Terreur is allerswakste reaksie op immigrasiekrisis

Massa-skietery in Nieu-Seeland (Foto: (AP Photo/Mark Baker)

Die terreuraanval verlede week in Christchurch, Nieu-Seeland, het opnuut die kollig op belangrike globale vraagstukke, waarop veral die Westerse wêreld steeds geen antwoorde het nie, laat val. Hierdie vraagstukke sluit in die uitdagings van toenemend multikulturele samelewings in voorheen grootliks homogene Westerse lande, die hantering van die vrese van mense wat soos Brenton Tarrant (verlede week se aanvaller) uitgedryf of minstens verplaas voel, en natuurlik die probleme van groeiende regse en linkse ekstremisme.

Afrikaners is in ’n toenemend multikulturele, globale wêreld in ’n unieke posisie. Terwyl multikulturalisme enorme nuwe uitdagings vir lande in Europa, Australië en Noord-Amerika bied, is Afrikaners goed vertroud met lewe in ’n multikulturele en selfs minderheidsomgewing. Terwyl baie Afrikaners oor die afgelope twee tot drie dekades geëmigreer het, het die meeste besluit om in Suid-Afrika te bly en hier ’n permanente toekoms vir ons mense te help verseker.

Ten einde ’n permanente plek vir ons mense in Afrika te verseker, is dit noodsaaklik dat Afrikaners ekstremisme en terreur, soos wat verlede week in Nieu-Seeland afgespeel het, duidelik en ondubbelsinnig verwerp. Niemand wen wanneer ’n jongman soos Tarrant op ongewapende, onskuldige mense losbrand nie. Mense wat op sosiale media verskonings vir Tarrant se optrede probeer verwoord het, maak ’n enorme fout. Die leiers van talle regse, anti-immigrasiepartye in veral Europa, het die aanval ten sterkste veroordeel. Dié wat dit nie gedoen het nie, soos een Australiese senator, fouteer ernstig.

Navorsing, insluitende die inhoud van die Global Terrorism Index (GTI) van 2018 wys dat regse terreuraanvalle wat in reaksie op die migrasiekrisis gepleeg word, aan die toeneem is. Dat daar in talle Westerse gemeenskappe belangrike en geldige vrese vir massa-immigrasie heers, is ’n werklikheid. Die opkoms van sterk anti-immigrasie- politieke partye in byna elke Westerse land is een gevolg hiervan.

In talle groot stede in Westerse lande is Moslem-immigrante besig om hele woonbuurte oor te neem en word ’n voorheen Westerse omgewing volledig met Islamitiese gebruike en gewoontes vervang. Vrese vir verandering kan pro-aktief of reaktief benader word. Deur kop te verloor en onskuldige mense te vermoor, is sekerlik die laagste vlak van desperate reaktiewe optrede.

Wat in Westerse lande nodig is, is pro-aktiewe planne om die gevolge van massa-immigrasie uit veral die Midde-Ooste en Afrika teen te werk. Terwyl immigrante uit byvoorbeeld Oos-Europa redelik maklik in lande soos Engeland, Frankryk, Duitsland en Nederland integreer, gebeur dieselfde nie met immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste nie, juis weens die groot geloofs- en kultuurverskille. Immigrante uit die Midde-Ooste en Afrika immigreer meestal uit desperaatheid en nie omdat hulle deel van die Westerse land waarheen hulle immigreer, se bevolking wil word nie.

Pro-aktiewe optrede in Westerse lande behels ’n verhoging van die bevolkingsaanwas, ’n herstel van eie kultuur-, taal- en geloofswaardes en ’n gesonde werkwyse om huidige vlakke van multikulturalisme te bestuur sonder dat dit tot vrese onder verskillende groepe lei.

Afrikaners het vriende in soveel moontlik Westerse lande nodig. Die beste vriende is dié wat realisties die uitdagings van ons huidige samelewings aanvaar en pro-aktiewe oplossings skep.

Assosiasie met terroriste is so goed soos selfmoord.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

marco polo ·

Wat daarvan as van daardie lande Afrikaners begin inneem? Jaco, was daar al sulke gesprekke? Ek is seker ons kan baie maklik daar inpas, ons voorouers kom immers daarvandaan. En daar sal baie wees wat graag wil gaan.

