Toe erf ons Eskom se skuld!

Prof. Waldo Krugell (Foto: Verskaf)

Daar is die afgelope paar weke baie geskryf oor die ekonomie en die stand van die staatsfinansies.

Op die oog af lyk die belangrike aanwysers, soos die begrotingstekort-tot-BBP en staatskuld-tot-BBP, heelwat beter as toe die Covid-19-pandemie ons getref het in 2020.

Die markte het positief gereageer op die mini-begroting en die kredietgraderingsagentskappe was tevrede. Daar is ʼn klomp risiko’s ter sprake waaronder ʼn wêreldwye resessie, die staat se loonrekening, en die finansiële ramptoestand van openbare ondernemings en plaaslike owerhede.

Op hierdie stadium is Eskom seker die grootste enkele gevaar vir die ekonomie en die staatskas, en baie kommentators was teleurgesteld dat die mini-begroting so min gesê het oor die planne om die krisis op te los.

Die minister van finansies het breedweg verduidelik dat ʼn derde tot twee derdes van Eskom se skuld deur die regering oorgeneem gaan word. Dit is nodig vir die ontbondeling, sodat nie een van die drie nuwe entiteite te veel skuld het nie. Dit sal hulle toelaat om opnuut te leen om belangrike investering in opwekkingskapasiteit en die netwerk te finansier. Ek dink dat dit ʼn belangrike deel van die plan is om uiteindelik die energiekrisis aan te spreek, maar dit is ʼn proses wat belaai is met onsekerhede en gevare.

Hoewel die minister belowe het dat daar meer besonderhede in die hoofbegroting gegee sal word in Februarie, gaan dit waarskynlik heelwat langer neem. Die herstrukturering van SAA het gewys dat die regering nie vinnig kan beweeg nie en hierdie is ʼn nog meer ingewikkelde storie.

Die tesourie en Eskom moet onderhandel oor watter skuld oorgeneem word: kort- of langtermyn, gewaarborgde skuld of skuld wat nie gewaarborg is nie, dit wat in rand of dollar gedenomineer is? Daar moet ook met die entiteite wat nou die skuld besit onderhandel word. Word die effekte afbetaal, of geruil?

Dan gaan daar ook vereistes gestel word waaraan Eskom moet voldoen. Dit sluit in die verkoop van nie-kern bates, bedryfsverbeteringe en kostebesnoeiing. Vir dit alles word ʼn onafhanklike ontleding van die bedryf van Eskom beplan.

Die skuldvraagstuk is net ʼn deel van ʼn groter proses. Daar is die praktiese probleme van bodrondtes vir onafhanklike elektrisiteitsverskaffers wat nie finansiële afsluiting bereik nie. Dit hang nou saam met die tariefstruktuur en die lewensvatbaarheid van sogenaamde “wheeling”-projekte.

Dan hoor ons ook dat 10 miljoen voorafbetaalde kragmeters voor November 2024 opgedateer moet word of hulle hou op werk. Heel laaste is daar die amper filosofiese vraagstuk oor hoe Suid-Afrika se energiebronne in die toekoms moet lyk – die minister van finansies het as deel van bogenoemde vereistes gepraat van gas- en kernkrag-opwekking. Dit terwyl ons hoop om by die COP-27-beraad $8,5 miljard se befondsing vir groen-energie te kry.

Terug na die risiko’s vir die staatsfinansies, het hierdie noodsaaklike hulp aan Eskom dalk die deur oopgemaak vir ʼn risiko waaraan niemand nog veel gedink het nie. Die nuwe Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het hierdie week aangevoer: omdat die regering van Eskom se skuldlas oorneem, moet townships, informele nedersettings en hostelle se skuld aan Eskom geskrap word.

Dit is ʼn lekker politieke speelbal, maar ʼn mens moet onthou dat Eskom se skuld nie afgeskryf word nie. Dit word oorgeneem. Waar dit tot nou toe betaal sou word deur hoër elektrisiteitspryse en reddingsboeie, gaan dit voortaan deur die belastingbetalers van die toekoms gedra word.

Dit laat ʼn mens ook dink aan die omvang van agterstallige skuld in Suid-Afrika. Verbruikers skuld munisipaliteite, munisipaliteite skuld Eskom en watervoorsieners, staatsdepartemente is bekend vir wanbetaling van hulle kontrakteurs en diensverskaffers, studente skuld universiteite. Al hierdie skuld kan skaars afgeskryf of oorgeneem word. Ten beste kan dit oorgerol word teen hoë rentekoerse.

Dit alles beteken dat die staat en die land se finansies baie meer kwesbaar is as wat die mini-begroting se syfers wys. Ek dink nie daar is ʼn skuldkrisis om die draai nie, maar daar is baie minder hulpbronne beskikbaar vir wat gedoen moet word, as wat ons dink. Enige groot hoop dat investering deur die regering of die openbare ondernemings kragvoorsiening gaan verseker, of die paaie of spoorlyne gaan regmaak, is ʼn hersenskim.

Ek glo die privaatsektor staan reg as die hervormings begin plaasvind en vir hulle plek maak. Intussen moet elkeen van ons planne maak soos wat jou hulpbronne toelaat. Kry maar die sonpanele, belê in die noodwatertenk en dra by tot jou buurt se kamerastelsel. Nog beter, reik ʼn bietjie verder uit en help nog mense in jou gemeenskap!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Waldo Krugell

Waldo Krugell is ‘n professor van Ekonomie aan die Noord-Wes Universiteit. Hy stel belang in die ekonomiese nuus asook wat dit vir huishoudings en besighede beteken. Luister ook na sy potgooi: Die Ekonomie Minuut.

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien die ekonomie nie fluks groei nie dan staar ons ‘n enorme skuldkrisis in die gesig. ‘n PhD student kan gerus vasstel wat is die staat se ROI op alle staatskuld wat sedert 1994 aangegaan is.

Vrijburger ·

Sedert ’94 word Soweto se Eskom-skuld op ‘n gereelde basis afgeskryf. Hierdie is nie die eerste keer nie, dit is die soveelste keer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.