Solidariteit en AfriForum beskerm grondwetlike ruimtes

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die groeiende krisis in die land het opnuut vrae laat ontstaan oor die Solidariteit Beweging se strategie en beleid oor sake soos selfbeskikking. Flip Buys, die voorsitter van die beweging, gee meer helderheid hieroor.

Solidariteit en AfriForum se drieledige strategie is die beskerming van grondwetlike regte, die benutting van grondwetlike ruimtes vir taal- en kultuurgemeenskappe en die bevordering van die belange van die Suid-Afrikaanse publiek in die geheel. Ons hunker nie terug na die apartheidsverlede of onhaalbare volkstaatidees nie. Ons sien ook nie uit na ʼn toekoms van ewige onderdanigheid in ʼn onveilige, verswakkende staat nie. In plaas van pogings om onsself af te sonder, is dit reeds ons beweging se doel om die ruimtes te skep wat dit vir Afrikaners moontlik sal maak om volhoubaar saam in Suider-Afrika te bly. Dít is die enigste manier waarop ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan maak.

Die opwelling van die volkstaatidee onder baie Afrikaners voor 1994 het destyds uit ʼn drieledige kommer gespruit. Die eerste was dat die ANC nie in staat sou wees om ʼn moderne land suksesvol te regeer nie. Die tweede was dat ons fundamentele belange, soos Afrikaanse skole en universiteite, grondig benadeel sou word. Ten derde het talle geglo dat dit moontlik was om ʼn federale of selfs onafhanklike “volkstaat” as deel van die skikkingsproses in te sluit.

Dit het nie gebeur nie omdat die grondwetlike skikking eerstens deur die meeste Afrikaners gesien is as die billike verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming. Die swart meerderheid sou hul regmatige regte kry sonder dat die Afrikanerminderheid syne sou verloor. Die grootste rede hoekom daar nie ʼn Afrikaner-volkstaat tot stand gekom het nie, was egter eenvoudig dat daar nie ʼn natuurlike gebied was wat oorwegend deur Afrikaners bewoon, bewerk en besit was, en wat deur ʼn skikking as ʼn pasklaar-volkstaat of provinsie ingestel kon word nie.

Kulturele vryheid

Die meeste Afrikaners se verwelkoming van die nuwe bedeling het nie beteken dat afstand gedoen is van ons historiese strewe na kulturele vryheid nie. Die nuwe bedeling is bloot as die beste manier gesien om dit te verwesenlik, en in die proses ook die uiteenlopende historiese vryheidstrewes van swart en wit te versoen.

Maar die euforie van ʼn nuwe demokratiese begin waarin daar plek vir almal sou wees, het binne twee dekades in groot ontnugtering verander. Afrikaners het vir ʼn demokratiese omwenteling gestem, maar baie meen dat hulle net ʼn uitgestelde rewolusie gekry het. Hierdie vervreemding is ʼn reaksie op die ANC se verbreking van fundamentele dele van die konstitusionele ooreenkoms van 1994.

Dit behels die verval van groot dele van die staat deur swak regering, tesame met die politieke verstopping van grondwetlike openbare kulturele ruimtes. Dié twee faktore het die kommer wat voor 1994 bestaan het dat die ANC nie die land suksesvol kan regeer nie en dat Afrikaners se regmatige kulturele belange onherstelbaar skade sou ly, laat herleef.

Plan A

Hierdie slotsom waartoe baie Afrikaners deesdae kom, het egter nie tot die herlewing van die volkstaatidee gelei nie omdat die werklikheid gewys het dat dit nie ʼn haalbare kitsantwoord is nie. Die Plan A wat gevolg is, was om oplossings deur gesprekvoering met die regering te vind en om grondwetlike instellings soos Pansat, die Menseregtekommissie en ander te nader. Daar is ook in goeie trou deelgeneem aan verkiesings vir universiteitsrade, voorleggings is gemaak aan parlementêre portefeuljekomitees en daar is aan ander demokratiese prosesse deelgeneem. Nadat al hierdie kanale uitgeput was wat ná meer as ʼn dekade op niks uitgeloop het nie, is die howe as ʼn laaste uitweg genader. Hoewel geregtigheid in talle individuele gevalle verkry is, het dit nie die groter radikale politieke tsoenami gekeer wat oor Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes se kulturele regte en ruimtes gespoel het nie.

