Ope brief aan pres. Ramaphosa: Openhartige gesprek oor dié kwessies nodig

Deur Dries Wiese

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die Afrikanerbond het ʼn ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur. Volgens die Afrikanerbond het die presidensie ontvangs van die brief erken.

Hier volg die Afrikaanse weergawe van die brief:

U is die laaste ruk telkens aangehaal oor Radikale Ekonomiese Transformasie, en u het onverbiddelik in die parlement gereageer oor swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie en u het apartheid blameer vir die ekonomiese moeras waarin Suid-Afrika tans is. Dit is sake soos dié wat ons noop om die skrywe aan u te rig en die wysheid van die standpunte te bevraagteken.

Ons wil u herinner dat u president geword het in Februarie 2018 ná ʼn dekade en meer van wanbestuur, vernietiging van staatsentiteite, xenofobiese geweld, grootskaalse korrupsie en staatskaping. Hierdie werklikhede het ʼn enorme negatiewe impak gehad op ons ekonomie, op ons land en sy mense. Ons moet dus oor die volgende ons kommer met u deel:

Landelike veiligheid

U stem moet gehoor word oor plaasaanvalle en die vernietigende effek wat dit op die landelike ekonomie het, en in die toekoms vir voedselsekuriteit kan inhou. Die laaste paar weke word ons feitlik daagliks gekonfronteer met plaasmoorde en -aanvalle. Veral die brutaliteit hiervan word vir ons ʼn realiteit.

Die aanvalle kan nie meer net as ʼn misdaad gesien word nie. Sommige handelinge en veral die wreedheid wat met die aanvalle gepaard gaan, kan ingevolge die Wet op die Beskerming van Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste- en Verwante Aktiwiteite, Wet 33 van 2004 as terreur geklassifiseer word. Dit is tyd dat u regering die erns van plaasvalle en moorde insien!

Oplossings en voorstelle wat voorgehou is

Verskeie gemeenskappe het hulle daartoe verbind om hulle vir die toekoms van ʼn suksesvolle Suid-Afrika te beywer. Oor baie jare in die nuwe bedeling is konstruktiewe voorstelle wat oor baie sektore strek aan die regering voorgehou. Dit sluit landbou, onderwys, ekonomie en vele ander in. Die regerende party het verkies om hulle nie aan goedbedoelde voorstelle te steur nie en eerder die pad van ʼn uitgediende ideologie te bly stap. Vandag pluk ons ekonomie die wrange vrugte van beleidsraamwerke wat bots met internasionale werklikhede.

ʼn Ideologie wat breek en nie bou nie

Die noodbegroting van minister Tito Mboweni reflekteer die krisis waarin die ANC die land geplaas het. Dit bly daarom verstommend dat die ANC voortgaan om die regering se vernietigende beleid oor swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en grondhervorming te bly regverdig, te verdedig en dan voor te gee dat die beleid daarop gerig is om die “ekonomie en grondeienaarskap meer inklusief te maak sodat die meerderheid swart Suid-Afrikaners ook daarby kan baat”. Dit is gestroop van alle waarheid want dit is juis die rasbeleide en die toepassing daarvan, staatskaping en grootskaalse korrupsie wat swart Suid-Afrikaners se menswaardigheid aantas en hulle in groter ellende en armoede gedompel het.

Om Covid-19 te gebruik vir radikale ekonomiese transformasie is polities naïef. Die ideologiese doelwitte van RET sal die land op ʼn katastrofiese en onomkeerbare weg van rampspoed plaas, waarvan internasionale voorbeelde legio is. Die regering gaan broodnodige en gewillige buitelandse internasionale hulp op groot skaal vervreem sou die regering voortgaan om ons ekonomie met ideologiese onbeholpenheid te verstrengel.

