Van dorp na Afrikanerstad

‘n Deel van die sonplaas wat Orania moet help om grootliks beurtkragvry te wees. Energieselfstandigheid is ‘n groeiversneller. (Foto: Verskaf)

Orania behoort teen die einde van die jaar tot ʼn groot mate beurtkragvry te wees. Hulle het ʼn indrukwekkende alternatiewe kragplan ontwikkel; nog nie heeltemal energieselfstandig nie, maar op pad soontoe en ver voor die res.

Ek het vir Gawie Snyman, die dorpsbestuurder van Orania, gesê ek wil asseblief daar wees as daardie knoppie gedruk word om die krag aan te skakel, want dit gaan ʼn historiese versneller vir Orania wees.

As Orania energieselfstandig is, gaan die privaat sektor stadsbouers word. Die stadsvaders kan dan daarop konsentreer om ontwikkelingsbottelnekke uit die weg te ruim en infrastruktuur daar te stel om die privaat sektor en die gemeenskap in staat te stel om te bou.

Orania het vandeesweek sy stadsplan bekend gestel. Hulle skud hulle vere reg vir die groei wat op pad is. NewUrban van Pretoria is ingekontrakteer om die nuwe stadsplan te ontwerp. Die groep is een van die voorste stadsontwerpmaatskappy in Suid-Afrika en was en is betrokke by talle groot stadsontwerpe in die land. Die gemeenskap is deurlopend daarby betrokke.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van ‘n deel van die stadsplan (Foto: Verskaf)

Dit is ʼn indrukwekkende stadsplan wat ʼn stad voorsien met ʼn landelike karakter.

Motorvoertuigvervoer word beperk en die beplande stad is stapvriendelik. Die stadsplan is uit die psige van die Afrikaner ontwerp. Dit is ʼn stad, maar erken Afrikaners se strewe na oopheid en die natuur.

In die hart van die stad gaan ʼn plein wees; effens Europees maar op ʼn Boere-kuiermanier. Daar gaan winkeltjies en kuierplekke, parke en wandelpaadjies wees. Iewers op die plein gaan oom Paul Kruger ook staan. Volgens Gawie Snyman wil hulle hom op die nuwe plein laat staan as ʼn stem uit die verlede wat saam met ons na ʼn hoopvolle toekoms roep.

Die hart van die stad is ‘n plein (Foto: Verskaf)

Tipies Orania gaan die gemeenskap deur werkswinkels en deelname help dink oor hoe hulle plein presies moet lyk. Dit is immers ʼn gemeenskapstad.

Aangrensend aan die plein is die studentekoshuise. Orania gaan ook ʼn universiteitsdorp wees. Volgens die plan grens die koshuise weer aan ʼn groot stuk grond wat vir tersiêre opleiding geoormerk word. Daar word vir tussen 3 000 en 5 000 studente voorsiening gemaak.

Die hospitaal en die aftreeoord gaan nie ver daarvandaan wees nie. Orania se aftreefilosofie is egter anders – omdat dit veilig daar is en daar ʼn betrokke gemeenskap is, word ouer mense aangemoedig om solank moontlik in hulle eie huise aan te bly, eerder tuis versorg te word en om aktief by die gemeenskap betrokke te bly.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van die koshuise wat gebou gaan word (Foto: Verskaf)

Volgens die stadsplan gaan skuins agter die hospitaal ʼn groot groen area wees wat vir die vestiging van wild en ʼn netwerk van wandelroetes geoormerk word.

ʼn Verskeidenheid nuwe woongebiede word beplan. Die gedagte is dat klein gemeenskappies om woongebiede gevorm word. Die planne neig deurgaans weg van die idee van die tradisionele grootstad, want Afrikaners bly in die stad, maar is nie in hulle harte stedelinge nie.

 

Gannabos, een van die nuwe behuisingsprojekte op Orania. Daar word ook nou gebou aan 64 woonstelle vir gesinsbehuising. (Foto: Verskaf)

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, sê ʼn stad is noodsaaklik vir ʼn ekonomie van skaal, spesialisasie, veiligheid en politieke krag. Stede het regerings, lande en ryke oorleef en is ʼn kragtige politieke instrument. ʼn Werklikheid op die grond is altyd sterker as ʼn reg op papier.

Frans sê egter ook ʼn plek vir Afrikaners kan nie sonder ʼn groter streek bedink word nie. Orania kan nie net ʼn stad wees nie, maar moet ook ʼn landstreek wees. Die omgewing waarin Orania val, is ʼn demografiese lugleegte. Met die relatief min mense in die omgewing kan Afrikaners ʼn meerderheid in ʼn groot gebied wees. Vergeleke met soortgelyke grondoppervlaktes in die wêreld kan 500 000 of selfs ʼn miljoen mense hulle teoreties daar vestig.

Orania dink groot, maar doen nou. Hulle wil nou eers 10 000 mense so gou as moontlik daar vestig. Daar is nou sowat 3 000 inwoners.

Die rioolplaas wat gebou is om infrastruktuur te voorsien vir die groei wat beplan word. (Foto: Verskaf)

Elektrisiteitsinfrastruktuur is reeds vir die soort groei opgegradeer. Die rioolaanleg is nuut gebou en kan modulêr uitgebrei word om groei te hanteer. Bo-Karoo Opleiding is gevestig, nuwe werkswinkels, ʼn proefplaas vir landboustudente, koshuise en nuwe geboue word vanjaar en volgende jaar gebou.

