Verhoogstuk oor Afrikaner-verlede gewild oor relevansie, hoop

Ek wil graag in hierdie, my eerste bydrae tot Dié Groot Debat, ʼn paar gedagtes deel waaroor ek baie peins en tob. Ek formuleer dit in drie vrae:

1)    Hoekom lok sekere teaterstukke groot gehore en ander nie?
2)    Hoekom oorleef sekere teaterwerke die tyd waarin hulle geskep is en ander nie?
3)    Wat beteken dit om in Afrika, Afrikaner te wees?

Om die laaste van hierdie vrae te adresseer, sal ek graag die gehoor se reaksie op my en Sean Else se musiekspel, Ons Vir Jou, bietjie analiseer.

Die vrae wat ek gestel het, is nie maklike vrae nie. Tog is daar ʼn paar gedagtes waaroor ons met verwysing na hierdie vrae kan besin… al is dit dan uit ʼn uiters subjektiewe perspektief.  Ek begin met die stelling: Die rede hoekom sekere teaterstukke groot gehore lok en ander nie, is omdat teaterstukke wat groot gehore lok, relevant is.

William Shakespeare (1564-1616)

Ek glo vas die kunste moet relevant wees, dat die kunste ʼn poging tot kommunikasie is tussen kunstenaar en kyker.  Ek skaar my dus by daardie kunstenaars wat die ivoortoring van selfbevrediging ten koste van kommunikasie – die art pour l’art skool van denke – verwerp.  Hier kan ek dit nie beter stel as wat daardie uiters en ewig relevante dramaturg, Shakespeare, dit gestel het nie:

“…the purpose of playing… both at the first and now, was and is, to hold as ’twere the mirror up to nature: to show virtue her feature, scorn her own image, and the very age and body of the time his form and pressure.”

Laat ek dit onderskraag:  “to show… the very age and body of the time his form and pressure.”

Om deur die kuns die vorm en druk van die tyd waarin daardie kunswerk geskep word, uit te beeld.

Oukei, alles goed en wel… maar  wat presies beteken ‘relevant’? ʼn Relevante kunswerk, na my mening,  spreek tot tydige probleme van die tyd. Hierdie is belangrik en vorm inderdaad die kern van my eie benadering.  As dramaturg gee ek my karakters probleme om mee te worstel wat beide my instink en my eie marknavorsing my rede gee om te glo probleme is wat die mense in my teikengehoor ook mee worstel – d.w.s relevant is.

Sentraal tot my benadering is die oortuiging dat alles… en ek bedoel alles in die lewe, is eenvoudig die soeke na ʼn oplossing vir een probleem na die ander. Om die punt  te illustreer… neem byvoorbeeld ʼn knoop op jou hemp. ʼn Knoop is die oplossing tot die probleem van hoe om twee stukke lap aan mekaar vas te bind en baie belangrik, maklik weer los te maak. Waterpype en krane is die oplossing tot die probleem van hoe om water vinnig en maklik te kry sonder om myle na ʼn rivier of spruit te loop waar daar ook die gevaarlike probleem bestaan dat jy deur ʼn krokodil geëet gaan word. ʼn Geweer is die oplossing vir die probleem van hoe om ʼn mens op ʼn afstand dood te maak, eerder as van aangesig tot aangesig met jou kaal hande. En so kan ek aangaan… Stoele – sodat ons nie hoef te hurk of staan nie. Bottels – sodat ons vloeistowwe gerieflik van een plek na die ander kan neem of kan stoor. Die probleme kan konkreet wees – soos ʼn knoop; of uiters abstrak, soos geloof en gode. Religie is inderdaad die oplossing tot die grootste en mees relevantste probleem op aarde – die dood – want daar’s nie ʼn mens op aarde wat nie met hierdie probleem sit nie.   Religie maak ook groot bydrae tot die baie fyn probleme rondom moraliteit – die ‘hoe sal mens reg leef?’ probleme. Vandaar die tien gebooie – tien oplossings tot die probleem van hoe om ʼn beter lewe te leef. En dan Christus se oplossing vir ʼn goeie lewe:  vergifnis en liefde.

