Op pad na die Jaar Nul

Die Suid-Afrikaanse vlag. (Foto: Wikimedia Commons)

Dis 2020, maar Suid-Afrika lyk asof hy op pad is na die Jaar Nul.

Die ANC vier sy 108ste jaar met lofsange, en pleisters word oor die krake geplak, eerder as wat ’n ernstige opname gemaak word van die party en die regering se wanbestuur.

Die baie beskeie – lees: vrek lelike – verjaardagkoek en die feit dat net sowat een derde van die verwagte 35 000 ondersteuners vir Ramaphosa se toespraak opgedaag het, vertel van misnoeë met die regering.

Die syfers en die feite kan nie weggeredeneer word nie: ’n kragkrisis waarvan geen einde voor (op die vroegste) 2022 in sig is nie, ’n swak ekonomie, hemelhoë werkloosheid en misdaad, skuldprobleme en korrupsie wat die asem wegslaan.

Van die beloftes wat pres. Ramaphosa in 2019 gemaak het, het dadels gekom en hulle word net weer afgestof en herhaal, deels omdat die president weens al die interne struwelinge polities bra magteloos is.

Daar is net te veel bewyse en feite wat nie weggeredeneer kan word nie. Die kragkrisis se gevolge het moontlik sy ergste uitwerking in die vervaardigingsektor en sy uitvoere. Dit lei tot werkverliese en ’n kleiner inkomste, wat weer neerslag vind in die feit dat hul bydrae tot die belastingpoel kleiner word.

Maar daar is baie ander uiters kommerwekkende en bewese feite:

  • Die ware bruto binnelandse produk (BBP) is pas deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bekend gemaak. Die BBP het stadiger gegroei as die afgelope vyf jaar se bevolkingsaanwas – ʼn probleem wat net té ongewild is om aangeraak te word – en die huidige prestasie per kapita is die swakste sedert die 1960’s;
  • Op sy beurt dra die korporatiewe sektor 18% tot die belastinginkomste by, maar daar was in 2017-‘18 om en by 600 000 minder geregistreerde maatskappye as in die vorige jaar, en net 25% van hulle maak ’n wins;
  • Die regering se afhanklikheid van die individuele belastingbetaler is enorm: net drie miljoen mense uit ’n geskatte bevolking van 56 miljoen sorg vir 38% van die inkomste, terwyl ’n geringe 190 000 mense 37% bydra;
  • Daar is 29 000 staatsamptenare wat jaarliks meer as R1 miljoen verdien – die regering se eie syfers – en hul getalle het die afgelope dekade verdubbel. Dit kan nie deur die regering verander word nie, deels of hoofsaaklik omdat hy altyd oor sy skouer moet loer na die groot vakbonde.
  • Die voorgenome openbare gesondheidstelsel (NGV) en die ondeurdagte herverdeling van grond is besig om boere en dokters te vervreem. Sowat 72% van die geregistreerde dokters gee in ’n opname te kenne dat hulle deel van die glypatroon na die buiteland sal word.
  • Die verkleinde belastingbasis maak dit onmoontlik vir die regering om sy uitgawes na te kom. Dit sluit in digby 18 miljoen ontvangers van welsynstoelae, 1,3 miljoen staatsamptenare, 920 verkose nasionale en provinsiale verteenwoordigers, sowat 700 staatsbeheerde organisasies en 62 kabinetsministers.
  • En dan is daar Eskom met sy skuld van R440 miljard en die SA Lugdiens se skuld van meer as R20 miljard. Albei vereis al hoe meer voorskotte van die regering om net hul salarisse te betaal.

Spoggery met onderwys

Onderwys – een van die groot kniehalters van ontwikkeling – is die ander saak wat hoog in die nuus was. Daar is gespog dat die slaagsyfer van 81,3% die hoogste sedert apartheid is.

Kenners verskil oor die “ware” slaagsyfer. Die DA sê eintlik het net 38,9% van die graad 10’s van 2017 geslaag. Die EFF stel die syfer op 59% en daar is ʼn kenner wat sê die syfer is 42%.

Daar is ook verskille oor die getal skole met ʼn 0%-slaagsyfer. Sommige kritici sê die getal het van 12 tot 16 gestyg – die helfte in Limpopo.

Twee jaar gelede het Paul Colditz gesê minstens 80% van die land se 24 000 openbare skole is “disfunksioneel.”

’n Paar jaar gelede was dit nuus dat een uit elke vyf onderwysers op Maandae en Vrydae afwesig is. Onderwysers in die (hoofsaaklik swart) laerinkomsteskole leer kinders net vir 3,5 uur per dag teenoor die 6,5 uur in die voormalige Model C-skole in die hoërinkomstegroepe. Daar is nie tekens dat dit veel verander het nie, ook danksy die vakbond Sadou met sy meer as 206 000 onderwyslede se beskerming van swak opgeleide en afwesige onderwysers.

Wiskunde se uitslae

Daar is ander ontstellende feite, soos die kommentaar van ʼn professor aan die Universiteit van Kaapstad – so reg uit die perd se bek.