Plan B

Die versnellende agteruitgang van ons fundamentele belange in die Zuma-jare het daartoe aanleiding gegee dat Afrikaners hulself in sterk burgerlike organisasies hergroepeer het om ʼn Plan B aan te pak. Die sterkste van dié organisasies is die Solidariteit Beweging met sy 500 000 lede, 18 organisasies – waarvan Solidariteit en AfriForum die bekendste is – en sy sowat 2 miljoen ondersteuners. Dit maak ons naas die ANC en Cosatu die grootste ledeorganisasie in die land. Omdat die einde van die staatsregtelike opsies voorsien is, is Plan B veral ʼn projek om die grondwetlike ruimtes vir kulturele vryheid deur middel van selfdoen-gemeenskapsorganisasies te verwesenlik.

Plan B behels nie net ʼn saamtrek van Afrikaners nie, maar ook ʼn saamwerk met ander Afrikaanssprekendes en alle ander gemeenskappe. Daarom word daar nie net projekte aangepak met ʼn fokus op Afrikaans – soos die oprigting van Afrikaanse tegniese kolleges – nie, maar word projekte ook onderneem wat fokus op die breër gemeenskap soos die verbetering van munisipale dienste in meer as 100 dorpe in die belang van al die inwoners van daardie dorpe. AfriForum se spanne wat besig is om paaie landwyd te reg te maak en te beveilig deur onder meer duisende slaggate te herstel, is sekerlik die bekendste gesig van dié fokus.

Kulturele infrastruktuur

Plan B skep die noodsaaklike infrastruktuur wat nodig is om volhoubaar as ʼn kultuurgemeenskap voort te bestaan. Dit behels, onder meer, die daarstelling van Afrikaanse skole, kolleges en privaat universiteite wat oop is vir almal wat deur medium van Afrikaans wil studeer. As Suid-Afrikaanse patriotte wil ons help om Suid-Afrika se probleme soos armoede, werkloosheid, ongelykheid en swak regering aan te pak.

Maar as kultuurburgers wil ons ook die omstandighede skep om ons mense as opgeleide minderhede in die land te hou. In die proses is dit ons demokratiese reg om alle grondwetlike ruimtes vir kultuurgemeenskappe daarvoor te gebruik. Die grondwetlike voorsiening vir selfbeskikking word op ʼn kulturele eerder as ʼn geografiese grondslag benut omdat Afrikaners landwyd verspreid is.

Die neiging na groter Afrikanerkonsentrasie maak dit tog moontlik om groeiende praktiese selfbestuur na te streef in woongebiede waar Afrikaners die meerderheid is. Minderhede het tog ruimtes nodig waar hulle ʼn meerderheid kan wees, anders word alle aspekte van hul lewens deur demografiese meerderhede oorheers. Tweedens word die dorp-tot-stad-projek van Orania, waar Afrikaners ʼn blywende meerderheid kan raak, gesteun omdat dit ʼn regmatige projek is om na groeiende plaaslike selfregering te streef. Die tyd sal leer of Afrikaners bereid sal wees om daar te konsentreer ter wille van hoër vlakke van selfstandigheid. Indien wel, kan dit minstens deels ʼn oplossing bied vir emigrasie, konfrontasie en assimilasie. Die vlak van geografiese vryheid waaroor Afrikaners gaan beskik, hang dus van hulself af.

Veg en bou

Suid-Afrika is ʼn demografiese demokrasie waar mense eerder op grond van identiteit as beleid stem. Dieselfde party wat die land bykans in die grond in regeer het, gaan weer ʼn gerieflike meerderheid by die stembus behaal. Daarom moet demografiese minderhede ander planne maak.

Plan B is ʼn praktiese uitweg wat in Afrikaner- én Suid-Afrikaanse belang is. Daarom sal ons beweging voortgaan om eerstens te veg teen onregte, en sal ons tweedens aanhou bou aan ruimtes waar ons ook vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Jacques ·

Als goed en wel, maar as besigheidseienaar het ek die afgelope jare heelwat kliente verloor a.g.v. SEB. Daaronder tel Afrikaanse firmas wat liewer SEB besighede ondersteun om beter graderings vir hulself te kry. Ek doen onder R5m omset ‘n jaar, so is kwytgestel van SEB, nogtans tel dit geen punte vir my kliente nie, en verloor ek hulle.
My vraag. Waarom nie ‘n platvorm opstel waar ons klein (afrikaanse) besighede mekaar kan leer ken, en ondersteun. Stadig maar verseker word ons een vir een uit die finansiele siklus gedwing.

