Die gewese Italiaanse eerste minister, Silvio Berlusconi, wat onlangs oorlede is, word in die media veral daargestel as ʼn kleurryke, omstrede politikus wat amper ʼn soort karikatuur van ʼn Italianer was. Vol bravade en selfoorskatting, gestel op vertoon en glans en met ʼn voorliefde vir mooi vroue, wilde partytjies, vinnige motors en sokker.
In sy lang en kleurryke lewe was dit natuurlik alles ook teenwoordig. Vergelykbaar met Donald Trump, was daar amper niemand wat neutraal oor hom gevoel het nie: so baie soos wat hom afgrondelik gehaat het, so baie het hom weer vereer en amper verafgod op sy tyd. Hy is wel as politikus, selfs minister in die regering dood, maar sy hoogtyd lê al ʼn paar jaar terug en daarom is dit gepas om ʼn bietjie langer terug te kyk as die fuif-partytjies en “Ruby-gate“ waarmee hy sy eie roem besmet het.
Wat Berlusconi se blywende nalatenskap is, is dat hy die padbereier van ʼn nuwe politieke bedeling was, nie net in Italië nie, maar in die hele Weste nog lank voor die woord populisme op almal se lippe was, en lank voor persone soos Trump hulle verskyning gemaak het om as buiteperde die politiek om te keer.
Berlusconi het in die vroeë 1990’s op die radar verskyn, op die oorgang van die eerste na die tweede Italiaanse Republiek. Dit was die tyd waar die ou Italiaanse politieke stelsel, as een van die eerstes in die Weste, sy laaste asem uitgeblaas het. Die blok van sentrum-regs (Christen-Demokrate) tot verlinks (Kommuniste), wat as selfverklaarde anti-Fascistiese partye die aanspraak gehad het om op die bodem van die grondwet te staan en wat eksplisiet die neo-Fascistiese MSI (Movimiento Sosiale Italiano; Italiaanse Sosiale Beweging) uitgesluit het, het na ʼn reeks onthullings oor bande met die Mafia as‘t ware ingeplof.
Die bekende politieke stelsel waar die partye die mag, posisies en geld onder mekaar verdeel het na politieke skyngevegte voor die verkiesing was oor nag verby. Veral die Christen-Demokrate, vir die grootste deel van die na-oorlogse tydperk die bepalende party in Italië, het eenvoudig opgehou bestaan en in splintergroepe uitmekaargespat, wat later by ander groeperinge aangesluit het.
Die linkerkant het minder skade gely en het uit die gematigde deel van die Kommunistiese Party en ander sentrum-linkse splintergroepe die Demokratiese Party gevorm, wat die dominante krag geword het. Nuwe partye wat ontstaan het, was die regse streeksparty Lega Nord, later herdoop tot Lega. Die sentrum-regse veld het deur die Christen-Demokrate se verdwyning wyd oop gelê.
In 1994 het Silvio Berlusconi as die man van die oomblik die toneel betree. As skatryk media-ondernemer het hy die middele, die charisma en die politieke onafhanklikheid gehad om oornag ʼn kragtige sentrum-regse party, Forza Italia (FI; Italië Voorwaarts), te vorm. Dit was nie meer die ou politieke partyopset met eindelose vergaderings, notules en statute nie, maar was geskoei op die idee van ʼn klub.
Reeds kort na sy stigting kon Forza Italia in die verkiesing van 1994 die grootste party word en Berlusconi het die eerste keer ʼn regering slegs uit regse partye gevorm. Buiten vir FI was ook Lega Nord en die voorheen geïsoleerde MSI deel van die regering. Die drie het in die verloop al hoe nader na mekaar gegroei en Berlusconi se invloed het gematigde uitwerkings gehad. Lega Nord wou nie langer die noorde van die land afskei nie, en MSI het hom gedistansieer van fascisme en sy naam verander na Alleanza Nazzionale, waarin die huidige eerste minister, Giorgia Meloni, haar loopbaan begin het.
Alhoewel die regering ook net twee jaar regeer het en weer deur die linkse blok wat intussen ook gevorm het afgelos is, het Berlusconi later weer verskeie kere eerste minister geword en was hy die dominerende politieke figuur van Italië vir sowat 20 jaar. Ten spyte van talle herbenoemings en herskommelings is die verdeling van Italië in twee blokke, links en regs van die middel, en veral die konsolidasie en sukses van die regse blok, Berlusconi se nalatenskap.
Hy het geen vervelige lewensstyl gehandhaaf nie. Die man was besig , op alle terreine.