Trump hoort terug in die Withuis

Oudpres. Donald Trump. (Foto: Charly TRIBALLEAU / AFP)

Ek is beslis nie iemand wat dink die lot van enige kollektiewe eenheid of volk hang van ʼn enkele leier af nie. Dit herinner my aan arm mense wat onnadenkend en wanhopig in Suid-Afrika se strate ronddwaal met T-hemde waarop Cyril Ramaphosa en Jacob Zuma se gesigte pryk. Kortom, ek is besonder wantrouig oor prinse.

Tog maak leierskap oral in ʼn samelewing, organisasie en die wyer wêreld ʼn wesenlike verskil. Apple, Amazon, Tesla, Ford en Shoprite sou nooit ontstaan en dermate gegroei het indien Whitey Basson, Elon Musk en Steve Jobs nie aan die stuur daarvan was nie. Daar is tallose sulke voorbeelde in die sakewêreld. Sulke werk verg ook die moed, daadkrag, visie en charisma waaroor die meeste mense eenvoudig nie beskik nie.

Wat sou van Duitsland, Groot-Brittanje, Singapoer en Amerika geword het indien Otto von Bismarck, Winston Churchill, Lee Kuan Yew en Ronald Reagan nie hul leiers tydens sekere kritieke tydsgewrigte was nie? Weereens, tallose politieke voorbeelde.

Baie van Suid-Afrika se hedendaagse probleme kan teruggelei word na die ANC en sy treurige leierskap. Hulle skep immers beleid en wetgewing en beheer die staat. Kortom, hulle het mag wat ander politieke partye en ander entiteite nie oor die laaste 30 jaar gehad het nie.

President Joe Biden. (Foto: Jim WATSON / AFP)

Dieselfde geld vir ander lande en die VSA is geen uitsondering nie. Soos ons, het hulle ook vanjaar ʼn verkiesing en dis weer ʼn inverse herhaling van 2020 s’n: Joe Biden dié keer as presidensiële ampsdraer teenoor Donald Trump as sy Republikeinse opponent. Trump ken albei rolle want in 2016 was hy die buiteperd wat gewen het, terwyl hy in 2020 die president was.

Die voorverkiesings is verby en behalwe vir die voormalige Demokraat Robert F Kennedy se onafhanklike kandidatuur wat stemme by Biden en Trump kan wegrokkel, gaan een van hierdie twee here uiteindelik president wees.

Om dit bot te stel, en ongeag oor hoe jy persoonlik oor hom voel, is Trump die enigste kandidaat met die nodige vermoë om Amerika te red. Die feit is dat die wêreld onder Biden (en ander Westerse leiers) se leierskap ʼn gevaarliker, duurder en slegter plek geword het. Trump se eerste paar maande in die saal was wel chaoties, maar tussen 2017 en 2020 was Amerika en die wêreld baie beter, hoewel uiteraard nie volmaak nie. In 2020 het China ʼn virus op die wêreld losgelaat om waarskynlik die Trump-hoogkonjunktuur te bederf en veral Amerikaanse kiesers te beangs. Dit het gewerk.

Dis geld wat in verkiesings geld

Daar is etlike redes hoekom Amerika en die wêreld Trump weer nodig het, waarvan ekonomiese faktore seker die prominentste is. Die gemiddelde inflasiekoers in die VSA tydens die Trump-jare was 1.9% en vir die Biden-termyn was dit 5.9% sover. Die Trump-administrasie het ʼn gemiddelde groeikoers van 3.5% gehandhaaf totdat die Covid-pandemie en grendelstaat in verskeie Demokraat-beheerde state dit in 2020 afgetrek het.

Mense wag om hulle stemme uit te bring in die 2022 middeltermynverkiesing (Foto: Michael M. Santiago/ Getty Images via AFP)

Biden se gemiddeld is 2.2% sover en dit is aangehelp deur besighede wat weer ná die grendelstaat kon oopmaak en is eintlik teleurstellend aangesien dit van ʼn lae basis af is. Nogtans werk omtrent ʼn miljoen minder Amerikaners nou as in 2020 omdat Biden hulle met welsynstoelae ontmoedig om te werk, terwyl onwettige immigrante ʼn groot deel van die groei in (meestal deeltydse) werkgeleenthede verteenwoordig.

