Staatsrede 2019: Drome en nagmerries

Pres. Cyril Ramaphosa rond sy staatsrede-toespraak af. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Deur Daniel du Plessis

Dit is nie ’n droom, soos dié van Martin-Luther King jr., dat Suid-Afrikaners sal beoordeel word aan die inhoud van hul karakter en nie hul velkleur nie. Nie eens vir tenderdoeleindes nie.

Nee, die president se droom is vol lugkastele in die Chinese styl, werkskepping wat uit die lug uit val en die Suid-Afrikaanse vervaardigingsektor wat magies vauit die as verrys.

Dit is opmerklik dat sy staatsrede baie sulke drome bevat het – maar min of geen konkrete planne om daar te kom nie.

Opmerklik, maar nie verbasend nie.

Daar is soveel dinge wat noukeurig beplan, uiteengesit en voor begroot moet word in hierdie oefening, dat dit nie net onmoontlik is vir uitdruk in een toespraak nie – maar dat dit selfs te veel is vir een mens, of selfs een staat, om sulke planne in die eerste plek te beraam.

Dit is daarom dat president Ramaphosa net met ’n glimlag op sy gesig en ’n droom in sy kop voor die land kon staan.

Mens kan hom natuurlik nie kwalik neem dat hy droom nie, maar die tragiek hiervan is dat die president se drome dalk juis die privaat sektor se planne sal belemmer.

President Ramaphosa se toespraak getuig van heelwat aktiewe ingrepe deur die staat – so asof dit uitsluitlik die staat se verantwoordelikheid is om te bepaal waarheen Suid-Afrika op pad is.

Die president het heel korrek opgelet dat die privaat sektor se aktiwiteit tans onderdruk is. Hy het egter, in plaas van raaksien dat dit juis van sy eie regering se beleide is waaraan hierdie gebrek aan aktiwiteit te wyte is, voorgeneem om sélf die werk te doen.

Die ironie is dat baie van die president se drome – en die fondse wat nodig sal wees om dit te verwesenlik – nie net die privaat sektor se kapitaal opslurp nie, maar hom juis verdring van daardie areas waar hy eintlik die beste geplaas is om werklik ’n verskil te maak.

Dit is deur die besigheidseienaar se planne vir uitbreiding wat werkgeleenthede geskep word. Dit is deur keurige verbruikers se planne wat produkte se kwaliteit en bekostigbaarheid verbeter. Versigtige ouers ondersteun goeie skole, en spoor slegter skole aan om beter te word.

Ekonomiese groei en ontwikkeling is juis nie die gevolg van drome nie, maar van planne – ontelbaar baie planne deur privaat individue.

Ondanks die sterk neigings wat sy toespraak getoon het ná dié gelewer deur John F Kennedy, was dit juis die president se liefde vir China en die Chinese ekonomiese wonderwerk, wat veral sterk deurgeslaan het.

Daar is meriete in wat China in ’n kort tyd bereik het in sy ekonomiese ontwikkeling, en daar is baie wat Suid-Afrika sal kan leer daaruit. Maar die res van Ramaphosa se toespraak verklap dat hy nie hierdie lesse ter harte geneem het nie.

China se ekonomiese sukses is grotendeels te danke aan sy gebruik van spesiale ekonomiese sones – en dus die vrye mark – om sy ontwikkeling aan te vuur. Ramaphosa se toespraak, aan die ander kant, is deurspek met die idee dat die staat die uiteindelike dryfkrag agter die ekonomie is.

Dus is dit, in Ramaphosa se droom vir Suid-Afrika, die staat wat bemark, befonds en beplan aan die privaat sektor. Die staat, of so glo die president, is die enigste een in ’n posisie om te besluit watter industrieë die meeste potensiaal vir groei inhou.

Dit is egter nie die geval nie. En dit is ook goed dat dit nie geval is. Waar sou ons immers gewees het (in die era van staatskaping en korrupsie) as ons almal se lewe so sleg bestuur is soos Eskom?

Ambisie is goed en wel en dit is duidelik dat radikale hervorming nodig is in die struktuur van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Maar dit is net so duidelik dat baie van hierdie strukturele probleme juis die gevolg is van die regering se verbete behoefte om sy eie ambisies die middelpunt van die samelewing te maak.

Die president was heeltemal reg in een opsig: Nagmerrie-omstandighede staar die Suid-Afrikaanse ekonomie in die gesig. Die kuur vir ’n nagmerrie is egter nie om verder te droom nie, maar eerder om wakker te skrik.

  • Daniel du Plessis is ’n regsontleder by Sakeliga, ’n onafhanklike sakegemeenskap.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andreas

So uit die ANC stal, ‘Jy verlang terug na die verlede, jy is ‘n rassis!”

Wakker Skrik

Sorry Ramapaddapot – jou drome gaan jou ondergang wees.
Jy droom terwyl S A reeds gedoem is.
Skrik tog ! Al is dit net wakker!!!!!!

Stat in die mis

Die stad waaroor hy droom is ‘n werklikheid – dit is alreeds beplan – vir die Chinese – nou maak hy of dit ‘n droom van hom is . Asseblief – dink jy ons is net so onnosel soos jy? Toe nie.

Jerry

Met die ANC aan die stuur van sake sal die nagmerrie nie eindig nie. Die staatsrede bevestig dat die nagmerrie onder CR net nog meer momentum gaan kry, veral teenoor die wit jeug.

Alida

Stuur our people China toe dan sal hulle tenminste leer om te werk.