Hoe belangriker dit vir ons oorlewing is om ʼn probleem op te los (d.w.s hoe meer relevant daardie probleem is), hoe meer moeite is ons bereid om te doen om daardie probleem op te los en hoe meer aandag sal ons daaraan skenk. Daar is dus ʼn rangorde van probleme wat ons daagliks oplos en, soos ons aangaan, prioritiseer ons daardie probleme. Byvoorbeeld, as jy in ʼn restaurant sit en eet, los jy die probleem van voeding op, maar as die armed response bel en sê dat jou alarm by die huis afgegaan het, dan word die veiligheid van jou besittings ʼn hoër prioriteit as voeding, en gaan los jy eers daardie probleem op. Met ander woorde, hoe hoër die kry van ʼn oplossing tot ʼn probleem op die prioriteitslys staan, hoe meer relevant is daardie probleem en omdat daardie probleem hier en nou opgelos moet word, is hy tydig… relevant tot die hier en nou.

Dit is dus my standpunt dat die impak van ʼn kunswerk versterk in direkte proporsie met die relevansie van die probleme wat daardie kunswerk ondersoek. Verder sal die verbruik van daardie kunswerk ook groei tot namate mense besef hoe relevant dit is – m.a.w. hoë vlakke van probleem-relevansie gekoppel met toeganklikheid lei tot hoë verbuikersgetalle.

Trois Couleurs: Bleu (1993)

Dan ook die volgende:  hoe meer konkreet of toeganklik die probleem, hoe makliker is dit om te verstaan en hoe groter die potensiële gehoor. Hoe meer abstrak of ontoeganklik, hoe kleiner die potensiële gehoor. En dis hoekom meer mense na sport kyk as byvoorbeeld na ʼn rolprent soos Three Colours: Blue. Neem byvoorbeeld rugby. Die probleem is konkreet en baie duidelik – kry hierdie bal verby daardie mense tot agter daardie lyn. Eenvoudig.

Maar die probleem waarna daar in Three Colours: Blue gekyk word is ʼn hoogs komplekse sielkundige probleem:  hoe om die self met die self te herintegreer na verskriklike persoonlike verlies.

Daarom sê ek altyd dat ʼn klug-komedie die teater ekwivalent is van ʼn rugbywedstryd: 1)  die probleem is konkreet:  Hoe kry ek hierdie knypie op die kant sonder dat my vrou uitvind;  en 2)  baie relevant – want dit gaan oor seks. En seks, soos die dood, is ʼn probleem waarmee feitlik elke mens op aarde worstel en oor die algemeen hoog op die probleem-prioriteitslys het. ʼn Klug los ook die probleem op van lekker lag, wat op sy beurt my help om vir ʼn ruk te vergeet van ander probleme wat ek nie kan oplos nie, soos my oortrokke tjekrekening, my tiener kinders, wat in my vrou of my man se kop aangaan, ensovoorts.  En daarom sal ʼn klug-komedie groter gehore lok as ʼn Tjekov, waarin die probleme uiters subtiel is.

ʼn Klug het ook ʼn lekker antwoord aan die einde. Die probleem word opgelos, teenoor ʼn meer komplekse werk wat net na die probleem kyk – To be or not to be – en geen antwoorde of oplossings aanbied nie. Soos een van my studente jare gelede na ʼn lesing in filosofie vir my gesê het:  “Ek verstaan nou hoekom ons filosofie swot.” Heel beïndruk vra ek: “En hoekom is dit?” Sy antwoord: “Nie om ʼn antwoord te kry nie, maar om die probleem beter te verstaan.”

