Ontstaan van moderne state: Buite-Europese konteks

afrika-vasteland-aardbol-kaart-kleur

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die geleidelike ontwikkeling van die moderne Europese state is in die vorige artikel bespreek. Hier kyk ons nou na die buite-Europese state wat feitlik almal voormalige kolonies was, wat van die moederland weggebreek het.

Met die dekolonisasie kan ons weer onderskei tussen twee fases: die onafhanklikwording van kolonies met ʼn grootliks Europese bevolking, by name in Amerika (Noord en Suid) in die laat 18de en vroeë 19de eeu, en die onafhanklikwording van kolonies met ʼn inheemse, nie- Westerse bevolking in die 20ste eeu, by name in Afrika en Asië. Eersgenoemde kolonies het groot of hoofsaaklik blanke setlaarsbevolkings gehad, is diepgrondig gekoloniseer en was dus dikwels vergelykbaar ontwikkeld as die moederland. Hier het die kolonisasie ook heelwat vroeër begin, in die 17de en 18de eeu. Laasgenoemde kolonies is dikwels eers in die laat 19de eeu gekoloniseer, dit was ʼn oppervlakkige en relatief kortstondige kolonisasie, by name in Afrika, Suid-Asië en die Midde-Ooste, asook Oseanië.

Anders as die Europese state, wat deur ʼn lang proses van pre-moderne, dinastiese of feodale state tot moderne state ontwikkel het, het die kolonies onmiddellik die moderne staatsbestel oorgeneem wat teen daardie tyd algemeen was. Die meeste kolonies was ook van die begin af republieke, alhoewel min waarlik demokraties was en is.

Daar was vanselfsprekend ook nie-Europese lande wat van altyd af onafhanklik was (as monargieë met oeroue dinastieë), al was hulle by sekere tye ook beset. Ons kan hier dink aan China, Japan, Persië en Ethiopië.

Eerste golf van dekolonisasie: Amerika

Die Verenigde State van Amerika (VSA), oftewel die 13 oudste kolonies aan die Ooskus, was die eerste staat wat die koloniale juk afgegooi het. Dit was uit en uit ʼn konflik tussen blankes, selfs mense met dieselfde kultuur en taal (al het beide kante Indiaanstamme as helpers gebruik). Amper tweehonderd jaar lê tussen die eerste nedersetting in Jamestown en die onafhanklikheidsverklaring van die 13 Amerikaanse kolonies in 1776, wat die volgende jaar ʼn federasie gestig het en daarmee die fondasie vir die mees suksesvolle, voorspoedigste en polities rigtinggewendste staat van die moderne tyd gelê het.

Die verwydering tussen kolonies en moederland is veral aangevuur deur belastings wat as onregverdig beskou is. ʼn Oorlog teen die moederland Brittanje wat soms hewig was en sewe jaar gewoed het, het gevolg. In 1783 is met die Vrede van Parys die onafhanklikheid van die Verenigde State van Amerika erken. Teen daardie tyd was eintlik alle inwoners van die VSA (afgesien van die inheemse Indiaanstamme) van Britse afkoms. Bepalend was egter dat hulle in die geografies ver verwyderde vasteland ʼn ander bewussyn ontwikkel het, naamlik die van vrye burgers wat alleen onderhorig was aan God, maar nie meer aan ʼn ver verwyderde (fisies en emosioneel) monarg nie. Dit was ʼn proses wat op kleiner skaal ook in Suid-Afrika en ander gebiede waar Europeërs as pioniers gevestig het, teenwoordig was.

Die VSA kon dit tot vandag toe regkry om deur middel van ʼn vryheidsgesinde grondwet met sterk klem op individuele regte en verantwoordelikhede, asook instellings wat die vergrype van die staat in toom hou, ʼn demokrasie te bly. Ook die sterk federale aard, wat alle deelstate, ongeag grootte en bevolkingsgetal, se outonomie oor belangrike sake erken, het daartoe bygedra. Dis geen geringe prestasie nie. Net Switserland het ʼn selfs nog ouer rekord, terwyl meeste state ten minste vir sekere tye vir die outoritêre of totalitêre versoeking geswig het. Frankryk, wat die VSA in sy anti-koloniale oorlog sterk ondersteun het en wie se revolusie in 1789 deur die Amerikaanse revolusie en gelykheids- en vryheidstrewe geïnspireer is, het kort daarna in kwasi-kommunstiese barbarisme verval met die gesindheidsterreur van die radikale Jakobyne.

