Redakteursbrief: Toename in lesers is goeie nuus vir Afrikaans

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Maroela Media)

Daar is vir ʼn slag goeie nuus (en boonop sommer báie goeie nuus) vir Afrikaans: Die Afrikaanse lesersmark het oor die afgelope jaar beduidend gegroei.

Syfers toon dat lesers van Afrikaanse gedrukte publikasies nie as lesers verlore is nie, maar dat dié lesers steeds lees; nou net in ʼn digitale in plaas van ʼn gedrukte formaat. Boonop is die totale hoeveelheid mense wat tans Afrikaanse digitale platforms lees, báie meer as die hoeveelheid mense wat ʼn jaar gelede digitaal gelees het, en ook baie meer as die hoeveelheid mense wat as lesers van gedrukte publikasies “verlore geraak” het.

Indien ʼn mens in isolasie na die nuutste ABC-sirkulasiesyfers vir Afrikaanse gedrukte media kyk, raak jy maklik moedeloos. Koerante en tydskrifte se sirkulasie val onrusbarend vinnig. Buiten dat ʼn mens regtig jammer is om koerante en tydskrifte te sien kwyn, is dit ook sleg om te weet dat mense wat koerante en tydskrifte in Afrikaans lees – en dus minstens nog léés – as lesers van Afrikaans verlore raak.

Neem jy egter digitale syfers van dieselfde publikasies ook in oënskou, en jy plaas vir ʼn oomblik jou sentiment rondom koerante en tydskrifte as mediums opsy, is die prentjie vir Afrikaans uiters positief.

Volgens die Audit Bureau of Circulation (ABC) het Suid-Afrikaanse tydskrifte se sirkulasie in die eerste kwartaal van 2017 afgeneem met 2.3% vergeleke met die vorige kwartaal, en met 6.5% vergeleke met die eerste kwartaal van 2016. Vir koerante is die afname in sirkulasie selfs groter, met ʼn daling van 9% vanaf die eerste kwartaal van 2016 na dieselfde tydperk vanjaar.

ʼn Publikasie – of enige nuus- of inligtingsmedium, om die waarheid te sê – behoort daarteen te waak om homself ooit te sien as ʼn radiostasie, ʼn koerant, ʼn tydskrif, ʼn televisiekanaal. Hiermee reduseer ʼn nuusinstansie hom tot ʼn medium, en bly hy beperk tot die inherente beperkings van dié medium: ʼn radiostasie bly beperk tot klank; ʼn koerant bly beperk tot ʼn gedrukte formaat met ʼn bepaalde fisieke grootte; ʼn televisiestasie bly beperk tot beeld. Die era waarin ons leef, het al die grense van die media kom verskuif. ʼn Radiostasie kan sy aanbod aan sy lesers verdiep met ʼn sosialemediaplatform. ʼn Koerant kan sy produk verryk deur vinnige nuus op die webwerf te breek, en stadiger, meer tydlose of opvolgnuus die volgende dag te publiseer. As ʼn nuus- of inligtingsmedium anders begin dink oor wie hy is, en homself nie in sy gedagtes beperk tot die medium wat hy toevallig gebruik om met sy teikenmark te kommunikeer nie, is ʼn afname in sirkulasiesyfers bloot die uitdaging wat dié instansie nodig het om innoverend te begin dink oor hoe hy sy teikenmark kan bereik. Die “hoe” is hier belangrik, want ʼn aanbod wat voorheen vir ʼn tydskrif gewerk het, gaan waarskynlik nie net so werk in ʼn digitale formaat nie. ʼn Lekker menslike tydskrifstorie gaan vir ʼn digitale platform waarskynlik ʼn bietjie korter moet wees, toegelig met meer subopskrifte, dalk ʼn kort video of ʼn fotogalery in plaas van ʼn dubbelblad met mooi foto’s.

As ʼn mens kyk na die ABC-syfers van sommige Afrikaanse publikasies (koerante en tydskrifte), en ʼn mens kyk ook na die lesersgetalle van die digitale platforms van dié instansies (soos aangedui deur Effective Measure, ʼn onafhanklike maatskappy wat digitale platforms se lesersyfers meet en analiseer), kan ʼn mens baie interessante afleidings maak oor wie dit skynbaar regkry om innoverend te dink oor wie hulle is en oor die medium (die koerant of die tydskrif, of dan, ʼn ander digitale formaat) wat bloot die voertuig is om hul stories by hul lesers uit te kry.