En dit, sou ek sê, is dit besigheid van wat ons “hogere kuns” noem – om ons te help om relevante probleme van die menslike bestaan beter te verstaan eerder as om antwoorde te gee – teenoor rugby wat ʼn antwoord het: 26–10. Baie belangrik: ontoeganklike kuns adresseer nie noodwendig relevante probleme nie; en toeganklike kuns adresseer nie noodwendig irrelevante probleme nie. Ek sien dikwels by die Afrikaanse kunstefeeste stukke wat g’n bleddie mens kan verstaan nie, maar as “groots” geag word juis omdat niemand dit kon verstaan nie.  Dikwels is die ontoeganklikheid eenvoudig ʼn dekmantel om die naaktheid van die keiser te verbloem.

N.P. van Wyk Louw (1906-1970)

En so van kunstefeeste gepraat – en om terug te kom by die begrippe relevansie en toeganklikheid:  die musiektente by die feeste lok meer toeskouers as ernstige dramas, en dit is omdat populêre songs basies gaan oor die liefde, seks, sport of al drie “wie trou dan, wie trou dan, wie trou dan op ʼn final?” – almal relevante probleme, en doen dit op ʼn uiters toeganklike manier, want kom ons wees nou eerlik – die lirieke van ʼn treffer is ietwat meer toegangklik as die poësie in Van Wyk Louw se Tristia byvoorbeeld.  (Ek weet, want ek het al self lirieke geskryf en gebruik selde woorde met meer as twee lettergrepe.)  En boonop het die musiektent ʼn verdere voordeel – jy kan drink terwyl jy daarna luister, en drank, soos ons almal weet, los probleme van die ego en die betekenis van die lewe op. Genoeg daarvan en jy voel kragtiger as ʼn leeu en meer aantreklik as Brad Pitt of Sophia Loren (daar gee ek myself weg)  en so slim jy verstaan alles… of gee nie ʼn dêm om nie – wat terselfdertyd ʼn oplossing vir daardie moeilike probleem is – die omgee wat ander dink.

Nou kan mens vra:  tot watter mate sal ʼn kunswerk wat in ʼn gegewe tyd relevant is, that  holds the mirror up to nature and shows the very age and body of the time his form and pressure nog steeds relevant wees in die jare daarna; met ander woorde die tyd waarin hy geskep is, oorleef?  Soos byvoorbeeld S.J.A de Villiers se Kook en Geniet, wat vir dekades al die probleem van koskook oplos.

Miskien moet mens eerste vra:  Maak dit saak?  As ek daarin geslaag het om in my tyd my gehore met relevante probleme van hulle menslike bestaan te konfronteer, en omdat ek daardie relevante probleme op ʼn toeganklike wyse aangebied het, en dus groot gehore gelok het en baie geld gemaak het, maak dit saak of daardie kunswerk nog oor ʼn honderd jaar relevant is? Hoeveel mense lees werklik nog gereeld die gedigte van C. Louis Leipoldt?  Totius? Tog het hulle met uiters relevante probleme van hulle tyd geworstel, waarvan sommige nog steeds relevant is, en ander nie. Hoekom is dit dat twee skrywers dieselfde probleem kan takel, maar die werk van een bly voortdurend relevant en die ander sak saam met die tyd weg?  Die filosoof Goethe het hierop ʼn antwoord gehad:

“It matters a great deal whether you seek the particular to illustrate a general truth, or whether, in the precise observation of the particular, the general is discovered. The former is mere allegory, and the latter the nature of true art.”

Groot kuns, glo ek vas, slaag daarin om beide “particular” en “general” (d.w.s. universeel) te wees… tydig en tydloos. Dit werk met ʼn tydige probleem op so ʼn manier dat dit vir generasies daarna nog steeds tydig bly.

En dit is waar ʼn partikulêre rugbywedstryd sy buiging moet maak en die verhoog moet verlaat, want as ʼn wedstryd verby is, is hy verby… het hy sy antwoord gegee en is hy daarna irrelevant.  Maar daar is relevante vrae van die menslike bestaan waarvoor daar nie antwoorde is nie, waarvan mens ten beste slegs die probleem ʼn bietjie beter kan verstaan,  wat altyd tydloos tydig is, en as daardie probleme in ʼn presiese tydige uitbeelding van ʼn presiese tyd vervat word, dan bly daardie werke ook tydloos tydig.

