‘SEB is die ware booswig, nié Jacob Zuma’: ʼn Herstelplan vir SA

dr-anthea-jeffery

Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing van die IRR. Jeffery is ook die skrywer van Race Relations in South Africa, Reasons for Hope 2017, wat middel-Februarie uitgegee word deur die IRR.

Deur dr. Anthea Jeffery

Selfs al bedank die president sal die raaisel rondom bemagtiging bly voortduur.

As pres. Jacob Zuma onverwags sou bedank weens die toenemende kritiek ná die onlangse kabinetskommeling, sou dit ʼn paar belangrike winste inhou: Met hulle bankrekenings kwyt, kan die Guptas dalk uitwyk na Dubai; van die omstrede kernaanleg in oorleg met Rosatom kan weggeskram word en skadelike afgraderings kan makliker ontwyk word.

Nietemin sal die belangrikste kwessie wat die land in die gesig staar steeds daar wees.

Hoewel heelwat gedoen is om armoede te verlig en die lewenstandaard te verhoog, is miljoene swart Suid-Afrikaners ekonomies steeds uitgesluit deur middel van ʼn gebrek aan vaardighede, hoë werkloosheid en geringe groeimoontlikhede. Boonop woon talle in haglike omstandighede en word deur siekte geteister.

Swart ekonomiese bemagtiging (SEB), saam met gelyke werksgeleenthede en grondhervorming, is veronderstel om die armes te bemagtig. Maar soos ander programme van regstellende aksie oor die hele wêreld, is dit ʼn klein elite wat baat vind by SEB – die bevoorregtes binne-in die groep minderbevoorregtes.

Hierdie situasie gaan nie verander nie. Dit maak nie saak hoeveel SEB-maatreëls ingestel en hoe dit ook al afgedwing word nie, miljoene arm Suid-Afrikaners gaan nooit gelykheidsvoordele smaak, in bestuursposte aangestel word, voorkeurtenders kry of kleinsakeondernemings begin nie.

Hiervan is die ANC deeglik bewus. In 2010 het Pravin Gordhan, die voormalige minister van finansies, gesê: “Die SEB-beleid was nie suksesvol nie en het Suid-Afrika ook nie ʼn gelyker en meer vooruitstrewende land gemaak nie. Dit het gelei tot ʼn klein elite wat voordeel trek en dit is nie goed genoeg nie.”

Gewone Suid-Afrikaners is maar té vertroud met dié toedrag van sake. Dit het weer geblyk uit ʼn omvattende meningspeiling wat die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) in September verlede jaar gedoen het as ʼn opvolg van die peiling wat die vorige jaar gedoen is.

Soos dit blyk uit die IRV se 2016-opname het slegs 14% van swart Suid-Afrikaners persoonlik gebaat by SEB in onderskeie gedaantes, terwyl 86% nié daarby gebaat het nie. Dis dan ook gʼn verrassing nie dat slegs 3% swart mense (minder as die 5% in 2015) meen “meer SEB of meer regstellende aksie in die werksplek is die beste manier om lewenstandaard te verhoog”. ʼn Skamele 1% van swart mense (minder as die 2% in 2015) meen “meer grondhervorming” kan dít bewerkstellig.

Wat staan ʼn mens te doen? Die ANC se vennote gebruik die onvermydelike mislukkings van SEB geruime tyd al om te beding vir meer staatseienaarskap. Die SAKP, Cosatu en die ANC-jeugliga het almal te kenne gegee die mislukking van SEB om “meer gelyke uitkomste” te skep sal beteken die regering moet grond en “strategiese” sektore begin nasionaliseer.

Noudat die immerskuiwende SEB-voorwaardes daartoe bygedra het om groei te beperk tot ʼn geringe 3% van die BBP en terwyl nooddruf toeneem, steun die ANC dié gedagte nou openlik. In die proses plaas die party groot nadruk op historiese grondonreg ­en word dié aspek uitermate gemelk.

Grondonteiening met min of geen vergoeding word nou ʼn sleuteloogmerk vir die ANC. Talle in die party meen dit kan gedoen word binne die raamwerk van die Grondwet deur markwaarde gering te skat. Ander meen die staat kan wegkom deur geen vergoeding te betaal nie en kuratorskap in plaas van eienaarskap te aanvaar (soos die konstitusionele hof tevore uitspraak gegee het dat die “aanname van kuratorskap” verskil van onteiening en geen vergoeding noodsaak nie).

Daar is dié wat agter pres. Zuma en Gugile Nkwinti, minister van grondhervorming, staan en aandring op ʼn verandering aan die Grondwet wat onteiening sonder vergoeding sal magtig.

