Raka, die demografiese monster

Kiesers staan gereed om te stem in die 1994-algemene verkiesing (Foto: csmonitor.com)

Dertig jaar gelede is gestem vir iets anders.
Rye hoopvolles het gekronkel na ʼn nuwe bedeling.
Eers is gedink dit is goed. Dit is beding.
Vele het die nuwe wonderwerk met soveel lof besing.

Maar iets het daaruit opgestaan.
ʼn Lyf soos water wat vloei waar hy wil gaan.
Gedryf deur ʼn kop vol selfsug wat eet aan die trog waar die lyf ook al baan.
Uit die water het hy gestap en stil gelag,
gegryns, neergehurk en eers roerloos gewag.
Toe het die verhongerde lyf begin vloei deur die land,
met die kop wat weet
dis sy tyd om te eet.

“Dis Raka!” roep ʼn stem in die woestyn.
“Hy’s ʼn demografiese monster, ʼn resep vir die pyn.
Julle roep om demokrasie,
maar ontvang demografie.
Die snel ondier moet dood,
of hy sal heers oor ons, die gevolge is groot.”

Die stem word afgemaak as roepende na niks.
Raka is vreedsaam.
Raka is nie sleg.
Hy word maar net deel van ons en wat ons s’n is.
Dit is tog reg.

En Raka lag vriendelik en kry mooie name:
gelykheid,
diversiteit,
inklusiwiteit en
nierassigheid.
Nooi hom in, dié mooi dier is g’n monster nie.
Hy word tog ons almal tesame.
Raka se baan is geskik.
Sý pad is wet.
Daar’s walle waarbinne hy vloei, dis nougeset.
Wigte en teenwigte is vir balans in die baan.
Wat kan dan tog hiermee verkeerd gaan?

Maar Raka vloei vinnig en word selfs meer.
Hy vloei deur die staatsdiens en wittes retireer.
Pasop vir die kennis – dis oor jare gebou,
maar Raka se vloei hou aan beur.

Raka is honger en om op te eet, is die kop se wil.
Kom ons voer hom wit mans om die honger te stil.
Hulle kry pakkette en word na buite gedruk.
Hulle voel vreemd in hul jare se juk.
“Maak hulle minder,” is Raka se eis.
Raka se reis moet in syfers ook wys.

In die hoogste raadsale word oor Raka gepraat.
Gee hom tande sodat hy makliker kan vraat.
Raka se plundertog word wet.
Syfers en tabelle maak dié dier vet.
Dis regstelling, goed en wyd,
daar’s niks mee fout nie. Die tande moet byt.

Al word dit donker, word daar voortgewoed.
Dis mos alles deel van die groter goed.
Raka is honger en word treinspore gevoer,
vliegtuie word verslind en so ook hospitale se bloed.
Krane loop droog, riool vloei in strate
en kamerade kry tenders met sakke wat bult.
Dit alles is goed, want dit was apartheid se skuld.

Sy soet kwyl loop. Raka se gulsigheid ken geen perk.
Hy vreet en verslind nog meer as Zondo se werk.
Die kop word groter, gulsiger.
Die lyf ook groter, en nog hongerder.
Die lyf betaal die prys van die kop se gevreet
en die kop gebruik die lyf as die rede om te eet.

Raka het die staatsdiens oorrompel, maar gaan nou vir privaat.
Die raadsale skarrel, gedienstig aan die demografiese vraat.
Raka is nie gevaarlik nie, paai hom net.
Maar hy wil méér hê. Die monster raak vet.
Sakelui dink hulle weet,
maar Raka is nie paaibaar nie.
Wie paai, word later self opgevreet.

“Offer wat ons kan vir die groot hongersnood.
Ons moet voldoen, al is die prys ook hóé groot.”
Raka vloei die werkplek in, verdring die minderhede.
Hulle wyk uit na die kante, en party probeer ʼn eie pad oopstoot.