Hoe doen mens dit?  Wel… dis ʼn geheim wat net die gode ken.

Hoeveel word daar daarvan by die feeste en in ons formele teaters aangebied? Wie weet?  Een ding is seker:  daardie soort kuns is soos goud – altyd relevant, ewigdurend. Maar wees gewaarsku:  die opbrengs in die gemiddelde Suid-Afrikaanse goudmyn is ongeveer 5 gram per ton erts. By die feeste en in ander teaters grawe ons elke jaar baie erts… hoeveel goud dit sal lewer sal net die tyd kan sê.

Ons Vir Jou (2008/9 en 2012)

Dit dan alles gesê wil ek graag ʼn bietjie na Ons Vir Jou kyk – die musiekspel oor die Boereoorlog wat ek en Sean Else met De la Rey as sentrale karakter geskep het en in 2008 en 2009 in die Operahuis aangebied het, en weer volgende jaar gaan aanbied weens aanvraag.

Eerstens: die besluit om so ʼn musiekspel aan te bied was omstrede. Die oomblik toe ons dit aangekondig het, was daar in verskeie media vurige debatte met stemme beide vir en teen ʼn musiekspel oor die Boereoorlog. Gegewe die punte wat ek tot dusver gemaak het, is dit teen hierdie tyd duidelik dat toe ek sien hoe omstrede die musiekspel was, was ek uiters tevrede, want dit het dadelik vir my bevestig dat die onderwerp van die musiekspel waarskynlik probleme van ons huidige bestaan in hom gebaar het wat nog steeds uiters relevant is vir baie mense.  En probleme wat relevant is skep by uitstek emosie. Vandaar die vurige debatte rondom die stuk.

Die probleme van die Afrikaner se huidige menswees en bestaan in Suid-Afrika wat in Ons vir Jou vervat word kan in die volgende vergelykings tussen die Afrikaner in die tyd van die Boereoorlog en die Afrikaner van vandag deur middel van ʼn paar konsepte wat Antjie Krog uiteen gelê het, en ʼn paar wat ek self bygevoeg het, ontleed word:

  • Gedurende die Boereoorlog was die Afrikanervolk min teen baie.  Vandag voel dit ook so.
  • Gedurende die Boereoorlog het die Afrikaner persoonlike berowing, ontneming en verlies ervaar, en vandag, met sy kapings, moord, geweld en misdaad, ervaar ons dit weer.
  • Die Boereoorlog was, vir die Afrikaner, ʼn onterwing, die wegneem van sy land en status, en vandag, met BEE en diskriminasie teen wit mense en veral die Afrikaanse taal voel ons weer onterf.

Bo en behalwe hierdie parallelle tussen die Boereoorlog se tyd en die hede, is daar ook teenpole tussen toe en nou:

