SA onderwys se wind waai wes

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

As daar lig op die pad van Suid-Afrikaanse onderwys is, is dit ʼn baie flou kersie wat teen die politieke winde en ideologieë probeer staande bly. En nou staal ons onsself vir Blade Nzimande se drakoniese konsepwetgewing wat onderwys, soos in ʼn kommunistiese diktatuur, volledig onder politieke beheer wil plaas. Asof die gemors nie al erg genoeg is nie.

Eintlik sit ons met ʼn lang geskiedenis van swak swart onderwys en die Nasionale Party se latere gestigmatiseerde Bantoe-onderwys, hoewel talle gesiene swartes (onder wie Ramphele Mamphele) al gesê het dit was beter as die huidige stelsel.

Onder die ANC is daar van een stelsel na die ander gesteier, beginnende met Kader Asmal se outoritêre, eiegeregtige en idealistiese instelling van uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) waarin hy die wiel wou herontwerp en onder meer ook alle onderwyskolleges summier gesluit en sommiges by universiteite ingelyf het.

Die stelsel is oorhaastig ingevoer, het onderwysers teen die mure uitgedryf en was onuitvoerbaar in ʼn land met die agterstande van veral die swart bevolking.  Maar Asmal het voortgestorm en alle welmenende en ingeligte raad verwerp, ook vanuit lande waar UGO reeds misluk het.

Pleks dat die stelsel die minderbevoorregte leerling gehelp het, het dit die kloof vergroot tussen dié leerlinge met hulpbronne en ondersteuning en dié daarsonder.

Prof. Jonathan Jansen het, toe daar probeer is om nuwe lewe in die dooie perd te blaas, reguit gesê die stelsel “was ʼn skouspelagtige gemors.”

Sedertdien het onderwys onder die ANC-regering nie juis verbeter nie.

♦Die uitvalkoers van gr.1 tot matriek is 66% teenoor die internasionale uitvalkoers van 35%, al word meer as R160 miljard jaarliks aan onderwys bestee (en R640 miljard oor die volgende drie jaar).

♦Wat sy algemene onderwys betref, beklee Suid-Afrika die 139ste plek uit 144 lande (maar darem bo lande soos Yemen, Burundi en Libië). Vir wetenskap en wiskunde was ons 143ste volgens 2013 se Global IT Report.

♦In ʼn onderhoud op LitNet het Paul Colditz, voorsitter van Fedsas, gesê minstens 80% van die land se 24 000 openbare skole is “disfunksioneel.”

Ons het eintlik twee stelsels: die een kan met die beste ter wêreld meeding, maar die meerderheid is ʼn tragiese mislukking. – Colditz

♦Die grootste onderwysvakbond, Sadou, speel ʼn destabiliserende rol en sy alliansie met die ANC verhinder dat hy in die bek geruk kan word.  Vakbonde behoort hulle te beperk tot die regte en diensvoorwaardes van hul lede en moet geensins betrokke wees by die beheer en bestuur van skole nie. (Hulle behoort veral ook nie onderwysposte teen R50 000 aan ongekwalifieerde onderwysers te verkoop nie!)

Colditz het ook melding gemaak van onderwysers sonder werksetiek, wat dronk of glad nie opdaag nie, hul eie belange voorop stel en kinders molesteer en misbruik. “Ons het eintlik twee stelsels: die een (die minderheid) kan met die beste ter wêreld meeding, maar die meerderheid is ʼn tragiese mislukking.”

Moedertaalonderrig

Een van die land se groot onderwysprobleme is die politieke stigma wat aan moedertaalonderrig kleef: Alles moet in Engels geskied omdat dit ʼn internasionale taal is – ondanks al die voorbeelde van mense wat enduit in Afrikaans onderrig is en hul merk op talle wêreldvlakke gemaak het.

Die meeste kinders word nie in hul moedertaal opgelei nie en moet aan die einde van die grondslagfase (gr.3) na Engels oorskakel. Dis fataal vir die kind se ontwikkeling. Die wêrelddebat hieroor is lank reeds afgehandel, maar dit woed nog onverpoosd voort in Suid-Afrika.

Basiese vaardighede soos lees, skryf en rasionaliseer word nie behoorlik onderrig en vasgelê nie. Taalvaardighede speel ook ʼn groot rol by syfervaardigheid in wiskunde en wetenskap.

ʼn Deurwinterde onderwyser sê dis eenvoudig ʼn onreg om ʼn kind moedertaalonderrig te misgun – dit skep ʼn groot agterstand en sy selfbeeld ly skade omdat fyn nuanserings meestal agterweë bly.

“Leerlinge kan ook nie met begrip lees nie en dit beïnvloed alle vakke. Iets ontbreek in die metodes waarmee lees gevestig word. Daar is gevalle waar kinders bloot die vrae pleks van die antwoorde in ʼn eksamen invul. Dis nie iets wat op hoërskool reggestel kan word nie.”