Die verdeeldheid vanuit die regering

Ons herinner u aan u ampseed, om dit uit te voer en te besef dat u die belang van alle Suid-Afrikaners op die hart moet dra. U moet leierskap voorsien in ʼn land wat ʼn ernstige leemte ervaar het aan integriteit op alle vlakke van regering. Suid-Afrika het nodig dat daar wedersydse vertroue moet wees, respek vir mekaar se standpunte en bowenal ʼn wil om mekaar tegemoet te kom en mekaar te probeer vind tussen die probleme en uitdagings van die tyd. Ons indruk is egter dat ons meer gepolariseerd is, meer verdeeld en selfs swakker daaraan toe is, as voor u presidensie.

Ons was self diep onder die indruk dat u die man sou wees wat die talente en vaardighede van alle Suid-Afrikaners sal erken, respekteer en bevorder. Daarom het ons reeds ook talle versoeke tot gesprekke gerig met die hoop dat verskillende insigte oor grondwetlike kwessies sal meehelp om die kwessies soos taal, onderwys, misdaad, grond en landbou en vele ander tot voordeel van Suid-Afrika op te los. U het die uitnodiging pertinent tydens ons eeufeesviering aan ons Bondsraad gerig. Hierdie versoeke tot konstruktiewe gesprek wat deur ons opgevolg is, is egter almal deur u kantoor geïgnoreer.

Die toekoms ná Covid-19

Die pad na herstel is inderdaad ʼn geweldige omvangryke en gewigtige taak. In die tyd van die uitbreking van die Covid-19-pandemie het ons soos so baie ander gedink dat u aanvanklike hantering korrek was. Ons glo dit was steeds die geval. U het u egter omring met mense wat duidelik nie hulle lynfunksie, rampbestuur en kommunikasie met mense in tyd van groot onsekerheid verstaan nie. Ten spyte van talle waarskuwings oor die streng volgehoue inperking, word ons ekonomie willens en wetens onder groter druk geplaas.

U presidensie van hoop

In die Ampseed wat u op Saterdag 25 Mei 2019 afgelê het, het u plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika gesweer, en dat u onder andere die regte van alle Suid-Afrikaners sal beskerm en bevorder; en aan almal reg sal laat geskied; sowel as dat u uself aan die welsyn van die Republiek en al sy mense sal wy. In u toespraak ná die inhuldiging het u onder andere gesê: “Hierdie nuwe regering vind vertroosting daarin dat dit wat ons verenig, baie kragtiger en blywender is as dit wat ons verdeel” en toe die belangrike gedeelte wat u presidentskap moes definieer: “Laat ons – in  hierdie nuwe era – al ons bronne mobiliseer en al ons  vermoëns oproep om die visie van ons stigters, moeders en vaders te verwesenlik. Laat ons ‘n bondgenootskap sluit – nie net as besigheid en arbeid nie, nie net as diegene wat regeer en diegene wat regeer word nie – maar as burgers en patriotte van hierdie groot nasie, vry, gelyk en vasberade. Kom ons skep ʼn bondgenootskap vir groei en ekonomiese geleenthede, vir produktiewe grond en lewensvatbare gemeenskappe, vir kennis, vir innovering, en vir bekostigbare, toeganklike en volhoubare dienste. Kom ons skep ʼn bondgenootskap vir ʼn doeltreffende, bekwame en etiese staat.”

Dit is meer as ʼn jaar later en ons wil u graag herinner aan die woorde wat aanvanklik groot hoop geskep het. Dit wat u plegtig beloof het, het nog nie gerealiseer nie. U praat van vryheid en gelykhede, u praat van ʼn etiese staat, maar ons sien dit nog nie. Ons het ná u inhuldiging in Mei 2019 aan u geskryf en gesê: “Vele jonger generasies wit, bruin en Indiër-kundiges word egter gestuit om deel van hierdie visie te wees omdat hulle teruggehou word deur regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en die toepassing van kwotas.” Ons het toe gesê: “U visie sal slegs gerealiseer word mits die regering en die regerende party afstand doen van die diskriminerende maatreëls.” Ons het toe reeds gesê: “Ons weet daar is baie kundige Suid-Afrikaners wat u visie deel en gereed staan om te help. Dit berus by u om ná 25 jaar die speelveld gelyk te maak sodat hulle hul deel kan bydra.” Net soos ons ander skrywes is dié een ook geïgnoreer.

