Staatsinstellings deur misdaadsindikate gestroop

Deur Helen Zille

Helen Zille. (Foto: Tracey Adams/African News Agency)

Hoekom is dit so moeilik om instellings wat al dekades deur die ANC bestuur word te herstel?

Nadat ek, saam met baie ander mense, al hope tyd bestee het om hierdie gebroke instellings te probeer herstel, sal hierdie artikel minstens een belangrike insig deel. Kom ons begin met die voorbeeld van Eskom.

Soos almal nou weet, word Eskom beheer deur kriminele sindikate wat dit onmoontlik maak om hierdie instelling te red. Eskom is in ʼn doodspiraal vasgevang.

Dit geld egter nie net vir Eskom nie. Dit is net ʼn kwessie van tyd voordat die waarheid oor die ANC se kriminele sindikate, wat ander staatsondernemings bestuur, ook ten volle ontbloot word.

Trouens, byna elke regeringsfeer wat sedert die demokratiese bewind in Suid-Afrika deur die ANC beheer word, is in ʼn slagveld tussen ineenlopende netwerke van kriminele sindikate omskep, wat net hul eie verryking probeer bevorder.

Ek dank my sterre dat ek in 2006 die burgemeester van Kaapstad geword het, toe die ANC nog nie lank genoeg hier aan bewind was om die administrasie van al sy vaardighede te stroop of kaders te ontplooi om die sindikate te verteenwoordig nie.

Dit is waarom dit ʼn beheerbare uitdaging was om die verval te stop en om Kaapstad om te draai om ʼn baken van funksionaliteit te word (in vergelyking met elke ander metro in die land).

Burgemeesters in ander metropole, waar hulle uiters komplekse koalisies moet bestuur, het ʼn baie moeiliker taak as wat ek gehad het. Hulle het administrasies geërf wat steeds dikwels aan die sindikate antwoord doen in stede van aan die DA-politici wat nou polities in beheer is.

Daar is ʼn streng wetlike verbod op “inmenging” deur politici in die funksionering van die administrasie. Dit is iets wat die DA respekteer – maar hierdie verbod is gegrond op die aanname dat die amptenare toonbeelde van eerlikheid is, wat beskerm moet word teen korrupte en manipulerende politici.

Ons leer al hoe meer dat waar die DA by die ANC oorneem, die situasie andersom is. Die netwerke van ANC-trawante in die administrasie is almal te gretig om die verbod hierbo aan te haal ten einde voldoende politieke toesig te voorkom en ondersoekende vrae te vermy.

Ons wette is geskryf met die veronderstelling dat amptenare bekwame, onafhanklike staatsamptenare sou wees, wat ingevolge die wet van die land funksioneer en die beleid van die party wat die verkiesing gewen het in die belang van die mense implementeer.

Staatskaping het hierdie mite vernietig – in elke regeringsfeer wat deur die ANC bestuur word en in elke staatsbeheerde entiteit. Om dit reg te stel, sal baie meer spierkrag verg as die huidige toesighoudende magte wat politici toegelaat word om uit te oefen.

Die proses om senior amptenare in die regering aan te stel, benodig ʼn drastiese en volledige hersiening – om die risiko van staatskaping te minimaliseer en om te verhoed dat kriminele sindikate al die staat se kanale van kapitaalvloei vir hul eie selfverryking kaap.

Ten spyte van die krisis van beurtkrag, het die kriminele sindikate wat verskeie lynfunksies in Eskom bedryf, voortgegaan om die entiteit droog te plunder. Hulle sal ons sowaar na fase 8-beurtkrag neem as hulle genoeg voordeel kan trek uit die proses om ons daar te kry.

Dieselfde geld vir byna elke ander ANC-instelling. Daarom moet ons die ANC verwyder en vervang met ʼn beter alternatief. Maar selfs waar die DA oorneem, is die verrotting so diep, en die korrupte belange so verskans, dat dit bomenslike pogings sal verg, binne die raamwerk van die huidige wette, om dinge te verander.

Om Suid-Afrika reg te ruk sal nie oornag kan gebeur nie. Inteendeel, dit sal dekades se werk verg. Maar dit kán en móét gedoen word. En die DA staan gereed vir hierdie groot uitdaging.