Amerika onder beleg

Op hierdie punt kom wet en orde ook ter sprake. Terwyl onwettige immigrante oor die suidelike grense van Amerika stroom, kan of wil almal van hulle nie in die arbeidsmark geabsorbeer word nie. Baie van hulle bly waar hulle wil op die strate en elders en pleeg misdaad om te oorleef. Sommiges vermoor selfs Amerikaners. Uiteraard is hulle waarskynlike toekomstige Demokratiese kiesers en dis beslis die rede hoekom die Biden-administrasie hulle so gul of bloot ambivalent behandel.

Maar selfs ʼn CNN-peiling vanjaar het bevind dat slegs 30% van Amerikaners sy hantering van hierdie krisis goedkeur. Selfs Eric Adams, burgemeester van New York en ʼn demokraat wat aanvanklik migrante met ope arms ontvang het, sê nou onomwonde dat sy stad hulle nie kan huisves nie.

Immigrante wag vir vervoer en verwerking nadat hulle die grens tussen die VSA en Mexiko op 13 Maart 2024 in El Paso, Texas oorgesteek het. (Foto: JOHN MOORE / GETTY IMAGES NOORD-AMERIKA / Getty Images via AFP)

Tesame hiermee het daar ʼn wetteloosheid regoor Amerika posgevat, maar veral in groot stede waar Demokrate stewig in beheer is. Terwyl daar derms uitgeryg word oor die betogers by Capitol Hill op 6 Januarie 2021 en Trump se belastingsake, word Chicago, Los Angeles, San Francisco, New York en Portland toenemend gevaarlik omdat die polisie te min en ontman is. Lakse wetgewing maak dit ook makliker om te steel en selfs aan te rand en vermoor.

Mense en besighede stem met hul voete. Terwyl linkse stede weens die federale aard van Amerika waarskynlik nie skielik in ʼn paradys gaan verander as Trump president word nie, skep die president van die land wel die konteks van wat aanvaarbaar is al dan nie – soos Biden sedert 2021 doen.

Globale gevare

Terwyl geen Amerikaanse president regstreeks veel vir Suid-Afrika of Afrikaners sal beteken nie, is sy invloed in die wêreld wel van allergrootste belang. Biden se chaotiese onttrekking van Amerikaanse personeel uit Afganistan en sy futlose leierskap het Rusland se Wladimir Poetin ʼn gaping gegee om die Oekraïne in te val. Dit het en sou nooit onder Trump se leierskap gebeur nie. Dit het wêreldwyd die inflasiekoers (vir veral voedsel, bemestingstowwe en brandstof) opgestoot en verskaffingskettings verder ontwrig in die nadraai van Covid-19.

‘n Helikopter met ‘n Taliban-vlag vlieg oor ondersteuners van die groep wat die VSA se onttrekking aan die land vier. (Foto: Javed Tanveer/AFP)

Iemand anders sal hierdie skynbaar nimmereindigende oorlog moet uitsorteer want Biden is klaarblyklik net in staat om nog belastinggeld na hierdie probleem (eerder plaaslike Amerikaanse probleme) te gooi en dit bloot uit te rek ten koste van die ganse wêreld. Trump kan dit ongetwyfeld doen. Terwyl die Midde-Ooste om verskeie redes grootliks vreedsaam was in die Trump-epog, is dit nou weer in ʼn warboel. China sien ʼn gaping om Taiwan in te lyf. Die wêreld is in die algemeen weer besig om snel te militariseer.