  • Die Afrikaner toe was ʼn nasie met eer en waardigheid, maar vandag, met Apartheid se sondes as deel van ons nalatenskap, dra ons nou aan gevoelens van skaamte en skuld – iets wat die ANC se propagandamasjien gedurig beklemtoon.
  • Die Afrikaner van toe het ʼn diep sin van gemeenskap beleef, teenoor vandag se fragmentasie en die afbreek van gemeenskap en identiteit (inderdaad, jy mag jouself nie eers meer Afrikaner noem nie sonder dat jy van rasisme beskuldig word).
  • Die Afrikaner van toe het ʼn diep oortuiging gehad gebore uit “Ik ben een Afrikaander” – ek hoort hier – dis die land wat die Here my God aan my gegee het, teenoor vandag se diaspora – met Afrikaners en/of ons kinders wat die land verlaat – nie meer voel dat daar ʼn toekoms vir ons hier is nie, inderdaad, dat die Here wat ons hier gebring het, ons nou verlaat het.
  • Die onreg van die Boereoorlog het die klein Boerevolk iets wat die Engelse “the moral high-ground” noem, gegee, teenoor die Afrikaner se post-Apartheid “moral low-ground” – weereens iets wat die ANC se propaganda masjien ons gedurig aan herinner.
  • Die Boereoorlog was ʼn tyd van sterk, eerbare, heroïese leiers. Vandag het ons volk nie eers ʼn leier nie, nie eers om te praat van sterk en eerbaar nie. Vandaar die ongelooflike populariteit van die lied De la Rey – sal jy die Boere kom lei… En dit is ook hoekom ons soveel hoop gehad het met Nelson Mandela, want dit het gevoel asof hy werklik ons leier ook kon wees. Maar kyk wat is ons opsies nou!
  • Die Afrikaner van die Boereoorlog se tyd was ʼn volk met ʼn erkende geskiedenis, teenoor vandag se tyd waarin ons geskiedenis ontken word, letterlik uit die boeke uitgevee word. Soos ons in Ons Vir Jou geskryf het: “Enige nasie, nes enige mens, wat nie onthou wie hy was nie, sal nie weet wie hy is nie, en kan nie droom oor wat hy nog kan wees nie.” Om ʼn volk se verlede te ontken, is om sy toekoms te ontken.
  • Laastens, ten spyte van die oorweldigende oormag waarteen die Boere gedurende daardie oorlog baklei het, het ons tog as volk oorleef. Vandag is ons nie seker of ons sal nie. Tog is ons nog steeds hier… so ons wonder…

Ons Vir Jou se implisiete boodskap aan die hedendaagse Afrikaner is: As nasie is ons nie slegs ʼn nasie van skaamte en skuld nie, ons is ook ʼn nasie van eer en waardigheid; strek ons geskiedenis veel wyer en loop hy dieper as net Apartheid; het ons as minderheid teen verskriklike gevaar oorleef en kan ons weer teen verskriklike gevaar oorleef; en herinner dit die mense wat dit gesien het dat al het ons na 1948 verskeie leiers gehad waarop ons vandag nie trots is nie, het ons in ons verlede edele leiers gehad en daardie eienskappe sit nog steeds in ons volk. Op die ou end bring Ons Vir Jou ʼn boodskap van hoop en waardigheid in ʼn tyd waarin een van die Afrikaner se grootste probleme ʼn diep gevoel van hopeloosheid en waardeloosheid is.

Hierdie is alles van die probleme van die Afrikaner se hedendaagse bestaan wat in Ons Vir Jou aangeraak is… en soos julle kan voel, is dit uiters relevante probleme – so relevant dat selfs mense wat nie Afrikaners is nie, baie daaroor te sê gehad het. En omdat hierdie probleme nie net emosioneel relevant is nie, maar ook in die toeganklike vorm van ʼn musiekspel aangebied is, het dit groot gehore gelok.

Nou ja – sal Ons Vir Jou die “age and body of the time” wat hy weerspieël en waarin hy geskep is, oorleef?  Ek weet nie, maar wat ek wel weet is dat sy tydloosheid bepaal sal word deur tot watter mate die probleme waarmee die stuk worstel nog steeds in ʼn toekomstige tyd relevant sal wees, om sodoende gehore in daardie toekomstige tyd te help om die probleme van hulle menswees beter te verstaan of selfs beter op te los, sodat hulle op die ou end beter – en met hoop vir die toekoms – kan leef.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deon Opperman

Meer oor die skrywer: Deon Opperman

Deon Opperman is dramaturg met onder meer Ons Vir Jou en Tree Aan! op sy kerfstok.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Boetman ·

Deon, dis ‘n dodelike ontleding van die hele kwessie. Puik gestel. Ons vir Jou sal oorleef omdat dit ‘n puik treffer-stuk was, wat die gemoed onder Afrikaners skitterend raakgevat het, beter as wat al die Wroegers en die Swoegers dit ooit sou kon doen met hulle liggewig “strokie-produksies”.

