Ramaphosa skuif die grondwerklikheid

Dr. Theo de Jager. (Foto: Verskaf)

So tussen die gewone gegorrel het pres. Ramaphosa ʼn grondverskuiwende stelling in sy staatsrede gemaak, waarvan die implikasies vir plaaseienaars byna ongesiens verbygeglip het. “Deur die herverdelingsprograsm is daar al 25% van ons landbougrond aan swart boere oorgedra,” het hy gesê, en die gerespekteerde landbou-ekonoom, Wandile Sihlobo, se navorsing as verwysing gebruik.

Dit is ʼn groot sprong van die “ongeveer 8%” waaraan die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vir meer as ʼn dekade vasgeklou het, en wat onder andere misbruik is om groter drif te gee aan die ANC se mislukte poging om die Grondwet te wysig om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak.

Voeg daarby nog die voormalige tuislande, bewaringsgebiede, onopgemete areas, eiendom in staatsbesit of semi-staatskorporasies, myngrond wat aan SEB-maatskappye behoort en plase wat sonder staatshulp deur swart eienaars gekoop is, en die oppervlak wat in eksklusiewe wit besit is, val na ver onder die 50%.

Verlede jaar was dit in die aanloop tot die parlementêre debat oor onteiening sonder vergoeding gewild onder ANC-leiers om in hul toesprake voor die massas te sê dat 82% van Suid-Afrika se grond nog in blanke boere se hande is. Die probleem is dat staatsamptenare in hulle beplanning en begrotings ook op daardie drogstatistieke werk. Wanneer dit by grondhervorming kom, het Suid-Afrika nog nooit op wetenskaplik bewysbare syfers gewerk nie, ten spyte van die beskikbaarheid van die aktekantoor en die landmeter-generaal se onkreukbare data.

Nie alle grond kan oor dieselfde kam geskeer word nie. Die belangrikste data oor grondhervorming word verswyg, en dit is dat die 25% (soos die 14% trustgronde van tradisionele owerhede) byna alles in die hoë potensiaal landbougebiede lê. Daar is weinig daarvan in die Karoo, die Kalahari, Namakwaland en die res van die droër helfte van Suid-Afrika.

Om by die volle waarheid van grondbesit uit te kom, is dit nie genoeg om net daarop te wys dat wit boere nou minder as die helfte van die oppervlak van Suid-Afrika besit nie. Ons moet ook sê dat dit grootliks in die moeiliker boerbare dele van ons land geleë is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is die direksievoorsitter van Saai.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wicus ·

Om feite voor te hou beteken vir die huidige maghebbers niks. So ook om met hulle te debatteer. Met uiterse frustrasie het ek na die pres se antwoord op die verskillende opposisieleiers se redevoering na die SONA gekyk, dit maak absoluut geen indruk op hom nie. Ons moet tree vir tree ons vryheid herwin, dis die enigste oplossing uit die gemors.

Laat ons steeds die feite voorhou en versprei, ook oorsee, maar dis nie die enigste hulpmiddel nie, alle middele moet aangewend word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.