Die ANC/SAKP-alliansie gee voor hy gee gehoor aan die populêre aanspraak van die teruggee van grond “aan die mense”. Die ware oogmerk is egter nasionalisering, meer as regstelling. Is dít wat gewone Suid-Afrikaners wil hê?

Die IRV se 2016-peiling verskaf belangrike inligting. Slegs 0,5% van swart mense beskou die stadige vordering met grondhervorming as ʼn belangrike onopgeloste kwessie. ʼn Skrale 0,1% meen grondbesit is ʼn sleuteloorsaak van ongelykheid. En slegs 1% (soos vroeër aangedui) dink “meer grondhervorming” is die beste manier om sukses te behaal.

Respondente moes ook aandui of hulle “ʼn politieke party verkies wat fokus op sneller groei en meer werksgeleenthede, of een wat bly fokus op grondonteiening om die ongelykhede van die verlede reg te stel”. Tot 84% van die swart respondente het vir eersgenoemde gekies en net 7% vir laasgenoemde.

Die meeste swart Suid-Afrikaners (73%) beskou “meer werksgeleenthede en beter onderwys” as die beste manier om sukses te behaal. Die miljoene werksgeleenthede wat benodig word, kan nie geskep word sonder sterker sakevertroue en vinniger ekonomiese groei nie. Skoolomstandighede gaan ook nie verbeter solank dit in die hande van ʼn onbevoegde staat is nie. Arm mense het boonop beter behuising en gesondheidsorg nodig om iewers te kan kom.

Die regering bestee reeds groot bedrae – R680 miljard in die huidige finansiële jaar – aan onderwys, gesondheidsorg en behuising (plus gemeenskapsontwikkeling). Nietemin is die resultate gering. Tot 80% van openbare skole is disfunksioneel, minstens 84% van die openbare hospitale en klinieke voldoen nie aan basiese standaarde nie en die staat se HOP-huise is gewoonlik klein, nie goed geleë nie en van swak gehalte.

Mense por die regering al lank aan om huissubsidies direk aan huishoudings oor te dra. Hulle voer aan hulle kan vir hulself beter huise bou met dié geld. Daar kan aan dié eis gehoor gegee word deur middel van belastinggedrewe behuisingsbewysstukke (vouchers) wat slegs vir behuisingsverwante behoeftes gebruik kan word.

Maar waarom met behuising volstaan as die staat se voorsiening van onderwys en gesondheidsorg net so gebrekkig is? Boonop wanneer onderwysbewyse, in besonder, reeds in talle ander lande gebruik word om ouers ʼn ware keuse te gee, mededinging te bevorder en die gehalte van onderrig op te skuif?

Die IRV se 2016-opname wou van respondente weet of hulle belastinggedrewe onderwys-, gesondheidsorg- en behuisingsbewyse verkies om hulle in staat te stel om te voldoen aan hulle nood op hierdie terreine. Altesaam 85% van die swart respondente het die gedagte van onderwysbewyse gesteun. Daarby het 74% van swart mense aangedui hierdie bewyse sal doeltreffender wees as die huidige SEB-beleid om hulle situasie te verbeter.

Hierdie resultate is ʼn aanduiding wat Suid-Afrika te doen staan om die bemagtigingsvraag mee te beantwoord. SEB werk nie en nasionalisering sal die ekonomie verwoes. ʼn Skuif van SEB na ʼn nuwe stelsel van “ekonomiese bemagtiging vir die benadeeldes”, of EBB, kan vinnig werklike en volhoubare voordele bring.

EBB sal die nadruk plaas op groei en werkskepping. Sakeondernemings sal vrywillige EBB-punte kry hoofsaaklik vir daadwerklike ekonomiese bydrae tot beleggings, werksgeleenthede, belastinginkomste, en so meer. EBB sal mense bemagtig deur middel van belastinggedrewe bewyse vir skoolopleiding, behuising en gesondheidsorg, terwyl ondernemings verdere EBB-punte kan verwerf deur die bewyse aan te vul of maniere te vind om dienslewering te verhoog.

EBB sal die ekonomie bevry van die voetboeie van SEB-reëls wat al skadeliker word. Boonop sal dit die armes help op ʼn manier wat SEB nooit sal kan vermag nie. Aangesien SEB duidelik misluk het, is dit tyd om die ekonomie ʼn hupstoot te gee en oor te beweeg na EBB.

