Strategie van regsopeenhoping kan grond vir politieke kompromie berei

Hoe moet ʼn minderheid te werk gaan om regte effektiewelik af te dwing?

Peter Wassenaar

Dit is waarskynlik die grootste vraag wat die FAK-simposium van 7 Oktober 2011 by my gelaat het. Uit die gesprek wat gevoer is, is dit baie duidelik dat daar klaarblyklik groot meningsverskille oor presies hierdie punt bestaan. So getrou aan die Afrikanertradisie veg ons die stryd vanuit elke moontlike hoek, elkeen oortuig dat die beklemtoning wat hy op die verskil in sy kruistog-ideologie plaas die aangewese roete sal aanwys. Is dit nie dalk ʼn geval van “alle paaie lei na Rome” nie?

Na aanleiding van die aand se gesprek kon drie basiese oorwegings identifiseer word, naamlik:

1)           ʼn “Alles-of-niks” -houding waar ʼn werklike, direkte belang bedreig word;

2)           Opeenhoping van regsoorwinnings as deel van ʼn legkaart van oorwinnings;

3)           Die sosio-politiese kompromie.

“Skiet die Boer” – die gewraakte woorde wat aan meeste, nadenkende Afrikaners se harte sny. Die man wat in die veiligheid van massas woon hier in die stad vergeet so maklik hoe direk die woorde op die lewens van landbouer-Afrikaners, wie nie die gerief van sekuriteitskomplekse het nie, slaan. Die Boer in die stad ervaar die woorde as ʼn dreigement vir als waarvoor hy staan. Die Boer op die plaas ervaar dit as ʼn direkte dreigement vir sy hele bestaan. Ek begryp daarom nie net die houding van “geen omdraai”, “geen skikking” en “alles of niks” wat deur laasgenoemde groep binne die Afrikaner gehandhaaf word nie, maar stem in alle opsigte daarmee saam. Weens die direkte impak op hulle lewens, kan hulle nie bekostig om enige bedreiging oor te sien nie. Daar is eenvoudig geen ander opsie as direkte gedingvoerring in die howe nie. Of dit enige ware waarde dra of effek op die werklikheid maak nie saak nie – dit is eenvoudig alles of niks.

Die res van die Afrikaner, wie nie aan direkte dreigement gebuk staan nie, is egter in ʼn posisie om takties die geding te voer. Die wyse van gedingvoerding in Suid-Afrika bly steeds die hofstelsel. As remedie in ons regstelsel is ʼn siviele interdik die mees praktiese uitoefening van veral burgerlike regte en belange. Dus sal die party wie sy saak bewys die gerief van afdwinging van ʼn interdik tot sy beskikking hê. Hoe moet die hofstelsel gebruik word om verandering mee te bring?

Deurdat regte en belange stuksgewys in die regstelsel afgedwing word, word ʼn “opeenhoping van regspraak” in die guns van die houer van die betrokke regte en belange geskep. Sodra die opeenhoping genoeg gewig opbou, sal die regstelsel waarin hierdie opeenhoping geskep is, gedwing word om die oorhoofse regsgevoel wat in die opeenhoping geskep is, te volg. Die stelsel word dus konsekwent beïnvloed. In gesonde opgevoede regstelsels sal opeenhoping ʼn daadwerklike houdingsverandering onder die landsburgers as logiese gevolg hê. Daarom kan een hofgeding as deel van ʼn groter groep soortgelyke sake nie net ʼn massiewe impak op die dominante regstelsel hê nie maar ook ʼn wesenlike bydrae tot die legitimiteit van ʼn bepaalde groep, soos die Afrikaner, se saak lewer.

Die grootste probleem met ʼn strategie van opeenhoping van regspraak is egter dat dit tot ʼn groot mate die samewerking en aanvaarding van ander belangegroepe teen wie regte afgedwing word, vereis. Hierdie vereiste is in opsigself problematies veral waar swaar meerderhede bestaan. Indien ʼn algehele disrespek en verontagsaming van ʼn betrokke groep se regte bestaan sal geen interdik ooit ʼn daadwerklike verskil maak of behoorlik afgedwing kan word nie. Slegs waar regsoewereiniteit (“rule of law”) absoluut eerbiedig word sal die effek van opeenhoping ʼn daadwerklike uitwerking op die sosio-politieke samestelling van die land hê.

Waar minderheidsregte te sprake is, is daar dikwels ʼn ernstige polarisering van politieke belange en ideologieë. Hierdie polarisering is die kern van die hele minderheidsprobleem. ʼn Swaar meerderheid sal homself ag die ware hart van alle mense te wees. Politieke mag word deur ʼn getallestryd uitgeoefen en beheer en mag word gulsig ingewin.