 

* Syfers soos verskaf deur die Audit Bureau of Circulations (ABC) en soos ontleed deur Marklives.com.
** Syfers soos verskaf deur Effective Measure (EM)
*** Taalgenoot is ʼn ledetydskrif; lede ontvang die tydskrif as ʼn gratis ledevoordeel en oefen dus nie ʼn aankoopbesluit daaroor uit nie. Sirkulasie styg en daal saam met groei/afname in ledetal.
**** Verskyn eers sedert Oktober 2016 op Effective Measure; digitale syfers vir kwartaal 1 2017 is dus vergelyk met kwartaal 4 2016 en nie met kwartaal 1 2016 nie.
***** Digitale weergawe van die Finesse-tydskrif is die webwerf voelgoed.co.za. 

Dit wil dus lyk asof die prentjie vir Afrikaanse media se voortbestaan – weliswaar in ʼn nuwe formaat – glad nie so donker is as wat dit op die oog af lyk as ʼn mens na die ABC-syfers kyk nie. Die groot uitdaging is en bly die inkomstemodel: om advertensies op ʼn digitale platform te verkoop, is glad nie so maklik en voor die hand liggend soos die verkoop van advertensiespasie in ʼn koerant en tydskrif nie, en digitale nuus- en inligtingsplatforms plaaslik en internasionaal raak ál meer innoverend met inkomstemodelle; sommige daarvan meer suksesvol as ander. ʼn Tydskrif soos Finesse het byvoorbeeld die digitale Voelgoed-winkel as ʼn bron van inkomste, en ʼn nuusplatform soos Netwerk24 (die platform wat die webwerwe van die koerante Beeld, Burger, Volksblad en Rapport vervang het), het ʼn betaalmuur waaruit ʼn inkomste gegenereer word – ʼn model wat nie noodwendig ʼn groei in totale unieke besoekersgetalle tot gevolg het nie, maar wat weliswaar vir ʼn standhoudende inkomste sorg.

Die Afrikaanse nuuspublikasies en digitale platforms uit die Media24-stal verdien vermelding, omdat ʼn paar interessante afleidings hier gemaak kan word. Die totale verlies aan sirkulasie van die vier groot Afrikaanse koerante (Beeld, Burger, Volksblad en Rapport) sedert kwartaal 1 verlede jaar na kwartaal 1 vanjaar is 16 380. Netwerk24 is in plek geplaas as die digitale vangplek vir die (voormalige) lesers van dié gedrukte publikasies. ʼn Mens sou Netwerk24 se betaalmuur (R99 per maand) kon beskou as ʼn logiese vervanging van die bedrag wat lesers voorheen bereid was om daagliks of weekliks aan ʼn harde kopie te bestee. Die teendeel is egter skynbaar waar: Netwerk24 het sedert kwartaal 1 verlede jaar ʼn daling van 12% in unieke besoekers gehad; in getalle is dit ʼn afname van 176 272 unieke besoekers. (Let daarop dat die totale aantal unieke besoekers van sowat 1 289 417 per maand op Netwerk24 nie almal intekenare is nie – die intekenaarsyfers is nie algemeen bekend nie.) Dit wil dus voorkom asof die voormalige (betalende) lesers van Beeld, Burger, Volksblad en Rapport nou hul nuus elders (en gratis) lees.

Waar is dié “elders”? As ʼn mens na die syfers kyk, is die (gratis) digitale weergawe van Huisgenoot, saam met Maroela Media se webwerf, waarskynlik dié lesers se nuwe tuiskomplek. Hoewel Huisgenoot se gedrukte sirkulasie met 22 444 afgeneem het vanaf kwartaal 1 in 2016 na kwartaal 1 in 2017, het die digitale unieke lesers met 905 177 toegeneem. Die digitale weergawe van Huisgenoot het ook ʼn baie sterker nuusfokus as wat die tydskrifweergawe het. As Beeld, Burger, Volksblad en Rapport se lesers dus hul leeskeuse na Huisgenoot verskuif het, bly dié lesers minstens in dieselfde stal, al is dit dan die nie-inkomstegenererende platform van die twee (ten minste uit intekenfooie) wat gewen het. Terselfdertyd het Maroela Media, met ʼn gemiddelde maandelikse unieke leserstal van 1 416 445 vir die eerste kwartaal van vanjaar, ook geskep toe dit die afgelope paar jaar begin koerantlesers reën het.