Ek kan nog aanhou om ʼn saak vir Trump jeens Biden uit te maak oor die stryd teen wokeness, kultuur en beleidsprioriteite in Amerika, maar dis onnodig want dis voor die hand liggend vir enigiemand wat bereid is om dit te sien en erken. Selfs Kennedy het onlangs vir Biden as ʼn groter bedreiging vir demokrasie as Trump bestempel omdat hy volgens hom die enigste Amerikaanse president is wat wetstoepassingsagentskappe vir politieke doeleindes teen Trump inspan en vrye spraak aan bande lê.

As ʼn broerskind van John F Kennedy en seun van Robert Kennedy en iemand wat uit ʼn ryk Demokraat-bloedlyn kom en steeds sterk liberaal is, hoef hy dit nie te sê nie. Maar hy is tewens nie iemand wat wegskram van die waarheid ter wille van gewildheid nie.

Eugene Brink. (Foto: AfriForum)

Baie mense is ook te onoplettend om te sien dat daar ʼn verskil is tussen die Trump van 2016 en die een van 2024 en selfs 2020. Op 77 is hy nog steeds fier, energiek en eerlik, maar hy is allermins radikaal of grof onbeskof. Biden is 81 en sal ʼn ongekende 86 wees as hy die tuig in 2029 neerlê. Dit is klinkklaar dat hy nou reeds sukkel met die eise van sy amp. Gedagtig aan hierdie binêre keuse, weet ek vir wie ek sou stem as ek ʼn Amerikaner was en wie in die Withuis hoort.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Antionette ·

Ek stem saam met d hele artikel. Donald Trump verduur d grootste heksejag in mense heugenis. Dis n wonder dat d man staande bly.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die unie het sy hoogtepunt bereik. Die empire se gloriedae is verby, met of sonder Trump.

Michael ·

Pres Trump is die beste leier in die wêreld en met hom aan stuur van sake sal die VSA en die wêreld gesond word.

Treurwilger ·

Dr. Eugene Brink kan geloof word vir die moed en integriteit om hierdie artikel te skryf, in ‘n tydsgees waar dit nié gewild is om Donald Trump se goeie eienskappe en puik prestasies as President te noem nie.
Baie dankie, groot waardering.

chris ·

Ek stem saam met Treurwilger. Dankie dat Maroela ook die moed gehad het om dit te plaas, want alles word deesdae gesensor sodat daar van vrye spraak weinig oor is.Dit is net eenrigting verkeer van bo na onder met net een narratief soos met die pandemie. Dankie Maroela dat julle my weer moed gee.

Wicus ·

Republikein, ek stem so saam met jou, en dan eerder Trump as Biden, maar my kommer, is dit die beste wat die VSA kan voortbring, en dit geld eintlik vir die hele Weste. Kyk maar na die lotte die afgelope tyd in GB, lyk darem of die huidige ou iets in hom het. Dit laat my wonder, is daar nie ‘n mag agter almal wat juis pionne op die verhoog sit, en soos dit my lyk presies ook hoekom ons het wat ons het.

Vrijburger ·

Ek beskou Trump as chemoterapie, onaangenaam maar baie nodig.

As ‘n terloopsheid – ek was nog nie in ‘n gesprek met ‘n anti-Trump persoon wat vir my kon aandui met watter van Trump se amptelike beleide hulle verkil nie. Terwyl ek ‘n aantal beleide van die Biden administrasie kan aandui wat ek ten sterkste afkeur. Die media was suksesvol om ‘n suiwer emosioneel gebaseerde anti-Trump kampanje te bedryf.

Marthinus W ·

Stem saam. Trump het baie politieke “savvy” geleer die afgelope paar jaar.

Oor Covid: ek verskil. Huidige wetgewing rakende biologiese oorlogvoering is geskryf deur die juris, prof Francis Boyle. Volgens hom is die Covid-19 in n biolab aan die Universiteit van North Carolina on Capital Hill, geskep. Ook, is die Wuhan-biolab gefinansier deur Amerika. dr Fauci het sowat n maand gelede n verklaring uitgereik, dat hulle nie meer die biolab gaan finansier nie. Dus: die virus is deur Amerika geskep. Op die webwerf usaspending [wat alle tenders aan washington lys] word Oekraine gelys as n biolab waar die virus verfyn en getoets is.

piet ·

As entrepreneur behoort die geagte Dr. Brink te weet dat Trump se besighede al hoeveel keer gelikwideer is. Swakste sakeman ooit.