Waar ʼn regerende owerheid binne ʼn gebalanseerde sosio-politieke stelsel magte uitoefen, is dit gewoonlik omdat ernstige sosio-politieke toutrekkery oor jare plaasgevind het. Hierdie toutrekkery sou lei tot ʼn reeks kompromieë tussen die verskillende belanghebbendes wat die sosio-politieke samestelling en houding van die land gevorm het. Kyk gerus na die dominante kwessies wat in Europese parlemente  so hewig gedebatteer word. Die rede hoekom hulle swaardgevegte dikwels oor kleinighede gaan is juis omdat ʼn daadwerklike sosio-politieke kompromie oor baie etlike jare se toutrekkery  geskep is.

In lande waar “swaar” meerderhede bestaan word hierdie sosio-politieke kompromie egter aansienlik meer eensydig gevorm omdat die noodsaak vir kompromie baie laer is. Netso is dit baie maklik dat die meerderheid homself bo die toepassingsgebied van regsoewereiniteit begin ag sodra die getallestryd gewen word. Regsremedies teen swaar meerderhede is daarom onsettend moeilik om effektiewelik af te dwing sodra hierdie mentaliteit begin intree. Dieselfde hervormingseffek wat die remedie in gebalanseerde stelsels, waar regsoewereiniteit eerbiedig word, sou hê, is egter in stelsels met swaar meerderhede wesenlik verswak. Geen interdik sal in so geval ooit ʼn finale oplossing bied waar die probleem sosio-polities van aard is nie. Die enigste ware remedie lê in politiese kompromie.

Indien die minderheid homself so kan ophef dat die meerderheid gedwing word om na die minderheid se belange te luister sal bepaalde duidelike kompromieë aangegaan kan word. Hierdie kompromieë sal die sosio-politieke botsings probeer versadig deurdat die aanvaarding daarvan vanaf beide kante sou kom. Om die meerderheid te kry om te wil luister is egter die kompromie se grootste knoop. Dus hou die politiese kompromie die meeste potensiaal vir uitvoerbaarheid, maar is dit gelyktydig ook die moeilikste oplossing om te bereik.

Wat staan ʼn minderheid dan te doen indien aanvaar word dat die probleem wyer strek as net ʼn gewone regsvraag wat met ʼn gewone regsremedie opgelos kan word, veral as die meerderheid nie wil luister nie? Die oplossing lê myns insiens juis nie in die vasstelling van ʼn enkele strategiese roete nie maar in die kombinering van al die strategiese roetes. Die Afrikaner se verlossing le nie in een sosio-politieke plan nie maar in die gesamentlike sneeubal-effek wat verskillende vlakke van gedingvoering sal veroorsaak. Hierdie gekombineerde strategie is wat die Afrikanerbelang in die “Malema-saak” suksesvol vorentoe kan voer.

Vir die landbouer Afrikaner, wie wesenlik en direk deur die sing van “Skiet die Boer” geraak word, is daar geen ander roete as die howe nie. Netso moet elke Afrikaner wie se regte en belange drasties en wesenlik ingeperk word sterk deurdagte regsaksie neem.

Deur die opeenhoping van regspraak en hofbeslissings word legitimiteit deurgaans aan die Afrikanersaak gegee. Politiese druk van veral die buiteland is ʼn feit wat die meerderheid en die regbank nie kan ignoreer nie. Die Afrikanersaak kan werklikwaar gebou word op klein, taktiese regsoorwinnings, al is die uitvoerbaarheid daarvan egter nie altyd moontlik nie. Solank die opeenhoping deurgaans regstegnies suiwer is, sal dit op internasionale vlak nie ontken kan word nie. Die hofproses en regsaksie mag nooit van afgesien word nie, al is die waarde van die enkele oorwinning soms hol. Opeenhoping sal op ʼn stadium wel kritiese massa bereik en sal regsargument teen die saak al hoe moeiliker raak.

Opeenhoping opsigself mag ook later so momentum opbou dat dit die deur opbreek vir sosio-politieke kompromie. Die oog moet deurgaans op hierdie moontlikheid gehou word en moet dit aangegryp word sodra die moontlikheid homself openbaar.

Indien die “Malema-saak” nie die politiese seepkis bied wat nodig is om sosio-politieke kompromie af te dwing nie, sal dit verseker een van die plankies wees waaruit die kis gemaak word. Die regsgeding is gepas en nodig maar mag nooit as die finale antwoord vir die probleem gesien word nie. Als kom neer op sosio-politieke kompromie.

Afrikaners is bekend vir die innoverende wyse waarop ons probleme aanpak. Dit word netsoveel verwag dat ons ʼn teenargument vir elke goeie idee sal kan uitdink. Dit is juis hierdie vorm van veelvlakkige ideevorming wat tot waarheid lei. Sodra die Afrikaner dit regkry dat almal in sy geleerdere na een spesifieke ideologie konformeer, sal hy sy eie dood deur die verwydering van sy hart veroorsaak het.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Peter Wassenaar

Meer oor die skrywer: Peter Wassenaar

Péter Wassenaar is tans besig met meestersgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria en voltooi ook sy leerklerkskap in Pretoria

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Kobie ·

Peter, goeie beredenering en ewewigtige standpunte dankie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.