Opstand teen koronavirus-inperkings

Foto: ROBIN VAN LONKHUIJSEN/ANP/AFP

Die reaksie op die streng maatreëls wat verskeie Europese regerings neem ter bestryding van die koronapandemie wys ’n interessante politieke tendens.

Die maatreëls wat byvoorbeeld in Nederland, België en verskeie Duitse deelstate afgekondig is, is buitengewoon streng: Aandklokreëlings verplig mense om tussen negeuur saans en vyfuur soggens binne hul wonings te bly en slegs met geldige rede uit te gaan; jy mag nie meer as ’n enkele gas tegelyk tuis ontvang nie; alle restaurante, bioskope en teaters is gesluit, ensovoorts.

Dit stuit op felle weerstand in verskeie Europese lande. In Beiere het verskeie groot betogings voorgekom, en peilings wys dat slegs 40% van die Franse gewillig is om teen die koronavirus ingeënt te word.

Die afgelope dae het die fokus egter op die normaalweg wetsgetroue Nederland geval, waar verskeie stede geskok is deur grootskaalse betogings wat op geweld, vernielings en plundering van winkels, ensovoorts, uitgeloop het. Die polisie is met vuurwerk en stene bestook, motors is aan die brand gesteek, noem maar op.

Die geweld is grootliks deur die maklike kommunikasie via sosiale media aangehelp. Die kodewoord wat vir die geweld gebruik word, is “koffiedrink” – as mense mekaar oproep om koffie op ’n bepaalde tyd en plek te gaan drink, weet almal wat bedoel word.

Dikwels is die boodskappe baie reguit: “Die Binnehof (parlementsgebou) moet bestorm word. Ek wil die angs sien in die oë van die politici wat dit sover laat kom het.” ’n Ander laat weet hy is trots op die betogers, en skryf dan in hoofletters: “REVOLUSIE!”

Wie is die mense en wat beweeg hulle?

Die interessante aspek is dat hier sprake is van ’n informele koalisie tussen drie groepe waartussen die grense behoorlik vaag is. Dit gaan om linkse én regse ekstremiste, asook “gewone” oproermakers (meestal tieners en twintigers) wat op ’n bietjie opwinding uit is.

In Duitsland het sulke mense ’n naam – “Querdenkers”, oftewel andersdenkendes.

Dié Querdenkers was ’n paar weke gelede verantwoordelik vir ’n mislukte poging om die Reichstag, gebou van die Duitse parlement in Berlyn, oor te neem. Dié bestorming was die prototipe vir die onlangse bestorming van die Kapitool, gebou van die Amerikaanse kongres, in Washington, deur ondersteuners van Donald Trump.

Sulke groepe word deur verskeie gemeenskaplike oortuigings gekenmerk.

Hulle staan almal vir “vryheid”, waarmee hulle bedoel hul eie persoonlike vryheid om te doen soos hulle wil. Beperkings wat weens die pandemie van bo af opgelê word, beskou hulle as ontoelaatbare inbreuk op hul vryheid.

Die linkses in dié groepe is dikwels ideologiese anargiste, mense wat in elk geval teen die bestaan van owerhede as sodanig gekant is, wat meen dat gemeenskappe hulself sónder wette en reëls kan organiseer. Die regses is óf egte fasciste óf grens daaraan.

Onder diegene wat die Kapitool bestorm het, was T-hemde te sien met die leuse “Camp Auschwitz”, of die afkorting “6mwne” (wat staan vir “Six million was not enough”, bedoelende die ses miljoen Jode wat deur Nazi-Duitsland vermoor is).

Onder die dikwels gewelddadige demonstrante in Duitsland is daar mense wat hulself “Reichsbürger” noem. Dis mense wat weier om die bestaan van die Bondsrepubliek te erken, wat meen dat die Duitse keiserryk van voor 1918 (en sy opvolger, Hitler se Derde Ryk) staatsregtelik steeds bestaan.

In Nederland beweer een van die voorbokke, ene Willem Engel, dat die verpligting om mondkapppies in openbare geboue te dra op dieselfde neerkom as die dra van die Jodester in die Tweede Wêreldoorlog. Soos die Amerikaanse groep wat homself “QAnon” noem, beweer talle van die Europese protesteerders dat die regerings oorheers word deur Joodse groot kapitaliste en deur pedofiele wat kinders ontvoer en aanhou om gereeld te verkrag.