Pieter ·

Goeiste wat ‘n artikel. Kom ek lys ‘n paar foute wat ek opgetel het in my eerste deurlees maar daar is nog baie wat ek nie kan aantoon nie.

1. Jou punt oor onwettige immigrante. Daar is ‘n wetsvoorstel aan die senaat gelewer waarteen die Republikeine gestem het wat baie sou help om die situasie te verbeter. ‘n Kritiese denker sou wonder of die Republikeine moontlik die situasie erger maak sodat hulle stemme daarop kan kry.
2. In min of meer enige manier waarop jy daarna kan kyk doen die Amerikaanse ekonomie beter as wat dit gedoen het ‘n paar jaar gelede. Ek is nie seker waar jy kom aan jou stelling oor ‘n swak ekonomie nie, maar ek sal graag jou bron wil sien.

En dan gou ‘n andere punt

1. Het jy al ooit gewonder waarom die linkse stede en state waarvan jy so skryf oorweldigend die meer konserwatiewe state moet subsidieer. Nou ek ondersteun dit, dit help ekonomiese groei oor die hele land maar sou jy nie dink as dit soveel beter gaan in konserwatiewe plekke dit anders om sou gaan nie? Koerante wat skryf oor duisende jongmense wat jaarliks van New York naar Alabama vlug.

Martie ·

10 uit 10 vir Trump. Robuste sakeman en ekonoom. ‘n Land kan nie deur sentimentaliste beheer word nie, geld praat.

Aai ·

Daar sal minder oorlog wees as Trump aan die stuur is en die wereld sal ‘n beter plek wees.

JD ·

Laat ek raai, Piet en Pieter se “bronne” is CNN, MSNBC, die BBC ensovoorts.

Gaan kry nog n booster

Pieter ·

@Martie Nogal vreemd dat hy dan vir geld smeek by sy ondersteuners.

Pieter ·

@JD en ek neem aan al jou bronne is Fox News en Twitter. Sien ons kan beide dit doen.

Of dis omdat ek Trump as ‘n persoon sien wat nog nóóit ‘n dag in sy lewe hard gewerk het nie. Hy het sy besighede begin met pappa se geld. Iemand wat vir die werkersklas mooi stories vertel terwyl hy belasting minder maak vir die heel rykes en meer vir hulle. Ek sien ook iemand wat immigrante gebruik om ‘n groep te skep wat ok is om te haat en dal al sy ondersteuners se probleme op hulle blameer Hy gebruik dit dan om desperate mense te kry om hom te ondersteun. Alles terwyl hy niks doen om die regte oorsake van die mynwerkers en arbeiders se probleme op te los nis.

Die strategie wat hy gebruik is so oud soos tyd en almal wat dit raaksien in Zuma maar nie in Trump nie moet hulself baie diep vrae gaan vra.

Pieter ·

@Vrijburger. Ek tel seker as n anti Trumper kom ek help jou met jou vraag.

1. Sy belasting wet aan die begin van sy termyn het die belasting las op die gewone mens verhoog en dit verlaag vir die heel rykes .
2. Sy beleide het die staatskuld verhoog, die party wat nie kan ophou daaroor praat nie het die staatskuld laat verhoog, en drasties ook.
3. En dan ten slotte minder geld en ondersteuning vir staatskole.

Daar is nog baie, sal interessant wees of die beleide te hoor van Biden waarvan jy nie hou nie.

Miskien die geld wat hy spandeer aan infrastruktuur ontwikkeling of dalk dat hy studente probeer help het om hul skuldlas te verminder.

Pieter ·

@Marthinus Ek het iets probeer skryf oor jou kommentaar maar ek dink nie daar is hoop vir jou nie. Dis net vir my ongelooflik hoe jy ‘n sameswerings teorie kon maak van inentings, iets wat ek beskou as een van die wondere van die wêreld waarin ons bly.

