Provinsies se name, nommerplate en brandewyn

Dr. Pieter Mulder

“Wat is Transvaal?” vra ʼn jongman onlangs vir my. Ek het ʼn groep jongmense tussen 20 en 30 jaar deur die Voortrekkermonument geneem en in my verduideliking na Transvaal verwys.

“Dit was ʼn provinsie voor 1994,” antwoord ek. “Waar was Transvaal?,” vra ʼn ander persoon daarop aan my. Ek het vinnig somme gemaak en besef dat ʼn persoon wat in 1990 gebore is, die jaar waarin FW de Klerk sy 2 Februarie 1990-toespraak gelewer het, vandag reeds 32 jaar oud is. Hulle het nooit op skool van Transvaal geleer of in Transvaal gebly nie.

Ek het daarna aan die groep die geskiedenis van die provinsies voor 1994 verduidelik. Hoe die Transvaal (of ZAR) en die Oranje Vrystaat, as twee onafhanklike Boererepublieke, in die Tweede Vryheidsoorlog deur Brittanje geboelie is en met geweld in 1902 Britse kolonies gemaak is. In 1910 het die Kaapkolonie en Natal, as twee bestaande Britse kolonies en die twee Boererepublieke bymekaar gekom om die Unie van Suid-Afrika te vorm.

Tydens die onderhandelinge voor die 1994 verkiesing is besluit om die vier provinsies nege te maak.

Transvaal is in vier verdeel: Noord-Transvaal; Oos-Transvaal; Wes-Transvaal en die Pretoria-Witwatersrand-Vereeniging gebied.

Die Kaapprovinsie is in drie verdeel: Oos-Kaap; Noord-Kaap en Wes-Kaap. Die Oranje Vrystaat en Natal het grootliks hulle grense behou en is as verdere provinsies bygevoeg om nege nuwe provinsies te maak.

In die tussentydse grondwet wat voor die 1994-verkiesing opgestel is, het artikel 124 bepaal dat die nuutverkose provinsiale wetgewers ná die 1994 verkiesing die name van die provinsies kon verander.

Oos-Kaap, Wes-Kaap en Noord-Kaap se name is nie verander nie. By Oranje Vrystaat is die Oranje weggelaat en het dit net Vrystaat geword. By Natal is KwaZulu bygevoeg om KwaZulu-Natal te vorm en so erkenning te gee aan die Zoeloe-koninkryk. Die Pretoria-Witwatersrand-Vereeniging gebied, het Gauteng geword − plek van Goud in Sotho-Tswana. Oos-Transvaal het Mpumalanga geword – in Zoeloe beteken dit oos of die plek waar die son opkom. Wes-Transvaal het Noordwes geword. Die ANC wou die naam Transvaal heeltemal verwyder. Daarom het hulle besluit om Noordelike Transvaal te verander na Noordelike Provinsie.

Hierna moes al die provinsies nuwe nommerplate kry. Die ANC se voorkeur vir Engels en die ignorering van die grondwetartikel dat alle tale gelyk is, was onmiddellik duidelik. In 1995 was byna 70% van die Noord-Kaap se mense Afrikaanstalig met 21% Tswana-sprekers en daarna die Xhosa-sprekers. Engels is deur die minste mense gepraat. Die logiese afleiding was dat die nommerplaatafkorting vir Noord-Kaap daarom NK sou wees. Tog kies die ANC die Engelse naam NC vir Northern Cape. Dieselfde in die Vrystaat waar 64% Sotho-sprekers is met Afrikaans die tweede sterkste taal. Engels is ʼn vreemde taal in die Vrystaat, maar ook hier kies die ANC FS vir Free State. Toe die VF Plus se Vrystaatse leier, Abrie Oosthuizen, uit protes VS op se nommerplate sit, het die polisie hom berekend voorgelê en dit verwyder.

In die Noordelike Provinsie het die nommerplaatafkorting nou ʼn probleem veroorsaak. As hulle by die tussentydse grondwet se “Noordelike Transvaal” gehou het, was die afkorting NT. Omdat dit na “Noordelike Provinsie” verander is om van Transvaal ontslae te raak, was die afkorting nou NP. Met die Nasionale Party nog die amptelike opposisie, het die ANC nie kans gesien om met NP-nommerplate rond te ry nie. Die oplossing was om net die letter N te gebruik.

Nommerplate begin met die letters BBB en daarna die syfers 000 wat dan na 001 en verder oploop. Daar was die blink gedagte dat die eerste nommerplaat aan ʼn prominente lid van die Noordelike Provinsie as geskenk oorhandig word. Die eerste nommerplaat was BBB000N. Hiervan is afgesien aangesien die geskenk dalk verkeerd gelees kan word en aanstoot kan gee as dit net as letters gelees word. In 2002 is Noordelike Provinsie se naam ten duurste vir ʼn derde keer verander na Limpopo.

Die afgelope 27 jaar het die ANC baie sulke besluite geneem waarvan die langtermyn-implikasies nie deurdink is nie. Eskom het regstellende aksie gebruik om van duisende kundige werkers ontslae te raak sonder om die langtermyn-implikasies te deurdink. Die resultaat beleef ons tans soos een beurtkragfase deur ʼn erger een opgevolg word. Die Zondo-kommissie bevind hoe besluite oor kaderontplooiing korrupsie veroorsaak het en op die langtermyn tot die vernietiging van talle staatsinstansies gelei het. Wanneer sulke besluite dan later miljoene rande se krisisse veroorsaak, praat die ANC dit reg met swak argumente.

Dit laat my altyd dink aan die man wat met sy fiets gaan brandewyn koop het. Voor hy terugry huis toe, besef hy dat as hy dalk met die fiets sou val, gaan die bottel breek en is hy al die drank kwyt. Toe drink hy maar die bottel net daar op die sypaadjie voor die drankwinkel uit. Toe hy by die huis kom, verduidelik hy aan sy vrou hoe ʼn goeie besluit dit was − want hy het vier keer geval op pad huis toe!

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Treurwilger ·

Interessante lekkerlees-stuk.
Brandewyn en fiets!
Dr Mulder kan gerus baie meer skryf en geheues verfris oor vele kwessies.

Linda ·

Babbbooon! Jy kan die nommerplaat van die voertuig afhaal, maar …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.