Raka is soos water, hy vloei waar hy wil.
Hy stroom na universiteite om sy onversadigbare honger te stil.
“Kom binne,” sê die rektore, “want Raka is goed.
Ons akkommodeer jou taal, want jy’s mos nou deel van ons bloed.”
En Raka vloei in ʼn onstuitbare stroom
wat skuim deur die hek op pad na sy droom.
“Wat julle s’n is, word myne – dis wat ek preek.
Ubuntu is ek, jy, ons, dis my heilige spreuk.
Ons is mos dieselfde – jy soos my.
Jy word deel, anders word die sweer met mag uitgesny.”
Die rektore kyk verskrik na mekaar.
“Voer nog, anders is ons vir seker klaar.”

So dring Raka ʼn plek in.
Maak die hek eers oop, want dit maak sin.
As hy begin met sy vernietigingstryd sal niemand waag
om die smal hek ooit weer vir hom te sluit.
“Weg met dié wat dalk wil bewaar!
Ek duld dit nie! Dit is klaar!”

Afrikaans moet vlug voor die krag van die stroom.
Ons is mos een, dis ʼn grondwetlike seën.
Alles moet dieselfde klink én lyk
en dit is tog reg as die meerderheid so kyk.
Die universiteite raak toe soos die staatsdiens en plek van werk,
maar Raka is honger, sy vloeitog is sterk.

As ons werk, wil ons bly, maar die stroom is in die straat.
Woongebiede word Raka, dis mos net logies, my maat.
Dinge lyk nou anders, hier waar ons bly.
Sentrums en parkies het ʼn ander gevoel gekry.

Raka bly oral en nou staan hy voor die skool se deur.
Die demografiese stroom wil oor ons skoolgronde beur.
Die honger monster vra nou veel.
“Voer my jou kinders. Dis mos reg, jou voorvaders wou mos steel.
ʼn Amptenaar sal nou oor jou kind se toekoms praat.”
Raka is ʼn wapen in die hand van die staat.

Ons moet mos een word, is die monster se woord.
So maak Raka verskeidenheid dood.
Kultuur wyk voor die magshonger ryk.
Veelheid word eenheid. Jou stam moet wyk.
Weg met wie jy is, jou ras moet tel.
Beveg jy dit, maak hy jou lewe hel.
Xhosa, Sotho, Zoeloe, Afrikaner en ander moet wyk voor die Groot Verander.

Op Raka se kop staan “DIVERSITEIT”,
maar hy verslind gemeenskappe se taal- en kultuuruniekheid.
Die komplekse land word ons en hul,
net swart en wit – dít is die monster se wil.
Die valse eenheid het ons land deurtrek,
al smag gemeenskappe na verskeidenheid, erkenning, respek.

Vir minderheid is daar nie plek
en eise van Afrikaners om bloot te wees, is immers mos gek.
Mense probeer vlug van Raka se vloei.
Wie ons is, begin om te bloei.
Hulle is in plekke waar hulle moet uit.
Die Tweede Groot Trek begin, na en binne stede en suid.
Raka trek saam. Dit is sy pad.
Hy vloei waar die werk hom vat.
Verstom vra die mense: “Waar kom jy vandaan?
Ons het mos getrek, hoekom dan die argwaan?”

Raka soek grond en wil net vat.
Die parlement sit dit in ʼn nuwe, sneller rat.
Die kop wil eet en die lyf kry swaar.
Die kop word dik, maar die lyf bly maer.
Die kop gee die lyf krummels om die honger te stil.
Toelaes word gegee. “Sien, ons luister na jul.”
Vir die middel is poste gegee en die elite kry die pot om aan te smul –
terwyl die sop so spat – sê hulle: “Sien, dis hul.”

Die middelgrond kan nie hou. Wat gaan Raka baar?
Daar kom ʼn breuk, vrees vir anargie lê swaar.
Waar word die wig ingehamer?
By die kop, mekaar of die ander?

Die ontnugtering in Raka is nou groot.
Die demografiese monster soek dan my dood.
Wat het geword van die walle waarbinne hy moes vloei?
Hy het dan nou met sy eie pad bemoei.
Die historiese skikking se wal is plat.
Raka is besig om ander penne in te slat.

Raka is nie meer mooi nie. Die gevaar is te groot.
“Wat nou?” word gevra. “Die dier moet dood.”
Die stem in die woestyn, word ʼn koor wat saamgons,
en ʼn antwoord word gekry – sélf sal ons.
Raka spoeg vuur en hy brul staatsmag.
Gemeenskappe werk en antwoord met gemeenskapskrag.