ʼn Minimumpunt van 30% is nodig om wiskunde te slaag vir ’n diplomakursus of universiteitstoelating, maar die professor sê ’n minimum van 70% is nodig vir Wiskunde. Van die studente met onderskeidings druip 47% nietemin die kursus. In die jongste matriekeksamen het 50 000 minder leerlinge wiskunde geneem. Van hulle het net 54% geslaag teenoor 2018 se 58%.

Ons universiteite is reeds onder groot druk om al hoe meer studente sonder die nodige meriete toe te laat: Net 14% voltooi hul driejaarstudies in drie jaar, terwyl een kwart reeds hul tasse ná die eerste jaar pak. Hulle is ook nie al wat loop nie, want al meer van die beste akademici kry elders ’n heenkome.

Hieroor word daar geswyg, ook deur Angie Motshekga, minister van onderwys. Die ANC se euforie oor die matriekuitslae beteken niks as die olifant op die solder misgekyk word nie.

Die Jaar Nul

Die jaar 2020 is net tien jaar weg van 2030, wat deur die nasionale ontwikkelingsplan van Trevor Manuel en Ramaphosa self in die vooruitsig gestel is vir die oplossing van die meeste probleme. Die ANC het twee keuses: kap die dooie hout uit, of kyk hoe die boom omval – met of sonder Ramaphosa as president – want ʼn sterk faksie wil hê hy moet die pad van Thabo Mbeki volg.

Dit lyk of die drieparty-alliansie op pad is na ʼn rewolusionêre soort Pol Pot-regime se Jaar Nul.

Behoede ons.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

skurweberg ·

In die naam van transformasie!!. Hef aan le nog voor. Dankie aan die skrywers wat onverskrokke die afgelope tyd hierdie term in hulle artikels gebruik het. Voor ons deur le die feit: “moes baie meer gedoen het deur opleiding om die regering voor te berei vir hulle taak as regeerders. Daar bestaan geen mens wat kon loop, voordat hy gekruip het nie.

Johan Venter ·

Ek stem met opleiding en genoeg kan mens nooit kry nie. Dink nou net daaraan as die ANC vir 25 jaar na 1994 opleiding moes ontvang, waar sou ons nie vandag gewees het nie? Genoeg skole vir die kinders. Geen Eskomprobleem nie, nie oorbeman nie, nie beurtkrag nie, SAL wat werk, nie korrupsie nie, nie ‘n Zondokommissie nie, nie rommelstatus nie, in effek sou daardie woord nooit in die AWS opgeneem gewees het nie, en ‘n gemiddelde groeikoers van so 5% sou almal gelukkig gemaak het, werkloosheid =15%. En vakbonde wat tjoepstil is, ook Julius, want daar sou niks wees om oor ongelukkig te wees nie.

Feite ·

Die departemente wat onder die ministers dien het hoogs opgeleide gegradueerders en selfs van die ministers het goeie kwalifikasies. Die probleem kan dus nie net toegeskryf word aan transformasie en n tekort aan opleiding nie, maar veel eerder is die probleem ideologies en psigies van aard. Die skep van n welsynstaat wat deur die regerende party beheer word is ideologies. Om 46,000 mense in diens te he, wanneer jy net 14,000 benodig is ideologies en het niks met opleiding uit te waai nie. OSV en die NGV is ideologies. SA se probleem is die ANC se regeringsbeleid wat nie ontkoppel kan word van die ANC se kommunistiese/sosialistiese ideologiee. 2020 is inderwaarheid reeds sterk oppad na nul, danksy die regerende party se ideologiese verknogtheid aan kommunisme, sosialisme en afrikanisme!

Johan Venter ·

As mense opgelei is en effektief die werk kan doen, het mens nie 46,000 mense in diens terwyl jy 14,000 nodig het nie. Maar natuurlik is die oorsaak nie die aantal indiens nie, maar die ANC se ideologie, dis mos nou vanselfsprekend. Van hoogs opgeleides gepraat, dan laat die bestuur en beplanning vir instandhouding vir jare veel tewense oor, en die hoogs opgeleides kan nie die wa deur die drif trek nie.

skurweberg ·

Kwaliteitopleiding sluit ook werksetiek of werkswaardes in. Dit was nog altyd deel van die Afrikaner se eienskap wat hy deur opleiding en voorbeeld van ouers en groot ouers ontvang het.

bekommerd ·

wag net vir die volgende verkiesing, kos pakkies word weer uitgegee en siedaar, almal stem weer , te vieslik om te se, anc

John ·

Die ANC leer sy kind van moederskoot af dat hy by hook en by crook moet kry wat hy wil hè anders is hy verontreg en is rassisme ter sprake. Of hy leer of nie, hy mòèt vorder en gevoed word en dit duur tot die universiteitsertifikaat in sy hand pryk. Op die wyse word die gewete verdoof en die mens ideologies geskool. Eiegeregtige vergrype volg hierna outomaties. Selfs die kerk bed die idee van verontregting in. Hoe kan die lewenshouding nou skielik omgekeer word? Eskom is die resultaat van diè studiemetode.

Koos ·

“The Alliance of National Chaos is ruling this country to below junk status.”

Bewys hierdie aanhaling verkeerd deur konkrete bewyse van die teendeel daarvan uit te wys!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.