Segetog vir regses in Portugal

Die Portugese parlementsgebou (Foto: PATRICIA DE MELO MOREIRA / AFP)

Die pas afgelope parlementsverkiesing in Portugal het ʼn beduidende swaai na regs meegebring.

Die grootste party was die hoofstroom-regse Sosiaal-Demokratiese Party (wat eintlik vergelyk met die Christen-Demokratiese Partye in Europa, ten spyte van sy naam) wat 29% en 79 setels gekry het – ʼn  geringe verbetering op die laaste verkiesing in 2022. Net ʼn kortkop agter hulle het die Sosialiste tweede geëindig, met 28% en 77 setels. Die Sosialiste is egter tans die regerende party en het selfs ʼn volstrekte meerderheid setels gehad, dus was dit vir hulle ʼn ernstige neerlaag.

Die groot oorwinnaar is die regse party Chega (Genoeg!) met die leier Andre Ventura, wat in die verlede bekendheid as sportkommentator verwerf het. Chega kon 18% en 48 setels inpalm en sy steun amper verdriedubbel. Dit is des te meer merkwaardig aangesien Chega eers in 2019 gestig is, terwyl die ander twee partye al oor dekades se netwerke van mag en invloed beskik. Chega het veral by jongmense goed gevaar en met sy veldtog sterk op sosiale media gesteun.

Ander kleiner partye met tussen een en agt setels, was die Liberales, Kommuniste en Groenes.

Die rede vir die sosialistiese regering se neerlaag en Chega se sukses is ʼn ernstige korrupsieskandaal van die regering oor die toekenning van kontrakte vir die myn van litium. Dit het die regering van eersteminister Antonio Costa (wat persoonlik baie gewild was) einde verlede jaar tot ʼn val gebring en ʼn vervroegde verkiesing moes dus gehou word.

Anders as die hoofstroomopposisie, wat self sy korrupte netwerke het, word Ventura en Chega as onverbruik beskou en het sterk teen korrupsie te velde getrek. Verder speel die tekort aan behuising, swak mediese dienste en onvoldoende onderwys ʼn rol. Indirek hou dit alles ook verband met massa-immigrasie van armes uit Afrika, wat groot fiskale druk op die eerder arm Portugal plaas. Chega is die enigste party wat die soort probleme aanspreek. Terwyl massas armes Portugal binnestroom, verlaat al hoe meer goed opgeleide Portugese die land op soek na beter geleenthede elders in die Europese Unie.

Die vorming van ʼn regering word egter bemoeilik deur die feit dat die leier van die Sosiaal-Demokrate, Luis Montenegro, enige koalisie met Chega uitsluit. Portugal is struktureel links en is deur dekades van sosialistiese regerings gevorm. Regse politiek is dus nog ʼn nuwe en vir talle inwoners vreemde verskynsel. Sonder Chega sal egter geen regeringsvorming moontlik wees nie. Of Montenegro wel omswaai, dalk onder druk van lede in sy party, sal die tyd leer.

Portugal was vir lank een van die laaste lande in Europa wat geen verregse party gehad het nie. Dit het deels te doen met die land se verlede van ʼn regse diktatorskap tot in 1974, wat as reaksie ʼn langdurige linkse hegemonie gehad het. Chega het egter geen wortels in die verlede nie en veral vir die jonger generasie is die huidige probleme meer bepalend vir hulle stemkeuses as debatte oor die verlede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Interessante skrywe.Jong mense bring nuwe denke,idees en standaard na die tafel,wat baie belangrik is in vandag se politiek,wêreldwyd.Portugal is nie ‘n groot land nie en die regte party het die leisels oorgeneem.In politiek moet eers iets verkeerd loop voor verandering plaasvind en na mening hou dit direk verband met die massa immigrasie vanuit Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.