Dis kommerwekkend dat sommige van die tydskrifte hierbo genoem met ʼn dalende sirkulasiesyfer glad nie ʼn digitale weergawe in enige formaat in plek het nie; of wel ʼn digitale formaat het, maar skynbaar nie die digitale weergawe suksesvol van die grond af kry nie, om welke rede ook al. Dié publikasies is gelukkig in die minderheid.

Met die uitsondering van dié enkele tydskrifte is die groei in lesersgetalle van al die genoemde Afrikaanse tydskrifte (syfers, nie persentasies nie – dus die aantal mense wat dit lees) groter op die digitale weergawe as die verlies aan lesers volgens die sirkulasiesyfers. Dus: dié tydskrifte het dit reggekry om te groei, en nuwe lesers te wen, deur hulself in ʼn nuwe formaat aan hul lesers te bied.

Effective Measure se syfers van die saamgevoegde toename in lesers van die grootste Afrikaanse webwerwe oor die afgelope jaar skets dieselfde prentjie: Daar was ʼn totale toename van 24% in unieke lesers vanaf Junie verlede jaar tot en met Junie vanjaar, teenoor die daling in tydskrifsirkulasie van 6.5% en in koerantsirkulasie van 9% (eerste kwartaal 2016 na eerste kwartaal 2017). Die Afrikaanse lesersmark word groter, nie kleiner nie.

Nog ʼn stukkie goeie nuus wat hier tussen die reëls te lese is (en wat waarskynlik eintlik die belangrikste afleiding is wat uit dié inligting te make is), is die feit dat die Afrikaanse lesersmark, sover dit die media betref, nie besig is om te krimp nie. Die lesers wat aan die gedrukte kant “verlore geraak” het, lees nou hul publikasies in digitale formaat; en die groei aan die digitale kant is baie groter as die afname in lesers op gedrukte publikasies. Mense lees nog Afrikaans – dít is die heel belangrikste afleiding.

Innoverendheid in media is, net soos in enige ander bedryf, onontbeerlik vir voortbestaan. En om dieselfde teikenmark in ʼn nuwe formaat te bereik, is ʼn onverskrokke, vreeslose bereidheid om wie jy in wese is te herontwerp, onontbeerlik. Indien ʼn voorheen gedrukte medium dit kan regkry om homself in ʼn digitale formaat te herposisioneer, is daar ʼn ontvanklike, gretige en groeiende Afrikaanse lesersmark wat wag.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Elza ·

Ek verkies ‘n (gedrukte) koerant, maar het lank terug opgehou om dit te lees omdat dit voel of daar al hoe meer op sensasie gefokus word. Die dagblaaie is nou meer poniekoerante as vantevore en as ‘n mens kyk na hoofsopskrifte gedy dit op skinderstories van bekendes se leed en skandes. ‘n Gratis digitale platform laat my kies watter berigte ek wil lees om ingelig te bly sonder om oorweldig te word deur negatiwiteit.

Bert ·

Net in my persoonlike en werkskringe het 16 mense oor die afgelope twee jaar migreer vanaf Beeld na Maroela as gevolg van wat ons beskou as eensydige sosio-politiese beriggewing by daardie koerant. Ons ervaar sommige joernaliste eerder as aktiviste met ‘n links-liberale agenda. Jammer maar dit werk nie vir ons nie. Gaan kyk ook op Facebook groepe, sommiges met tot 100 000 lede, en mens sien dat baie ander mense dit ook so ervaar. Ek dink dus dat weerstand teen die koers waarheen Beeld byvoorbeeld hul lesers op ‘n politiese basis wou neem die hoofrede is vir hul daling.