Om jou weer aan te haal: “Op die ou end bring Ons Vir Jou ʼn boodskap van hoop en waardigheid in ʼn tyd waarin een van die Afrikaner se grootste probleme ʼn diep gevoel van hopeloosheid en waardeloosheid is”.

Baie geluk, en doen so Voort!

Boetman

Anoniem ·

Vandag se jongmense soek weer na hulle wordtels. Hulle wil weet waar hulle vandaan kom en hulle soek redes om trots te wees op wie hulle is. Dit is presies wat ONS VIR JOU vir my beteken het. Ek het die aand toe ek die vertoning gekyk het, uitgestap en toe ons in ons motor klim, speel Klopjag se “Sal nie langer jammer sê nie”. Ek was nog nooit so trots om te wees wie ek is nie. Ek is ‘n boeremeisie.

Louis du Plessis ·

1  Elke keer dat mens jou in dieselfde skepping van Deon Opperman verdiep, sien jy ‘n nuwe lig aangaan. 
 
2  Selfs die “vorm en druk” van ‘n era, wat terselfdertyd die mees universele probleme weerspieël waarmee die mens worstel, argumenteer Deon só oortuigend, kan relevant gemaak word in eenvoudige dramatiese konkrete beelde.  En hoe ernstig waarsku hy teen die teendeel:  Teen produkte wat as “groots” resenseer word maar wat geen mens verstaan nie!  Teen vaagheid, dofheid, ontoeganklikheid – wat die naaktheid van die keiser bedek! 
 
3  So maak hy ons almal skerper. 

Propatria ·

Deon;
Jou werk beindruk my (en dit gebeur min)

Ek sien julle kunstenaars en menigvormers in die kuns bedryf as een van die mees belangrikste skakels tot ons volk se ontwaking, en is heel in my noppies oor die afgelope paar jaar se wending.

Wat vir my kommerwekkend is, is dat jou feite nie heel korek is nie. Ek bedoel nie met hierdie om jou rubriek af te skiet nie, maar versoek dat jy wat ek se behoorlik deurdink.

Jy verwys telkens na Boereoorlog en dan na Afrikaners, asof Afrikaners die Boereoorlog geveg het?
Hierdie sou seker korek gewees het indien daar nie ander Afrikaners was behalwe die Boere nie, maar die woord Afrikaner beteken tog ‘Boorling van Afrika’ wat dan die hele Afrika se inwoners insluit – Toets gerus die woord Afrikaner in engels.
Die enigste internationale erkening ooit teenoor die woord Afrikaner (As volk) kom voor in die ooreenkomste tussen Jonker Afrikaner (Stigter van Windhoek) en die Duitse en Engelse regeerings. (Indien ek feitlik verkeerd is, kan iemand vir my nog erkenings van Afrikaners deur enige ander amptelike regeering voorsien asseblief)

Die konteks van jou gebruik van Afrikaners neem ek wel aan behoort tot die gedagte deur politici geskep om die Kaapse kolonianers ook saam te tel. Hierdie is n gruwel wat gestaak behoort te word, aangesien die Kaapse Afrikaners (Ook genoem Cape Dutch) n amptelike party was teen die Boervolk tydens die Anglo Boere oorlog.

Om sake te bemoeilik was daar wel n ZAR parlamentere besluit om n defenisie aan die term Afrikaner te heg, dit het gelui; n persoon van Europese agtergrond gebore ten noorde van die  vaalrivier (Ek kan dalk verkeerd wees dat dit Oranje rivier is, ek het nie nou my bron op hande nie) 

Indien jy die onderwerp waardig ag kan jy die moeite doen om die verskillende vorme van volksmoord te gaan ondersoek, jy sal vind dat ontkenning van n volk se identiteit erken word as n vorm van volksmoord, en dus pleeg jy dan nie net n onreg teen n Boer om hom n Afrikaner te noem nie maar neem ook deel aan volksmoord.

