Spanje: vervroegde verkiesing na konserwatiewe triomf

Ondersteuners van Partido Popular (PP) vir die Andalusiese streeksverkiesing vier fees tydens ‘n byeenkoms na die Andalusiese streeksverkiesing op 19 Junie 2022. (Foto: CRISTINA QUICLER / AFP)

Die pas afgelope munisipale en streeksverkiesings in Spanje was ʼn triomf vir die konserwatiewe opposisiepartye en ʼn nederlaag vir die linkse regeringspartye.

In Spanje regeer die Sosialistiese Arbeidersparty (Partido Socialista Obreros D’Espana; PSOE) van eerste minister Pedro Sanchez tans in ʼn koalisie met die linksradikale Unidas Podemos (“Saam kan ons”, UP), die kommuniste asook verskeie kleiner linkse streekspartye.

Koalisieregerings is in Spanje, wat tradisioneel twee groot partye links en regs van die middel het, ongewoon. Die stryd binne die regerende koalisie was dan ook een van die redes vir hulle ongewildheid.

Dit was veral die hoofstroom konserwatiewe PP wat feitlik orals geweldig gegroei het. Spanje se grootste stede (behalwe Barcelona) soos die hoofstad Madrid, Sevilla, Valencia, Malaga, Zaragoza en ander sal nou deur die PP alleen of met koalisievennote regeer word. Ook in die streeksverkiesings was dit ʼn fees vir die PP. Van die 12 streke waar daar verkiesings was, het hulle agt gewen, sommiges selfs met ʼn volstrekte meerderheid. Die sukses was deur die bank, in groot stede sowel as in die platteland, in die noorde sowel as in die suide, in arm sowel as in voorspoedige streke.

Ook die regse party Vox (Latyns vir “die stem”), wat nog betreklik nuut in die politieke landskap is, het sy steun omtrent verdubbel. In talle stede en streke sal hulle steun nodig wees vir die PP om te kan regeer, alhoewel die PP nog huiwerig is om te naby aan Vox te beweeg. In verskeie streke en munisipaliteite regeer hulle egter reeds saam. Spanje was een van die laaste Europese lande waar ʼn uitgesproke regse party na vore gekom het, maar hulle word intussen as deel van die spektrum aanvaar en is hier om te bly.

Die Sosialiste se verliese het seergemaak, maar nog erger was dit vir UP wat talle setels verloor het. Terwyl Vox opgang maak, is sy linkse teenstuk UP al ʼn geruime tyd op die afdraande pad. Die sentristies-liberale party Ciudadanos (“die burgers”) het egter die ergste deurgeloop en is feitlik uitgeroei. Ciudadanos se kiesers, wat effens regs van die middel is, het in groot getalle na die PP oorgeskuif.

Die redes vir die volslae verwerping van Ciudadanos, wat nie deel van die regering is nie en ʼn potensiële koalisievennoot van die PP is, is nie heeltemal verstaanbaar nie. Met die polarisasie wat in talle Europese lande aan die opbou is en waar ʼn woke-linkse regering in teenreaksie tot regse opposisie lei, is daar tans net nie ʼn mark vir liberale partye nie.

Die duidelike neerlaag vir die Sosialiste en sy vennote het Sanchez genoop om as reaksie ʼn vervroegde verkiesing vir einde Julie uit te roep, ʼn halwe jaar voor die eintlike datum in Desember vanjaar. Dit voel soos ʼn emosionele paniekreaksie. Sanchez hoop egter om nou met die “regse gevaar”-narratief sy ondersteuners te mobiliseer voor die ontevredenheid nog groter raak.

Soos wat dinge egter nou staan, is die regerende koalisie se doppie geklink. Die ontevredenheid is wyd verspreid en nie net op een saak geskoei nie. Die koalisie se afhanklikheid van soms radikale streekspartye is een rede. Die emosies rondom die amper-afstigting van Katalonië is nog rou en Sanchez word deur PP en Vox uitgekryt as iemand wat Spanje se territoriale integriteit wil ondermyn. Ekonomiese griewe speel ook ʼn rol, maar ook ʼn afkeur in en irritasie met die regering se omkeer van tradisionele waardes en die beheptheid met genderisme.

Spanje se politiek was nog altyd baie emosioneel en die land het ʼn duidelike verdeling tussen links en regs. Tans kom die konserwatiewe Spanje weer na vore na jare van linkse dominasie. Spanje se swaai na regs is deel van ʼn groter tendens, wat met onlangse verkiesings in Griekeland, Italië, Finland en Swede bevestig is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miss J ·

Hierdie tendens word al hoe meer in Europa gesien. Die burgers is moeg van “woke” en ver linkses se propaganda wat in hulke kele afgedruk word. So ook moet almal na die EU se pype dans. Dus, meeste mense verkies normaliteit, familie lewe en politici wat hulle waardes sal beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.