Sisulu rig haar pyle op die verkeerde teiken

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Wat is die rol van ’n grondwet in ’n volwasse demokrasie? Is dit ’n onaantasbare dokument wat nooit gekritiseer kan word nie? Of is dit eenvoudig ’n tydsdokument wat moontlik nuttig in ’n bepaalde stadium was, maar wat oorboord gegooi kan word as sy gebruikswaarde na jou mening sterk daal?

Dié vrae word gestel na aanleiding van die skerp aanval wat Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, op die grondwet en die regbank wat dit moet vertolk, gerig het.

In haar oorspronklike aanval, wat op 7 Januarie gepubliseer is, relativeer sy die begrip “rule of law” (regstaat) sterk: “Apartheid was ‘wettig’. Die (diskriminerende) Jim Crow-wette in die Verenigde State was ‘wettig’. Kolonialisme was ‘wettig’. Dus, wat beteken dit om ’n regstaat te hê? En wie se reg is dit in elk geval?”

Sy sê die Grondwet van 1994 is sterk teen die slagoffers van die “regstaat” gelaai ná eeue se wrede verdrukking van die inheemse mense deur die invallers. “Maar wat het dié pragtige grondwet gedoen vir die slagoffers, behalwe as lapmiddel (Panadol)?” vra Sisulu.

Sy meen al wat die Grondwet reggekry het, was die “koöptering” van swart leiers, wie se taak dit is om die massa stil te hou “terwyl hulle met kaviaar met gekoloniseerde kapitaal by ʼn feesmaal aansit”. Vervolgens kies sy baie duidelik die kant van die EFF en eis sy dat grond herverdeel moet word. “Die werklikheid is dat as jy nie grond het nie, jy geen land het nie.”

Ten slotte verwys sy na die swart regters, die vertolkers van die Grondwet, as “geestelik gekoloniseerde Afrikane”. “In Amerika word hulle ‘House Negroes’ genoem.”

Tot sover Lindiwe Sisulu …

In reaksie hierop het ’n yslike herrie losgebars. Waarnemende hoofregter Raymond Zondo – dieselfde man wat onbevrees die kwessie van staatskaping onder Jacob Zuma ondersoek – het gereageer dat hy “met afgryse vervul was”: “Ons is nie in hierdie amp om gewild te wees nie, maar om ’n baie belangrike funksie in ons grondwetlike demokrasie te verrig. Ons sal nie ’n situasie toelaat waar mense wil hê ons moet afwyk van ons ampseed deur hierdie taktieke te gebruik nie.”

Ook Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het skerp gereageer. Een reaksie wat egter in sy afwesigheid geskitter het, was dié van president Cyril Ramaphosa, wat vermoedelik gemeen het sy politieke kapitaal is nie voldoende om Sisulu reguit voor die bors te gryp nie.

Maar wat is dan met Sisulu se standpunt verkeerd? Mag sy dan geen kritiek op die Grondwet uitspreek nie?

Dieselfde Grondwet sê sy mág. Vryheid van spraak is – binne perke – een van die sake wat in die Handves van Regte as deel van die Grondwet veranker is. Op sigself is daar niks mee verkeerd om krities na die Grondwet te kyk nie.

Dit sal natuurlik help as jy dit duidelik stel dat jou kritiek bedoel is om die dokument te verbeter, en dat jy voorstelle doen van hóé dit verbeter kan word. Dit sal nié help as jy, soos Sisulu, die indruk wek dat jy die hele fondament waarop die Grondwet berus, te wete die liberale demokrasie, by die venster wil uitsmyt nie.

Die liberale demokrasie en regstaat, soos in ons Grondwet versinnebeeld, rus op ’n fondament waarvan die wortels tot by antieke Athene en Rome, tot die Middeleeue en die deurbraak van die Franse Revolusie teruggaan. Die vernaamste pilaar waarop dit berus, is die verdeling van mag, die dekonsentrasie daarvan om magsmisbruik en -willekeur onmoontlik te maak of in elk geval enorm te bemoeilik.

Dis waarom enige moderne demokratiese grondwet voorsiening maak vir drie regeringsmagte, te wete die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag. Al drie staan eweseer onder die oppergesag van die Grondwet en die reg in die algemeen, en is gebonde aan die vertolking wat die regbank van tyd tot tyd binne perke daaraan gee.

Buiteom die formele regsbeperkinge op die regering se mag is daar ook die burgery se mag, wat nie alleen in verkiesingstyd beoefen word nie, maar ook deur – binne perke – betogings, mediavryheid, noem maar op.

Beteken dit dat alles in ’n grondwetlike regstaat perfek is? Dat ons Suid-Afrikaanse grondwet nie verbeter kan word nie? Geensins. Géén stelsel onder die son was nog ooit nié vatbaar vir verbetering nie.

