Opdraande stryd vir Trump om herkies te word

Die Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: Evan Vucci/AP)

Met twee weke oor voor die Amerikaanse verkiesing op Dinsdag 3 November, wys byna elke peiling dat die Demokratiese Party se presidentskandidaat, die voormalige adjunkpresident Joe Biden, die verkiesing gaan wen. Uit die afgelope twee weke se peilings loop Biden met ’n gemiddeld van 8% voor in die peilings.

Enige nugtere ontleding oor die huidige verkiesingsveldtog laat ’n mens besef dat president Donald Trump ’n opdraande stryd voer om herkies te word. Voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie was daar oorgenoeg rede om te glo dat Trump herkies sou word. Die Amerikaanse ekonomie was nog in Januarie vanjaar besonder sterk met rekordlae werkloosheid en ’n duidelike groei in inkomste van Amerikaanse gesinne.

Die pandemie het egter Trump se herverkiesingsplanne en sy veldtog se beplande fokus op sy ekonomiese sukses benadeel. Gedurende Maart, April en Mei vanjaar het 22 miljoen Amerikaners hul werk verloor. Van hierdie mense het slegs 42% intussen weer ’n werk gekry. Die groot vordering wat die afgelope paar jaar met sterk ekonomiese groei en ’n skerp toename in besteebare inkomste van die meeste Amerikaners gemaak is, is binne enkele maande met die uitbreek van die pandemie uitgewis.

Sou die meeste Amerikaners hul keuse vir president aan die hand van die pandemie en gesondheidsorg in die algemeen uitbring, sal Trump die verkiesing verloor. Dit is nie net die werksverliese weens die pandemie wat ’n probleem is nie, maar ook die federale regering in die VSA se hantering van die krisis wat kritiek uitlok.

Federalisme en die Covid-19-pandemie

(Foto: Cliff Owen/AP)

Eerstens is dit belangrik om te besef dat Amerika ’n federale land is waar heelwat regeringsfunksies by die deelstate gesetel is. Mediese sorg en belangrike besluite oor die hantering van gesondheidsorgkrisisse word deur goewerneurs van deelstate hanteer. Die Amerikaanse president en die federale regering het egter ’n belangrik rol te speel om te help om optrede tussen deelstate te koördineer en om federale instellings te gebruik om deelstate by te staan in die hantering van gesondheidsorgkrisisse.

’n Goeie voorbeeld is Duitsland. Duitsland is ook ’n federale land met gesondheidsorg wat gedesentraliseer is. Net soos die VSA, is heelwat mag in die regerings van deelstate en die sestien premiers se kantore gesetel. Besluite oor inperkingsmaatreëls, die afkondiging van noodtoestande, spesiale gesondheidsorgmaatreëls en die aanwending van noodfondse is – net soos in die VSA – by die deelstate gesetel. Wat die Duitse kanselier Angela Merkel wel gedoen het, was om gereeld met die sestien premiers van Duitsland se deelstate te vergader ten einde optrede te koördineer.

Die VSA is egter ’n heelwat meer ingewikkelde land en juis daarom is die kritiek teen Trump se hantering van die pandemie, slegs gedeeltelik geregverdig. Anders as Duitsland het die VSA ’n baie sterk federale kultuur en laat goewerneurs, beide Republikeine en Demokrate, hulle nie sommer deur die president voorskryf nie. Die VSA se vyftig deelstate is ook baie divers en wat vir Kalifornië met sy 40 miljoen inwoners werk, gaan nie noodwendig vir Wyoming met sy minder as 600 000 inwoners werk nie.

Die diversiteit tussen die VSA se deelstate is demografies, geografies en ideologies baie sterk en daarom is dit byna onmoontlik om een strategie te ontwikkel wat vir al vyftig state sal werk. Die Trump-administrasie verdien lof vir die hulp wat aan deelstate soos New York en Kalifornië tydens die piek van die pandemie verleen is. Wat egter waar is, is dat Trump se kommunikasie oor die pandemie swak was met wisselende boodskappe en klein geveggies waarin hy onnodig betrokke geraak het.

Met twee weke oor voor die Amerikaanse verkiesing probeer die Demokrate kiesers aanraai om hul keuse aan die hand van Trump se hantering van die pandemie en gesondheidsorg in die algemeen te maak. Daarteenoor probeer Trump kiesers oortuig om op die ekonomie te fokus. Trump se ekonomiese beleid tussen 2017 en 2019 geniet steeds die steun van ’n meerderheid van Amerikaners.

Is die peilings weer verkeerd?

