Suid-Afrika: Demokrasie of diktatuur?

Argieffoto.

In die gereelde skouerskuur met lesers van Maroela Media kom ek agter daar is mense wat – hoe sal ek dit stel? – interessante idees oor die demokrasie het. Dalk ook oor sy teenpool, diktatuur.

Laat my daarom vandag hier ’n uiteensetting gee van hoe ek die demokrasie sien en waarom ek dié stelsel, met al sy gebreke, as die mins slegte sien.

Sommige mense maak die begryplike fout om die demokrasie te sien as sinoniem met die meerderheidswil. Dít is inderdaad ’n sleutelelement van die demokrasie, maar dit is wat my betref nie eens die belangrikste nie.

Die demokrasie as die meerderheidswil was wel die hoofelement van die ou Atheense demokrasie, waar al die mansburgers gereeld byeengekom en dan besluite geneem het. Hulle is soms, veral later, gereeld deur demagoge verlei om onbekookte besluite te neem wat groot skade aangerig het.

Dié meerderheidswil was ook baie wispelturig. Vandag het die volksvergadering sus besluit; môre weer só. Dit was in sekere mate wat ’n mense op Engels kan noem “mob rule”.

Vandaar dat filosowe soos Sokrates, Plato en Aristoteles fundamentele kritiek teenoor die demokrasie uitgespreek het.

Teen die tyd dat die demokrasie weer in die Weste kop uitgesteek het, in die Verligting van die 18de eeu, het mense van die Atheense foute geleer. Bowendien was dit met die miljoene mense onprakties om die Atheense volksvergaderings na te volg.

Die rigting waarin filosowe soos die Brit John Locke, die Fransmanne Voltaire en Charles Montesquieu, en die Amerikaner Thomas Jefferson gedink het, was ’n getemperde meerderheidswil, juis om “mob rule” te voorkom.

Die moderne Westerse demokrasie het by hulle ’n nuwe diepste kern gekry: Die voorkoming van te veel mag in die hande van een mens of instansie. Met ander woorde, die verspreiding van mag.

Algemene stemreg, of die meerderheidswil, was maar één aspek hiervan. Belangriker was die skeiding van die regeringsmagte – die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag – en die verankering van ’n reeks burgerlike regte in ’n grondwet waaraan álmal, ook die owerheid, gehoorsaam moet wees.

Die Amerikaanse grondwet, wat in 1787 in Philadelphia opgestel is, was ’n uitstekende voorbeeld hiervan.

Die staatshoof, die president, kan weens die beperking op sy magte en bevoegdhede geen diktator wees nie, al wíl hy. Die lede van die Kongres se twee huise, die Huis van Verteenwoordigers en Senaat, is nie sy ondergeskiktes nie, maar sy gelykes.

Trouens, weens die afwesigheid van streng koukusdissipline in die Kongres (iets wat Amerika van die Europese – en Suid-Afrikaanse – stelsels onderskei), kan ’n president slegs sy politieke agenda in die praktyk bring as hy saam met die Kongres werk. Dis ook die geval waar die president se party, soos tans, ’n meerderheid in albei huise het.

Voorts word die federale regering se mag beperk deurdat die deelstate outonomie het waarop daar geen inbreuk gemaak kan word nie.

Maar dis nie ál nie. Die hoogste gesag lê by die uiters moeilik wysigbare grondwet, waaroor die hooggeregshof die arbiter is. Deur die jare het regters tallose presidente tot orde geroep omdat hulle na die regters se oordeel die grondwet oortree het.

Feit bly dat die grondwet ’n handves van regte bevat, wat sake soos vryheid van spraak, media- en godsdiensvryheid verseker. Agtereenvolgende presidente, onder wie Donald Trump, het al dié beperkings uiters steurend gevind, maar daar is nie veel wat hulle daaraan kan doen nie.

Dit beteken dat ’n beperking op jóú regte ook ’n beperking op mý regte is, en waarom ’n sterk leier nie noodwendig ’n goeie leier is nie.

