Plaas onderwys eerste en transformeer só die ekonomie

Gwen-Ngwenya 

Gwen Ngwenya is die hoofbedryfsbeampte by die SA Instituut vir Rassebetrekkinge. Foto: Twitter.com

Deur Gwen Ngwenya 

Die voortslepende debat oor radikale ekonomiese transformasie fokus grootliks op dít wat ons nie weet nie, maar daar is inderwaarheid ʼn sleutelbeginsel waaroor daar feitlik sekerheid kan wees. Oor faksiegrense heen in die regerende party verwys omtrent almal wat oor radikale ekonomiese transformasie praat ten eerste en by uitstek na die demografiese eienaarskap van bates.

Radikale ekonomiese transformasie stel dit dat die struktuur van eienaarskap en welvaart in die ekonomie steeds langs rasselyne bepaal word. Gevolglik moet beleid en inwerkingstelling daarop fokus om die pas van strukturele herbelyning (om die rassewanbalans te herstel) veral in kapitaalmarkte en sake- en grondeienaarskap te versnel.

Radikale ekonomiese transformasie, soos dit tans beskou en uitgespel word, sal faal om presies dieselfde rede as beleidstellings van regstellende aksie: ʼn fokus op uitsette (grond, verkrygingstransaksies) in plaas van insette (onderwys), wat dan lei tot ʼn klein aantal begunstigdes. Radikale ekonomiese transformasie sal verder misluk op massatransformasievlak omdat miljoene Suid-Afrikaners om basiese oorlewing veg, en nie daarin slaag om in hul basiese lewensmiddele en -behoeftes te voorsien nie. Gevolglik is beleid wat kapitaal-opgaring op die voorgrond en derhalwe voor inkomstesekerheid plaas, bestem om nie te voldoen aan behoeftes en verwagtinge nie.

ʼn Vegterskans

Die neiging om finansiële in teenstelling tot grondvergoeding te aanvaar steun die inkomste-versus-eienaarskap-teorie van openbare ontevredenheid. In die 2017-staatsrede het pres. Jacob Zuma by grondeisers gepleit om grond in plaas van finansiële vergoeding te neem. Meer as 90% grondeisers aanvaar finansiële vergoeding in die plek van grond. Hierdie verstommende syfer gaan lynreg in teen die “honger-na-grond”. Daar is inderdaad ʼn honger oftewel drang, maar dis hoofsaaklik vir stabiele leefwyses. Daar is twee aspekte van welvaart: inkomste en kapitaal. Om te fokus op kapitaalopgaring voordat mense nog selfs ʼn inkomste het om in basiese behoeftes te voorsien, beteken bloot om die wa voor die perde te span.

Die idee van ʼn universele basiese inkomstetoelae is feitlik voortdurend deel van besprekings oor hoe die maatskaplike welsynstelsel saamgestel moet wees. Daar is ʼn ontluikende globale beweging en navorsing vir verskeie soorte samestellings om so ʼn stelsel lewensvatbaar te maak. Die knelpunt is nie net om die reg op lewe te beskerm nie, maar ook om keuse te beskerm; nypende lewensnood maak ʼn bespotting van keuse. Jy kan nie van mense sonder enige opsies verwag om keuses te maak nie. Sulke idees word soms, en wel onvanpas, verbind met die linkse faksie en paternalisme, maar ek sien geen weergawe van liberalisme wat van waarde is as dit nie terselfdertyd ook waarde heg aan beskerming teen ekonomiese ontbering, met sy onvermydelik gepaardgaande wurggreep op vryheid, nie.

Met betrekking tot sowel lewe as vryheid moet ons dan aan mense die nodige gereedskap vir sukses toeken. Die verkiesingsgeknoei van rasse-uitkomste sonder besorgdheid oor die insette wat tot meer gelyke uitkomste lei, is futiel. In die afwesigheid van ʼn basiese inkomstetoelae kan ons daarna streef om ander middele vir mense te verskaf om wel ʼn vegterskans op ʼn lewe onafhanklik van regeringsteun te kry.

Onderwys in Suid-Afrika is ongetwyfeld een van die belangrikste insette om toekomstige inkomste- en ekonomiese onafhanklikheid te bevorder. Daar is meestal ʼn positiewe verhouding tussen jare in onderwys en vlak van inkomste, en veral ʼn gaping in die verdienstepotensiaal van diegene met ʼn matriekkwalifikasie en diegene daarsonder. Die ANC se beleidsbesprekingsdokument oor ekonomiese transformasie maak vlugtig melding van onderwys. Goed en wel, dis ʼn ekonomiedokument, maar onderwys behoort uitgelig te word as ʼn kernkwessie vir die ekonomie-agenda.

Sowat 50% leerders wat in graad 1 ingeskryf word, sal die skool verlaat voor graad 12. Dit verteenwoordig ʼn groot toestroming van ongeskoolde mense tot die arbeidsmag. Dit is moontlik om programme te ontwikkel wat meer geleenthede aan swart gegradueerdes en die politiek verbinde elite bied, maar die werklike toevloei kom van die massas wat onbekwaam en onvoldoende toegerus is vir die arbeidsmag en wêreld van werk.