Jy hoef nie bang te wees vir dinge wat jy nie verstaan nie.

Eugene ·

Vriende, baie dankie vir die debat. Dis broodnodig al raak als in die VSA ons nie direk nie. Ek sien wel dat sekere van my stellings selektief hanteer word en woorde verkeerdelik in my mond gelê word. Al Biden se voorgestelde (en mislukte) immigrasiewette is daarop gemik om wye amnestie aan miljoene onwettige immigrante toe te staan. Dis waansin en ondoeltreffend. Dit help ook nie dat Biden herhaaldelik en openlik mense uitnooi om na die VSA te stroom nie. Ek het ook ook nie gesê die ekonomie doen swak onder Biden nie, maar bloot ñ vergelyking tussen Biden en Trump getref. My artikel handel ook oor Trump as president en nie as sakeman nie. Bowendien het elke suksesvolle sakepersoon van Richard Branson tot Thomas Edison en Elon Musk al hul mislukkings gehad. Dis omdat hulle iets nuuts probeer en die veerkrag het om aan te gaan. Die swakste sakelui is diegene wat opgee na mislukkings. Trump het nie en sy nettowaarde bewys dit.

Marthinus W ·

Pieter, China word daarvan beskuldig dat hulle die Covid-19-virus geskep het as n wapen. Amerikaanse navorsers het bewys dat dit eintlik deur Amerika geskep is.

piet ·

Trump se hy gaan ALLE inentings in skole stop (ja, ook waarvoor ons by skole ingeent is toe ons klein was soos masels, tering, ens).

Pieter ·

@Marthinus Die natuur het al vir miljoene jare siektes gemaak sonder die hulp van Amerika of China. Waarom vind jy dit so moeilik om te glo dat dit net die natuur is?

Dink jy nie dat dit ook ‘n ongelooflike slegte wapen is nie, dit was eintlik net baie gevaarlik vir ou mense of mense wat reeds siek was. Dit klink nie vir my na ‘n baie goeie wapen nie.

piet ·

Eugene, ons sal sien hoe lyk Trump se nettowaarde na al sy hofsake van knoeiery. Die immigrasie-Wet wat jy van praat is reeds sedert 1986 in plek. Dis ook nie waar dat Biden “herhaaldelik en openlik” mense uitnooi om na die VSA te stroom nie. Dis twak.

Kattebol ·

Pieter, jou uitlatings is in vele opsigte verkeerd. Persoonlike belasting het afgeneem in Trump se tydperk vir almal. My seun het daaroor gejuig. Vandag huil hulle oor belasting. Die algemene gevoel is dat Trump goed gedoen het. Hy het die land bestuur soos n besigheid want dis wat dit is en hy weet hoe, júís omdat hy verskeie kere van vooraf moes begin. SA kort n Trump!

piet ·

Kattebol – die Amerikaanse ekonomie is baie beter af nou. Werkloosheid is omtrent die laagste ooit. So wat gebeur het, is dat die Biden-administrasie meer mense toegang tot die ekonomie gee met gevolglike ekonomiese groei en laer werkloosheid. Biden wil dat die rykes meer belasting betaal, Trump wil dat rykes minder belasting betaal (om homself te baat natuurlik). Alles wat Trump in sy termyn gedoen het, het misluk en verder het hy ander lande die josie in gemaak. Swakste president ooit.

Vrijburger ·

@ Pieter. Kom ek gebruik dieselfde trant as jy – “kom ek help jou met jou” mistastings.

1. Ek neem aan jy verwys na Trump se Tax Cuts and Job Act van 2017. Met die’ wet het hy in 5 van die 7 kategorië die belastingkoers verlaag en in 2 kategorië dit dieselfde gehou.
2. Natuurlik het van sy beleide staatskuld verhoog, net soos elke president voor hom. (In Trump se tyd het die staatskuld met omtrent $18 triljoen gestyg, Biden staan so ver op $16 triljoen.)
3. Ek het nie ‘n probleem dat hy minder geld en steun aan oorgesubsidieerde staat skole gee nie.