In Brittanje met sy eienaardige ongeskrewe grondwet en gewoontereg is dinge nie heeltemal so goed gereël nie, maar die demokrasie is daar só stewig ingebed in die politieke kultuur dat die segswyse – ’n mens sou dit amper hul nasionale leuse kon noem – “it’s simply not done, old chap” – buitensporige misbruik uiters moeilik maak. Ook in gebiede soos Duitsland, Nederland, Skandinawië en elders is sake relatief goed gereël.

Nou: Hoe lyk sake in Suid-Afrika? Is ons land ’n demokrasie?

Op papier is Suid-Afrika, met ’n voorbeeldige Grondwet, ’n pragtige demokrasie.

Daar is, as jy magskonsentrasie wil voorkom, probleme met ons Grondwet, soos dat die president te veel mag het om sy eie kornuite in belangrike poste met groot bevoegdhede aan te stel. Dis iets waarvan pres. Jacob Zuma met oorgawe gebruik maak.

Die fundamentele probleem by ons lê nie soseer by die Grondwet nie. Dit lê by die regerende party, die ANC, wat die Grondwet en die beperkings wat dit aan die regering se almag oplê, as ’n irritasie beskou.

Die ANC se politieke denke het drie intellektuele bronne. Hulle is die Britse liberalisme (waarvan die invloed deur die jare tot nul gereduseer is), die Marxisme-Leninisme (wat in die struggletyd die botoon gevoer het, maar sedertdien afgeneem het), en die moderne Afrikadenke (wat tans allesoorheersend is).

Dit beteken dat die ANC se huidige denke oor die demokrasie deur twee bronne, albei fundamenteel anti-demokraties, bepaal word.

In die vyf jaar van pres. Nelson Mandela se bewind het die ANC homself oortref. Toe het hy hom hoofsaaklik netjies binne die grense van die demokrasie gehou, al het die koerant waarvoor ek toe gewerk het, Die Burger, destyds al kommerwekkende tendense uitgelig.

In Thabo Mbeki se tyd het dinge begin gly. En onder Zuma het sake heeltemal handuit geruk.

Waar laat dit ons?

As ek op grond van al bogenoemde oorwegings ’n genuanseerde oordeel moet vel, sou ek sê ons is teoreties ’n demokrasie, maar nie in die praktyk nie. Tog sou ek Suid-Afrika nie, soos Zimbabwe, summier as ’n diktatuur beskryf nie.

Om mee te begin het ons ’n regbank wat nie aarsel om die regering by die bors te gryp en tereg te wys nie. Ons het ’n lewendige burgerlike samelewing wat luidkeels protesteer (dink maar aan Swart Maandag) as dit nodig is.

Ons het media wat, ondanks al die billike en veral onbillike kritiek wat oor hulle uitgestort word, netto bydra tot die behoud van jou en my vryheid. Daar gaan haas geen week verby sonder dat die een of ander koerant of aanlyn nuusmedium korrupsie of ’n ander aspek van magsmisbruik oopvlek nie.

Dus, die probleem lê veral by die ANC. Hoe pak jy hóm aan? Kom ons gesels aanstaande week verder.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
tamboti

Leopoldt waar in Afrika is demokrasie wel suksesvol? Indien enige land, kan dit ook hier werk?

jan_alleman

geen land is demokraties nie , jy mag slegs kies tussen verskillende kandidate wat almal werk vir dieselfde baas , heads I win , tails you lose

Kabous

Demokrasie is ‘n stelsel waar twee idiote een genie kan uitstem. Logies? Ek glo nie.

John

Ons het duidelik nie ‘n demokrasie nie omdat ons hoogste hof, ten spyte van ooglopende vergrype deur die president, nie kan ingryp om hom en sy entourage/ondersteuners wat doelbewus vir ‘n eie uitsluitlike rede bygewerk is, in die bek te ruk nie… byna soos die slang wat homself daagliks moet insluk om iewers uit te kom… Die howe raak inderwaarheid skugter vir die’ taak van regering-van-die-dag-speel. Die volgende president/e kan en sal ook van hierdie skuiwergat gebruik maak. Dit kom daarop neer dat persoonlike etiese waardes of sienswyses nie deur reels of kodes bestuur word nie, maar deur die wind,… Lees meer »

Eish

In die alledaagse omgangstaal staan die land tans bekend as n helhool en die politieke stelsel in bedryf n Zuptakrasie. Die meerderheid het nie n probleem daarmee nie.