Du Toit Maritz ·

Baie interessant, en heeltemaal in pas met wat internasionaal gebeur. Dit het ook te doen met die opkoms van die sg. “Millenials”, jongmense wat nie ‘n wêreld sonder selfone of internet beleef het nie. Hulle kan nie sien waarom hulle ‘n koerant moet koop vir nuus nie, as nuus vryelik elektronies beskikbaar is.
Die terminale agteruitgang van die groot Afrikaanse gedrukte media is vir my persoonlik goeie nuus -ja ek weet dit is debatteerbaar – want ons is te lank soos sampioene perdemis in die donker gevoer deur mense wat voorgee joernaliste te wees, maar eintlik politieke agente met venynige gifpenne is. Die dag as die laaste Beeld verkoop word nooi ek die hele buurt vir groot feesvieringe …

Afrikaanse Knaap ·

Ek kry al my nuus om Maroela Media se web tuiste.
News24 het verseker ‘n agenda en bitter min/geen nuus wat Afrikaanses raak nie.
Netwerk24 soek te veel geld.
By Maroela Media kry ek akkurate nuus, in Afrikaans, verniet. Wat meer wil ‘n man hê?

Ingeligte Burger Bosvark ·

Bosvark kan nou enige tyd en enige op plek ter wêreld Maroela Media en NETWERK24 lees. Mis net die papier weergawe om my braairooster mee skoon te maak.

Wonder welke persentasie van Maroelalesers en NETWERK24-lesers is Afrikaanssprekende lesers permanent woonagtig in die buiteland? Belangrik dat ons meer as een Afrikaanse aanlyn nuusbron moet hê.

Met aanlyn-nuusmedia kan lesers natuurlik onmiddelik kommentare aanlyn lewer en voel hulle dat hulle deel is van ‘n bymekaarkomplek om gedagtes en menings te tik en deel.

Susan Lombaard ·

Een van die lekkerste dinge van digitale media is al die inligting tot jou beskikking waarmee jy kan analiseer wie jou lesers is. Sowat 18% van Maroela Media se lesers woon in die buiteland. Dié getal groei, maar as ‘n persentasie van ons totale leserstal krimp dit, aangesien ons binnelandse lesersmark vinniger groei as ons buitelandse lesersmark. Dis egter lekker om te sien ons lesers neem binne en buite Suid-Afrika toe.
Groetnis
Susan Lombaard
nms. Maroela Media

HENK ·

Goeie positiewe siening van statistieke. ‘n Paar dinge moet egter genoem word:
1. Sou graag wou sien hoe vergelyk die aantal lesers van die GRATIS digitale isiZulu.news24.co.za Zoeloe nuuskanaal met die Afrikaanse betaalkanaal van Netwerk24? Media24 buit die Afrikaners uit wat R100 per maand vir hulle nuus in Afrikaans moet betaal terwyl die Engelse en Zoeloes hulle nuus gratis (verniet) kry.
2. Maroela Media skiet nog ver te kort wat aktuele nuus betref soos sake, aandele, maatskappynuus ens. ens. Prioriteite is nie reg nie met 13 sub-hofies onder “Resepte” en GEEN inligting oor sake en/of besigheid nie.
3. Die Seunse Weenkoor het ‘n groot bydrae gelewer tot die skade wat Netwerk24 en vennote gely het. Dankie aan Adriaan, Pietertjie, Max, Piet, en partners.
4. Moeilik om Engelssprekende vriende na MM te verwys as daar nie meer aktuele nuus is nie. Tans is MM maar net nog ‘n Huisgenoot maar in ‘n ander vorm.
Hou aan om in die regte rigting te werk en die groei sal kom.

Therese van Schalkwyk ·

Die meerderheid Maroela-lesers is heeltemal in hul skik met die huidige vorm, want Maroela is tog ‘n “Afrikaanse nuus- en kuierplek” … soos aangedui bo.
Sakenuus is in detail op News24 en ‘n swetterjoel ander publikasies beskikbaar, en Engelssprekendes kan kies en keur waar hulle hul nuus vandaan wil kry.

Susan Lombaard ·

Dagsê Henk. Jy is reg. Die areas wat jy noem, is inderdaad areas waar ons nog moet groei in ons beriggewing. Aangesien hierdie spesialis-areas is, is dit nie iets wat ons wil aanpak as ons nie seker is ons het sake- en finansiële joernaliste met die nodige ervaring en kundigheid om dit te hanteer nie. Dis egter deel van ons beplanning vir die nabye toekoms. Dankie dat jy intussen die res van Maroela Media lees en geniet.
Groetnis
Susan Lombaard
nms. Maroela Media

rudi ·

Een van die groot draaipunte in die geskiedenis was die regering wat News24 en IOL gedwing het om kommentaar te stop. Lesers het ander media begin besoek. Soos hul se die een se dood is die ander se brood. Sosiale media het die waarheid gebring na die gebreinspoelde massas

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.