Suid-Amerika, die (amper) volledig linkse vasteland

Die linkse golf is tans seker op sy hoogtepunt in die wêreld, met die meeste state sedert die val van die ystergordyn wat linkse regerings het.

Noord-Amerika het tans met Joe Biden (en veral die mense rondom hom) in die VSA, Justin Trudeau in Kanada en Andres Lopez Obrador in Mexiko drie linkse leiers. In Europa geld dit ook vir die meerderheid lande. Australië het onlangs ook links geswaai en Nieu-Seeland is dit al ʼn ruk. Links is egter hier sowel die klassieke sosialiste, veral in die sogenaamde Derde Wêreld, asook die globalistiese “woke” linkses wat veral in die Weste prominent is. Die twee groepe sit nie altyd langs dieselfde vuur nie, maar glo beide sterk aan die skepping van ʼn “beter wêreld” deur middel van staatsingryping.

Suid-Amerika het egter die duidelikste na links beweeg met die meer onlangse verkiesings. In Argentinië, Chili, Peru, Colombia, Bolivia het almal linkse, soms uitgesproke sosialistiese leiers aan bewind gekom. In sommige gevalle sien hulle dit nie net as hulle mandaat aan om hulle onderskeie lande vir ʼn tydperk te bestuur nie, maar om dit permanent te omvorm, beginnend met nuwe grondwette. Die laaste konserwatiewe pilaar wat geval het, was Colombia, wat vir dekades deur regsgesindes regeer is en nou met Gustavo Petro die eerste keer ʼn sosialis en voormalige terroris as president het. Dit nadat Colombia vir dekades ʼn burgeroorlog teen ʼn sterk en brutale linkse terreurgroep, FARC (die Spaanse akroniem vir Gewapende Rewolusionêre Magte van Colombia), geveg het.

Venezuela, wat lank geïsoleerd was weens sy sosialistiese diktatorskap, het skielik weer vriende en bondgenote in die streek. Colombia was Venezuela se aardsvyand omdat laasgenoemde FARC ondersteun het, en die twee lande het diplomatieke betrekkinge verbreek. Onder Petro is dit nou weer herstel.

Die laaste groot land wat nog regs regeer word, is Brasilië met Jair Bolsonaro, wat dikwels “Trump van die trope” genoem word. ʼn Presidentsverkiesing word in Oktober gehou en na alle aanduidings sal die voormalige linkse president, Lula da Silva, wat tronkstraf vir korrupsie uitgedien het, weer tot die presidentsamp terugkeer en sy land terugdwing op die links-globalistiese pad.

Suid-Amerika kon nooit werklik stabiel demokratiseer soos Wes-Europa en Noord-Amerika nie, maar is ook nie in dieselfde mate onstabiel en chaoties soos Afrika nie. Dié vasteland swaai eintlik gedurig tussen regs-outoritêre leiers (met die hoogtepunt in die 1970’s) en links-populistiese leiers (in die 1960’s en nou ook weer). Natuurlik is elke staat intussen nominaal demokraties, maar almal is presidensiële republieke, wat beteken dat die president meer magte as die parlement het en ook direk verkies word. Die stelsel leun hom dus tot die opkoms van populistiese leiers wat hulle as redder van hulle lande sien en dikwels variasies van sosialisme toepas.

Die huidige golf van linkse populisme is gevoed deur die ontnugtering met liberaal-ekonomiese hervormings wat nie aan die verwagtings kon voldoen nie. In Argentinië kon die liberale president, Mauricio Macri, die gevestigde strukture nie hervorm nie en het sy aanhangers tot so ʼn mate teleurgestel, dat die linkse Peroniste weer beheer oorgeneem het. In Chili het die ekonomiese sukses wat reeds in die 1980’s begin het, tot gevreesde ongelykheid gelei, al het ook die armes se omstandighede verbeter. Veral die studente, wat grootgeword het in die voorspoedige 1990’s en 2000’s, het die linkse agenda gedryf. Binnekort word in Chili ook oor ʼn nuwe grondwet gestem wat wesenlik van die huidige een verskil en talle spesiale regte insluit wat die staat moet voorsien.

Gelykheid is ook in Suid-Amerika ʼn sentiment waarop die linkses teer. Anders as byvoorbeeld in Afrika, waar groot dele van die bevolking nog steeds in ʼn soort landelike tradisionele armoede leef, het Latyns-Amerika die eienskappe van tipiese oorgangssamelewings, wat ook vir Suid-Afrika geld: vinnige verstedeliking en ongelyke ontwikkeling, wat in sommige lande ook met ras korreleer en daardeur spannings vererger.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Vra Soros, Klaus schwab en WEF hoekom die state links is, niks met die wil van die publiek te doen nie

Anna-marie ·

100% die waarheid. Daar word elders besluit wie in watter land sal regeer. Daarom haat hulle vir Trump. Hy is vir hulle agenda ‘n groot bedreiging.

Danie ·

Gelukkig/ongelukkig geld die volgende deurgaans:
Gewoonlik vreet die kommunis, sosialis en liberalis ander mense se geld redelik vinnig heeltemal op. En verval daarna in meestal algehele armoede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.