Toekoms lê nie in eenheid, maar in uitmuntende kleingroepe

Wat sou Afrikaners vir hulself sê as hulle môre die kans sou kry om hul eie sake te reël? Nou is ons éérs in die moeilikheid?

Want hulle is as groep redelik onvoorbereid vir die ANC se afgunspolitiek en afdreigpolitiek. Afrikaners is ʼn groot groep met eie belange, maar dit op sigself lei nie na kollektiewe aksie deur meeste Afrikaners om hulle toekoms te help skep nie.

Trouens, die meeste Afrikaners is in die groeppolitiek eintlik rugryers. Maar dalk is alle groepe as rolspelers rugryers?

Mancur Olsen (1932-1998)

Reeds vyftig jaar gelede skryf Mancur Olson in sy kort trefferboek The Logic of Collective Action dat daar ook sterk individuele of sosiale dwang of aansporing moet wees vir kollektiewe aksie. Anders hoef mense net terug te sit en die voordele wat verkry is te geniet sonder die koste en risiko van eie inspanning, toewyding en opoffering.

Waar val die klem in die Afrikanerpolitiek om dit te oorkom? Op ʼn slingerpatroon om Afrikaners of Afrikaanssprekendes nog meer te probeer mobiliseer op een of ander wedywerende identiteitsbasis: dán hierdie een, dán daardie een.

Die simbolepolitiek kry wel reg om oor dekades dan weer een deeltjie van die Afrikaners te oortuig en dan weer ʼn ander deeltjie se renons te verseker. Maar wat doen die selfs oortuigde deel van die Afrikaners dan? Soos Olson se model reeds voorspel, min tot bitter min.

As mens  ʼn groter uitvoeringskrag wil skep,  moet die klem veel meer val op twee aspekte: kleingroepontwikkeling en voortreflike aksie.  “Slegs as groepe klein is, of gelukkig genoeg is om ’n onafhanklike bron van aansporings te hê, sal hulle organiseer of optree om hulle doelwitte te bereik”, skryf Olson.

Hoe groot is die groepe waarin kollektiewe deelname maklik plaasvind? Daardie groepe waarin die lede ʼn goedomlynde persoonlike aanspreeklikheid en verantwoordelikheid aanvaar?

Die sosiale sielkundige Robin Dunbar skryf dat weens die ontwikkeling van die individuele breinkorteks  mensegroepe ’n optimum grootte van ongeveer 148-150 het. In sulke groepe, ken die lede mekaar en kan hulle redelik in voeling met mekaar bly sonder veel burokrasie. Sosiale en individuele dwang en aansporings tussen mense wat jou ken speel nog ’n sterk rol.

'n Romeinse centuria - let op die 80 manskappe.

Bedrywe soos die vervaardiger Gore Associates en godsdiensgroepe soos die Hutteriete kies uit ervaring selfs om nuwe eenhede te stig as die grootte van 150 oorskry word. In die vroeë Romeinse leër was die centuria met sy 80 man – eerder as 100 soos mens mag raai – as die kleinste operasionele eenheid in ’n legioen beskou.

As ondernemings van tot 150 mense sterk persoonlike bande deel, het mense ʼn sterk transaksiegeheue. Hulle weet wat die voorkeure, swakhede, talente en vaardighede van ander in die groep is. Daardie transaksiegeheue, sê Daniel Wegner, laat mens doeltreffender werkverhoudings bou wat individue se kragpunte laat ontplooi.

Beter samewerking, ʼn groter vermoë om as ʼn span struikelblokke te oorkom, en ʼn groter innoveringsvermoë is die gevolg. As die groep groter as 150 is, raak dit meteens veel ingewikkelder.