  • Jeffery is die hoof van beleidsnavorsing by die IRV en skrywer van EED is for real empowerment, whereas BEE has failed, uitgegee deur die IRV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Skim ·

Baie goeie artikel, goeie leeswerk, wens almal wil hier kom lees en hulle kennis uitbrei, want mense dink omdat hulle saam aan die protesoptog deelgeneem het teen ZUMA, hulle ook nou voordeel daaruit gaan trek, min weet hulle!

John ·

So, ‘n klomp geld in die sakke van armes gaan verantwoordelikheid skep en krag en skoolfonds laat betaal… Sassa se doppie klink? Akademiese vermoens gaan ook in der mate styg. Hoeveel geld sal nodig wees om 60+ miljoen ongelukkiges + die instromende massas op te gradeer? Kyk hoe ‘fluks’ is mense bo in en Afrika waar geld/kos reen. Slinksheid ken geen perke nie. Afrika lief kommunisme juis omdat dit ondernemingsgees/vooruitgang straf deur winste te annekseer en aan onverantwoordelikes te skenk want dis glo gesteelde vooruitgang en die elite-bloedsuiers help bloot net om die verantwoordelikes onder die duim te hou en te melk.

Kosie ·

Sak Sarel, 60 miljoen + ongelukkiges?
+- 16, 5 Miljoen van die sowat 42 Miljoen (Geraamde syfer) in Suid Afrika kry een of ander toelaag,hoeveel is minderjarig, Hoeveel van die res sit in die tronk, hoeveel wil nie werk nie, is siek (HIV of TB), hoeveel maak n lewe uit diefstal, hoeveel van die sogenaamde studente voltooi hulle graad kursusse en so kan ons aangaan. Nee Geen bemagtigings program het nog ooit iewers in die wereld gewerk nie. Hoekom sal dit dan hier is SA werk?

Maria Van Dieweeck ·

anc wil ongelukkig nie he die massas moet ‘slim’ word nie!

janneman ·

Daar bestaan meer as genoeg bewyse dat die oorgrote meerderheid ekonomies agtergeblewenes, ongeag kleur, onbekwaam is om enige finansiele inkomste effektief kan bestuur. Daar sal ongelukkigheid wees en ongelykheid tot in lengte van dae tot mense finansiele dissipline kan toepas. Dit is myns insiens opleiding wat regdeur die skool loopbaan eerder n leefwyse gemaak moet word voor enige sukses met opheffingswerk bereik kan word.

Pieter ·

Ons weet almal dat die oplossing vir ons probleme daarin lê dat ons Regering ‘n wesenlike beleidsverandering moet teweeg bring. Sekurereit sal beleggings teweeg bring en dit op sy beurt volhoubare groei en ontwikkeling. Maar dit is waar die probleem lê, die Regering!

humor ·

Janneman jy se dit reg. Hoeveel eeue sal dit egter duur voordat dit in Afrika se kop vastrapplek kry. Kan die artikel ook in Engels gereeld in die parlement versprei word.

Basson ·

So jammer die IRR het befondsing aanvaar van Coke vir ander navorsing (suiker belasting). IRR se kredietwaardigheid is grootliks daarmee heen?
(Goeie artikel, maar die kontaminasie is nou van blywende aard. Dus het my opinie van IRR navorsing en artikels gedaal van AAA+++ na rommel status ?)

JC ·

Ek stem nie saam met Anthea se standpunt oor sogenaamde “kuratorskap” nie. Natuurlik sal die howe manipulerende pogings om kuratorskap te gebruik om eiendomsreg te negativeer sien vir wat dit is: “onteiening” : “die wolf”, geklee in die spreekwoordelike skaapsklere d.i. “kuratorskap”. Mense hoef glad nie hieroor bekommerd te wees nie. Spoke word opgejaag onnodiglik, ook was die konteks van die saak waarin die kwessie opgekom het(dit was ‘n saak oor minerale regte?) heel verwyderd van landbougrond en ons boere se eiendomsregte. Hoe kan kuratorskap of die nodigheid/noodsaaklikheid daarvan, bewys word wanneer plase briljant bestuur word. Nee wat, in daardie geval sal die staat “krimineel” moet optree deur plase te wil vernietig of die bestuur daarvan in gedrang te wil plaas om die “nodigheid” van kuratorskap te bewys. Kan julle sien waarheen die argument gaan. Nee wat, die “skelm” staat is gesnoeker en het weer nie verder as hul neuse gedink nie.

Jakes ·

Die regering het sopas die minister van finansies se kantoor onder kuratorskap geplaas.

Henk Stander ·

Hoeveel is ń miljard Ek weet van miljoen, biljoen en triljoen…waar pas miljard in?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.