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Die probleem is egter dat die Trump-veldtog se boodskap vanjaar baie wisselvallig is. Die peilings wys ook dat kiesers nie ’n duidelike rede van Trump kan kry waarom hy herkies moet word nie. Terwyl heelwat kritiek oor peilings gelewer kan word, moet peilings nie heeltemal buite rekening gelaat word nie.

Kort voor die verkiesing in 2016 was Hillary Clinton met ’n gemiddeld van 4% voor teen Trump in die peilings. Nadat Trump die verkiesing gewen het, is heelwat kritiek teen die peilingsagentskappe uitgespreek. Die meeste hiervan was egter nie regverdig nie.

Peilings kyk in die eerste plek na die nasionale stemtotale. In daardie opsig was die meeste peilings in 2016 nie so ver verkeerd nie. Clinton het drie miljoen meer stemme as Trump gekry en daardeur 2,1% meer stemme op haar verenig. Trump het egter gewen omdat die Amerikaanse kiesstelsel volgens ’n kieskollege werk waar elke deelstaat volgens sy bevolkingsgrootte ’n getal stemme tot die kieskollege kry.

Demokrate, en dus liberale en linkse kiesers, woon redelik gekonsentreerd in stedelike gebiede aan die Amerikaanse weskus en in die noordooste van die land, en al wen ’n Demokraat die deelstaat Kalifornië met 62% van die stemme, help dit nie indien daardie Demokraat Florida, Ohio, Michigan en Wisconsin verloor nie.

Die kieskollege bevoordeel, met goeie rede, kleiner landelike deelstate omdat die oprigters van die moderne Amerikaanse staat wou verhoed dat stedelike dele van die VSA die politieke oorhand kry. Die stelsel verplig dus albei partye om oor die hele VSA steun te werf.

Hoewel die peilings in 2016 voorspel het dat Clinton 4% meer stemme as Trump sou kry, het sy uiteindelik net 2,1% meer stemme gekry. Die rede hiervoor was eenvoudig dat baie kiesers wat nog in 2012 vir Barack Obama gestem het, in 2016 nie die moeite gedoen het om vir Clinton te gaan stem nie. Een voorbeeld is die stad Detroit in Michigan waar Clinton 60 000 minder stemme as Obama gekry het. Trump het Michigan met 10 700 stemme gewen.

Behalwe dat Clinton nie daarin kon slaag om heelwat Obama-kiesers by die stembus te kry nie, was die stempersentasie onder tradisionele konserwatiewe kiesers baie hoog. Terwyl wit mense tans 60% van die Amerikaanse bevolking uitmaak, was 74% van kiesers in 2016 wit. Kiesers wat tipies vir ’n Republikeinse kandidaat stem, het dus eenvoudig in groter getalle by die stembus opgedaag.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Presies wie op stemdag gaan stem, is vir peilingsagentskappe moeilik om te bepaal. Daar is meer as 200 miljoen stemgeregtigdes in die VSA en met ’n stempersentasie van omtrent 55% is dit moeilik om te bepaal presies wie gaan stem. Dit verduidelik grootliks waarom die peilings in 2016 nie die uitslag korrek voorspel het nie.

Die probleem vir Trump is dat hy vanjaar heelwat verder agter is in die peilings. Een rede daarvoor is dat sy opponent Joe Biden baie sterk is in tradisionele liberale state soos Kalifornië, Massachusetts en New York. Een voorspelling wat ’n mens reeds kan waag, is dat Biden waarskynlik die nasionale stem gaan wen en dat sy voorsprong oor Trump selfs meer as Clinton se drie miljoen stemme gaan wees.

Dit help egter min vir Biden se kanse om verkies te word, sou hy bloot net in stede soos Los Angeles en New York groter meerderhede kry. Die verkiesingsuitslag gaan in minder as tien deelstate beslis word. In minstens veertig van die vyftig state weet ons reeds wie gaan wen. Die vraag is egter wie gaan Florida, Ohio, Pennsilvanië, Arizona, Wisconsin, Noord-Carolina, Iowa, Georgia, Nevada en Michigan wen. Trump kan drie – en met die regte kombinasie hoogstens vier – van hierdie deelstate verloor en steeds die verkiesing wen.

Vir Trump om vanjaar te wen, sal hy en sy veldtog meesterlik daarin moet slaag om in hierdie enkele state kiesers wat meer konserwatief is en wat geneig is om vir die Republikeinse Party te stem, in groot getalle by die stembus te kry. Daarmee saam moet hy hoop dat Joe Biden se flouerige veldtog en sy onindrukwekkende optredes baie liberale kiesers tuis gaan laat bly.

Vyf redes waarom Trump nog kan wen

Pres. Donald Trump. (Foto: Randy Hoeft/The Yuma Sun via AP)

Daar is vyf redes waarom Trump ten spyte van die baie slegte peilings steeds ’n kans staan om die verkiesing te wen.

