Skep nuwe vrye Westerse ruimtes vir voortbestaan

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die uitskuif van pres. M.T. Steyn se standbeeld vanaf die Universiteit van die Vrystaat, is ’n voortsetting van die anti-Westerse orde wat homself landwyd voltrek. Dit geld nie net vir standbeelde soos Steyn en die verwydering van Totius vanaf die eertydse Puk-kampus nie, maar vir feitlik alle Westerse simbole, stelsels en strukture. Die uitskuif van Afrikanerstandbeelde en hul vervanging met anti-Westerse figure soos Fidel Castro (Kovsies) of ANC-helde, moet nie in afsondering gesien word nie. Dis simbolies van die uitskuif of afskaling van ander Westerse stelsels soos die regsorde, eiendomsreg, vrye mark, vryheid en moderniteit.

Die gevolge hiervan is nie net simbolies nie, maar behels prakties die demodernisering van Suid-Afrika op talle terreine. Dit geld vanaf elektrisiteit, infrastruktuur, die ekonomie, staatsadministrasie en die verval van die regsorde wat gekenmerk word deur grootskaalse straflose korrupsie. Dekolonisering het nie net die uitskuif van verwestering in die visier nie, maar is terselfdertyd ’n projek om Westerse ruimtes en kultuurprodukte te koloniseer. Die simboliese verandering van dorpsname, uitskuif van monumente, en die oorname of verengelsing van Afrikaanse instellings, is maar net ’n voltrekking van ’n proses wat eintlik reeds plaasgevind het. Steyn se uitskuif is tekenend van die uitskuif van Afrikaans, maar ook die uitskuif van Afrikaners weens die kwotagedrewe demografiese kolonisering van die universiteit.

Standbeelde versinnebeeld die kultuur van dié persone, en die afbreek daarvan kom neer op die simboliese omverwerping of selfs verwoesting van daardie kultuur en sy gemeenskap.

Die feit dat dit nie net Afrikanerstandbeelde uit die apartheidsera is wat onder skoot is nie, maar selfs Engelse standbeelde uit die koloniale era en Afrikanersimbole van die stryd teen kolonialisme soos Steyn, wys dat hierdie afbreekaksies eerder anti-Westers as anti-Afrikaner is. In die koppe van hierdie kulturele vandale, beweeg die land waarskynlik vanaf ’n postapartheidsera na ’n postkoloniale era.

Die vraag is: Wat is die oorsprong van hierdie haat teen die Weste?

Westerse opkoms

Westerse state het sowat 500 jaar gelede stadig maar seker deur ’n stel unieke vernuwings ‘n voorsprong op ander beskawings begin kry. Hierdie vernuwings het die Weste in staat gestel om die wêreld die afgelope vyf eeue polities, ekonomies, militêr, godsdienstig en kultureel te oorheers.

Die belangrikste van hierdie vernuwings was Westerse ontwikkelings soos die wetenskap en tegnologie, die vrye mark, die regsorde, die burgerlike samelewing en later die demokrasie. Hierdie stel Westerse “hardeware” is aangevul deur ’n “sagteware”-pakket van Protestantse waardes soos roeping, werksetiek, selfverantwoordelikheid, spaarsin en entrepreneurskap. Hierdie omwenteling is grootliks moontlik gemaak deur die Protestantse Hervorming wat die Rooms-Katolieke Kerk se versmorende houvas op die samelewing verbreek het.

Dit het Westerlinge se energie vrygestel en gelei na talle wetenskaplike, ekonomiese en militêre uitvindings en deurbrake wat die Weste mettertyd laat uitstyg het. Die resultaat van hierdie Westerse kultuurerfenis was die sterkste en voorspoedigste beskawing in die wêreldgeskiedenis.

Meerderwaardigheid

Westerlinge het mettertyd so gewoond geraak aan die voorsprong wat hierdie stelsels aan hulle gee, dat Westerlinge het begin voel het dat hulle innerlike meerderwaardig is, en dat ander beskawings minderwaardig is. Westerse lande het dit as doodnormaal begin beskou om ander lande te onderwerp en te koloniseer, en om daarmee saam ook hierdie lande te probeer verwesters en hul kulture te misken.

Die verwaande aanname is gemaak dat verwestering sou lei tot die modernisering van hierdie “agterlike” groepe, en dat modernisering weer sou lei tot verwestering.

