Sosiale media wys ANC se werklike skeure

e-tol 2

Argieffoto.

Deur Paul Maritz

Min gebeurtenisse is oor die afgelope twee en ʼn half dekades so vormend tot Suid-Afrika se politiek en ekonomie soos die vyfjaarlikse ANC-kongres. Op hierdie kongresse word die ANC se nuwe leierskapstrukture aangewys wat, tot dusver, ook ons land se volgende president vir ons uitgewys het.

Die ANC se kongres van 2017 was nie anders nie –  die twee persone wat as president en adjunkpresident aangewys is, het hulself kort daarna ook in hierdie posisies van die nasionale regering bevind. Wat egter van belang is, is die duidelike breuk in die ANC, wat byna daagliks duideliker word vir Jan Alleman.

In leketerme word daar verwys na die Zuma-faksie en die Ramaphosa-faksie om hierdie breuk aan te toon, maar dit is nie altyd so eenvoudig nie. Ons kan nie maar net sê dat die Zuma-faksie bande met die Gupta-familie gehad het, en dat die Ramaphosa-faksie absoluut foutloos in die hele staatskapingproses was nie. Nee, ten eerste omdat meneer Ramaphosa self in daardie stadium die adjunkpresident was, en verder omdat hy self geld van die berugte Bosasa-maatskappy ontvang het in die vorm van ʼn skenking vir sy presidensiële veldtog binne sy party.

Die afgelope week se sosialemediaklipgooiery tussen David Makhura, die Gautengse premier, en Tito Mboweni, die minister van finansies, het ʼn skeur van ʼn baie meer komplekse aard getoon – die regerende party blyk op grondvlak nie eenstemmigheid te hê oor sy ekonomiese beleid nie. Is die ANC ʼn sosialistiese party wat hom primêr op herverdeling van rykdom toespits, en dus al hoe meer belasting en mag wil hê, en toenemend inmeng by die ekonomie? Of is die ANC ʼn neoliberale party (soos die EFF-leier Julius Malema hulle noem) wat persoonlike vryhede vir landsburgers wil laat vermeerder?

As premier Makhura reg is – met ander woorde dat e-tolhekke op paaie in Gauteng (die rede vir hul aanlynskermutseling) verwyder moet word en dat belastingbetalers elders die uitgawes om snelweë op te knap, moet opdok – dan is die ANC steeds op ʼn pad van sosialistiese herverdeling, waar rykes betaal en armes ontvang.

So ʼn beskouing is natuurlik gegrond op die idee van historiese skuld, en sosiale geregtigheid – gonswoorde aan die politieke linkerkant. Sou minister Mboweni eerder as korrek beskou word, dan neig die ANC tot ʼn besluit dat die verbruiker moet betaal, ongeag sy agtergrond of huidige omstandighede. So ʼn besluit sal die individu uitlig, en die individu wat bevoordeel is verantwoordelik hou vir die voordeel wat ontvang is – in hierdie geval ʼn snelweg van wêreldklas.

Die besluit oor wat die ANC in wese is, sal (ten minste vir die volgende vier jaar) in ʼn groot mate bepaal wie en wat Suid-Afrika is en word. Hierdie skeur binne die ANC mag dalk net al hoe groter word, namate die druk van die EFF aan die linkerkant hom na sosialisme druk, en druk van die internasionale gemeenskap hom na liberalisme druk.

Hoe die ANC homself posisioneer in iets so eenvoudig soos e-tolhekke, gaan uiters relevant vir ons onmiddellike toekoms wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Leon ·

Die ANC en sy alliansie venote mik om dieselfde regering stelsel in Suid Afrika in te stel wat in Sjina, USSR (oud) en Kuba geheers het. Dus alle grond behoort aan die staat, alle maatskappye behoorst aan die staat ens.
Waneer hulle dit regkry sal ons dieselfde Sosialistiese Kommunisme hê wat die drie lande ondervind het.
Dit het ongeveer sewentig jaar geneem vir USSR en Kuba om te begin omdraai. Suid Afrika sal so ongeveer 2060 wakker skrik en dan ook wil kapitalisties word. Ongeveer drie geslagte later.
Onthou Pravin Gordon is ‘n kommunis en Cyril is ‘n ANC man. Moenie hervorming van hulle verwag nie. Hulle hervorming is ‘n Sosialisties Kommunistiese Diktatuur.
Voorspoed mense. Die Sosialisties Azania lê voor.

