Ramaphosa se wenslysie vir ekonomiese herstel is wensdenkery

Deur dr. Eugene Brink

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

In ‘n onlangse brief aan die nasie begin pres. Cyril Ramaphosa met ’n bondige uiteensetting van die kommerwekkende toestand van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Daarna verloor hy homself in ’n ooroptimistiese illusie wat totaal verwyder is van die werklikheid, hier en daar deursprinkel met enkele korreltjies kommer.

Hy sluit vol vertroue af met die stelling dat ons oor al die middele beskik om ’n ekonomiese herstelproses aan die gang te sit. Ons almal moet net saamwerk om dit te laat gebeur.

Dit is opmerklik dat hy nie ’n enkele een van die yslike misstappe toegee wat die regering in die afgelope paar maande gemaak het – soos die instelling van ’n belaglik streng staat van inperking waarvoor daar geen bewys is dat dit daadwerklik doeltreffend was om die toenemende aantal Covid-19-gevalle en gepaardgaande sterftes terug te dring nie. Of die ander misstappe wat begaan is sedert sy regeertydperk in Februarie 2018 begin het.

Die president fokus op dit waarin hy uitblink: hy beklemtoon die staat se rol in die proses van ekonomiese herstel, gaan saggies verby die oorweldigende sistemiese probleme in die land of ignoreer dit in die geheel, en fokus uitsluitlik op die toekoms (met gebruikmaking van die woorde “sal” en “moet” as sleutelterme). Blatante onwaarhede en verswyging van feite is volop in hierdie brief, maar die president het darem die ordentlikheid of realisme om nie suksesse te versin waar daar duidelik geen suksesse bestaan nie. Hy het hierdie tema net eenvoudig gesystap, en nie op ’n besonder vaardige wyse nie.

Die blote feit dat Ramaphosa wéns ekonomiese herstel sal plaasvind, beteken helaas nie dat dit inderdaad gaan gebeur nie. Trouens, in die huidige omstandighede is al die risikofaktore aanwesig wat juis ’n betekenisvolle mate van herstel gaan verhoed. Voor in die ry staan Ramaphosa self asook sy party. Daar is ’n wêreld van verskil tussen voornemens en werklike uitwerking; tussen pogings en die totstandkoming van die gewenste resultate. “Een van die groot foute is om beleid en programme te beoordeel op grond van die doelstellings daarvan eerder as die resultate,” het Milton Friedman gesê.

Ramaphosa skryf dat hulle strategie vanaf die begin van die pandemie daarop gerig was om, binne die beperking van beskikbare middele, elke moontlike vorm van ondersteuning te bied om sakeondernemings te beskerm en werkgeleenthede te behou. Verwag u werklik dat ons dit moet glo, meneer die president?

Is dít die rede hoekom die regering hulpfondse (verhaal van alle belastingbetalers) weerhou het van sakeondernemings met wit eienaars? Is dít hoekom sy wetstoepassers liefdadigheidsorganisasies geboelie en lastig geval het? Is dít hoekom tenders vir persoonlike beskermingstoerusting die hoogte ingeskiet het en die toekenning van tenders uiters onreëlmatig verloop het? Is dít hoekom baie bedrywe in die restaurant-, vervaardigings-, mynwese- en toerismesektor nie oorleef het nie? Is dít hoekom tabakprodukte nog steeds verbode is? Is dít hoekom Ramaphosa verkneg is deur die vakbonde? Is dít hoekom daar ’n nasionale minimum loon ingestel is?

Jammer om dit te sê, maar sakeondernemings (veral die klein ondernemings waaroor hy so vurig praat in sy brief) betaal nou die prys vir die regering se hiet-en-gebied-optrede waarvan hulle weier om rekenskap te gee. Hy wei oewerloos uit oor die totstandkoming van nuwe sakeondernemings terwyl hy en sy regering alles gedoen het om bestaande sakeondernemings en bestaansmiddele te vernietig! En dan het hy die vermetelheid om te sê dat ons moet saamwerk en nie moedeloos of oorweldig moet voel nie. Maklik om te sê vir iemand wie se presidensiële salaris gewaarborg is – net soos dié van die uitdyende staatsdiens se amptenare waar die woord “diens” ’n ontoepaslike beskrywing is.

Dr. Eugene Brink. Foto: AfriForum

Tony Leon het onlangs in die Sunday Times gestel dat regeringsdenke en -optrede duidelik deur ’n draer van infeksie aangetas is: “Fomite has clearly infected government thinking and actions. It seems to be enthusiastically and (here at least) able to transfer the diseases of unemployment and business failure to as many sectors as possible.”