Die terreur wat in Frankryk geheers het, was moontlik ook die inspirasie vir ʼn ander, vroeë bevrydingstryd gewees, naamlik die van Haïti in die Karibiese streek. Die swart inwoners, nakomelinge van slawe (en dus ook nie “inheems” in die eintlike sin nie), het die klein Franse grondbesitterselite afgeslag en in 1804 een van die, tot vandag toe, armste en mees disfunksionele state gestig.

Die Amerikaanse vryheidstryd het egter veral die ander dele van Amerika beïnvloed. Terwyl die Noorde van die vasteland onder Britse en (gedeeltelik) Franse beheer was, was Spanje en Portugal in die Suide die koloniale moondhede. Ook in Latyns-Amerika het die mense van Europese afkoms na vele generasies gevoel dat die moederland nie meer na hulle belange omsien nie. Bepalend was egter dat Spanje teen daardie tyd as koloniale moondheid reeds erg verswak het en weens die besetting deur Napoleon van 1808 tot 1814 van sy kolonies afgesny was.

Plaaslike beheerrade (juntas), nog steeds lojaal aan die Spaanse koning, het die beheer in die kolonies oorgeneem en die Spaanse magsvakuum gevul. Daar was (nes in die Noord-Amerikaanse kolonies) ook ʼn verdeeldheid tussen diegene wat lojaal aan Spanje was, en diegene wat hulle as mense van Amerika gesien het wat hulle eie lot wou bepaal. In 1809 en 1810 het op verskeie plekke in Latyns-Amerika opstande uitgebreek en het plaaslike leiers die gesag oorgeneem.

Anders as in die geval van die VSA, met George Washington as die opperbevelvoerder, het in Suid-Amerika verskeie groot militêre leiers (Simon Bolivar en Antonio Jose de Sucre in die noordelike dele, Jose de San Martin en Bernardo O’Higgins in die suidelike dele) asook kleiner, plaaslike leiers die leiding geneem. Die Spaanse koloniale leër in Suid-Amerika, afgesny van ondersteuning uit die moederland maar ondersteun deur lojaliste ter plaatse, kon egter nog steeds sommige opstande tydelik onderdruk.

Ook Spanje, vanaf 1815 weer vry van Franse beheer, het troepe oor die see gestuur. Die onafhanklikheidsoorlog het dan ook langer gewoed as in Noord-Amerika, naamlik van 1809 tot 1825. Mexiko en Sentraal-Amerika se onafhanklikheidsoorlog was losstaande van Suid-Amerika s’n, maar het terselfdertyd en onder vergelykbare omstandighede plaasgevind.

Die VSA, teen daardie tyd reeds ʼn streeksmoondheid, het met die Monroe-doktrine in 1823 bepaal dat hulle enige Europese poging tot herkolonisasie sou teenstaan en het daardeur die aanvanklik nog wankelrige onafhanklikheid van die Latyns-Amerikaanse state gewaarborg.

Terwyl in Noord-Amerika talle klein kolonies ʼn federasie gestig het wat al hoe groter geword het soos wat later nog nuwe dele by hulle aangesluit het, was in Suid-Amerika ʼn teendelige proses teenwoordig: die Spaanse koloniale ryk het, teen die wil van die onafhanklikheidsheld Simon Bolivar, nie een groot, federale staat geword nie, maar in talle middelslagstate versplinter. Dit was een van die redes hoekom Latyns-Amerika nie die sukses van die VSA kon herhaal nie en op die wêreldtoneel nooit ʼn beduidende rol gespeel het nie. Anders as in die VSA, waar nog elke president hom aan die gesag van die grondwet en die parlement onderwerp het, het in Latyns-Amerika dikwels diktators geheers en is grondwette nie eerbiedig nie.

Brasilië, die enigste Portugese kolonie in Suid-Amerika, het ʼn meer geleidelike en vreedsame proses tot onafhanklikheid gevolg en het veral deur die koningshuis, wat by tye in Rio de Janeiro geresideer het, nog lank die bande met Portugal behou.

Kanada, ʼn Britse kolonie, het ʼn baie evolusionêre proses tot onafhanklikheid gevolg. Die Britse koloniale stelsel het stapsgewys groter seggenskap aan sy kolonies toegestaan, tot op die vlak van selfbestuur (dominium-status) binne die gemenebes van Nasies en met die Britse koningin nog steeds as staatshoof. Die konsep is veral toegepas op kolonies met ʼn blanke-Westerse kultuur soos Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika wat reeds taamlik ontwikkeld en gevorderd was. Net Suid-Afrika het verkies om die pad tot republiekwording te loop.