Altesaam 64 woonstelle word vir gesinne gebou; dienste word tans vir nog 400 woonerwe aangelê; privaat ontwikkelaars ontwikkel dat die stof so staan; en die padinfrastruktuur word opgegradeer. Willie Nel, verskaffer van boumateriaal op Orania, sê ʼn rekordgetal boumateriaal is die afgelope maand in Orania verkoop.

Trotste bouers van die nuwe rioolaanleg (Foto: Verskaf)

Frans sê verder Orania bied ʼn demografiese antwoord op ʼn demografiese probleem. Afrikaners is oral waar hulle bly ʼn minderheid en die instellings rondom hulle swig onder die demografiese werklikhede. In sy wese is Orania se plan op arbeid gevestig. Afrikaners in Orania doen hulle eie werk. ʼn Gemeenskap wat nie hulle eie werk doen nie, word vinnig ʼn minderheid in hulle eie wêreld. Mense wat vir jou werk is nie net werkers nie, maar mense met idees, drome en aspirasies.

Orania wil ook nie net een klassestelsel met ʼn ander vervang nie, maar werk hard daaraan om eerder ʼn gawestelsel te vestig waarvolgens almal se gawes as geskenk van God en gelyk voor Hom gesien word.

Padinfrastruktuur op Orania word opgegradeer (Foto: Verskaf)

Ek was onlangs weer op Orania. Die energie is aansteeklik. As ek my oë toemaak, die tendens in Orania vorentoe trek en versnel, kan ek iets sien wat my opgewonde maak. As ek my oë toemaak, die tendens in die res van die land vorentoe trek en versnel, maak dit my baie bekommerd.

Orania is deel van ʼn oplossing, maar bied nie die volle oplossing nie. Afrikaners is oor die land versprei, waarvan baie in die stede, waarvan die meeste in Pretoria woon en talle wat semigreer.

Oom Paul Kruger sal ‘n nuwe tuiste op Orania se stadsplein vind (Foto: Verskaf)

Ons plan kan dus nie net Orania wees nie, maar Orania is deel van die plan. Ek help graag om daar ook te bou; dalk nie nou vir my nie, dalk nou vir iemand anders. Dalk in die toekoms vir my, maar dit kan die droom van ʼn alternatief vir talle van ʼn volgende geslag wees. Die toekoms is net té onseker om nie ʼn alternatiewe plek ook te hê nie.

Terug by oom Paul – toe die Paul Kruger-standbeeld van die Pretoriastasie na Pretoria se Kerkplein geskuif is, was die argument dat oom Paul in die hart van die Afrikanerstad moet staan. Die Orania-gemeenskap is besig met ʼn veldtog om geld in te samel om ʼn nuwe Oom Paul, volgens dieselfde ontwerp as die Oom Paul-beeld op Kerkplein in Pretoria, te bou.

As ek na die energie en planne vir Orania kyk, lyk dit vir my die nuwe Oom Paul-standbeeld gaan in die hart van die nuwe Afrikanerstad staan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Pragtig! Orania wikkel vorentoe. Maak ook plek vir ‘n lughawe. Maar waarom die beheptheid met Oom Paul? ‘n Beeld van Oom Carel B. op die stadsplein is meer gepas.

Duskolos ·

Oom Paul is waarskynlik die grootste simbool van die Afrikaner se vryheidstrewe, en weens praktiese redes kom nie een van ons juis gereeld op Kerkplein nie. Prof Carel sal sy beeld kry – hy moet onthou word as die grondlegger van Orania.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vir Afrikaners in die ZAR, miskien ja. Maar nie vir Vrystaters en Kapenaars nie. Die Vrystaatse presidente was geleerde manne met LLBs en selfs PhDs. Hulle het hul in republiek tot die einde.

Republikein in die Wes Kaap ·

“Hulle het hul republiek gedien tot die einde”.

Sat Tier ·

Ek dink nie dit is ‘n “een of die ander” – situasie nie. Orania is ‘n kultuurdorp waar daar nog baie standbeelde opgerig gaan word. Mens hoor selfs sprake van Pioniersbeelde.

Begin sommer nou die fondsinsameling vir Oom Carel se beeld – ek is seker niemand sal dit teenstaan nie ;)

Alexander ·

Vir wat wil jul so afgodsbeelde oprig, die geldjies kan beter benut word elders

Christine ·

Dit is NIE afgodsbeelde nie. Dit is om die nageslag te herinner aan helde uit ons geskiedenis. Moenie beelde van Christus en Maria wat vir aanbidding gebruik word verwar met beelde uit ons geskiedenis nie.

Sat Tier ·

Na meer as 30jaar spog Orania steeds!

Ek wonder wat is die volgende “onmoontlikheid” wat Orania gaan laat realiseer?

Harley Davidson ·

Wat n positiewe inspirerende storie is die nie ,die Afrikaner se geskiedenis word herskryf.

Fluisterwind ·

Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God… President Paul Kruger wou destyds nie die beeld gehad het nie! Die beelde wat ons so oprig of rond karwy in die naam van kultuur is twak! Dit is deel van ons Afrikaner Boer volk se ondergang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.