Oplossing vir armoede deur ʼn Afrika-herlewing

Deur Arno Duvenhage

Arno Duvenhage (Foto: Verskaf)

In ʼn korporatiewe wêreld van geïndustrialiseerde ekonomieë is dit maklik om die waarde wat kultuur, as ʼn hulpbron inhou, uit die oog te verloor. Dit is veral waar van Afrika wat waarskynlik die vasteland met die grootste kulturele diversiteit is. Koloniale grense het ʼn werklikheid geskep waar die meeste Afrikalande die tuiste van verskeie kulture is.

Die ontwikkeling van hierdie kulturele reservoir het die potensiaal om ʼn florerende kultuurgebaseerde bedryf te skep, aangesien toeriste en reisigers aangetrokke is tot kulturele sentrums. Kultuur is boonop ʼn hulpbron wat arm mense die geleentheid kan gee om eiewaardigheid te ontwikkel – deelname aan kulturele ontwikkelingsprogramme voorsien mense van vaardighede wat in die toerismebedryf gebruik kan word. Sodoende word erfenisbewaring en die ontwikkeling van nuwe erfenis ʼn manier om arm mense op te hef.

Die nalatenskap van die verlede op armoede is nie ʼn struikelblok nie, aangesien aksies in die hede ʼn direkte impak op die toekoms het. Die oplossing van armoede berus dus op ons optrede in die hede en die nalatenskap wat ons vandag vir ons nageslag bou.

Die enigste ding wat nodig is om ʼn sogenaamde Afrika Renaissance of herlewing te aktiveer, is die vestiging van moedertaal-universiteite vir elke taal- of kultuurgroep. Hierdie universiteite moet dien as kulturele middelpunte omring deur kunsskole, museums en ʼn feesplein – sodoende kan universiteite as deel van kulturele ontwikkelingsprogramme as inkomstebron aan die toerismebedryf gekoppel word.

Deur hierdie kulturele kampusse te skep, inspireer jy toerisme omdat daar sentrale plekke is waar die kulture ervaar kan word. Die doel is net soveel om reisigers te lok om weer met hul kultuur te herverbind, as wat dit is om toeriste te lok om die Afrika-herlewing te aanskou.

Ons leef in die era van heterogene stede, waar dit maklik is om ʼn mens se kultuur uit die oog te verloor. Hierdie kulturele sentrums word voorgestel as plekke waar mense kan gaan om weer met hul kulture te verbind. Daarom is reistogte na sulke kultuursentrums ʼn integrale faktor in dié Afrika-herlewing.

Kulturele hulpbronne in die stryd teen armoede

As jy na armoede in Afrika kyk, is daar sekere oorsake van die probleem wat deur ʼn Afrika-herlewing aangespreek kan word. Gebrek aan vaardighede kan aangespreek word deur arm mense by die kulturele ontwikkelingsprogramme te betrek deur beurse of ander befondsingsinisiatiewe te gebruik.

Swak gehalte onderwys ontstaan wanneer studente gedwing word om te studeer in tale wat vir hulle vreemd is. Moedertaal-universiteite kan hierdie in skole help aanspreek. Ekonomiese uitdagings kan omseil word indien ʼn groot deel van die befondsing vir hierdie kulturele programme uit toerisme en skenkings kom.

ʼn Afrika-herlewing sal nie armoede op sy eie genees nie, maar ʼn suiwer korporatiewe aanslag gaan ook nie. Om armoede te elimineer, moet dit op verskeie fronte aangespreek word – die ontwikkeling van kulturele erfenis is een hiervan. Die hoofbelang van ʼn Afrika-herlewing in die stryd teen armoede, is om mense ʼn gevoel van hoop en kulturele trots te gee wat genoeg kan wees om Afrika uit sy langdurige depressie te lig.

Visie van ʼn Afrika Renaissance

Voogdyskap-multikulturalisme bepaal dat ʼn multikulturele samelewing slegs stabiel kan wees as dit stabiele kulturele sentrums het – een waarin sogenaamde voogdyskap-organisasies geskep word, getaak daarmee om kulturele erfenis te bewaar terwyl nuwe erfenis vir die toekoms ontwikkel word. Die leuse is “moderniseer, nie verwesters nie”. Hierdie is net ʼn voorstel – elkeen kan dink aan sy eie weergawe van ʼn Afrika-herlewing.

Die grondslag hiervan is die sogenaamde Kulturele Waardigheidsfonds of bloot die Waardigheidsfonds. Dit is nie-regeringsorganisasies wat die tradisionele leiers van ʼn bepaalde kultuur betrek en wat vir elke kultuur opgestel is met ʼn mandaat om kulturele erfenis te bewaar en ontwikkel.

