Orania: Voorbeeld van ʼn privaat dorp met strewe na outonomie

Orania in die Noord-Kaap is ʼn unieke voorbeeld in Suid-Afrika, indien nie die wêreld nie, van ʼn suksesvolle privaat dorp wat op ʼn politieke ideaal, naamlik selfbeskikking vir die Afrikaner, gebou is.

Terwyl daar al vir dekades in die behoudende kringe gepraat is en steeds gepraat word oor die idee van ʼn volkstaat, asook in die vryheidsgesindekringe oor ʼn vrye privaat stad, is Orania nou al vir meer as 30 jaar ʼn praktiese voorbeeld dat so iets onder sekere omstandighede kan werk.

Die stigting van Orania in 1990/ 1991 val in die oorgangstyd van die ou na die nuwe Suid-Afrika. As iemand vandag iets soos Orania sou wou stig, sou dit onder heel ander omstandighede en met ʼn ander wetlike raamwerk wees. Terwyl dit destyds as ouderwets beskou en as laaste vesting van apartheid afgemaak is, is dit vandag ʼn selfs bewonderde voorbeeld van hoe ʼn groep mense met ʼn gemeenskaplike doel dit teen alle weerstand kan verwesenlik, en volksvryheid sowel as individuele vryheid tot sy reg kan laat kom teen die agtergrond van ʼn vyandige en toenemend mislukkende staat.

ʼn Unieke selfbeskikkingsprojek

Vir iets soos Orania as eerste groeipunt van ʼn Afrikanervolkstaat was daar geen bloudruk nie. Die naaste voorbeeld daaraan was die opbou van Israel uit die niet deur Joodse pioniers aan die begin van die 20ste eeu. Eintlik is die huidige Orania, wat de facto ʼn outonome, vrye privaat stad is soos in die vorige artikel behandel, iets anders as die oorspronklike Orania wat as eerste groeipunt van ʼn toekomstige staat gesien is waar pioniers ʼn groot grondgebied sou bevolk en ontwikkel.

Die regsfondasie waarop Orania gebou is, is tot vandag toe redelik vaag. Dit is geen munisipaliteit nie en nog minder ʼn erkende outonome gebied, waarvoor die Suid-Afrikaanse grondwet ook nie uitdruklik voorsiening maak nie. Die dorp, wat as spookdorp deur ʼn groep idealiste rondom prof. Carel Boshoff van die departement van waterwese gekoop is, is bedryf as aandeleblokmaatskappy, omdat dit die aangewese regsvorm was om die doelstellings van Orania te kon uitleef en om nuwe intrekkers te kon keur volgens hulle verbintenis tot die ideaal van selfbeskikking en tot volkseie arbeid.

In die begintydperk van Orania, die oorgangstydperk van die ou na die nuwe bedeling in die vroeë 1990’s, het Orania sy eie plaaslike oorgangsraad gehad. Dit het in die eerste vyf jaar van die nuwe bedeling, dus in die regeringstydperk van Nelson Mandela van 1994 tot 1999, so voortgegaan. Die provinsiale indeling het wel al in 1994 verander, maar die munisipaliteite het eers nog volgens die ou indeling voortgegaan. Met die bewindsaanvaarding van Thabo Mbeki was die herindeling van die dorpe en stede in nuwe distriksmunisipaliteite, waar drie of meer dorpe saamgevoeg is, ʼn belangrike verandering om die doelwit van sentralisasie en groter beheer vir die ANC te verwesenlik. Orania sou ingedeel word by die nuwe Thembelihle-munisipaliteit saam met Hopetown en Strydenburg, dorpe met ʼn groot nie-blanke-meerderheid. Orania sou dus onder ANC-beheer beland het en sy reeds gevorderde feitlike selfstandigheid, veral wat finansies betref, verloor het.

Die jaar 2000 was een van hoogspanning met pogings van Orania se kant af om te skik vir ʼn middeweg. Ook die veelbesproke Grondwetlike artikel 235 oor territoriale selfbeskikking is as argument vir plaaslike outonomie betrek, maar omdat dit nie in wetgewing vervat was nie, het dit min praktiese waarde gehad.

Die regering het vir tyd gespeel en voorgegee om in gesprek te wil tree, maar het agter die skerms onverpoosd voortgegaan met die nuwe indeling van munisipaliteite, sonder om besware in ag te neem.