Ouers moet ʼn leeskultuur in hul huis vestig. Navorsing het juis getoon dat swart ouers nie boeke lees of aan biblioteke behoort nie.

Tekort aan vakmanne

Die hoë druipsyfer aan universiteite beteken dat baie studente uit hul diepte is en liewer vakmanskappe moet oorweeg, sê Sean Jones, hoofbeampte van die instituut vir vakmanne (ATI).

“Of dit nou ʼn bakker, elektisiën, dieseltegnikus of loodgieter is – daar sal altyd plek vir vakmanne wees. Hulle het amper gewaarborgde formele werksgeleenthede en kan R20 000 per maand en meer verdien. Dit is baie meer as wat baie gegradueerdes sal verdien.”

Hy sê baie gegradueerdes wat nie in groot korporatiewe maatskappye geabsorbeer word nie, werk as kelners of in ander halfgeskoolde beroepe soos verkoopsagente of die sekuriteitsbedryf.

Wat hy nie sê nie, is dat baie jongmense liewer met ʼn das aan wil werk as om hul hande te gebruik en nou boonop aandring op gratis tersiêre opleiding, selfs al toon uitslae dat hulle nie die nodige vermoë het nie.

Die pad vorentoe

Minister Angie Motshekga is nou in beheer van basiese onderwys. Sy het afkeurend verwys na die toestand van onderwys “in die voormalige swart skole”, die min tyd wat aan onderrig bestee word (omtrent die helfte van funksionerende skole), die tekort aan handboeke, die swak infrastruktuur en die bevorderings van mislukte administrateurs.

Sy som die nasionale situasie en ook die toestand van die Oos-Kaapse onderwysdepartement, wat van al die provinsies die swakste presteer het, goed op. Die ironie is dat sy die olifant in die kamer miskyk. Hierdie provinsie en ook Limpopo, se onderwys is al sedert 2011 onder haar direkte administrasie. Dis nie juis iets wat vertroue in haar vermoë skep nie.

Maar aangesien sy en haar kollegas so lief is vir die buiteland, kan sy gerus ʼn besoek aan Kuba bring.

Hierdie land het sy onderwys totaal hervorm en het ʼn leerling:onderwyser verhouding van 42:1 in 2000 in 2010 tot ʼn verstommende 12:1 verbeter (teenoor die Republiek se 35:1).

Teen 2010 is Kuba se geletterdheidsmetodes in 28 lande in Latyns-Amerika, die Karibiese Eilande, Europa, Oseanië en Afrika aanvaar.

Aangesien Motshekga en haar kollegas so hand op die blaas met Castro is, kan so ʼn besoek dalk net vrugte afwerp. Dit sal egter ook net gebeur as Suid-Afrika se groot gros administrateurs, leerkragte en leerlinge onder meer die nodige werketiek en dissipline kan aanleer.

En soos die ou Jood op die boere se biddag vir reën gesê het: “Julle kan maar bid, maar die wind waai wes . . .

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Johann Marx ·

Moedertaal onderrig klink vir baie mense awesome…..maar as jou moeder en haar taal nie woorde het vir pytagoras of wetenskap nie, en net ‘n “ê” voor die Engelse woord daarvoor sit, dan is jy basies in jou kanon in nog voor jy begin het. Almal praat wyd oor stelsels, en metodes, en motivering, en grondslag fases, ens……Miskien begin iemand eendag praat oor “potensiaal”.

Breytie ·

Johann, ek stem saam met jou. Daar moes lankal begin gewees het om die swart kinders se ware onderwysbehoeftes te bepaal en ‘n stelsel moes ontwerp gewees het wat die fundamentele agterstande kon oorwin. Dit hang saam met die swart kultuur se afwysende houding teenoor voorskoolse onderrig en, soos jy sê, hulle onwilligheid om hulle eie tale te ontwikkel om wetenskaplike inhoude te verwoord. Ek glo nie die mense wat tans in beheer is, is in staat om hierdie probleem op te los nie.

Leonard van der Dussen ·

Dat Suid-Afrikaanse onderwys in die breë gesien in ‘n gemors is, is gemeensaak. Dit word oor rassegrense, politieke verdelinge, gemeenskapsverskille en orals erken en beskryf; soos weer in hierdie artikel.

Die vraag is wat word gedoen daaraan? Dit bly ‘n teenstrydigheid dat die Afrikaner homself sien as vaardig, vol potensiaal en in staat tot prestasies sien, maar sy kinders steeds uitgelewer aan ‘n staatsmatriek en origens staatskurrikulum in ‘n stelsel van onderwys wat bevraagteken word, en waar die presteerder sukkel om werklik uit te styg tussen al die hoë punte wat toegeken.