Kallie ·

Jy is reg, Leon. Dis die pad wat die ANC loop, maar daar is nie ‘n buitelandse ouboet wat dit gaan finansier nie, beslis nie China nie. Die sukkelende belastingbetaler moet dit doen, teen die agtergrond van kwynende buitelandse investerings. Verdere vergrype van staatsbates sal plaasvind. Dit is krities noodsaaklik dat ‘n sterk sentrale groepering gevestig moet word, waarskynlik met ‘n sosiaal-demokratiese inslag wat gegrond is op die vrye mark stelsel. Almal aan die regter kant van die ANC moet saamwerk, instede van klein oorlogies teenmekaar voer. Daar is nou groter magte wat besig is om die land oor die afgrond te druk. Ramaphosa en sy vrinne volg in ander Afrika leiers se voetspore om ryk te word ten koste van gewone mense.

Hendrik ·

Kallie as almal nou aan die regter kant saamwerk, wat staan ons te doen? Sal ons nou AA en BEE stop of sal ons nou veiligheidsenklawes stig soos een van Frans Cronje (IRR) se senarios. Sal ons op hoer vlak dan reel dat belasting boikotte kom? Ek dink die hele probleem is wat se aksies moet ons doen om te keer dat ons in die sosiaal komunisme in gedruk word. By die stembusse sal daar nooit ‘n verandering kom as ‘n mens die laaste verkiesing in ag neem. Die EFF het sterk gegroei en so ook die VF+. Die VF+ se groei is beperk a.g.v die kiesers minderheid. So nou moet ons deur die buite-parlementer groepering druk toepas of hoe sal jy dit keer?

Frans C ·

Nog ‘n groter gevaar is die groeiende vriendskap tussen die ANC-regering en Sjina.
Sjina is bekend daarvoor dat hy wêreldwyd reuse ontwikkelingsfondse aan veral ontluikende lande beskikbaar stel vir die bou van infrastruktuur, soos hawes,lughawens ens.
Wanneer lande dan nie instaat is om die massiewe lenings terug te betaal nie,neem die Sjinese beheer oor die nuwe infrastrukture oor en word so die nuwe eienaars.Kyk gerus na die aantal lande waar dit reeds gebeur het.

JohanL ·

Presies wat die Amerikaners vir jare gedoen het. Gaan lees gerus die boek Confessions of an Economic Hitman deur John Perkins. Presies wat FransC hierbo van praat – in die geval is dit nou net Shina.

Jerry ·

Daar is n groot verskil teenoor wat die ANC vir kiesers en vir beleggers se en wat die ANC dan doen. Dit wat die ANC se is om kiesers en beleggers te paai en te mislei en dit wat die ANC doen is alles geskoei volgens die oogmerke van die NDR (sosialisme). Dit het nog nooit verander nie en dit gaan ook nie verander nie. Met Zuma was die najaag van die NDR oogmerke, wat staatskaping insluit, blatant. Met CR is dit net minder blatant en meer gesofistikeerd!

Wonder ·

‘n Snelweg v wereldklas? En watter ander snelweë het die skrywer vergelyk met die Gauteng snelweg? By baie afritte is daar slegs twee bane oop om te ry weens verkeer wat ophoop om af te klim en verkeer wat opklim aan die ander kant bv Menlyn afrit/ oprit. Dit veroorsaak hewige opeenhopings in die middae. Meeste oggende is die verkeer rigting suid vanaf Zambesi rylaan ‘n gemors. En dan het ons die swakste verkeersbeheer en duisende voertuie in ‘n swak toestand, ingesluit swaargelaaide trokke uit Afrika wat graag breek op die opdraande by Rigellaan. En die klomp Sanral narre wat nie die Ou Johannesburgpad in stand hou nie. Wereldklas? Seker die Afrika-deel vd wereld, ja

humor ·

Nou Wonder Waaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaroooooooooooooooooor wonder jy nou??????

Jerry ·

Hendrik, u vra wat staan ons te doen? Die ooglopende staan ons te doen. Versoen met die gematigdes van die magtiges of emigreer. Solidariteit/Afriforum/Steve het ongelukkig die versoen gedeelte deur hulle skoorsoek taktiek vernietig en die aanslag vererger en verhaas ten einde met die groter aanslag groter propaganda aan die buiteland te verkoop en om n sakeryk tot stand te bring uit die wanhoop en vrese van ons mense! Hulle taktiek het die ANC uitgelok om die Afrikaner vinniger uit te sluit van ekonomiese deelname ten einde die Afrikaner te isoleer by Solidariteit/Afriforum/VF se selfbeskikking as enigste alternatief, toevlug en heenkome. Daarom se ek vir die Afrikaner wat kan emigreer, om te emigreer, want in SA is dit nie lig wat aan die einde van die tonnel skyn nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.