Ook ander gemeenskappe behalwe Orania was ongelukkig met die indeling teen hulle wil. Orania het toe geen ander uitweg gesien nie as om hof toe te gaan en ʼn dringende interdik teen die eerste munisipale verkiesing onder die nuwe indeling aan te vra. Die werwing van steun onder Afrikaners vir Orania se saak was daarby van groot belang. Orania het onder vryheidsgesinde Afrikaners ʼn simbool geword van Dawid wat Goliat aandurf. Die dag voor die munisipale verkiesing in November 2000 het die hof beslis dat die ontbinding van Orania se oorgangsraad nie korrek in die Staatskoerant aangekondig is nie en die indeling in die groter Thembelihle-munisipaliteit dus nie wettig was nie. Dus sou Orania tot tyd en wyl voortgaan as eie owerheid, sonder om munisipale status te hê, en die finale status sou dan deur ʼn onderhandelde skikking bepaal word.

Dit is nou al meer as 20 jaar later en Orania se politieke status is nog steeds nie finaal beslis nie. Dit sou egter nie die eerste keer wees dat ʼn tydelike en voorlopige reëling met verloop van tyd permanent word nie. Wat Orania outonomie gee is nie die juridies erkende outonome status nie, maar die feitlike outonomie deurdat die gemeenskap van Orania in talle opsigte outonoom optree.

Pilare van feitelike outonomie

Weens sy eienaarsvorm as aandeleblokskema kies die eienaars van eiendom in Orania, dus die aandeelhouers, hulle direksie vir die Orania dorpsraad (amptelik Vluytjeskraal Aandeleblok Bpk.) wat funksioneer soos ʼn stadsraad met die raadslede wat die besluite neem, voorgestaan deur die voorsitter wat effektiewelik die burgemeester is. Een raadslid word wel spesifiek deur die nie-aandeelhouers (huurders) gekies om hulle belange te behartig. Benewens die Orania dorpsraad is daar die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) wat deur alle inwoners ouer as 18 jaar verkies word en die oorhoofse strategie beplan en ook die spreekbuis teenoor die regering is.

Weens sy eienaarsvorm as aandeleblok het Orania die reg en moontlikheid om self, deur middel van ʼn komitee, te bepaal wie as inwoner toegelaat word en wie nie. Dit kom amper neer op ʼn soort beheer oor immigrasie, iets wat net state het, en gee aan Orania se instellings daardeur ʼn groot mate van outonomie. Vir die voortbestaan van ʼn entiteit wat spesifiek gebou is op taal en kultuur, is die handhawing van die homogeniteit belangrik.

Ook op die fiskale gebied en die gebied van dienslewerings het Orania ʼn groot mate van outonomie deurdat die gemeenskap nie, soos in ander dorpe, afhanklik van staatlike befondsing is nie. Aandeelhouers betaal maandelikse heffings en finansier daarmee die dienslewering wat deurgaans doeltreffend is. Behalwe vir die maandelikse heffings is daar ook talle bydraes en donasies vir projekte soos maatskaplike behuising, erfenisbewaring en sosiale dienste, sowel van inwoners en nie-inwoners asook van organisasies in Suid-Afrika en selfs uit die buiteland.

Veiligheid is noodsaaklik vir ʼn gemeenskap, veral in ʼn land soos Suid-Afrika met sy hoë misdaad en sy ondoeltreffende polisiediens. Orania het aanvanklik ʼn veiligheidskomitee uit vrywilligers gehad wat van tyd tot tyd gepatrolleer het. Soos wat die gemeenskap gegroei en die potensiële bedreiging deur ʼn vervallende Suid-Afrika, ten spyte van Orania se geografiese isolasie, gegroei het, is ook die veiligheidsdienste uitgebrei: ʼn beheersentrum met kameras en voltydse personeel, ʼn gewapende reaksiemag onder ʼn geregistreerde veiligheidsmaatskappy insluitende voertuie en toerusting, asook nood mediese geriewe is ingerig.