  • Helen Zille is voorsitter van die Federale Raad van die Demokratiese Alliansie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Martie Smartie ·

Julle vaar maar power in Tshwane mev Zille. Jou party is nie so vlekkeloos as wat jy voorgee nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die stroom migrante na die Wes Kaap gaan eers seker maak dat die ANC/EFF eers Kaapstad en later die Wes Kaap oorneem. Aunt Helen is in vir ‘n groot verrasing.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Werkloses, armlastiges, hongeriges, ekonomiese opportuniste en dwelmsmokkelaars swerm na die Wes-Kaap. Dink aan ‘n oplossing. Grensmure vir Wes-Kaap?

Harley Davidson ·

Mevrou Zille,soos u teen apartheid baklei het wil ek u vra om teen omgekeerde apartheid te baklei,SEB,Kwota sisteem in sport,op universiteit, kinders wat nooit eers apartheid beleef het nie word nou teen gediskrimineer oor die kleur van hulle vel.

Chrisp ·

Nee sy was nie “verkramp” soos baie van ons nie maar verlig nou gaan die ligte af niks is meer verlig nie en sy verstaan nog steets nie.

Joe Olivier ·

Dit moet hartseer wees om soveel tyd en energie in te gesit het om ‘n terroriste organisasie aan bewind te kry en dan al hul mislukking te moet ervaar. Pleks dat sy maar geluister het na wyle ooms Eugene Terreblance en Jaap Marais.

Heinrich ·

Spyker 100% op die kop geslaan met daai kommentaar Joe! Om te moet erken die ‘verkeerdes’ was toe heeltyd reg…

quartus ·

Ek dink dit is makliker om maar net te emigreer ( en baie vinniger )

Anna-marie ·

Ons mense wat in die buiteland sit se tydsberekening was beter as ons sn.

Nici ·

Mens se probleme gaan nie weg nie. Jy kry net nuwe probleme wat jy net soveel gaan haat.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nici, ten minste is die ANC probleem opgelos. En dis maklik 95% van die probleem.

Jaco ·

Lekker om te kla as jy ‘n “agterdeur” het: mev Zille kan deur 2 of 3 van haar grootouers Duitse burgerskap kry. Die dag wanneer al haar lelike uitsprake lei tot algemene weerwraak teen wit mense, dan kan sy vinnig Duitsland toe vlug, terwyl ek en 3-4 miljoen ander wit Suid-Afrikaners maar sal moet ly onder onderdrukking.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die meerderheid van nie-Afrikaanse wittes het bande met die buiteland. Solidariteit kan poog om deure vir ons elders oop te maak. Dis nou wat ek kulturele infrastruktuur sal noem.

Johan ·

Dis maar haar nalatenskap waarvoor sy so hard geveg het. Ons moet almal maar net leer om daarmee saam te leef ou Z.

annie ·

Dit is verfrissend maar ongelukkig te laat om nou Helen Zille se biegbriefie te moet ontvang; dat die land steeds nie gereed is vir die soort regering waarvoor Zille en haar ma voor haar so gestry en opgeoffer het nie, want die ‘dekades’ later waarop sy nou hoop sal ongelukkig na haar leeftyd wees, indien ooit. Vorige opmerkings het reeds gedui op die ontnugtering met die uitloop van haar politieke drome. Wat moet ons nou sê: We told you so of sorry Helen vir jou pyn en lyding maar wat van ons?

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die tyd het NOU aangebreek vir alle Suid-Afrikaners wat glo in individuele menseregte en geregtigheid teenoor die kommunistiese magsvergrepe gebaseer op gierigheid, om hande te vat en die 2024 Algemene Verkiesingsveldtog met mening aan te pak. Help nie ons is krities en apaties en lam-in-die-rug in die gemakstoele met bier in die hand en beduie met die groottoon hoe en wat ander moet en behoort te doen om die landsprobleme op te los nie. Kry lewe en lewer ‘n positief opbouende bydrae vir ‘n beter toekoms vir ons nageslagte! Praat min en doen baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.