Fanie ·

Jacques, sluit aan by Sakeliga, hulle is ‘n onafhanklike vennoot van die Beweging wat jou baie kundige raad en hulp oor SEB kan gee.

Helena ·

Lees gerus: Die Protokolle van die Geleerde Ouderlinge van Sion!
Dán sál julle verstaan

Kobus ·

Nee Helena, dan sal hulle nog minder verstaan, want daai boek bevat uitgediende anti-semitiese samesweringsteoriee.

CG ·

Nou js. Nou weet ons finssl dat Solidariteit nie in ‘n volkstaat belangstel nie, maar eerder allerhande mooiklinkende masr onsinnige
plannetjies probeer voorhou om mense tog maar net te oortuig om hulle ledegelde te betaal. Ek sal vandag my lidmaatskap beïndig. Ons enigste hoop is nou die VFPlus. Wees gegroet Solidariteit en Kie!

Afrikaner ·

Het jy werklik in ‘n feeverhaal geglo, van 1994 af?

Die wat met Buys verskil, geel jul plan, nie in ‘n paar mooi woorde nie, maar om die realiteit aan te spreek, prakties uitvoerbaar. En as julle ‘n staat soek waar daar aardgas, olie en minerale is, bring daai mikstok.

Blaarman ·

@CG

Dit is glad nie wat Flip Buys hier sê nie. Wat hy wel sê, is dat dit nie tans lewensvatbaar is nie, dat dit ‘n stelselmatige proses van demografiese konsentrasie is, en dat die proses ook behels om oor tyd die wetlike ruimte vir onafhanklikheid van die regering te skep. Ook moet daar lewensvatbare alternatiewe vir regeringsdienste geskep word.

Deon ·

CG, die oplossings is alles behalwe maklik. Ons moet saamstaan om antwoorde te vind, anders gaan ons saam sink. Bly dink en deel jou menings.

Zombie ·

Wees gegroet. Ek glo die genoemde bewegings sal jou geweldige finansiële ondersteuning, persoonlike tyd aan projekte spandeer en aktiewe betokkenheid oor die algemeen geweldig mis. (Probeer maar onthou dat genoemde bewegings nie politieke partye is nie. Die verwysing na VF is dus onlogies.)

Jerry ·

CG jy is tereg teleurgesteld en ek ook, maar dit is dalk n bietjie oorhaastig om al jou eiers net in een mandjie te wil gooi. Kyk maar nog eers n bietjie die kat uit die boom uit voor jy te drastiese besluite neem.

MTSteyn ·

As ons veronderstel dat ‘n redelik aanvaarbare definisie van die Afrikaner “is ‘n Blanke persoon van Europese afkoms wat Afrikaans magtig is”, dan het hierdie groepering -menslik gesproke – nog so 25 jaar oor van voortbestaan as indentifiseerbare entiteit in Suid-Afrika. As jy nie saamstem nie, begryp jy bloot net nie die omvang van die krisis nie.

Menslik gesproke, is dit reeds te laat vir die maak van planne vir ‘n volhoubare toekoms vir Afrikaners in Suid-Afrika, al kry jy die meerderheid Afrikaners aan boord. Soortgelyk aan Blankes in Angola, Kenia, Mosambiek, Zimbabwe, en eintlik ook maar Namibie, sal ‘ons’ iets van die verlede wees.

Ek het egter volle geloof en vertroue in God dat Sy wil ook in hierdie saak sal geskied.

lewies ·

‘n Opregte en oplossoekende artikel Mnr Buys. Dit is wat ons nodig het.

erwin ·

My skiinseun maak Sondag n geldige opmerking . Ons is die enigste land ter wereld waar die meerderheid wette maak om hom teen die minderheid te beskerm . Nogal iets om oor te dink !!!!
Die DA het my teleurgestel Miskien is die VF die party om voor te stem

James ·

Goed en wel, maar dis 2019.