“Ons is die maatstaf van beskawing, en hulle sal soos ons word as hulle maak soos ons maak”, was die etnosentriese aanname. Westerse stelsels soos demokrasie en kapitalisme is selfs op lande afgedruk waar dit nie ’n kans gehad het om te slaag nie, soms selfs met geweld, soos op Irak. Die dawerende mislukkings waartoe hierdie eksperimente soms gelei het om die Ooste en Suide te verwesters, is toegeskryf aan swak leierskap en Moslem-ekstremisme eerder as aan die ontoepaslikheid van die Westerse stelsels.

Nabootsing

Die suksesvolle Japanse blitsmodernisering vanaf 1868 tot 1900, was die eerste bewys dat modernisering nie noodwendig verwestering beteken nie. Die Japanners het wel selektief Westerse stelsels oorgeneem soos wetenskap en tegnologie, maar nie die Westerse tale en -kultuur nie. Daarna het geen ander beskawing suksesvol gemoderniseer nie totdat die Asiatiese Tiere soos Singapoer, Taiwan, Suid-Korea en Hongkong vanaf die 1970’s op die Japanse manier met behulp van die “Westerse resep” ontwikkel het.

Die Kommunisme het vir ’n paar dekades geglo dat hulle ’n alternatiewe antwoord vir die Westerse modernisasie gehad het, maar die dawerende inploffing van die Oosblok het ’n bloedstreep deur hul projek getrek.

Die afgelope twee dekades het verskeie ander kulture hierdie Westerse suksesverhale suksesvol, maar selektief, begin naboots. Daarteenoor het die Weste sy eie kultuurwaardes begin afwater en self begin aanval. China het die Westerse wetenskap, tegnologie en ’n ruim mate van kapitalisme oorgeneem, maar nie die Westerse demokrasie en regsorde nie. Indië het die Westerse demokrasie oorgeneem, maar sukkel steeds om die Westerse ekonomie na te boots. Die Russe het die wetenskap en tegnologie baasgeraak, maar nie die Westerse vryemarkstelsel en -demokrasie nie. Maar selfs die gedeeltelike nabootsing van die Westerse stelsels het al baie gehelp. China het meer as 500 miljoen mense daarmee uit die uiterste armoede opgehef, en Indië 250 miljoen.

Afrika-model

Afrika het ten spyte van gedeeltelike suksesse, nog nie ’n unieke suksesvolle moderniseringsmodel ontwikkel nie. Die antwoord op die “Afrika-vraagstuk” is moontlik reeds ontdek deur die Keniaanse intellektueel, Ali Mazrui. Hy het al in die 1960’s die teenstelling tussen die suksesvolle Japanse modernisering en die onsuksesvolle Afrika-pogings om te ontwikkel, duidelik uitgelig.

Mazrui het korrek uitgewys dat Japan se sukses te danke was aan hul strategie om Westerse wetenskap en tegnologie oor te neem, maar nie die Westerse tale en kultuur nie. Daarteenoor het Afrika net die teenoorgestelde gedoen, sê Mazrui. Hulle het die Westerse tale en kultuur aangeneem, maar nie hul wetenskap en tegnologie nie. Soos Mazrui dit gestel het: “Afrika in sy geheel het die verkeerde dinge van die Weste oorgeneem – selfs die verkeerde dele van kapitalisme. Ons het die winsmotief oorgeneem, maar nie die ondernemingsgees nie. Ons het kapitalisme se materialisme geleen, maar nie die skeppende waagmoed nie.”

Die gevolg hiervan is dat, benewens ’n klein elite van verwesterde Anglo-Afrikane, die massa nie ontwikkel het nie.

Suid-Afrikaanse uitdaging

Die ANC het die knaende ontwikkelingsprobleme wat die hele Afrika teister, heeltemal misgekyk en blameer bloot Afrikaners en apartheid vir die knellende armoede van miljoene swart mense. Maar omdat hulle die probleem oorvereenvoudig het, oorvereenvoudig hulle die oplossing ook. Daarom lei die verkeerde diagnose van die probleem tot die verkeerde antwoord, naamlik transformasie. Maar noudat transformasie nie werk nie, blameer hulle leiers weer die Weste en Westerlinge. Maar dis ’n selektiewe verwerping van die Weste. Westerse simbole en standbeelde word afgebreek, maar ander Westerse stelsels soos Engels en die -verbruikerskultuur met blink karre word innig omhels.