Onderwys en opleiding is eweneens ʼn hoeksteen van ʼn samelewing. Suid-Afrika se wetgewing laat, anders as in talle Europese lande, ʼn mate van ruimte vir privaat onderwys, mits dit self gedra word. Vir Orania was die daarstelling van eie Christelike Afrikaanse onderwys met ʼn selfbeskikkingsaanslag baie belangrik, want sonder beheer oor jou eie opvoeding verloor jy die volgende geslag. Twee goed gevestigde skole met verskillende modelle, naamlik die rekenaargedrewe selfstandige leer (Volkskool Orania) en die gebruiklike klasonderwys (CVO-skool) bestaan langs mekaar. Elkeen het ook sy eie kleuterskool. In die laaste jare het tersiêre opleiding bygekom in die vorm van ʼn goed toegeruste tegniese opleidingskool asook toenemend akademiese vakke. Studenteverblyf is intussen ook in plek en onderwys is een van die groeiende bedrywe in Orania en skakel nou met Solidariteit se private opleiding.

Kultuur en erfenis as fondasie vir identiteit, wat ʼn outonome gebied die nodige bestaansrede gee, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Waar Afrikanererfenis in Suid-Afrika ten beste nog privaat bedryf word, maar meer dikwels verwyder en geskend word, word dit in Orania bewaar en vertroetel.

Outonomie van ʼn gemeenskap het juis betekenis as dit verder strek as blote dienslewering, naamlik die bewaring en uitbou van iets wat eie aan ʼn spesifieke volk is. In Orania word sowel erfenis in die vorm van standbeelde, artefakte en boeke bewaar en uitgestal om kennis oor te dra, asook die lewende kultuur beoefen, soos toneelopvoerings, literatuurlesings, beeldende kunste, musiek, volkspele ensovoorts.

Maatskaplike sorg en gesondheidsorg is nog in sy kinderskoene en is iets wat moeilik losstaande van ʼn staat beoefen kan word. Orania het talle terugslae op die mediese gebied beleef en moet ook aan die wetgewing voldoen. Om hoë gehalte mediese dienste bekostigbaar te voorsien is ʼn uitdaging, maar ook hier is belangrike stappe gedoen met die vestiging van ʼn voltydse mediese praktisyn met apteek en selfs ʼn klein hospitaal. Selfs ʼn eie mediese fonds is in die lewe geroep.

Op maatskaplike gebied is nog heelwat werk, maar dit bly ook belangrik om nie in die spore van ʼn welsynstaat te val nie en om die inwoners eerder te help om vir hulleself te sorg as om meer en meer gratis dienste en toelae te voorsien. Die fokus van maatskaplike hulp is dan ook eerder op die beskikbaarstelling van bekostigbare behuising, terwyl finansiële hulp net in uitsonderlike gevalle van nood gegee word. Die hulp kom dikwels ook eerder van private instansies soos kerke as van owerheidsinstansies.

Vir enige staat en selfs provinsie of stad is die beeld na buite belangrik, veral om toeriste en beleggers te lok. Orania veg al van sy ontstaan met ʼn negatiewe beeld en spandeer heelwat energie, tyd en geld op skakeling, sowel binne in die gemeenskap om die vlak van tevredenheid hoog te hou, asook na buite om moontlike aanvalle te voorkom en om sy saak uit te dra. Hier is die Orania Beweging, wat deur betalende lede en donasies onderhou word en soos Orania se departement van buitelandse sake funksioneer, van belang. Deur die blootstelling aan Orania kan die Afrikaner en ander volke aspekte van outonomie leer ken en self toepas. Die AfriForum-takke pas in hulle gemeenskappe reeds aspekte van die onderste vlak van outonomie toe, deur byvoorbeeld self die veiligheid in hulle buurt deur buurtwagte te verbeter, of die voorkoms van die omgewing te verbeter deur gemeenskaplike opruimaksies.

Interessant is daarby ook dat outonomie op die onderste vlak nie ʼn regering nodig het wat dit deur wette reguleer nie. Dit kan selfstandig geskep word binne ʼn gemeenskap wat sy eie geografiese gebied deel en ideaal gesproke ook etnies homogeen is.

Maroela Media het in die afgelope paar weke tweeweekliks artikels geplaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem is. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Daar bly glo 6000 mense in Orania, na 31 jaar. Die dorp is in 1991 gestig. In 1992 het amper 900 000 wit kiesers nee gestem in die referendum. So iewers maak die syfers nie sin nie. Hoekom is daardie 900 000 nie óók Orania toe nie?

Alfred E Neuman ·

Die orania konsep klink vir my baie soos nasionaal sosialisme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.