Binne daardie kleingroep, is dit belangrik om te fokus op hoë standaarde en samehorigheid, maar ook op ruimtes vir individuele skeppingskrag en uitblinkerspanne. Die beklemtoning van die waarde van kleingroepontwikkeling en uitblinkerspanne is reeds ingebed in vele klein en groot tradisies:

In die leuse van Paul Roos-Gimnasium op Stellenbosch, waar J.B.M. Hertzog en Jan Smuts sou skoolgaan: Semper Splendidor, oftewel altyd beter. In die klem op standaarde by die jongste militêre akademie wat Westerlinge opgerig het.

Dit vind ook weerklank in die uitvindingsdrif by sommige Afrikaners in die landbou en sakelewe en wetenskap van Afrika. Ook in N.P. Van Wyk Louw se opstelle rondom Afrikaanse skeppingskrag en die aristokratiese kultuurideaal.

Danie Goosen skryf dan ook in een van sy opstelle hier oor ʼn spanning tussen die gemeenskap en aristokratiese voortreflikheid. Dit is waar. Maar as jou omgewing so transformeer soos in Suid-Afrika, dan is die strewe na voortreflikheid nie net iets vir ʼn paar mense nie.  Dit behoort deel te wees van ʼn groep se dominante strewes.

Ook in hierdie geval sal dit net gebeur as mens op kleiner skaal werk. Maar die uitwerking op ʼn groter groep is nie te onderskat nie. Uitblinkerspanne en doelgerigte kleingroepe bring nuwe lewe in ʼn groep en gemeenskappe wat op die agtervoet is. ʼn Nuwe aantrekkingskrag en groter kohesie ontstaan rondom die kleingroepe heen, veral  vir jongmense. Want die meeste jongmense wil nie berus in die verskraalde, onveilige, plastiek- en riool-oortrekte toekoms wat die ANC vir hulle gaan bied nie.

Die strewe na uitmuntendheid dien as ʼn onderskeidingsmodus wat gemeenskappe se eiesoortigheid help handhaaf in ʼn omgewing wat volgens ander waardes transformeer. Maar ook in die wyer wêreld skep so ʼn strewe nuwe bestaanskanse. Rolspelers wil met uitblinkerspanne kan saamwerk, en baie  Westerse magte is afhanklik van goeie vennote.

Met die afwaartse aanpassing van standaarde en minder skool- en universiteitsbywoning: hoeveel van die Afrikaners gaan vorentoe gerat wees om met die beste in die Weste te kan meeding of binne en buite Suid-Afrika alliansies op goeie voorwaardes te kan sluit?

Uitblinkerspanne binne ontwikkelde kleingroepe is daarom ʼn realistieser fokuspunt vir diegene wat krag wil opbou, eerder as die poging om die uiteenlopende Afrikaners weer rondom een identiteitstroom te probeer mobiliseer. Dit is ʼn benadering wat ook in wisselwerking sou kon tree met Danie Goosen se beroep op mikro-republikeinse instellings en ʼn klassiek-deugdelike  gemeenskapslewe.

Identiteitspolitiek is belangrik vir meeste volke en gemeenskappe wat onder druk voel. Maar dit op sigself lei nie tot kollektiewe aksie nie. Soms wel tot ʼn grootbek lui Afrikanerskap wat niks meer verg nie as ʼn bier se oopklap by die vleisbraaivuur.

Vir werklike uitvoeringskrag is gerigte kleingroepe egter nodig. En hulle gaan goed moet wees om hulle doelwitte te bereik. Dit is tyd om meer aandag hieraan te gee. Die baniere van die toekoms gaan nie eerstens gedra word deur ʼn hele volk of gemeenskap nie, maar dalk wel deur kleingroepe en uitblinkerspanne.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Heinrich Matthee

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Louis du Plessis ·

Heinrich ~

1  Jy kontrasteer tereg die gebrek aan optrede by omvattende groepe met die kreatiewe moontlikhede van gerigte klein groepe.  Die volk beteken, sou ek byvoeg, bloedweinig sonder die kreatiewe minderheid.  Jou insig sluit aan by talle geskiedenisdenkers soos Arnold Toynbee en Ian Morris wat dié feit met voorbeelde geïllustreer het.