Die meeste Cape Dutch Afrikaners het geen probleem met die gedagte om as een getel te word met die Boer nie, maar ons Boere vind dit uiters beledigend om saam met die Cape Dutch Afrikaners getel te word. Die vernaamste redee hiertoe is;
1. Een van die trekredes was juis die 500 gemengde huwelike wat reeds voor die trek deur die Kaapse kerk bevestig was, om ons nou te verklaar as een met hierdie skeppers van die Kleurling gemeenskap is nie aanvaarbaar nie.
2. Deurdat die Kaapse Afrikaners n amptelike party tot die ABO was sou dit beteken dat indien ons met hulle saamgevoeg sou word ons medepligtigheid aan die verkragtings en kinder moorde he wat tydens hierdie oorlog gepleeg was.
3. Die Cape Dutch Afrikaner het geen behoefte ooit getoon dat hulle onafhanklik wou wees nie, en soos hulle engelse oorheersing aanvaar het aanvaar hulle vandag oorheersing deur n multikulturele regeering, ons Boere het steeds n hunkering om ons self te bestuur
4. Die Apartheidswette het ontstaan in die Kaap, en het niks met Boere te doen nie, en ons wil nie getel word as onderdrukkers nie, ons is die onderdrukte. Met self ondersoek sal jy vind dat die Boervolk die Afrikane se eie tradisionele hoofmanne erken het en hulle totaal laat regeer het oor hul eie mense soos dit hoort. Eers na die balingskap van die Boer (1902) het die unie regeerings die apartheidswette in Transvaal laat geld.

Dankie vir jou tyd om my relaas te gelees het, ek hoop jy vors my stellings na en verander jou sienswyses om te verwys na Afrikaners en Boere as twee verskilende identiteite.Ons Boere sal jou dankbaar wees daarvoor.

Boeregroete

Deon Opperman ·

Groete Propatria,

Ek gebruik die woord “Afrikaner” in die sin van 1876 se verklaring: “Ik ben een Afrikander” – d.w.s. ek is van Afrika, want ek het ‘n kleintjie daaraan dood dat die houding van ons regering en andere op die een of ander manier probeer ontken dat ek en my volk nie werklik bestaansreg in hierdie hoekie van die we^reld het omdat ons velle nie swart is nie.  Dis al.  Dankie vir jou skrywe, dit was vir my insiggewend en rede tot nadenke.  Deon Opperman

Henk Seymore ·

Deon

Ek stem grootliks saam met u kommentaar oor relevandsie en opmerkings ten opsigte van kunsfeeste, en dink u het dit goed bewoord en estel. In huidige konrteks lyk die Anglo Boere-oorlog analogie lyk vir my soos water aandra in ‘n mandjie pleks van ‘n emmer. Nie alleen het daardie oorlog meer as ‘n eeu gelede plaasgevind nie, en is dus nie eerstehand in hedendaagste heugenis nie, maar die Afrikaanse taal voer hier en nou (soos in tans) ‘n oorlog – hierdie keer nie teen ‘n buitelandse imperialisme nie – maar teen ‘n oorgrote meerderheid van inheemse “Verengelsing” deur Suid-Afrikaners van alle demografiese onderdele van die 48, 7 miljoen totale bevolking in SA.

Indien u hierdie woord “verengelsing” per uitspraak ontleed kry u “ver-engel-sing”. (Talle mense, soms selfs sovele met Afrikaans as eertse taal, dink Engels praat is soos engle wat sing – onverbeterlik!)

Betekenis daarvan binne sosiale verband? Psgografiese relevansie daarvan binne ‘n taalstryd? Verdedigingswaarde binne ‘n kulturele stryd om oorlewing? Goeie analogie om as materiaal te gebruik as morele versterking vir Afriakaners in hierdie stryd?

Ek is glad nie oortuig dat die Anglo Boere Oorlog is nie.

Henk Seymore

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.