Met alle respek aan Flip – wie ek weet die beste belange van die Afrikaner ter harte dra – die volgende:

1. Die Swart Nasionalisme Wiel het te veel spoed opgetel oor die laasste 5 jaar;
2. Hoe edel ookal – die idee van “ruimtes” midde in ‘n see van chaos is ‘n edele konsep – maar: “demography, is destiny.”
3. Kulturele selfbeskikking is: “Oh So 2008”. Ons het groter probleme as bloot taal- en kultuurbeskerming.
4. Oorlog, is soveel deel van die mens se psige as wat piesangdiefstal vir ape is. Oorlog het aanvallers – wat joune wil he, en verdedigers – wat nie myne wil prysgee nie.
5. Baie debatte heers oor selfbeskikking, veral “waarheen, geografies.” Ek steur my nie aan daardie debatte nie – want:
6. Debatte ten spyt, wanneer die uiteinde van die laasste 25 jaar aanbreek – (voorspel deur dooie, slim, wit mans soos AP Treurnicht) – sal mense natuurlik na ‘n gebied toe konsentreer. Nie nou nie – EERS as die werke van hul hande vernietig is – en al wat oorbly is vlug vir die lewe van self, vroulief, en kinders.

Die natuurlike vlug vir lewe – sal Suidwaarts wees.

Boem.

Deon ·

Harde, maar ware woorde James. Afrikaanse skole, die NG Kerk, boeresport, rugby en gediggies gaan ook nie help nie.

Oom Visie Strategie Beleide Watookal ·

Mnr Buys, “Solidariteit en Afriforum se drieledige strategie is die beskerming van grondwetlike regte, die benutting van grondwetlike ruimtes vir taal- en kultuurgemeenskappe en die bevordeing van die belange van die Suid-Afrikaanse publiek in die geheel” . Baie sinvol.
CAVEAT: Enige visie, strategie en beleid moet gebaseer wees op eerlikheid, regverdigheid en naasteliefde anders het mens geen argumente om op te staan nie. Hou ingedagte dat geen grondwet, “grondwetlike regte” en “grondwetlike ruimtes” in beton gegiet is nie. Laat ons nie die foute van die verlede herhaal om ons vertroue op ‘n geskrewe veranderbare grondwet te plaas nie. Die meerderheid kan dit enige tyd verander.

John ·

Slegte nuus maar die terugslaners walg my, weens die commom slogan en die grype na die Kaapse, en dit nogal ‘n kèrel met ‘n geskiedenis wat antie De Lille self nie na haar party genooi het nie. Die DA en die ANC is die teensye van ‘n ou smerige rand, Lekota het sy kommunistiese bande geadverteer en die ander partytjies wonder nog waaroor hulle moet stres. Ek is nie bereid om van Afrikaner tot Afrikaanse herdoop te word om nog agterryers op te laai nie. My olie is nou nog net genoeg vir my eie huis se beligting… gaan koop by die handelaars met jul eie geld… Slaan terug… ‘n regte bullebak-moeilikheidsoeker… die wèreld vol geplak…

Hendrik ·

OP grondvlak ondervind ek dat Afrikaners baie meer begin om te groepeer. Die enigste rede omdat groepunte, behalwe Orania, nie groei nie is omdat dit te riskant is vir Solidartiteit is om hulle openlik te ondersteun al is ons geopgrafies aangrensend aan die Solidariteits Hoofkantoor. DIe lede word gepamperlang dat daar ‘n groeipunt is, al is dit 750 km ver weg van die hoof ekonomie. Dit groei stadig, dit is ver, dit is duur en daar is feitlik nie ‘n middelklas nie! Komaan Solidariteit en ander Afrikaner gesinde nywerhede ons wag vir julle ekonomiese inspuiting!

