SA en Australië se uitdagings verskil

Die bekende Operahuis in Sydney. Foto: Pixabay

Ek geniet Suid-Afrika baie, verduidelik ’n Australiese kennis aan my. Hy werk al ’n hele paar jaar in Johannesburg. Dit is die Suid-Afrikaanse uitdagings waarvan hy hou.

“Julle strompel van een krisis na die ander en almal praat, stry en soek oplossings. Dit is opwindend.”

Daarteenoor vind hy Australië vervelig. Daar gebeur min opwindende dinge soos in Suid-Afrika, volgens hom.

Hy verduidelik dat daar geen groot probleme in Australië se ekonomie is nie. Die grootste probleem tans is Covidmaskers wat orals rondlê en rommelprobleme veroorsaak. Wat spanning betref, was daar ʼn bietjie spanning oor ’n sikloon in Indonesië en oorstromings in enkele Australiese dorpe. Die enigste debat was oor of jy die vleis van ’n gekloonde koei kan eet! Dit is vervelig en oninteressant volgens hom.

Hy gaan wel elke jaar vir die hele Desember terug na Australië. Om sy persoonlike batterye te laai en uit te rus na al Suid-Afrika se uitdagings, verduidelik hy. Daarna sien hy weer kans vir Suid-Afrika.

Dink ek by myself: Die arme Suid-Afrikaners moet van jaar tot jaar hierdie uitdagings hanteer sonder enige ruskans om hulle eie batterye te laai.

So kom ons oorhandig hierdie Desember die staatskaping-uitdagings aan regter Zondo. Minister Blade Nzimande kan Desember gebruik om uit te vind in watter land in die wêreld Afrikaans ’n inheemse taal is aangesien dit volgens hom in Suid-Afrika uitheems is. President Ramaphosa kan oor Zuma en die tronk bekommer.

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Ons ander gaan in Desember die politieke probleme vergeet en aandag gee aan familie en vriende.

Langenhoven het gesê: “Twee dinge het my lewe vir my leefbaar gemaak: die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.” Dit is ’n waar woord. Daarom gaan ek Desember net aandag gee aan my kinders en kleinkinders.

Ek onthou ʼn onderhoud met Mikhail Gorbatsjof, voormalige president van die Sowjetunie. In die onderhoud sukkel die joernalis om met Gorbatsjof oor sy beleid, wat die Sowjetunie vir altyd verander het, te praat.  Gorbatsjof keer telkens terug na hoe wonderlik sy vrou Raisa was en hoe swaar hy kry na haar skielike dood. Hy vertel hoe sy politieke loopbaan hom so besig gehou het dat hy te min tyd aan haar en sy familie bestee het. Hy bieg selfs dat hy eers ná haar dood geleer het hoe belangrik familielewe is. “Ek probeer nou soveel moontlik tyd met my dogter Irina en kleinkinders deurbring,” eindig hy die onderhoud.

Navorsing oor gelukkige mense het bewys dat hoe ryk jy is, nie jou geluk bepaal nie. Die kwaliteit van jou persoonlike verhoudinge bepaal jou geluk. Alhoewel my siniese buurman sê mens huil darem meer gemaklik in ’n Ferrari as op jou fiets.

Dr. Willem de Klerk, oudkoerantredakteur, het ’n “Groetebrief” geskryf wat by sy begrafnis voorgelees moes word. Daarin skryf hy dat hy nie anders sou wou gelewe het nie. Maar: “Ek sou meer wou geniet het van die son en die spel en die leeglê en die gewoon gesellige menswees.

“Ek sou meer wou geniet het van die warmte van menswees en die skoonheid van die aarde. Die sin van lewe is om te lewe. En ek sou meer die liefde geniet het – die gee en ontvang van liefde – want dit is die kristal van die lewe.” Maar – “Ek was te besig met myself en my probleme.”

Ek stem hiermee saam en hoor skielik in my kop David Kramer wat uitbundig sing: “Skattie, druk my / druk my / druk my teen die bors / Want die liefde is soos water en ek het baie dors.”

Geseënde Christusfees.

Dr. Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus‑parlementslid en professor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.