Walle vir Raka sal altyd oorvloei.
Konsentreer en bou, anders gaan ons bloei.
Plekke in die noorde en suide, net die beste.
Bou ʼn nuwe plek, buite Raka se stroom, in die weste.
Raka is ʼn demografiese vraat.
Die geveg teen hom is ʼn demografiese daad.

Dertig jaar later en die kronkelrye gaan weer stem.
Daar word gesmag na iets anders.
Die goeie moet tog wen.
Dis ook reg.
Mens stem teen sleg.
Maar Raka stroom ook na die stembus.
Groen, swart, rooi en geel, dis gewis.
Wat maak die monster, word gevra:
“Ek sal stem. Viva, my Azania.”

Dertig jaar later, dis tyd vir ʼn nuwe bedeling met dade beding.
Die tyd is verby om dit wat ons oor het, te besing.
Die wal het gebreek. Raka het sy eie stroom.
Antwoorde anderkant Raka, is waaroor ons moet droom.

Radikaal mag dit klink,
maar erger is om ʼn toekoms met net Raka te bedink.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lettie ·

Pragtig dr Herman. Bêre dit in my hart. Sien mekaar by die stembus.

Joan ·

Dis so jammer daar was nie 30 jaar gelede meer ernstig opgetree nie. Nou moet ons RAKA probeer doodkry. Maar as ek om my rondkyk en sien hoe die kinders groot geword het en gebreinspoel is in hierdie 30 jaar, is ek bevrees . . . .

Santie Gildenhuys ·

Só treffend verwoord, mnr. Dirk Hermann! Puik Raka allegorie. Sy vernietigende spoor word progressief en absoluut tragies uitgebeeld. Ons sien raak wat al rondom ons gebeur het en steeds gebeur. Bowenal staan ons saam met jou in die Lig. Ons bly glo en bydra waar ons kan. Seën toegebid op alle goeie werke.

David ·

Die stryd tusse Koki en Raka.
Koki = politiek. Raka = mensdom.
Vandag meer relevant as ooit.
Komplimente met ‘n meesterlike skrywe.

JACF ·

Puik stukkie verduideliking van die werklikheid.
Die’ raka’ wat so akuraat beskryf word het van ons teen gewaarsku.
Vergeet vir die oomblik dat hier nou maar weer ‘n stuk galbraak kom.
Soos in die verlede, stem tyd, is mooi ideale voorgehou, wou’raka’ nie raaksien nie.
My aanbeveling: bly weg van Raka handelinge deur te gaan stem, gebruik die instrumente tot beskikking om te keer binne die Howe, om beswaar aante teken asook om te verhoed dat wetgewing deurgaan.
Toon jou weerstand deur nie aan die verkiesing deel te neem nie.
Die pragtige prent van samewerkende ‘raka’ (koalisie) gee in praktyk net ‘n ander groep die geleentheid om met vernietiging voort te gaan.
Die waarheid: ons het ons regte afgeteken 30 jaar gelede, maak vrede daarmee. Beveg ‘raka’ op ‘ n ander vlak en begin weer binne huisverband om gesinsverband te herstel, om weer ‘gom’ aan te maak ten einde ons geloofslewe te herstel.
Dink mooi, nie weer soos 30 jaar gelede nie.
Lank sal ons Lewe.

annie ·

Oppas vir Raka. Hy laat mens soos hy word. Wanneer begin Solidariteit sy nuwe departement vir drama, toneel en musiekopleiding. Dirk is die regte man vir aan die stuur. Hy moet ok maar oppas vir die paadjie wat Zelensky nou uittrap. Te veel grootsheid lei tot agteruitgang en drogbeelde en…

annie ·

Oppas vir Raka. Hy laat mens soos hy word. Wanneer begin Solidariteit sy nuwe departement vir drama, toneel en musiekopleiding. Dirk is die regte man vir aan die stuur. Hy moet ok maar oppas vir die paadjie wat Zelensky nou uittrap. Te veel grootsheid lei tot agteruitgang en drogbeelde en… Of dalk die tannie wat alles uitvee waarvan sy nie hou nie. Sy weet van ware, goeie en edele breinspoel van die nasie. Geen kritiek is ‘n edele kenmerk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.