te keur, was die tafel gedek vir die situasie waarin ons ons nou bevind. Dit het Ramaphosa in ʼn onmoontlike situasie geplaas, met sy houvas nog nie sterk genoeg om die mosie summier af te skiet nie.

Tussen twee uiterstes het president Ramaphosa homself verskans deur sekere voorwaardes aan onteiening sonder vergoeding te koppel – naamlik dat dit nie finansiële stabiliteit of voedselsekerheid bedreig nie. My vermoede is dat hy die proses afgeskop het, maar sal seker maak dat die voorwaardes bygesit word in die verandering. Dan gaan die voorwaardes deurentyd gebruik word om te keer dat Suid-Afrika ekonomiese Zim-moord pleeg.

Die blote moontlikheid van onteiening sonder vergoeding, veral in ʼn streek waar dit al vantevore plaasgevind het, is ʼn groot genoeg gogga om beleggers bang te maak. Al die mooipraat in Davos om beleggers na Suid-Afrika terug te lok ten einde ons ekonomiese uitdagings aan te spreek, het ʼn ernstige knou gekry.

Politici leer altyd die les dat ekonomiese werklikhede swaarder weeg as enige ideologie. Daar sal reuse plaaslike en internasionale ekonomiese druk op die regering toegepas word indien hulle blindelings voortstoom. Ekonomiese druk het Des van Rooyen as minister van finansies vervang, met ʼn regering wat aansienlik minder sensitief vir eksterne druk was.

Vir die afsienbare toekoms moet ons in ag neem dat daar dag-tot-dag nie veel gaan verander nie. President Ramaphosa sal in sy termyn bitter moeilik onteiening sonder vergoeding toepas.

Tog moet ons nie verval in die naïewe geloof dat toekomstige leiers by die gees van ʼn skikking gaan bly, waarvan hulle nie deel was nie. Suid-Afrika is tans in die situasie waarin ons is, omdat daar kinderlik naïef in 1994 geglo is dat die gees van ʼn ooreenkoms eerbiedig gaan word deur toekomstige leiers.

Ons moet so ver moontlik onsself verskans. Mens hoop op die beste maar beplan vir die ergste. Die tyd is wel verby waar ons hoop koppel aan bewoording van wette en spesifieke individue. Soos Josef in Egipte ook geleer het, kan jy nie reken op toekomstige leiers om huidige skikkings te eerbiedig nie.

Eksodus 1:8 lui immers: “Toe staan daar ’n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie.”

  •  Connie Mulder is hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Hierdie is loshande die nugterste artikel oor die onderwerp sedert die voorstel aan die parlement voorgelê is.
Die onweerswolke pak dik saam op die horison en die blitse streep verwoed die donker massa. Die winde wat opgesteek het, ja die storm hierheen.
Persoonlik dink ek die aangeleentheid is net n kwessie van tyd alvorens dit in sy rouste vorm denkbaar deurgevoer gaan word.
Dit lê en wag vir Mabuza?

Theresa

Laat mens se hare rys.

Jerry

Terwyl ons weet wie is die koning met goeie intensies en dat hy grondonteiening wil toepas sonder om die land en enige persoon te laat verarm, moet ons soos Josef die koning gebruik om waarborge te kry vir die beskerming van ons belange. Al is dit net vir die termyn van CR, dan is dit goed genoeg, want dit gee ons tyd om met ander lande te onderhandel om ons jeug daar te vestig, waarna die ouergarde kan volg. U wat beter weet, se dan self dat die volgende koning nie vir Josef sal ken nie en dus is die… Lees meer »

Frikkie Geld en huis

Baie mooi gestel, Dr Mulder. Die ANC is ook maar lugtig vir Julius en sy spannetjie.

Benito Odendal

By verre die beste en logieste artikel in ‘n laaaaaaaaaaang tyd…..Die boodskap IS duidelik…..Verskans jou, berei jouself voor vir die doodsteek ,veg met ALLES tot jou beskikking maar moet NOOIT ophou hoop nie…..