Deon ·

Dubai was ‘n paar dekades gelede ‘n vissersdorp, met min potensiaal vir olie en gas. Vandag floreer Dubai in die woestyn. Dieselfde met Israel. Met harde werk en Afrikaner investering is ‘n volkstaat so groot soos die Krugerwildtuin in die weskus haalbaar. Ja, boere is dalk nie bereid om hul plase op te gee nie, maar hulle loop wel die risiko om in hul grond (en lewens) hier te verloor. Met SEB sukkel Afrikaners om hier besigheid te doen. Afrikaners sal van nuuts moet begin op ‘n barre stuk grond. Gelukkig bied die 4e Industriele Revolusie nuwe geleenthede met enorme geleenthede in Afrika. Die huidige SA bied min aan Afrika, so daar is ‘n markgeleentheid. Orania dink te klein, al is daar heelwat denkers. Ongelukkig is Afrikaners deesdae te gemaklik en aan die lui kant. Hopelik sal die Afrikaner-tipe leiers van die 1920s en 1930s weer na vore kom. Dit sal nie maklik wees nie, maar dit kan gedoen word. Indien nie, sal ons wegkwyn ten spyte van die onsinnige kuturele onafhanklikheid. Ons lewe in ‘ n harde wêreld waar jy van waarde moet wees. Volkspele en koeksisters gaan nie help nie.

Afrikaner ·

Maar hulle het swart goud, sommer daar waar hulle woon, en ons …. ?

Afrikaner ·

Deon, is jy ‘n Afrikaner wat droom of die realiteite in die oë kyk?

Deon ·

Afrikaner, wat is die realiteite volgens jou? James hierbo het dit goed opgesom. Gaan terug na ons voorvaders se stryd, hulle het drome gehad en het dit verwesenlik. Indien ons op ‘n hoop gaan sit, gaan ons stadig maar seker uitsterf. Geen swart leier gaan vir ons baklei nie, ons is op ons eie. Net ter inligting, Dubai se olie en gas bronne is beperk, en word hoofsaaklik gebruik vir kragopwekking. Die Emiraat het dus ander planne beraam. Jy het baie kommentaar te lewer, maar het nog geen alternatief geopper nie.

Pietverdriet ·

Ek stem saam met van die vorige kommentare dat ‘ruimptes’ net die uitsterf proses vertraag.
1. Om te oorleef of selfs te groei gaan daar ‘n aantreklike floreerende ‘land’ gevestig moet word waarna selfs emigrante sal wil terugkeer.
2. Alhoewel Flip se beweging uitmuntende werk doen, is die realiteit ongelukkig dat sy beweging se voortbestaan juis afhanklik is van hierdie tipe politiese konflik klimaat. Daarom dat ‘n onafhanklike ‘land’ waar die Afrikaner koning kraai nie ‘n lang paragraaf op hul agenda sal hê nie.

CG ·

Solidariteit se plan B is onhaalbaar. ‘n Minderheid van ‘n gemarginaliseerde minderheid moet in 100 dorpe munisipale dienste ten behoewe van almal (ook die bevoordeelde meerderheid) verskaf! Met hulle eie geld (na jy reeds belasting betaal het om vir hoofsaaklik die meerdetheid aangewend te word!). Ook die konsentrasiepunte, wat lyk my nou ‘n stille dood gesterf het, kom op dieselfde neer. ‘n Mens konsentreer nie op 100 of op 30 plekke nie- mens konsentreer op een plek. Solidariteit wil munisipale dienste lewer – hoe doen mens dit sonder elektrisiteit? Hoe gaan Solidariteit elektrisiteit aan 100 of 30 dorpe en stede verskaf? Al wat Solidariteit bied aan diegene wat wik en weeg om te emmigreer is: “Ons gaan volhou om te doen waarmee ons die afgelope 25 jaar misluk het!” (Probeer om vir ‘n minderheid ‘n toekoms te skep in ‘n al groter en militanter meerderheid, in ‘n land wat besig is om in duie te stort). ‘n Nuwe plan is nodig!!

Andrea ·

Ek stem 100% met jou saam. Ek waardeer en respekteer Solidariteit en Afriforum se inisiatiewe en projekte, maar ek glo nie dat dit ons gaan laat oorleef nie. Ons kort planne wat ons en ons kinders se lewens beveilig en verseker (sovêr menslik moontlik). Dan sal ek bekommer oor universiteite, Afrikaans as medium van onderrig, ens. My eerste prioriteit is om aan die lewe te bly!
Dus, watse planne is daar daarvoor? My mening is dat ons geen toekoms hier het nie.