Dit plaas Afrikaners voor ’n unieke uitdaging om ons Westerse kultuurerfenis en lewenswyse te beskerm omdat die staat gaandeweg al meer verafrikaniseer. Die kern van Afrikaners se Westerse erfenis is ons bewese vermoë om ’n Eerste Wêreldse Westerse beskawing in Afrika te ontwikkel. Die enigste manier om dit te doen, is om Westerse ruimtes met sterk gemeenskapsinstellings te skep. Hierdie instellings moet hierdie ruimtes so vinnig as moontlik sodanig verbreed en verdiep dat dit die lewensruimte kan skep waarin die Afrikaner blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortbestaan. Want ons standbeelde word nie geteiken waarvoor hulle gestaan het nie, maar wie hulle was en wie ons is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Skep nuwe vrye Westerse ruimtes vir voortbestaan…
30 Ankerdorpe waar die meeste Afrikaners gevestig is;
Kulturele kantons;
Orania wat as n stad uitgebou moet word
Mnr Buys Afrikaners moet jou boek lees Die pad na Selfbestuur Anderkant die mislukking van staatsbestuur.
Afrikaners is nog passief en in ontkenning.
Dit gaan tyd neem, maar die druk word reeds gevoel. Lei ons.

Stefan ·

Ja, en wie is nou die dommes, die anc wat als op ‘n skenkbord gekry het om te vat soos hulle goed dink, of ons wat dit so vir hulle gegee het??

Frankie ·

Dit is net verbasend hoe selektief Afrika is met die verwerping van Westerse leefstyl. Goed soos lekker tegnologie soos motors, huise, elektroniese toerusting ens word nie verwerp nie maar net die menslike gedeelte. n’ spul hipokrate

Jaco ·

Ankerdorpe en Orania gaan te lank vat en te min van ons mense help. My plan sal egter binne 5 jaar ‘n reuse verskil maak:
vra die ANC om dadelik onteiening sonder vergoeding te begin in 8 van die 9 provinsies, om wit mense se stemreg weg te vat en ons tot 2de klas burgers te verklaar. Verskuif al die wit mense Wes-Kaap toe; gedwonge verskuiwings soos wat die vorige wit regering met swart mense gedoen het. Maak die Wes-Kaap ‘n wit tuisland met selfregering vir hulle eie sake. Laat buitelandse beleggings daar toe. Maak belastings ook hoër om steeds inkomste vir die sentrale regering in Pretoria te verseker. Kortom, bring apartheid terug en “mik” dit teen die wit mense. Verskuiwings sal maksimum 3 jaar vat. Die Wes-Kaap Jan binne 5 jaar soos Hong Kong lyk, maar so ‘n proses kan dadelik begin. 90% van die infrastruktuur daarvoor bestaan reeds. En belastings op daardie “Hong Kong” kan die ANC in die res van SA dan weer laat incash. Uiteindelik wen almal

OW ·

Jou plan klink goed,maar ek dink daar moet een voorwaarde aan gekoppel word.Die ANC moet nie deel wees daarvan nie,want as die “incash”begin is ek bevrees dit gaan in ‘n bodemlose put verdwyn.Soos die engelse sê “Gone with the wind”

Michael ·

Jaco hulle sal dit nooit toelaat, sodra die wit tuisland floreer, dan gryp hulle weer alles. Hulle moet met ‘n ander land onderhandel en ons almal soontoe deporteer-hier sal ons nooit in vrede op ons eie kan lewe nie

Pieter J ·

Een van die beste artikels wat ek in ń baie lang tyd gelees het. Net jammer dat nie alle afrikaners dit lees en ook verstaan nie.

Chris ·

Baie goeie artikel net jammer die massas sal dit nie lees nie want hulle kan dit nie verstaan nie. Die taalgebruik is van so aard dat dit nie aanstootlik is nie. Goed gestel. Om ‘n beskawing te vestig neem milliniums, en ek is bevrees ons het nie nog so lank tyd om Afrika van haarself te red nie.

Maria ·

Doen besigheid met jou eie soort, ondersteun mekaar en ons eie skole, besigheide en beveiliging van almal wat afrikaans praat

Mariys ·

Ek sou graag behuisings komplekse op plase deel van die oplossing maak.
Dan het die boer ook ‘n plek om veilig te bly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.