Pandemie skep nuwe vrae oor Europese integrasie

Foto: Pixabay

Oor die afgelope drie dekades het die Europese Unie (EU) homself beywer vir groter Europese integrasie. Die belangrikste maatstawwe wat ingestel is om integrasie te bespoedig, was die aftakeling van grense tussen lidlande en die ekonomiese integrasie met ’n gedeelde mark en een geldeenheid. Terwyl die koronakrisis in Europa afspeel en verskillende lande verskillend op die pandemie reageer, ontstaan ernstige vrae oor hoe volhoubaar Europese integrasie werklik is.

Toe die Schengen-ooreenkoms op 14 Junie 1984 in die dorp Schengen in Luxembourg onderteken is, het dié ooreenkoms groot belofte vir Europese integrasie ingehou. Die ooreenkoms is uiteindelik gedurende die 1990’s geïmplementeer en het sedertdien van die oorspronklike vyf ondertekenaars tot 26 lande uitgebrei. In praktyk beteken dit dat daar geen interne grensbeheer tussen ondertekenaars van die ooreenkoms is nie. Dit het die beweging van mense en goedere tussen hierdie 26 lande wesenlik makliker gemaak.

Saam met die aftakeling van grense tussen Europese lande, was ’n belangrike prioriteit vir Europese leiers monetêre integrasie met die oprigting van die Europese Sentrale Bank en die instelling van die euro as enkele geldeenheid vir Europa.

Ten spyte van al die pogings om integrasie in Europa aan te moedig, het weerstand op verskeie terreine die afgelope paar jaar begin ontstaan, en met die uitbreek van die koronapandemie is dit duidelik dat die verskille tussen Europese lande ernstig genoeg is om moontlik tot ’n toekomstige herskikking te lei.

Brittanje se besluit om uit die EU te tree nadat dié land in elk geval nooit deel van die Schengen-ooreenkoms óf die euro-sone geword het nie, het die vraag laat ontstaan of nog Europese lande nie dieselfde stap sal neem nie. Indien Brittanje se uittrede uit die EU suksesvol is en die Britse ekonomie uiteindelik sterker aan die ander kant uitkom, sal nog lande moontlik uittrede oorweeg. Verskeie lande soos Griekeland betaal ’n duur prys vir monetêre eenheid.

Die migrasiekrisis van 2015 en 2016 het groot uitdagings vir die oopgrensebeleid geskep, veral toe verskeie lande tydelik hul grense in 2016 gesluit het of tydelike grensbeheer ingestel is. Die grenskrisis gaan egter nie net oor grense tussen lande in Europa nie, maar gaan veral ook oor die buitegrens van Europa. Lande soos Griekeland en Italië word uitermatig blootgestel aan onwettige immigrasie terwyl daar geen ooreenkoms in Europa bereik kan word oor ’n volhoubare versterking van die buitegrens van Europa en ’n gedeelde finansiële las om daarvoor te betaal nie. Die huidige krisis op die grens tussen Griekeland en Turkye beklemtoon dit.

In die afgelope maande was daar ook ernstige meningsverskille tussen lidlande van die Europese Unie oor die begroting van die EU met sommige lande soos Nederland wat voel dat die las op party lidlande te groot raak en dat die EU eerder sy begroting moet sny as verder vergroot. Die Europese Volksparty, die grootste faksie van sentrumregse partye in die EU, het ook so pas gevra dat die implementering van die EU se groot groen nuwe ooreenkoms (Green New Deal [GND]) vir eers uitgestel moet word.

Die grootste verskil is egter in die uiteenlopende wyses waarop verskillende Europese lande op die koronapandemie gereageer het. Die rede hiervoor is natuurlik dat elke land kultureel, ekonomies, geografies en op talle ander wyses van mekaar verskil. Die koronapandemie gaan waarskynlik Europese integrasie tot stilstand ruk en die noodsaak van grense herbevestig.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

Ek dink dit moet bly soos dit is en ek dink suid afrika moet hulle volg en sa opdeel in onafhanklike state sodat mense n keuse het en een volk nie n ander se geskiedenis en leefwyse vernietig om hulself te bevoordeel nie.

Die Wolf ·

Beslis nie. Enige persoon met n Schengen visum kan oor grense gaan en werk soek. Ek verstaan dat hulle nie geweier mag word nie. Hoekom dink jy dat daar so baie Asiers ens. daardie lande instroom. Voorspel dat Switzerland eerste Engeland sal volg.

Boerkind ·

Wel Jaco, laaaank voor “mense” met hulle agendas begin het, het God gesê Hy stel tale, volke en grense vas…. Maar nou ja, die eindelose drang van die mens om alles wat God sê te ignoreer en omver te probeer werp het elke keer net in ‘n gemors ontaard – soos ons dit tans ook weer beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.