Saam met die kleinsakeondernemings het die president sy oog op die landbousektor as ’n moontlike groeipunt. Hoewel hierdie sektor bewonderenswaardig goed gepresteer het in baie moeilike omstandighede, is dit toegegooi onder ’n verstikkende kombers van toksiese beleidsriglyne en potensieel skadelike beleidsrigtings, waarvan onteiening sonder vergoeding die vaandeldraer is. Boere het oorleef ondanks die regering (en die weersomstandighede) se beste pogings om hulle te ondermyn.

Ramaphosa kla ook oor ondoeltreffende uitvoering as ’n uitdaging om die ekonomie weer in rat te kry. Die beste vaardighede wat beskikbaar is in alle sektore van die samelewing moet glo gebruik word om ’n gemeenskaplike program aan te pak. Dit klink wonderlik, maar weer eens is die werklikheid meer veelkantig. Kaderontplooiing het daarvoor gesorg dat die uitgevrete staatsdiens die meeste van sy kundigheid verloor het; dit is ’n parasitiese monster wat geen plek laat vir privaat belegging nie. Die privaat sektor en mense met toepaslike vaardighede is baie versigtig om betrokke te raak by enige gemeenskaplike projekte, terwyl hulle terselfdertyd nie toegelaat word om ’n bydrae te maak nie, laat staan nog om die leiding te neem.

Soos The Economist onlangs geskryf het in ’n vlymskerp bydrae oor die toenemende armoede in Suid-Afrika weens die wanbestuur van die Covid-19-krisis: “There is seemingly no problem for which the ANC does not see the state as the solution.” Die “nuwe ekonomie” wat Ramaphosa so trots voorhou, is nie ’n stelsel in die Singapoer-styl wat gedryf word deur tegnologie en uitmuntende onderwys nie, maar eerder nog ’n uitgediende Marxistiese sjibbolet wat bestaan uit ’n farmaseutiese maatskappy wat aan die staat behoort, en ’n bank.

Suid-Afrika se inwoners moet besef indien hierdie land en sy samestellende dele wil floreer, bestaan die beste pad vorentoe uit (dikwels plaaslik) georganiseerde en selfgeïnisieerde pogings wat ’n spesifieke kwessie of probleem aanpak.

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan. Foto: Reint Dykema.

Prof. Koos Malan van die Universiteit van Pretoria skryf in sy jongste boek, There is no supreme constitution: A critique of statist-individualist constitutionalism, dat groeperings binne die burgerlike samelewing in ’n posisie verkeer om belangrike grondwetlike verantwoordelikhede te vervul en dat hulle ’n magsentrum daarstel wat die belange van hulle lede dien, asook die belange van diegene wat baat vind by sulke aktiwiteite. Die belangrikste is egter dat hulle optrede as wigte en teenwigte dien ten opsigte van alle ander magsentrums – veral ten opsigte van die regering.

Die binnekringgevegte en hebsug van die ANC en die opsienbarende ineenstorting van die staat laat ons met geen ander keuse nie. Ons is aan ons lot oorgelaat in elke moontlike betekenis van die woord – hoewel dit dalk retories ontken word, is dit in die praktyk meer as duidelik. Ramaphosa praat van die basisstelsels regkry. Hy verwys na betroubare energievoorsiening en doeltreffende vervoerstelsels. ’n Sameraapsel van lafhartige niksdoen, noodlottige ideologie, ’n algehele gebrek aan verantwoording en strafbare gedrag het hierdie ideaal onmoontlik gemaak; dit is dan ook geen verrassing nie dat die basisstelsels juis vernietig is in plaas daarvan om uitgebou te word. Selfs met ’n nogal aansienlike verkiesingsoorwinning en die staat se volle mag tot sy beskikking, het sy wense vir verbetering nog net agteruitgang opgelewer.

  • Brink is strategiese adviseur vir gemeenskapsake by AfriForum.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacobus

Paar ooglopende probleme. Leer nie uit mislukkings nie.
Onbevoegde kaders belangriker as bevoegdes. Kan nie ‘n hoop geld weerstaan nie. Geeeen geloofwaardigheid. Lieg vir hulself en hulle kiesers, glo dit self en tree daarvolgens op. Skies dit klink banaal maar ongelukkig waar.

Kokerboom

Uitstekende artikel! Wie is die mnr Ramaphosa nou weer?

Persheks Adri

Bou jou eie lug kastele CR julle het die hele ekonomie op geneuk met julle dubbel sinnige reëls wat in elk geval net vir our people van toepassing is en jou kop weg draai vir moord en dood! Korrupte spul die klomp narre! Ons glo nie ‘n woord wat jy sê nie. Mors ons belasting geld en julle trek voordeel aikona ne

Pieter

Ek het ‘n wenslysie, maar om myself uit die tronk te hou kan ek dit ongelukking nie woordeliks publiseer nie. Ons sê maar net punt nommer 1 tot omtrent punt nommer 100 is “weg met anc”. Dan is al ons probleme opgelos.