Transformasie

Die private sektor, of “wit monopolie op kapitaal”, word onder radikale ekonomiese transformasie bestempel as ʼn struikelblok vir transformasie. Afgesien van belegger-vyandige beleidstellings, is die onderwys-agterstand eintlik die mees bedreigende versperring vir transformasie. Volgens senior amptenare van die regerende party is dit egter die gebrekkige wil om te transformeer wat die herverspreiding van welvaart en eienaarskap bly stuit. Die SA Instituut vir Rassebetrekkinge het voorheen al gemeld dat onderwys-uitkomste in Suid-Afrika ʼn plafon op transformasie in die werkplek en breër ekonomiese geleenthede plaas.

Die hoeveelheid mense met ʼn graad wat ook swart is, stem grootliks ooreen met die hoeveelheid professionele werknemers wat swart is. Transformasie in die werkplek is in pas met transformasie in onderwys-uitkomste. Die groot ongelykheid is tussen swart mense as ʼn hoeveelheid van die algehele bevolking (80,7%) en swart mense as ʼn hoeveelheid van professionele werknemers (50,35%), maar ʼn groot deel daarvan weerspieël die gaping tussen swart Suid-Afrikaners enersyds mét en andersyds sónder ʼn kwalifikasie. Alvorens Suid-Afrika die ongelykhede in die bereiking van onderwys-mylpale onder rassegroepe aanpak, sal daar steeds ʼn kloof tussen die demografie van die bevolking en die demografie van geleenthede en welvaart wees.

Ondanks die onderwys-agterstand is R23 miljard toegeken vir die skepping van 100 swart nyweraars oor ʼn tydperk van drie jaar deur die departement van handel en nywerheid (bekend as DTI). Daarbenewens sal die Nasionale Bemagtigingsfonds (National Empowerment Fund, NEF), ʼn filiaal van die DTI en die enigste ontwikkelingsfondsinstelling met die uitsluitlike mandaat om breëbasis swart ekonomiese bemagtiging te ontwikkel, jaarliks herkapitalisering van R2 miljard benodig. Die hoë koste van herverspreidingsprogramme, relatief tot die teikengetal begunstigdes, is ʼn kritieke swakpunt om breëbasis-bemagtiging te bereik, en dit steun die opvatting dat bemagtigingsprojekte voertuie is vir die verryking van ʼn ryk, politiek verbinde swart minderheid. Radikale ekonomiese transformasie wat gefokus is op kapitaalopgaring is gerat om slegs ʼn klein swart elitegroep te begunstig.

Benewens die voordeel van ʼn universele basiese inkomste, is ʼn kerngesonde manier om ʼn basiese vlak van inkomste vir die grootste getal mense te beskerm die versekering dat hulle produktiewe deelnemers aan die ekonomie kan wees deur toegang tot gehalte-onderwys tot by ʼn minimum vlak van voltooiing te waarborg.

  • Ngwenya is die hoofbedryfsbeampte by die SA Instituut vir Rassebetrekkinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

W de Klerk ·

Baie goed gesê.Kan díe artikel nie onder die pilitci sê oë beland?

Jienietha Potas ·

Dankie vir die wel-deurdagte skrywe Me Gwen Ngwenya! Verbeteringe in onderwys gaan inderdaad die perde voor die wa span en die die gapinge oorbrug in ons ekonomie. Dit is tyd dat ons langtermyn oplossings implementeer, en n daadwerklike verandering begin sien in ons land. Dankie vir die berig, dit stem ons hoopvol vir die toekoms!

John ·

‘n Geboorte-ontploffing/immigrante-tsunami staar ons in die gesig (reeds) met die uitdeel van ‘n basiese inkomste, wat die probleem net sal vererger (en ons het nie eens olie soos die Arabiese lande met klein bevolkings nie). Die 1994-veranderinge was ‘n soortgelyke roemryke pleister… en waar trek ons nou? Weer die ou ooms nader rol vir nog skades en skandes? Sonder verantwoordelikheid en ‘n gewete kom mens nerens. Om geld te gooi na ‘n probleem is die swakste oplossing en die De Klerk-Stigting sien dit skynbaar nou as die enigste eerbare opsie. Onderrig waar leerders kunsmatig ryp gedruk word en papies uit hul kokonne gesny word om skoenlapperstatus te bekom, is dwaas want werkskepping vra sekere besondere eienskappe en werksmetodes en geduld en sukkel en groei oor jare… nie miljarde wat in sekere gierige begunstigdes se sakke gestort word en siedaar ‘n groot winsgewende genoteerde maatskappy staan wat miljarde vir die eienaar optower nie en belasting oorbetaal nie. Ha, ha! ‘Sesame’ is vir die ANC die mooiste towerwoord in hul geliefde Oosterse woordeboek… en as jy binne-in die grot vol skatte die woord vergeet en die towerlamp se magiese helper (die IMF en die wit man in die Weste?) daag nie op nie… Soos juis nou en die skatkamer verander in ‘n rommelhoop? Dink aan ‘n beter plan… wat van iets soos om etiek en harde werk te predik, vuil-hande-uit-die-skatkis en voete-uit-verkeerde-voorkamers?…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.