Farmer Brown ·

@CG , stem 100% saam , plan B is net meer van die selfde.
Oom Flip , hier is plan C:
Vergeet van die volkstaat(plan A) en vergeet van Selfbeskiking (plan B) , konsentreer eerder om ons kinders veilig uit die land uit te kry. Bou ‘n databasis waarby ons trek kan hou van waar die kinders opeindig met ‘n mandaat om voor te berei vir die ander wat nog kom. Hulle kan maar die opgevoeterde SA hou vir hulle , ons vat die res.
Ons noem onsself Voortrekkers , ons is veronderstel om te gaan daar waar daar nog nie paaie is nie.

CG ·

DIE NUWE PLAN. Ons sal muut moet begin- waar ons vinnig die plaaslike meerderheid kan word ( dus nie in bestaande groot dorpe en stede nie). Daar moet moontlikheid vir ontwikkeling wees tot ‘n land. WAAR? Wat van in Kammiesberg plaaslike munisipaliteit in Namakwaland. Bevolking net oor 10 000, hoofsaaklik Bruin mense. Bestaan uit ‘n aantal klein dorpies, insl. Hondeklipbaai, wat in ‘n hawe ontwikkel kan word. Vars water deur ontsouting van seewater dmv hernubare energie (son en wind).

marco polo ·

CG, nou praat jy. Ek is ook van mening dat die enigste oplossing n eie staat aan die Weskus is. Ek sal een van die eerstes wees wat soontoe trek.

Hendrik ·

My praktiese ondervinding is dat enige ontwikkeling het ‘n infrastruktuur (Water, riool, elektrisiteit en paaie), dorps beplanning volgens SPLUMA wetgewing en hierdie dorp moet ekonomies kan oorleef. Daarvoor moet daar ‘n mark naby wees om goedere te versprei wat vervaardig word en daar om moet daar ook voedsel/goedere/medisyne ens ens ingevoer word. Vervoer is geweldig duur en dit is hoekom verafgelee ontwikkel so stadig stadig groei. Arbeid is ook geweldig duur en skaars en omdat daar min witmense is wat ambagte het is dit ‘n geweldige probleem. Goedkoop en goeie opleiding is nodig om meer wit ambaglui in die mark te plaas. Glo vir my ons het net nie genoeg wit arbeid om vinnig enige selfstandige dorpie te bou nie. Glo my ons bly in so ‘n dorp naby Pretoria en sonder investeering van buite groei selfstandige dorpe stadig. Sonder dorpstigting kan geen lenings van kommersieele banke gekry word nie. Konsentreer om die bestaande selfstandige dorpe uit te brei en te groei.

Andrea ·

Ek stem 100% met jou saam. Ek waardeer en respekteer Solidariteit en Afriforum se inisiatiewe en projekte, maar ek glo nie dat dit ons gaan laat oorleef nie. Ons kort planne wat ons en ons kinders se lewens beveilig en verseker (sovêr menslik moontlik). Dan sal ek bekommer oor universiteite, Afrikaans as medium van onderrig, ens. My eerste prioriteit is om aan die lewe te bly!
Dus, watse planne is daar daarvoor? My mening is dat ons geen toekoms hier het nie.

Wit tente ·

Ek wonder of ons nie vlugtelinge in ons eie land gaan word nie?

CG ·

DIE NUWE PLAN: HOE. Die ontwikkeling begin met met ‘n groot Weskus Aftree-oord (vergelyk die reuse aftree-oord in aanbou in Waterkloof Pretoria). Mense met geld, maar wat nie self werk nodig het nie- mense vir wie daar gewerk moet word. Die aftree-oord moet beplan en gebou word- ‘n stadsbeplanner en argitek, vakmanne – bouers. elektrisiëns, loodgieters, arbeiders uit die verarmde Afrikaners in agterplase en plakkerskampe. Vir hulle moet ook permanente huisvesting gebou word- nog werk. Afgetredenes het mediese sorg nodig- ‘n hospitaal met dokters, susters en verpleegsters. Soltek se manne werk klaar daar – skuif daam met Akademia soontoe- ‘n studentedorp! Die nuwe kern van toerisme in Namakwaland- ‘n lughawe. Net soos met die skep van die Staat Isreal ondersteun volksgenote van buite (res van SA en die wêreld). In plaas van emigreer gly ons nou na hierdie groeiende en veilige ekenomiese kern. Daar is weer hoop want ons bou ons eie staat!!