Ten eerste het ons in Suid-Afrika met ’n regerende alliansie, die ANC/SAKP, te make wat voor 1990 in ballingskap in ’n fundamenteel ondemokratiese omgewing – die ortodokse Marxisme-Leninisme – ontwikkel het. Die alliansie wat die bewind in 1994 geërf het, het eintlik geen demokratiese tradisie gehad nie.

Lindiwe Sisulu. (Foto: @DWS_RSA
/Twitter)

Ook sy tradisionele ondersteunerskorps, verreweg die meeste swart mense, is nooit werklik aan die Westerse demokrasie blootgestel nie. En tog, in die kwarteeu het baie van hulle (lank nie almal nie) sedertdien gewys dat hulle in ʼn sekere mate aard in die vryheid wat die demokrasie hulle bied.

Dis byvoorbeeld dié dat die ANC/SAKP deesdae by die stembus soveel teenslae beleef. Dis dié dat die swart massa luidkeels sy reg op meningsvryheid opeis, al gebeur dit dikwels onewewigtig en dalk te robuus.

’n Goeie saak kan daarvoor uitgemaak word dat ons Grondwet nie voldoende voorsiening maak vir etniese diversiteit nie. Maar dit is dan ’n saak wat deur onderlinge debatvoering aangepak moet word; nie deur mekaar sleg te sê en dit daarby te laat nie.

Ook Sisulu het ’n punt beet; laat ons dit nie ontken nie. Vir iemand aan die onderkant van die samelewing, ’n werklose in ’n plakkerskamp sonder vooruitsig op verbetering, het die Grondwet geen regstreekse betekenis nie. Dis ’n dokument waarvan hy of sy skaars gehoor het, laat staan dat die inhoud bekend is.

Dit beteken nie dat jy die baba summier met die badwater kan uitsmyt soos Sisulu doen nie. Sy rig haar pyle op die verkeerde teiken, naamlik die Grondwet, terwyl dit op die beleid van die regering (waarvan sy lid is) gerig moet word.

Daar moet naamlik ’n fundamentele onderskeid getref word tussen enersyds die Grondwetlike stelsel waarop die staat berus, en andersyds die beleid wat die regerende party volg. Die twee moenie verwar word nie. ’n Mens kan tereg skerp kritiek op die beleid van die ANC/SAKP uitspreek, terwyl jy die liberaal-demokratiese stelsel as sodanig, en die Grondwet waarop dit berus, aanvaar.

Sisulu se aanval is gevaarlik. As sy haar vermoedelike sin kry, sal die demokratiese fondament van die Grondwet in stukke uiteenval. Dan word Suid-Afrika nie beter nie. Dan word hy net nóg ’n mislukte Afrikastaat. Is dít wat ons wil hê?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Ag Lindiwe Sisulu is ook deel van die korrupte, useless, skelm ANC spul. Nou wil sy haar mond kom rek oor iets waarvan sy niks weet nie. Sy is net so grootbek soos Malemma, miskien moet sy by die EFF gaan aansluit sy sal goed inpas daar

Petrus Albertus ·

Ek voel dis te dik vir ‘n daalder, komende van haar! Indien sy nou al enigiets gedoen het om armoede te verlig en dienslewering te verbeter sou mens seker nog kon toegee dat sy ten mjnste beginselvas is maar werklikwaar, genoeg is genoeg. Ek weet nie wie djnk sy is sy dat almal voortdurend aan haar halfgebakte en onoortuigende menings blootgestel moet word nie maar die res van die land wéét sy is net nog ‘n strooipop van korrupsie.

Marthinus W ·

Ek dink nie ons is n volwasse demokrasie nie; eerdern ontwikkelende demokrasie, soos Rusland. Te veel parlementariers is outokrate.

In Jhb is omtrent elke tweede straat se naam verander na Albertina Sisulu, wat werklik absurd is. Aan die Wes-Rand is daar selfs twee strate wat kruis, wat albei Albertina Sisulu is (tensy die munisipaliteit die naamborde verkeerd het.)

Hendrik ·

Hier by ons is straatname soos Pioniersweg, Disselboomstraat, Voorstelstraat. Gelukkig weet waarheen ons op pad is na selfregerende selfstandige gemeenskap. Voorsboed in Jhb.

Treurwilger ·

Die uitgesoekte swart leiers wat kaviaar saam met die eertydse “onderdrukkers” eet, terwyl die swart massa se ellende by die dag vererger, is ongelukkig ‘n feit.
Om die Grondwet daarvoor te blameer, is oneerlik en klink soos Winnie , wyle Moeder van die Nasie.

Dr. Scholtz was destyds hoogs beangs in etlike Maroela-artikels oor ‘n moontlike derde wêreldoorlog veroorsaak deur president Trump, en tans stil oor die onstuimige stand van sake onder Biden.
Dis só opvallend dat hierdie leser nie anders kan as om dit te noem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.