2  Jy waarsku tereg ook teen “ʼn grootbek lui Afrikanerskap wat niks meer verg nie as ʼn bier se oopklap by die vleisbraaivuur.”  Dis betekenisvol dat jy saam met enkele ander bydraers tot die Groot Debat jou voet neersit vir allerlei emosionele tirades deur diegene wat nie eers ‘n Afrikaanse boek lees nie! 

3  Jou pleit oortuigend dat Afrikaners die leuse van die Gimnasum Paul Roos – Semper splendidior!, Altyd beter! – in gedagte sal hou.  Gaan akkoord.  Dat jy JBM Hertzog en Jan Smuts as Paulrosers meld, versterk jou pleidooi, wat jy natuurlik onweerlegbaar kon maak deur ook die naam van die eerste minister by te voeg wat die siel was Afrikanernasionalisme, vanaf minstens 1916 tot lank nadat hy die Voortrekkermonument in 1949 geopen het: dr DF Malan.  In die gees van die ANC-regering se stryd vir ‘n kultuur van “Skiet die boer!” is die borsbeelde van talle Afrikanerleiers die afgelope jare uit die parlement verdryf.  Gelukkig kon dié van JBM Hertzog, Jan Smuts én dr DF Malan ‘n ereplek kry in Stellenbosch – in die voorportaal van Paul Roos, op pad na die deurlopend opgedateerde Paul Roos-museum toe.  Terloops, ek kry die indruk dat die netwerk van Paul Roos-oumanne deesdae byna kan meeding met dié van oudvalskermsoldate en oud-Wilgenhoffers!)

4  Jou mees treffende siening is waarskynlik die verwysing na Mancur Olson se waarneming dat kollektiewe aksie – dus by implikasie ook deur Afrikaners – “sterk individuele of sosiale dwang of aansporing” vereis.  Dis gaaf jy of die Groot Debat-redaksie het hierbo ‘n foto bygesit van dié geslepe ekonoom.  Jy sluit aan, meen ek, by Olson se briljante insig dat dwang ook ‘n vereiste is vir ekonomiese groei. Olson is op rekord dat hy die produksiewonderwerke van die Duitse en Japanese samelewings vanaf 1950 toegeskryf het aan die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog:  Behoudendheid en konserwatisme is die graf van ekonomiese ontwikkeling, kompetisie en ondernemingstalent is die wortel daarvan. Die Duitsers en Japanese, soos ook verskeie ander geruïneerde lande, móés buite die vierkant dink, móés, om te oorleef, byna elke hoofweg en fabriek en skool van voor af ontwerp.  Wie laaste is, sal inderdaad eerste wees. 

5  Baie Afrikaners doen inderdaad bloedweinig vir Afrikanerskap, want dit gaan te goed.  Soos jy dit hierbo welsprekend saamvat:  Sonder die eksterne dwang en aansporing en sonder skeppende klein groepe – ek wil byvoeg soos die Oraniabeweging, Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand – hoef hulle “net terug te sit en die voordele wat verkry is te geniet sonder die koste en risiko van eie inspanning, toewyding en opoffering.” 

6  Die implikasie van jou diepsinnige insig, Heinrich, is skrikwekkend.  Die alternatief vir die kreatiewe minderheid is die dooie meerderheid.  Dalk sal die historici in 2211 aanteken:  Die Afrikaners het later so min geword dat hulle almal opgesuig is in die swart en Engelstalige Suid-Afrika.  Hulle het verdwyn, sonder slag of stoot, selfs sonder ‘n afskeidsfunksie, net soos ons almal se voortreflike protestantse voorouers: die Franse Hugenote. 

SJ Botha ·

Die vraag is of jou siening sal kan lei tot ‘n onafhanklike Boere staat. Na my mening sal sulke klein groepe nie regtig daarmee help nie, alhoewel hulle wel waarde kan byvoeg om ander “draadsitters” in te lig en te motifeer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.