Dan, jou sarkasme mbt tot voorbeelde van Beiden beleide waarvan ek dalk nie hou nie, is onnodig en aanduidend van jou ingesteltheid.

Maar soos versoek, kom ek noem dan vinnig ‘n paar Biden en Demokraties party beleide waarvan ek nie hou nie:
– ‘Sanctury cities’ vir kriminele.
– Hul ‘Social welfare programme’ wat swart Amerikaners staatsafhanklik hou as stemvee. (Net soos wat julle ANC dit doen.)
– Teiken van die Olie en Gas industrie. (Vb. Keystone pyplyn, stop van nuwe boor permitte ens.)
– Hul sosialisties ingesteldheid van meer en meer staats inmenging en staats beheer.
– Die dryf van ‘critical race theory’ en die trans-agenda.
– Die ontfondsing en viktimisering van die polisie.
– Laat termyn aborsie wetgewing.
– Korruptering van die verkiesings proses – bv dat persoon wat stem hulle self nie met ID-dokument hoef te identifiseer nie.

Dirk ·

Piet en Pieter julle is die enigste mense op die blad wat reg dink en glad nie blind is vir al die leeuns wat van die trumpist se kant af kom. Vir die wat vir jou trump ondersteun, julle verstaan dat alles wat hy doen is basies dieselfde boek wat die ANC gebruik. Trump is nie goed vir die wêreld nie en is baie groot sekuriteits gevaar.

JD ·

@Pieter – Ai, Fox news is dan deel van die hoofstroom media.
Hoekom op dees aarde sal ek vertrou dat hulle geloofwaardig is.

Hoe gouer julle besef dat hoofstroom media en betaalde propagande “komediante” of gespreksgashere almal uit dieselfde mond uitpraat hoe gouer kan ons n sinvolle gesprek voer.

Besef asseblief dat die establishment politiekuste, die WEF, die WGO en vele ander organisasies nie jou beste belange op die hart dra nie, dit gaan alles oor mag en geld.

Trump is gn engeltjie nie, maar Amerika het veel beter gevaar onder sy leierskap en soos Amerika gaan, so gaan die wêreld.

Sterkte vir julle.

Manie ·

Ek glo dat die wêreld ‘n baie beter plek sal wees die dag wanneer die VSA nie meer orals betrokke is nie.

Eugene ·

Pieter, kom ons maak net eers seker waarvan ons praat, maak nie wilde aannames nie en dan praat niemand hopelik twak nie. Ek praat van Biden se wetgewing van 2021 asook 2024. Nie iets uit 1986 nie. Hy het gesê Amerika kan maklik nog 2 miljoen immigrante inlaat. Laas jaar was Biden se plan nog om 30000 mense per maand van oa Haiti en Nicagagua in te laat. Watter boodskap stuur dit aan almal wat wil ingaan, hetsy wettig of onwettig? Die grensamptenare is oorweldig en nou wil hy omswaai toe sy goedkeuringsyfers daaroor sink. Trump is $4.4 miljard sterk. Ek dink hy sal OK wees. Die DOJ se idee is in elk geval nie om hom ooit toe te sluit of sy fortuin te vat nie nie maar om die swaard van agterdog permanent en veral voor stemdag oor sy kop te laat hang.

