Valse morele hoë grond en oorvereenvoudiging

Deur Johan Smit

Hoërskool DF Malan (Foto: Facebook)

Daar is ʼn tendens in Westerse lande om hulle geskiedenis te veroordeel en uit te vee onder die vaandel van Westerse liberalisme en ʼn gepaardgaande nuutgevonde moraliteit. Voorbeelde hiervan is die omtrek en of verwydering van standbeelde asook die verandering van name. In Suid-Afrika is die polities gedienstige naamsverandering van skole soos die Hoërskool DF Malan, sonder veel druk van die skoolgemeenskap, ʼn goeie voorbeeld.

Een van die probleme met die dikwels oningeligtes wat name verander om morele redes, is dat hulle by implikasie glo hulle weet beter as besluitnemers wat byvoorbeeld honderd jaar gelede geleef het. ʼn Verdere probleem is dat hierdie optrede momentum verleen aan die radikales (soos die ANC of EFF) en dit terwyl besluitnemers juis wil verhoed dat die instelling geteiken word.

As ek jou vals beskuldig en jy gee toe; is jy dan nie tog skuldig nie?

Gegewe dat mense nie vandag kan saamstem oor komplekse politieke kwessies nie, is die vraag egter: hoe kan ons so seker wees oor ander se optrede in die verlede? Is ons nie geneig om die verlede te oorvereenvoudig nie en maak ons nie dan dalk presies die foute waarvan ons ander beskuldig nie?

Dis die moeite werd om die punt te illustreer aan die hand van ʼn paar voorbeelde. Hoe gaan die geskiedenis byvoorbeeld vir ʼn dr. Allan Boesak onthou? Is dit korrek om dr. Boesak op te som as ʼn veroordeelde krimineel terwyl baie hom hoog ag as ʼn kampvegter vir geregtigheid wat baie opofferings gemaak het? Alhoewel hy wel skuldig bevind is aan bedrog en moes tronkstraf uitdien, sal redelike mense en liberales verseker nie so eenogig na dr. Boesak kyk nie.

Winston Churchill se nalatenskap is ʼn soortgelyke voorbeeld.

Vandag word hy deur baie erken as die grootste Britse leier van alle tye. As dit nie vir Churchill se mannemoed en uitsonderlike leierskap was nie, sou Westerse demokrasie dalk ʼn vroeë dood gesterf het. Hoe sou Europa en die Weste daaruit gesien het as Hitler die Tweede Wêreldoorlog gewen het? Churchill was egter ook ʼn imperialis (voorstander van kolonialisme) en het kwetsende rassistiese uitlatings gemaak. Is dit dan regverdig of wys om hom te kanselleer as ʼn koloniseerder en rassis?

Mahatma Gandhi wat vandag ikoniese erkenning in Suid-Afrika en Indië geniet, het ook kwetsende rassistiese uitlatings gemaak. Moet hy ook gekanselleer word? En natuurlik Nelson Mandela. Hy was tog ʼn terroris omdat hy geweld teen burgerlikes gesteun het as deel van die ANC se stryd vir vryheid. Ek hoef egter nie uit te brei oor hoe die wêreld Madiba onthou nie.

Voorgaande illustreer dat die geskiedenis, nes die hede, kompleks is en dat ʼn mens ten beste genuanseerd na die geskiedkundige leiers se nalatenskap moet kyk. Dit stuit egter nie die momentum vir kansellasie, wat kom vanuit twee groepe met verskillende beweegredes, nie.

Eerstens is daar die sogenaamde voorheen benadeeldes of slagoffers wat polities gemotiveerd is. In die Suid-Afrikaanse konteks word hulle onder andere verteenwoordig deur die ANC. In Amerika is dit byvoorbeeld swart Amerikaners waarvan die meeste vir die Demokrate stem.

Die tweede groep is die wat onder die vaandel van progressivisme en hulle eie morele oortuigings name wil verander. In Amerika is laasgenoemde die liberales wat vir die Demokrate stem. Hierdie twee groepe met uiteenlopende beweegredes span dan in werklikheid saam teen die gemeenskap wie se geskiedenis geteiken word. In Amerika is dit natuurlik konserwatiewe Amerikaners of konserwatiewe Amerikaanse ideale; in Suid-Afrika is dit meestal Afrikaners.