Een eksgtreemregse kommentator, Alex Jones, het selfs in 2018 beweer dat Amerika ’n konsentrasiekamp vir sulke ontvoerde kinders in die geheim op die planeet Mars gevestig het.

Wat die linkse en regse ekstremiste verenig, is hul verwerping van die liberale demokrasie – al maak hulle dankbaar gebruik van die regte wat die stelsel hulle bied. Hulle is ook geneig om antisemitiese oortuigings te hê; baie van hulle sien ryk Joodse grootkapitaliste soos George Soros as die bron van alle kwaad.

Wat sê dit alles?

Wel, niemand kan ontken dat daar groot verskille bestaan betreffende die inhoud van die linkse en regse ekstremiste se politieke oortuigings nie. Dié aan die linkerkant sien die bestaan van aparte state en volke as ’n gevaar; vir die regses kom nasionalisme en die bestaan van volke byna op ’n godsdiens neer.

Maar hulle vind mekaar in hul weerstand teen die liberale demokrasie en die maatreëls wat die demokratiese staat teen die koronapandemie tref. Hulle vind mekaar in die oortuiging dat die koronavirus in ’n laboratorium (hetsy in China of elders) ontwikkel is sodat owerhede wêreldwyd die bevolkings in ’n ystergreep kan vasvat en hou, dat die toediening van die entstof gepaard gaan met apparaatjies waarmee owerhede die burgers kan breinspoel.

Hulle sien hulself as die égte vryheidsvegters teen ’n magsbeluste owerheid. Hulle sien komplotte as die onderliggende oorsaak van álle ellende in die wêreld.

Met ander woorde, al verskil die ínhoud van hul denke, is hul maniér van denke dieselfde.

Eintlik is dit niks nuuts nie. In die geskiedenis van die 20ste eeu het die totalitêre diktature van Adolf Hitler en Josef Stalin wat betref die wyse waarop hulle hulself in die praktyk gemanifesteer het, besonder naby aan mekaar gestaan.

Dit bring ’n mens by ’n oorkoepelende gevolgtrekking. Dit is dat die égte teenstelling in die politiek nie soséér tussen linkses en regses is nie, maar tussen gematigdes en ekstremiste.

Gematigdes kan ook onderling verskil. Die een is linkser, die ander regser.

Maar dis verskille in intensiteit; nie werklik rakende benadering nie. Oor die algemeen is gematigdes bereid om hul politieke mededingers te sien as mense wat bloot anders dink, nie as mense wat tot die dood beveg moet word nie.

Die ding met ekstremiste is dat hulle onverdraagsaam is, dat hulle die rég van mense om met hulle te verskil ontken. Dis hoekom jy dikwels kry dat linkse ekstremiste hulle opeens as regse ekstremiste ontpop, en andersom.

Dis natuurlik – en gesond – dat mense verskil en dat hulle oor sulke verskille debatteer. Maar wanneer dié verskille tot onverdraagsaamheid oorgaan, en wanneer mense hul verskille op straat teen ’n demokratiese owerheid uitveg (en dit bowendien met vernieling en plundering gepaard laat gaan), moet die gevaarligte flikker.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snowball ·

Konsentrasiekampe vir ontvoerde kinders op Mars? Dis ‘n nuwe een! Die samesweringsteoretici is besonder kreatief wanneer dit kom by dink, maar ongelukkig ontbreek behoorlike bewyse. En plein kommin logika? Dié is óf onder slot en grendel òf ver weg op vakansie…

MT ·

Lank lewe rubriekskrywers soos Jaco Kleynhans, Sebastiaan Biehl en Nico Stegmann. Julle werk is altyd oorspronklik, en in pas met wat aan die gebeur is, plaaslik en internasionaal.

Maroela Media verdien spesiale erkenning vir die moed en oortuiging wat dit verg om hierdie belangrike skrywers en hulle werke lugtyd te gee in ‘n eeu van riooljoernalistiek as norm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.