Pieter ·

Ek is net half verbaas om my naamgenoot op die site te leer ken. Dankie @Piet

@Eugene Laat ek eers antwoord op jou eerste kommentaar.
1. In die industrie waarin ek werk affekteer die besluite uit die wit huis my direk. Dis nie ‘n tipe van ‘n speletjie vir my nie. Wat Trump / Biden besluit oor NAVO, Handel met China ens raak my veiligheid en of ek ‘n toekoms het.
2. Jou vrees vir immigrante is dalk ‘n punt waaroor ons gaan moet verskil. Ek stem saam dat imigrasie in die VSA asook die EU (waar ek nou bly) beter beheer moet word. Dit is egter ‘n byna onmoontlike taak om eties te doen. Jy moet jouself ook dan baie moeilike vrae begin vrae oor wat die VSA se aksies in Suid Amerika se gevolge was. Daardie lande dra self verantwoordelikheid maar daar is plekke waar die VSA ‘n groot destabiliseerende rol gespeel het. Dan moet jy nie skrik as mense weghardloop nie.
3. Ek kon nie êrens sien waar Biden vra vir immigrante om te kom nie, behalwe as jy praat van geskoolde arbeid.
4. Om ‘n leier van ‘n besigheid te wees en die leier van ‘n land te wees is nie dieselfde nie. Jy behoort heel ander prioriteite te hê en ek weet jy weet dit.
5. Nou waarom verkoop hy Bybels met die Amerikaanse volkslied in en vra sy ondersteuners vir geld. Is hy so suinig?

Eugene ·

Pieter, ek onttrek nou eers. Jy het my wel pitkos vir ñ volgende artikel gegee. Dalk moet jy ook een skryf? Jy het sterk opinies, maar dit moet deur geloofwaardige navorsing en feite gesteun word. Nie deur persoonlike en besigheidsmotiewe nie. En dit kan nie agter ñ skuilnaam wees nie. Sterkte daar!

Pieter ·

@Eugene Dit geld ongelukkig vir jou ook. Wat my die heel meeste van die Artikel irriteer is nie dat dit vol valshede is nie dis dat jy selektief niet een kant van ‘n baie komplekse verhaal vertel. Ek sien jy hou glad nie daarvan as ek dit doen nie maar jy is ook skuldig daaraan.

En van watter skuilnaam praat jy, my volledige naam is Pieter Schoeman (Schalk) as jy graag wil weet. Seker jy kan my op LinkedIn kry as jy wil.

En ek wil net nog een “fout” noem. Jy skryf asof Biden alleenlik verantwoordelik is vir die Ramp in Afganistan (Jy is reg hy dra verantwoordelikheid, dalk die meeste). Wil jy dalk vir die dames en here van Maroela Media verduidelik onder wie die ooreenkoms gesluit is oor hoe en wanneer Amerika gaan onttrek?

Miskien kan jy in ‘n volgende artikel vir ons uitlê waarom konserwatiewe plekke (en state in Amerika) so finansieel afhanklik is van die res van die meer liberale plekke. Dis weereens nie asof Alabama help om California te onderhou nie.

Andre ·

Ek kan darem nie hierdie skrywe ignoreer sonder kommentaar nie. Net enkele punte.
Wat die ekonomie betref: Trump het ‘n funksionerende, groeiende ekonomie oorgeneem van Obama. Ek dink dis redelik om te sê dat die ekonomie soos ‘n enorme olietenkskip is- as hy eers momentum het sal hy nie maklik van rigting verander nie. Biden daarenteen het die Covid ekonomie oorgeneem. Op die oomblik is BNP en werkloosheid omtrent op dieselfde vlakke as voor Covid. Inflasie is net oor die 3 %, omtrent op die vlak van die ander G7 lande. Volgens vanoggend se nuus verwag die IMF dat die VSA hierdie jaar sal groei teen dubbel die koers van die G7 lande.
Die skrywer sê Trump is “energiek en eerlik, maar hy is allermins radikaal of grof onbeskof.” As ek kyk na wat hy daagliks kwytraak op “Truth Social”, dan stem ek glad nie saam nie. Kyk veral sy sogenaamde Goeie Vrydag boodskap.

Republikein in die Wes Kaap ·

Beide Biden en Trump se beste jare is verby. Biden is bejaard en Trump het tred verloor met die werklikheid. Die afgelope paar jaar het hy merkbaar verouder. Die hofsake begin sy tol eis. Dit lyk of daar ‘n derde mag is wat hulle dryf en eventueel wil vernietig. Gewone burgers gaan die gevolge dra. Buitelanders moet dienooreerkomstig beplan vir al die scenarios.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.