Terwyl die polities gemotiveerdes gedryf word deur wraak, word die liberales gedryf deur hulle vaste morele oortuiging. Die samebindende faktore is egter onverdraagsaamheid en ondemokratiese optrede wat tipies is van die linkerkant van die politieke spektrum wat deur emosie gedryf word. Optrede word dus beoordeel in die konteks van hoe mense daaroor voel en staan lynreg teenoor klassieke Westerse waardes soos demokrasie, rasionaliteit en Christelike waardes.

Terwyl liberales dus bereid is om pragmaties na voorgaande leiers te kyk, gun hulle nie dieselfde ruimte vir Afrikanerleiers soos dr. DF Malan of selfs PW Botha nie. In die proses trap hulle in die strik van dubbele standaarde wat lei tot polarisering. En dit ten koste van morele hoë grond. Voorgaande is dan die eerste domino vat val om die kultuur van die instelling te transformeer. Wat daarna gebeur is algemeen bekend.

Kortliks oor Malan.

Hy het in ʼn uitdagende tyd in 1948 die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, wat nog onderdanig aan die Britse kroon was, geword. Dit na ʼn jarelange Engelsgesinde liberale regering wat aanvanklik ʼn eenstroombeleid teen Afrikaans gevolg het en wat heftig deur Malan as kampvegter teengestaan is.

Segregasie was stewig gevestig na aanleiding van die “South African Native Affairs Commission” se aanbevelings, wat deur Lord Alfred Milner aangestel is in die vroeë 1900’s. Dit het die basis gevorm vir die sistematiese territoriale segregasie van wit en swart, die skep van lokasies, sowel as die politieke skeiding van hierdie groepe.

In die laat veertigs was die skrif ook aan die muur vir kolonialisme en in die 1950’s het die een koloniale mag na die ander onttrek uit Afrika met katastrofiese gevolge soos burgeroorloë en die dekade lange bewind van korrupte despote en massamoordenaars soos Idi Amin. Aldus Hermann Giliomee, was die meerderheid swart mense nog ongeletterd in die vroeë vyftigs en dit na 155 jaar se Britse regering (1795-1950) en Malan was onder andere verantwoordelik vir die destydse Bantu-onderwys wat teen die vroeë tagtigs goed op pad was om ʼn einde te maak aan swart ongeletterdheid.

Hoe moes Malan reageer op sy vaste oortuiging dat ʼn swart meerderheidsregering Suid-Afrika op sy knieë sou bring en tragiese lewensverlies veroorsaak? Is die wat vandag emigreer nie maar net so “rassisties” soos Malan nie? Hulle het tog ook geen hoop dat dinge ooit sal verbeter onder ʼn swart meerderheidsregering nie! En is apartheid nie maar net nog ʼn ideologie, soos imperialisme en transformasie nie?

Ten slotte. Ywerige sede-seiners se emosionele en dikwels oningeligte besluite om die geskiedenis uit te vee is nie die oplossing vir Suid-Afrika se probleme nie. Veral nie as die knie gebuig word voor die narratief van die dag, wat alles wat skeefloop voor die deur van apartheid lê nie.

Leierskap vra juis dat daar nie saam met die stroom beweeg word nie. Wat eerder nodig is, is dat gemeenskappe sterk staan en, in die geval van Afrikaners, hulle selfvertroue herwin en hul posisie inneem ten einde ʼn waardevolle rol in Suid-Afrika te bly vervul. Om dit nie te doen nie vra ʼn te hoë prys.

  • Johan Smit is ‘n besigheidsman, boer, Christen en patriot.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

Daar gaan nog lank gepraat word oor Churchill. Hy was n alkoholis, wat saam met Stalin en die breindood Roosevelt die huidige probleme geskep het. Sy burokrate, om net een voorbeeld te noem, het Sirie soos ons dit vandag ken, geskep. En dit werk nie, want daar is Koerde in Sirie, Turkye, en omliggende gebiede; hulle moes hul eie staat gekry het. Dis hoekeom Churchill teen die einde van die oorlgo uitgeskop is; Clement Atlee het oorgeneem.

Edwin ·

Johan, baie goeie artikel, dankie.

My kinders was in Hoërskool DF Malan, vandag is hulle skaam om daarmee assosieer te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.