Deon ·

100%. Stig weer ‘n Volkskas, Sanlam en Federale Volksbelegging daar om Afrikaner kapitaal van oral te mobiliseer. Gebruik die 4de Industriële Revolusie en kennis ekonomie as basis. Lae volume, hoë waarde produkte word geproduseer, gebaseer op IT kundigheid. Wit kundiges kan vandaar werk en hul kennis aan SA en die res van Afrika bied. So word buitelandse valuta ook ingebring. Die Afrikaner diaspora in die buitealnd kan netwerke vestig, selfs in Silicon Valley waar waag kapitaliste aktief is. Gaan venootskappe aan met Israel. Glo my, hulle sal hier investeer, asook die groeiende konserwatiewes in Europa. Die Ruperts en Wieses sal volg. Los Palestina vir SA en die ANC. Hierdie idees is nie nuut nie, vra maar die ouer mense. Die VF+ en Afriform kan die bal aan die rol sit. Hulle het invloed en steun, maar dit gaan hul missies beduiwel. Dalk moet dr Groenewald, die Mulders, Flip en Dirk dieper begin dink oor die toekoms en realiteite in die gesig staar en nuwe horisonne begin verken.

Oupa Sout Lig Watookal ·

Geagte CG en Deon, Ons is minder as 3 miljoen Afrikaners in ‘n see van sowat 60 miljoen nasiegenote. Op grond waarvan gaan jul beoogde toekomstige maatskappye die ANC se BBEEE-juk van demografiese verspreiding vermy? Wees spesifiek met jul antwoorde.
Is ons elkeen nie eerder geroepe om as medeburgers ook sout van die aarde en ligte vir geregtigheid MIDDE-IN hierdie chaotiese wêrelddeel te wees nie?

Deon ·

Oupa Sout, daar bly nie 60 miljoen mense in die Weskus nie. Alle ontwikkeling begin op klein skaal, en groei stelselmatig tot iets groter en belangriker. Eers dan begin jy ‘n geografiese merk maak wat tot selfbeskikking kan lei . Kennis ekonomie en die 4e Industriële Revolusie is gemaak vir wenners en mense wat waarde kan toevoeg en respek verdien, maar alles begin met ‘n sneller soos CG voorstel, en dit is waar Afrikaner organisasies ‘n rol kan speel. Die kans dat ‘n paar Afrikaners in die see van armoede en chaos in die groter SA ‘n verskil kan maak is wensdenkery. Na 25 jaar is dit reeds duidelik. Die ANC/EFF gaan nog vir dekades regeer en Afrikaners is reeds bywoners te midde van SEB en regstellende aksie en diskriminasie, en dit gaan nie verander nie want swart politici glo hulle kan sonder blankes klaarkom. Tans word ons beskou as klakouse wat eerder ons monde moet toehou en plek maak vir mense uit die buurlande. Ons sal stelselmatig uitsterf want dit is onwaarskynlik dat Generasies X, Y en Z hier gaan bly. Wat het dan van die roeping geword? Het jy enige oplossings?

waarheid1 ·

Indien ons in tente woon sal ons nog steeds suksesvol wees.

Johann Basson ·

Geagte Flip en Lesers,
Die mensdom beleef tans die grootste menseverhuising in die mensdom se geskiedenis. Moderne kommunikasietegnologie, gevorderde vervoertegnologie, die gemak waarmee geld oor landsgrense kan vloei en oorbevolking met meegaande sosiale onrus is hiervoor verantwoordelik. ELKE land gaan toenemend multi-kultureel raak. Die vraag is: “Hoe gaan ek, jy, ons en elke volk en nasie hierdie uitdagings bestuur?” Is ons daarop voorbereid?

Ek raai alle lesers in beskeidenheid aan om die DVD-reeks “That the WORLD may know (EXPERIENCE THE BIBLE IN HISTORICAL CONTEXT ™ with Ray Vander Laan)” volg.
Besoek https://www.thattheworldmayknow.com/category/volumes

Wat is ons rolle in hierdie wêreld? Besoek gerus Volume 14, Sessie 1 vn die DVD-reeks. Moet ons onsself onttrek van die wêreld soos die Essenes by Qumran of moet ons sout en lig vir die wêreld IN die hierdie chaotiese wêreld wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.