Die ANC, die regering, die moeras van Afrika gaan nie sonder bewindsverandering verander nie. Intussen gaan die Afrikaner saam met die res van die land agteruit. Die denkraamwerk moet verander:

1. Onderwys moet verstaan word as ‘n funksie van die gesin en die gemeenskap en samelewingsverbande in die omvattende betekenis daarvan, en dat dit nie ‘n staatsfunksie is nie. Dis ‘n wêreldwye stuk sosialisme wat vir die gewetensvrye Christen nie aanvaarbaar kan wees nie. Kinders behoort nie aan die staat nie, en tog laat ons dit met ver-massa-de skole en onderhorigheid aan ‘n sosialisties gedrewe staatskurrikulum toe.

2. Ons moet die saak uitmaak dat die Afrikaner nie maar net ‘n magtelose minderheid binne ‘n groot staatsbestel is nie, maar in staat is om homself te regeer en sy eie sake te doen, soos in iets so noodsaaklik en persoonlik as wat onderwys is. Die moed om self op te tree en die melk uit die staatspene agter te laat, is by die oorgrootte meerderheid nog nie daar nie. Die ingesteldheid en wil om oor onsself te regeer oor daardie dinge wat ons gees en voortbestaan indringend raak, is die voorvereiste om dit te doen.

Dis goed dat artikels soos hierdie verskyn, wat die onderwysramp navors en beskryf; maar dit moet ons tot eie, selfgedrewe aksie aanspoor en nie net ‘n politieke standpuntinname wees nie.

Net een voorbeeld: die hele huidige onderwysstelsel is Engels gebaseer, maar word dan heelwat in Afrikaans uitgevoer: maak dit die staatsonderwys moedertaalonderrig vir Afrikaanse kinders? Die antwoord is nie enkelvoudig nie, maar oorhoofs ver-Engels ons vinnig, dan nie soseer in die woorde en klanke wat aangewend word nie, maar in die trant, idioom en leefwyse wat onderliggend in ‘n Engels-opgestelde en -bestuurder onderwysstelsel teenwoordig is.

Breytie ·

Die veranderde denkraamwerk wat jy voorstel, is reeds moontlik via tuisonderrig. Dit is ‘n wettige vorm van skoling en is onafskeidbaar deel van die demokratiese uitgangspunt. Ongelukkig sal dit vir die Afrikaner ‘n uitdaging inhou omdat een van die ouers sal moet tuisbly om die onderrig waar te neem. Maar as ouers deeglik na hulle uitgawes sal kyk, is die moontlikheid groot dat hulle sal ontdek hulle gaan baie bespaar indien net een van die ouers die broodwinner is en die ander een die kinders onderrig. Ek glo die Afrikaner se toekomstige heil lê in tuisonderrig.

Susan ·

Alles goed en wel. Die Kubane het nie daarin geslaag om werk te skep nie. Groot armoede heers daar. Kos is skaars. Wat help dit as die skoolstelsel verbete en daar is nog steeds nie geleenthede nie.

Leonard van der Dussen ·

Daar moet groter gedink word as net tuisskool. Terwyl daar teen sosialistiese onderwys gewaak moet word, is daar ook baie voordele, en myns insiens noodsaak, vir skoolgaan in groepe oftewel gewoon skoolgaan soos ons dit ken in Suid-Afrika.

‘n Probleem is dat die skole te groot word (1200 – 1600 leerlinge per laerskool in Centurion is die norm) en die kinders vergeet wat dit is om mens te wees en maklik kan wegraak. Dis die gevolg daarvan dat daar meer as ‘n kwarteeu gelede laas ‘n openbare skool in Centurion gebou is; wat net weer bewys die staat kan nie vertrou word om onderwys op dreef te hou nie.

Die privaatskole kan die tekort help opmaak, maar Curro Thatchfield (Centurion) het te min Afrikaanse aansoeke gekry en is toe maar ‘n Engelse skool, wat bewys dat die Afrikaanse gemeenskap die gerief van die oorvol massaskool verkies en nie sy begroting en leefwyse inrig vir die belangrikheid van gesonde onderwys nie.

Alternatiewe soos die onafhanklike privaatskole Laerskool Raslouw en Hoërskool Raslouw bied die opsie van gehalte-onderwys met klasgroottes waar die individu nog gesien word, en in kultuureie opset, maar dit is nie maklik om Afrikaners graag praat uit die gemaksones van die mega-skole te haal nie. Kerkmense praat baie, terwyl dit net die privaatskole is waar Bybel nog as vak en inherent deel is van die aanbieding.

Elke ouer moet homself verantwoord. Daar is egter meer opsies as om net te moet kies tussen mega-skool en tuisskool en dit kan lekker en nuttig wees om skool te gaan.