Skenkings aan hierdie fonds sal eerstens gebruik word om die kulturele sentrums op te rig. Dit sal ook gebruik word om beurse te verskaf aan studente met hulpbehoewendheid as die hoofkriterium. Skenking aan die Waardigheidsfonds kan bemark word as ʼn kwessie van kulturele trots: ʼn bydrae tot die toekoms van hul kultuur. Hierdie word Waardigheidsfondse genoem omdat dit die armes geleentheid bied om selfwaardigheid te bereik deur aan kulturele ontwikkelingsprogramme deel te neem.

Die eerste taak van die Waardigheidsfondse sal wees om moedertaal-universiteite te vestig waarom die kulturele sentrums gebou word. Die aanvanklike taak van hierdie universiteite wesende om boeke in hul moedertaal te vertaal en publiseer. Daar moet veral klem gelê word op kinderboeke, sodat die lees van stories aan kinders in hulle moedertaal as ʼn bron van kulturele trots bemark kan word. Met verloop van tyd sal hierdie moedertaal-universiteite help om hul tale uit te brei, sodat universiteite meer vakke kan aanbied en volwaardige tersiêre onderriginstellings kan word.

Volgende op die prioriteitslys is kultuurkunsteskole, wat kunsskole, dansskole en filmskole insluit. Die skole sal die taak hê om tradisionele kuns en danse te bestudeer, en dit te gebruik om moderne vorme daarvan te inspireer. As elke kultuur aan hierdie projek deelneem, sal dit ʼn groot hoeveelheid vermaaklikheidskunstenaars ontwikkel wat toerismegeld deur kulturele kunste lok. Die filmskole is ook belangrik omdat hulle die vordering van die kulturele ontwikkelingsprogramme sal dokumenteer deur video- en beeldmateriaal te vervaardig wat toerisme verder lok.

In samewerking met hierdie kultuurkunsskole funksioneer die feesplein. Rondom die feesplein moet winkeltjies wees waar toeriste en reisigers die kuns, wat in die kunsskole vervaardig word, kan koop. Die hooffeesplein bied ʼn plek waar vieringe en feeste gehou kan word om die uitvoerende kunste van elke kultuur ten toon te stel. Hierdie feespleine kan ook gebruik word vir seremonies waarby reisigers betrokke is, aangesien sulke seremonies ʼn gevoel van herverbinding deur deelname kan bied.

Ten einde die kulturele kampus as ʼn sentrale terrein van kulturele ontwikkeling en toeristeaantreklikheid te voltooi, moet museums en monumente rondom die feespleine gebou word. Die museums sal ʼn anker en bewaringsentrum vir die geskiedenis en oorlewering van elke kultuur bied, terwyl die monumente ʼn bron van kulturele trots bied.

Hierdie kultuurkampusse verteenwoordig ook ʼn kans om baie werksgeleenthede buite die toerismebedryf te skep.

Die verlede is nie ʼn struikelblok wanneer jy ʼn toekoms bou nie

As ek dink aan die potensiële impak wat ʼn Afrika-herlewing op die toekoms kan hê, word dit vir my duidelik dat die uitdagings van die verlede nie ʼn struikelblok is om ʼn herlewing te inspireer nie. Die uitdaging lê in die bou van die infrastruktuur en nie in die oorkoming van die nalatenskap van die verlede nie. Ware versoening is dat almal op dieselfde voet geplaas word. Die Afrika-herlewing sal Afrika-kulture gee wat talle ander kulture het: moedertaal-universiteite wat ook as sentrums van kultuur dien. Eerlikwaar, dit is skokkend dat dit nog nie gedoen is nie!

  • Arno Duvenhage is ‘n filosoof en aktivis. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AlWeerSo ·

Afrika se toekoms is in sy verlede, van teerstrate tot voetpaadjies!

Marthinus W ·

Ek stem saam met die leuse “moderniseer, nie verwesters nie”. Die Westerse kultuur het veral die afgelope 500 jaar die voortou geneem, maar onder Amerika se korruptende hand is dit besig om sy glans te verloor. En die EU is besis om hulself te deindustrialiseer, net om Amerika en Oekraine gelukkig te hou. Waansin.

China is die land met die langste aaneenlopende kultuur – al meer as 3000 jaar. In die 14de eeu was Europa in die Middeleeue, en het slegs daaruit gekom weens Chinese uitvindings: die kompas, drukkuns/papier, en buskruit.

Maar, ons het moet die Westerse kultuur nie sommer toelaat om onder Amerikaanse en die globaliste se korrupte hande te verdwyn nie. Dit moet self ook gemoderniseer word.

Manie ·

Stop die lorrie net hier, Afrika se armoede kan grootliks ge-elimineer word deur aanteling te bekamp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.