Andrea ·

Ek sou dit ook graag wou sien. Is daar niemand wat hierdie gesprekke voer nie? Ek weet Afriforum bv doen soveel vir die Afrikaner, maar ek twyfel of ons op die langduur hier gaan oorleef.

Veritas ·

Alhoewel ek nie die skieter se optrede goedkeur nie, kan ek verstaan waarom hy so opgetree het. Moet asb nie dat Moslems julle mislei nie. Hulle verwerp die Goddelikheid van Christus en ons is ‘n steen des aanstoots vir hulle.
As ons kyk na die verdrukking van Christene in Moslemlande, kan ons dit net ten sterkste afkeur. Afkeuring verlig egter geensins die lot van ons broers en susters, in moslemlande nie.
Die man is dalk fanaties maar ek glo dat hy dink dat hy reg opgetree het.

TN ·

Vergeet jy nie dalk hoe Moslems in Bosnië deur die sg Christene soos diere uitgeroei is nie ?

Gert ·

Die Engelse spreekwoord “Prevention is better than cure” is hier nogal toepaslik. Trump se muur is loshande die beste tipe oplossing, hou hulle uit. As hulle eers daar is, sit jy met byna onoplosbare probleme. Ek stem nie saam dat hulle uit desperaatheid emigreer nie, nee dis uit opportunisme en misbruik van Westerse lande se misplaaste akkommoderendheid. Hulle eindig almal op op welsyn, en pleeg misdaad om die te veel vrye tyd te verwyl.

KaterinaKat ·

Hierdie instroming van Moslems uit die Midde Ooste en swart mense van Noord Afrika word georkestreer deur mense soos George Soros en die super ryk globaliste. Die gewone “man in die straat” normale landsburgers wat globaliste is, help hul hiermee. Deur almal anders wat kommer uitspreek oor die toekoms van Europa en wit Europeers, te beskuldig van rassisme en islamofobia. Dit is deel van n groot meesterplan, die eventuele totale vervanging van wit Europeers deur Moslems en swart mense.

Maar ja ek stem saam dat om n groep mense koudbloedig te vermoor nie die oplossing is nie.

willem Botha ·

Muhammad Gadaffi het gesê muslems sal Europa oorneem sonder om een skoot af te vuur,dit gebeur nou wêreldwyd,muslems word geassosieer met geweld en vernietiging,Christene word in muslim lande aan pale opgehang omrede hulle christene is.Die wêreld het gesien wat gebeur toe barak obama self n muslim aan bewind was ,gelukkig is pres Trump besig om dit reg te stel ,muslems moet in muslim lande bly en nie christen lande muslim lande wil maak nie.

Ronnie ·

Dit is absoluut waar. Geweld moet ten sterkste en onomwonde afgekeur word deur almal en veral deur mense in leiers posisies. Dit is nie die oplossing nie.
Dit was baie ontstellend en tragies om te aanskou hoe mense moes vlug vanuit oorlog geteisterde lande in die Midde-Ooste. Veral vanuit Syria. Gesinne met klein kindertjies, vroue alleen, jong kinders…. Ek het baie dae gedink, “but for the grace of God, there goeth I.”
Kansvatters, kriminele en terrosiste het saam deurgeglip, maar meeste van die mense het geen keuse gehad nie. En meeste van hulle sal enige tyd wil terugkeer na hulle land van herkoms. Hulle wil net so min in Europa of elders wees as wat baie landsburgers hulle daar wil hê.
Ek vra myself die vraag, hoekom is Amerika, Europa en Rusland alewig betrokke in oorloë in die Midde-Ooste en elders? Hoeveel het dit met die lande se olie rykdom te doen?
Ek is van mening dat die westerse lande aandadig is aan en selfs soms die oorsaak is van die gedwonge ontworteling van miljoene mense.

