Op reis na die toekoms

Die Bloukransmonument. Foto: Verskaf.

Ons is met die N3 langs op pad terug huis toe. Ons draai op die Colenso-pad af. Daar is geen padwyser wat aandui dat dit die moeite werd is om van die snelweg af te klim nie. Ons ry oor die Boesmansrivier waar die laagwaterbruggie steeds staan. Het die Voortrekkers dalk 182 jaar terug by hierdie selfde driffie dié lopie oorgesteek? Die laaste grondpad waarin ons afdraai, word duidelik baie min gebruik.

Ter gedachtenis

aan de Voortrekkers

te Moordspruit vermoord.

Zij kochten ons land met hun bloed.

17 Februarie 1838

“De Heere regeert. Psalm XCIX.1.

Dít is die woorde wat op die Bloukransmonument, ons bestemming, staan. Dis hier waar die Voortrekkerleier Gert Maritz se oorskot ook rus.

Soos wat daar tydens ’n reis dinge met ’n mens gebeur, gebeur daar ook dinge tydens ’n volk se reis deur die geskiedenis.

Op ons volksreis deur die geskiedenis kan ons ’n oomblik terugdink aan die Tweede Vryheidsoorlog, Vegkop, die Slag van Blaauwberg en ook aan ons wordingsgeskiedenis, soos die 50-jarige oorlog van ons Nederlandse voorvaders teen die Spanjaarde. ’n Mens dink aan die opofferinge wat gemaak is en staan in verwondering dat daar ná die swaarkry, telkens en oor eeue heen, weer opgestaan is.

Ons is vandag weer by so ’n moeilike plek op die reis van ons volk se geskiedenis: misdaad, korrupsie, diskriminasie, beurtkrag, taalonderdrukking en swak ekonomiese omstandighede. Dit stel ons voor die vraag: Gaan ons soos ons voorouers in geloof vorentoe veg en bou?

Barend Uys. Foto: Verskaf.

Ná die moorde van 17 Februarie 1838 kon die oorlewende Voortrekkers besluit het om na die Kaapkolonie terug te keer. Ná die moorde het dit ook nie makliker gegaan nie. Inteendeel, in April word die Voortrekkers by die Slag van Italeni verslaan, in Augustus word Gatslaer oor dae meedoënloos aangeval en in September sterf die laaste leier, Gert Maritz. Die swaarkry het egter hul geloof verdiep en hulle met groter vasberadenheid besiel om voort te beur. Genoeg Afrikaners ondersteun mekaar om uit te kan hou – dit is ’n mite dat ons nie kan saamstaan nie.

Andries Pretorius kom in November by die laers aan en die Voortrekkers besluit om hul vertroue in die Here te stel. Hulle doen hul bes terwyl hulle glo dat Hý die res sal doen. Daarna kom die uitkoms by Bloedrivier en uiteindelik wapper die rooi-wit-en-blou-driehoekvlag oor die Republiek van Natalia.

Wie is die Andries Pretoriusse van vandag? Dit is elke entrepreneur wat werk skep, elke lid van ’n buurtwag, elke boer wat kos op ons almal se tafels sit en elke ouer wat by hul kinders se skool betrokke is. Elkeen wat hulle deel binne hul gemeenskap doen, is die leiers wat ons vandag benodig – en reeds het.

In die rolprent The Last Samurai vra die Japannese keiser vir ’n ooggetuie van die afsterwe van die laaste groot Samurai-leier: “Vertel vir my hoe hy gesterf het!” waarop die ooggetuie antwoord: “Ek sal vir jou vertel hoe hy geleef het!”

Ons kan kies om te fokus óf op die hartseer offers wat in die verlede gebring is óf op die wonderbaarlike, vasberade opstaan en voortgaan daarná – elke keer.

Teen die einde van die musiekblyspel Ons vir jou sê die storieverteller die volgende:

“…maar elke mens, elke volk, elke land, as hy versigtig kyk, met die oë van sy siel, sal hy dit sien, al lyk die toekoms hoe dood, hoe donker: ’n klein kool wat gloei in die wit as van sy verlede. En al wat nodig is, is ’n klein stukkie hardehout en ’n windjie van verandering – kyk, en jy sal sien hoe hoog brand daardie vlamme!”

Die hardehoutkole van ons voorouers en geskiedenis gloei in ons. Ons moet onthou hoe die vlam in die verlede telkens uit die as van vernietiging opgevlam het en dan met ywer bou aan ’n mooi toekoms vir ons – hier in Afrika!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.