Die naskoolsentrum van Laerskool Raslouw is terloops nogal groot, as refleksie van die werklikheid van die samelewing waar baie gesinne se ouers albei moet werk om die pot aan die kook te hou, en helaas ook die enkelouer-verskynsel wat toeneem.

Breytie ·

Dit staan Afrikaners vry om, behalwe tuisonderrig, klein privaatskooltjies oral in ons gemeenskappe te registreer met sê maar vyf leerlinge per klas tot by Gr 7. Dan is die kinders deeglik gevestig in hulle eie identiteit en kan hulle na ‘n massaskool gaan sonder om ontmens te voel. Daar was ‘n tyd toe laerskool onderwysers een klas gehad het vir al die vakke. Dit kan weer gedoen word. As ons regtig wil, kan ons ver kom ten spyte van wat die regering doen.

Disselboom ·

Hoekom moet die skole geregisteer wees? Dien dit ‘n onderwydoel?

Disselboom ·

Hoekom moet die skole geregisteer wees? Dien dit ‘n onderwysdoel?

Breytie ·

Disselboom, daar moet eksterne beheer wees om seker te maak alle kinders in die land ontvang onderrig. Indien dit nie gedoen word nie, kan sommige ouers om verskeie redes besluit hulle wil nie hulle kinders opgelei hê nie en uiteindelik word sulke kinders volwassenes wat nie vir hulleself kan sorg nie en dan is hulle ‘n las vir die belastingbetaler.

Leonard van der Dussen ·

Dis nie hoekom die huidige regime skole verplig tot registrasie nie: die huidige regime gebruik registrasie om sy kurrikulum af te druk, privaatskole te melk en dit in die eerste plek baie moeilik en duur te maak om enigsins deur die registrasieproses te worstel. Daar het onlangs ‘n artikel verskyn op netwerk24.com : “Onafhanklike skole te streng gereguleer” waarin onder ander staan:

“…. ’n verslag deur die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE) oor die bestaande reguleringsraamwerk vir onafhanklike skole in Suid-Afrika.

Hoewel staatsregulering belangrik is in die oorsigrol wat dit speel, wys navorsing dat dit in der waarheid nie bemagtigend is nie en dat dit buitensporige hoë koste vir onafhanklike skole inhou”

Ek dink dus Disselboom se vraag is van belang – dra skoolregistrasie onder die ANC-regering iets by tot onderwys, of is dit daar om die bevolking onder die kommunistiese juk te hou?

Die syfers wat in die artikel aangehaal word, is hoog:
“In ’n jaar word 687 uur by Umalusi en 275 by die provinsiale departement deurgebring om te registreer.

Daarby kos dit R150 000 vir akkreditasie by Umalusi en R68 000 by ’n provinsiale departement.”

In die geval van meeste privaatskole kom dit uit die skoolgelde wat reeds uit na-belaste geld van ouers kom en verteenwoordig sulke fooie dus belasting op geld wat klaar belas is. Dis maar een voorbeeld van ‘n web van onreg waar ‘n regering sy bevolking verkneg.

In ‘n normale samelewing met ‘n gesonde regering ja, is registrasie seker wat meeste mense dink dit is – ‘n eenvoudige middel om basiese orde in die samelewing te hou; maar met die huidige regering is dit ‘n manier om gewetens te bind, enkelvormigheid in onderwys af te dwing, privaatonderwys te verswak met hoë gelde en gedurige administratiewe vereistes pleks daarvan om onderwys aan te moedig ens.

Disselboom ·

Daar moet seker dan registrasie wees. Die fooie klink bietjie taai, maar dis seker nou maar hoe die lewe is.

Hein ·

My ondervinding vsn klein privaatskole id dat die onderwysstandaard nie op standaard is nie. Rede is omdat die klein skole se getalle so min is kan hulle nie onderwysers bekostig nie en dan is ongekwaligiseerdes en ook ou onderwysers op pensioen, wat nie meer die entosiasme het vir die onderwys die onderwysers. Glo my ek het dit ondervind.

Disselboom ·

Mens moet luister na die probleem van die klein skooltjies, al is die bedoeling goed. En dit laat mens tog wonder hoe goed tuisskool regtig vir die kinders is.

Die groot vraag wat die hele gemeenskap raak, en dus die eintlike vraag is, is hoe lank daar nog in die gesplete situasie voortgegaan word waar die Umalusi-matrieksertifikaat ernstig bevraagteken word, waar dit orals gesê word die staatskurrikulum en die leermateriaal is indoktrinerend vir menseregte en godsdiensgelykheid…… maar Afrikanerkinders gaan steeds op groot skaal binne hierdie bevraagtekende stelsel skool?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.