Moet nie die werklikhede van Suid-Afrika ontken nie

ʼn Nuwe begrip is nodig van wat die Grondwet se aanhef beteken waar dit sê “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid”. Ons kan geen vordering maak om Suid-Afrika te verenig as ons verskeidenheid nie terselfdertyd erken, gevier, bevorder en gerespekteer word nie. Ons kan geen vordering maak as die regerende party die werklikheid ignoreer, die geskiedenis eensydig interpreteer en voortgaan om eerder verdeeldheid aan te moedig nie.

Hierdie skrywe word aan u gerig binne ons Credo, wat ons rig om “die aard en wese van ʼn ware demokratiese staatsbestel te beskerm en te bevorder”, MAAR ook “enige ondemokratiese aspekte en neigings met mening sal bestry”; en dat ons “alles in ons vermoë sal doen om geregtigheid, billikheid en die hoogste etiese en morele waardes in Suid-Afrika te bevorder.”

In die lig van bogenoemde, maar in die gees van konstruktiewe samewerking, wil ons opnuut ʼn ernstige pleidooi tot u rig dat u optrede en u uitsprake gerig sal wees op die belang van alle Suid-Afrikaners, dat u in landsbelang sal luister na alle goedbedoelde advies en voorstelle, ook van opposisieleiers en dat u bereid sal wees om ook voorstelle wat oor soveel jare gemaak is, weer te oorweeg.

Indien u ʼn erns maak met u ampseed en bereid is om sinvolle voorstelle te oorweeg, ook wat betref die inwerkingstelling van die 2012 Nasionale Ontwikkelingsplan, sal ons dit ondersteun en ook graag ontmoet in ʼn openhartige gesprek om oor dié en soveel belangwekkende kwessies, gedagtes te wissel.

  • Dries Wiese is die voorsitter van die Afrikanerbond.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael 1 ·

Hy het nog nooit enige tekens getoon van n ware leier nie,hy ontken dan dat daar plaasaanvalle is en net soos sy voorganger blameer hy alles op apartheid en diskriminasie dieselfde beleid wat hy huidig deur wetgewing afdwing op wit en bruin minderhede.Die enigste opsie om die juk van hierdie land af te skud is om te onderhandel of n onafhanklike tuisstaat by hom te koop waar ons kinders en kleinkinders n ware kans op vryheid kan hê.

daniel ·

Hy het nie die inherrende kwaliteite wat mens in n president wil sien nie.

Kanjynoumeer ·

Veg of vlug!?
Volgens die boek “Die pad na Selfbestuur” is daar nie meer maklike besluite oor nie.
Gaan bly in ankerdorpe waar die meeste Afrikaners (wiites) gevestig is of om Orania te bou van dorp tot stad.
Gaan lees gerus die boek vir insig.

Emily ·

Die ou kan nie boe of ba sè ni Vra eerder vi sy handlangers
Hy herhaal altyd dieselfde goed oor en oor
Ons Het Geen Regte In Die Land Nie

Michael ·

Wie nog steeds glo hulle kan met hierdie kommunis of enige ander in die ANC sinvol onderhandel se van is seker “van Winkel”. Die enigste uitweg is of die ANC moet weg of ons moet weg-daars nie meer ander alternatiewe nie-kyk Noord as julle my nie glo nie

Elrina ·

Dries Wiese. Waar hoe kan ek die brief in Engels kry, te deel op FaceBook?

daniel ·

Geen land sal ooit n president he wat die hele bevolking verdien nie of die hele bevolking onbeskaaamd dien nie.

Pieter ·

Die skrif is aan die muur, Koning Belsasar !! Mene, mene, tekel,Ufarsin. Daniel hoofstuk 5 ….Verse 23 tot 28 en ……..Daniel 4 Verse 2 tot 6 ……….vertel ‘n gebeurtenis uit die Geskiedenis en die geskiedenis is soms geneig om homself te herhaal .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.