Wei ·

Ronnie: Jou stelling dat meeste van die mense enige tyd sal retugkeer na hul land is snert. Duitsland het ‘n hele klompie jare gelede (lank voordat Merkel die deure oop gegooi het) die Turke elk ‘n groot som geld aangebied indien hulle terug gaan na Turkye. Hoeveel het die aanbod aanvaar? ZERO
Dink hieraan: Waar die Moslems in die meerdeheid is, is onderdrukking; Waar die moslems in die minderheid is, speel hulle slagoffer.

Jerry ·

Ek kan nie anders as om saam te stem dat ekstremisme, haatspraak en terreur duidelik en ondubbelsinnig verwerp moet word nie! Dit is n boosheid van ruggraatlose lafaards om onskuldige mense aan te val en uit te wis terwyl hulle vreedsaam slaap, aanbid of vreedsaam boer! Die ANC se sogenaamde “struggle” verlede is ook deurweek van die bloed van onskuldige mense, die sogenaamde “soft targets”! Om terreurdade slegs te verwerp en te veroordeel is nie goed genoeg nie, daar moet deur gemeenskappe, organisasies en regerings pro-aktief opgetree word en die pro-aktiewe optredes soos voorgestel deur die skrywer klink na die meer vreedsame en verstandige oplossing.

Wei ·

Jerry: En Jaco Keinhans se oplossing is? Jou oplossing is? Pen julle pro-aktiewe planne puntsgewys neer sodat ek en ander dit kan lees. Moet nie kom met die ou, ou storie dat ons meer van mekaar moet leer nie en meer vedraagsamer moet wees nie.

Ek keur geweld glad nie goed nie !!!

George in Bloem ·

Die moslem vlug weg van sy eie land waar dit te sleg is vir hom om te lewe na ‘n nuwe tuiste wat hy dan sommer onmiddelik wil verander om te wees soos die hool waarvandaan hy oorspronklik gevlug het? Dit kan net vir ‘n liberale idioot sin maak. Boonop wil hy dit alles doen ten koste van die burgers van sy nuwe tuiste wat hom verwelkom het en as hy dit met geweld moet doen het hy geen probleem daarmee nie? Se my net asseblief vir hoe lank het hierdie mense gedink gaan hulle met die snert wegkom voordat daar ‘n geweldadige reaksie gaan wees? Dit word tog oral algemeen aanvaar dat daar vir elke aksie ‘n teenreaksie sal wees of hoe? Nee wat,duisende christene word wereldwyd al jare lank op die wreedste maniere denkbaar vermoor deur juis mense van hierdie wrede geloof en dit haal deesdae nie eers meer die nuus nie maar hierdie skietery is skielik groot nuus wereldwyd. Slegte nuus is dat hierdie soort “backlash” ongelukkig al hoe meer gaan gebeur. Die wereld is besig om nou heeltemal gek te word en geweld word meer en meer as ‘n oplossing vir alle soorte verskille gesien. Mense raak al hoe minder geneig om na mekaar te luister en mekaar te respekteer.

Annie Webb ·

Dit is waar en reg dat ALLE terreur afgekeur moet word. Ongelukkig verswyg linkse regerings en media in Europa reeds jare lank die terreurdade van radikale Islamiete in Europa, juis omdat hulle probeer verhoed dat mense soos dié ou kop verloor en “terugslaan”. Relatief min migrante is werklik geregtig op asiel weens vervolging in hul lande van herkoms. Hulle is bloot ekonomiese migrante. Kanadese aktivis Lauren Southern se nuutste dokumentêr wys uit hoe die migrante deur mensesmokkelaars met stories van werk en rykdom gelok word en deur NGO’s “afgerig” word om hulle aansoek om asiel te “slaag”. Net om in ellende in Europa te leef met geen hoop op terugkeer na Afrika nie. Lauren se video’s is vryelik op YouTube beskikbaar, onder andere haar toespraak by die EU. Dis ‘n hartseer storie aan albei kante. Maar die terreurdade deur radikale Islamiete gaan vir seker lei tot verdere “retaliation”, veral omdat die linkse media eersgenoemde verswyg of verdraai. Die Facebookblad van die regse Vlaamse groep ReAct bied ‘n kykie na die ou inwoners se kant van die saak. Hulle is allermins bloot onverdraagsaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.