Tweede golf van dekolonisasie: die nie-Westerse lande

Die laat 19de eeu was die hoogtepunt van Westerse mag en die grootste deel van die wêreldbevolking was onder Westerse beheer. Eers die Eerste en daarna nog meer die Tweede Wêreldoorlog het die Westerse mag geskud en het aanleiding tot die anti-koloniale stryd met die doel van onafhanklike state in die nie-Westerse wêreld gegee. Belangrik is ook dat dekolonisasie aktief deur die grootste Westerse land, die VSA, ondersteun is. Die VSA, alhoewel ʼn Westerse, hoofsaaklik blanke land, het weens sy eie geskiedenis van ʼn vryheidstryd ander lande daarin ten minste diplomatiek en verbaal ondersteun. Meer aktief en gewelddadig was die ondersteuning deur die Sowjet-Unie, vanselfsprekend uit eie belang om so veel as moontlik bondgenote vir kommunisme in die nuwe, nog onervare state te vind; ʼn strategie wat deels geslaag het.

Indië was een van die eerste lande om onder die leiding van Mohandas Gandhi die Britse bewind uit te daag, reeds voor die Tweede Wêreldoorlog. Onafhanklikheid het dan ook in 1947, kort na die Tweede Wêreldoorlog, gevolg. Daarmee was die damwal gebreek. Gewoonlik het die onafhanklikheid van state per streek in een baie kort tydperk gevolg, soos wat die geopolitieke omstandighede daar uitgespeel het. Omdat Brits-Indië ʼn geweldige konglomeraat was, het nie net Indië self nie, maar ook Pakistan, Birma en Ceylon (Sri Lanka) feitlik op dieselfde tyd hulle onafhanklikheid gekry. Elke onafhanklike staat het die argument by die Verenigde Nasies vir die onafhanklikheid van die volgende een versterk en die kolonies het soos domino’s geval.

Nog steeds is gepoog om aan die meer ontwikkelde en beter voorbereide lande eerste onafhanklikheid te gee. Terwyl die state van die Midde-Ooste, Asië en Noord-Afrika reeds oor kwasie-staatlike strukture beskik het, of ʼn koningshuis gehad het wat natuurlike gesag afgedwing het en aan wie die gesag oorgedra kon word, was dinge in Swart-Afrika met sy kunsmatige gebiede en die lae vlak van ontwikkeling ietwat anders. Frankryk het nog gepoog om sy kolonies met ʼn soort gemenebes te oortuig om eerder te skik vir interne selfbestuur, maar nadat Guinee dit verwerp het en reeds in 1958 sy onafhanklikheid gekry het, is bes gegee.

Daar waar blanke of ander nie-inheemse minderhede prominent was, het die dekolonisasie ietwat langer gevat en is die stryd ook bloedig gevoer, soos in Algerië, Kenia en die Portugese gebiede. In die 1970’s het veral die klein eilandstaatjies in die Karibiese streek en die Suidsee hulle onafhanklikheid gekry en die Verenigde Nasies (VN) se ledetal geweldig laat groei. Afgesien van enkele spesiale gevalle, soos Namibië, was die dekolonisasie in die 1970’s grootliks afgesluit.

ʼn Unieke geval is Israel, wat in dieselfde tyd as meeste ander voormalige kolonies, kort na die Tweede Wêreldoorlog, sy onafhanklikheid bereik het, maar ʼn heel ander ontstaansgeskiedenis het. Dit was wel ʼn Britse mandaatsgebied, maar die bevolking, naamlik Jode, het uit die hele wêreld daarheen getrek en ʼn staat uit die niet (teen die reeds daarwonende Arabiere) opgebou, wat as Joodse tuisland in 1948 onafhanklikheid gekry het, duisende jare na die wêreldwye verstrooiing. Dit is ook vandag die enigste ten volle ontwikkelde land en die enigste demokrasie in die Midde-Ooste.

Nog voordat die dekolonisasie volledig afgehandel was, het state reeds deur afskeiding ontstaan, soos Singapoer in 1965 en Bangladesj in 1971. Die groot golf van afskeidings was egter in die vroeë 1990’s met die opdeel van die multi-etniese Joegoslawië, Sowjet-Unie en Tsjeggo-Slowakye. Alhoewel die VN baie uitgesproke is dat elke kolonie ʼn reg tot onafhanklikheid het en dit so gou as moontlik moet kry, is daar geen konsensus oor hoe en wanneer ʼn volk van sy moederland mag afskei nie. Trouens, die VN en ander internasionale organisasies probeer dit eerder ontmoedig.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.