Die eerste is steeds Trump se ekonomiese rekord. Die Trump-administrasie verdien krediet vir sterk ekonomiese groei tussen 2017 en 2019. Veral Trump se belastingverlagings en die kansellering van ’n hele rits regulasies het hierdie ekonomiese groei moontlik gemaak. In onlangse peilings dui ’n meerderheid van Amerikaanse kiesers steeds aan dat hulle oortuig is dat Trump beter as Biden toegerus is om die huidige ekonomiese uitdagings hok te slaan.

Tweedens is dit belangrik om te verstaan hoe belangrik ’n grondvlakveldtog in Amerika is. Die party en kandidaat wat die beste daarin slaag om sy getroue kiesers by die stembus te kry, het ’n groot voordeel. Met ’n stempersentasie van 55% gaan alles oor die party se vermoë om in tien deelstate getroue ondersteuners in groot getalle by die stembus te kry.

Die Trump-veldtog het vanjaar heelwat beter infrastruktuur, insluitende ’n databasis van kiesers, landwye kantore en vrywilligers as in 2016. Daar is duidelik groot entoesiasme in al tien van die belangrikste deelstate vir Trump se veldtog en sy vermoë om hierdie entoesiasme in voetsoldate wat mense aanmoedig om te gaan stem, te omskep, kan die verkiesing in sy guns swaai.

Die derde Trump-voordeel is die geografiese verspreiding van kiesers. Terwyl Trump in 2016 sowat drie miljoen minder stemme as Clinton gekry het kan hy vanjaar selfs vier of vyf miljoen minder stemme kry en steeds wen. Clinton het in 2016 slegs 20 van die 50 deelstate gewen, juis weens Demokrate se geografiese konsentrasie.

Pres. Donald Trump. Foto: (Doug Mills/The New York Times via AP, Pool)

Trump se vierde voordeel is sy swak opponent. Biden is ’n onindrukwekkende kandidaat wat nie daarin slaag om kiesers te inspireer nie. Daar heers steeds heelwat onsekerheid oor sy kognitiewe probleme wat waarskynlik met sy ouderdom (hy word binnekort 78) te make het. Biden handhaaf reeds vir maande ’n redelike lae profiel en heelwat Demokrate het kritiek uitgespreek omdat hy in die laaste weke van die veldtog gereeld tyd en selfs volle dae afneem om te rus terwyl Trump oor die hele VSA groot skares ondersteuners toespreek.

Laastens was Trump se buitelandse beleid oor die afgelope vier jaar suksesvol met sy aggressiewe optrede teen China, die beëindiging van oorloë in die Midde-Ooste en die sluit van vredesooreenkomste tussen Israel en Arabiese lande. Nadat Trump in 2016 verkies is, was daar groot kommer dat hy die VSA se globale aansien groot skade sou berokken. Hoewel Trump nie juis gewild is in Europa nie, het hy min foute met sy internasionale beleid gemaak en verdien hy meer krediet daarvoor.

Terwyl miljoene kiesers reeds vroeë- en posstemme uitgebring het, sal Trump oor die volgende twee weke nog hard probeer om laaste onsekere kiesers te oortuig om vir hom te stem. Soos in 2016 kan Trump steeds ’n haas uit die hoed pluk met ’n verrassende oorwinning. Dit gaan egter alles afhang van sy veldtog se vermoë om in bogenoemde tien deelstate die regte kiesers by die stembus te kry.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
stargazer

Jaco, jy lees nie wyd nie. Sad

Riaan

Met die linkse media wat hom elke dag wil bykom vir die afgelope 4 jaar is dit nie werklik iets nuut nie. As die Amerikaners ‘n pateet as president wil he wat sukkel om twee sinne bymekaar te voeg dan moet hulle maar vir Biden kies en toekyk hoe China hulle ekonomie gaan platvee.

Therese

Skitterende opsomming van die stand van sake, veral vanuit die linksgesinde oogpunt waar die grootste deel van die wêreld hul bevind.
Hopelik sal ander politieke kommentators óók die fynere punte van die Amerikaanse kiesstelsel onder die knie kry sodat die uitslag nie weer as ‘n onhanteerbare skok kom nie.
Die geesdrif onder Trump-ondersteuners is heerlik om te aanskou!
Mag hulle/ons fees vier na 3 November!

adriaan isak

Niks oor die anargie in die stede nie?En afbreek van standbeelde o a nie?

Adriaan

Dieselfde mense wat in 2016 verstom was dat hy verkies is want-die-peilings-het-dan-gesê-hy-het-geen-kans-nie gaan weer verstom word. Die keer egter nie omdat hy gewen het nie maar met hoe ver hy gewen het.