Verswakking in staatsonderwys noodsaak eie alternatiewe

Kenteken van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA)

Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) het ‘n boekie uitgegee met die titel: AFRIKANER se eis vir ʼn onafhanklike ONDERWYSOWERHEID.

Mense wonder seker hoekom die GHA ʼn publikasie oor die onderwys uitgee, want die GHA beywer hom eintlik vir die Afrikaanse taal. Wat bemoei hy hom nou met onderwys?

Prof Jacques van der Elst, voormalige voorsitter van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, het ʼn artikel geskryf wat ons hoop om vanjaar nog te publiseer, saam met ander Afrikanerleiers se bydraes oor die Afrikaneronderwys. In dié artikel skryf Van der Elst oor moedertaalonderrig en die belangrikheid daarvan en oor minderheidsregte in ʼn Europese konteks.

Hy skryf dat minderheidsregte in Europa hoog aangeslaan word en uiters belangrik is. En een van daardie minderheidsregte is om jou taal te handhaaf. Aan die einde skryf hy dat die enigste manier hoe jy jou taal kan handhaaf, is deur gehalte moedertaal onderrig. Met ander woorde: Jy moet skole en tersiêre inrigtings hê wat Afrikaans is om te verseker dat Afrikaans kan bly voortleef. Dit is ʼn baie insiggewende artikel.

Die Afrikaner-onderwys is onder beleg

Ons moet besef dat die onderwys van die Afrikaner onder beleg is.

Die vraag is: Wat doen ons daaraan?

Beide die onderwys en landbou in Suid-Afrika is onder beleg. Die landbou weens die ANC se beleid van sogenaamde grondhervorming en die onderwys weens die ANC se transformasie-beleid.

Dit was die boodskap wat tydens ʼn konferensie vroeër vanjaar aan Gwede Mantashe, Sekretaris generaal van die ANC, oorgedra is deur ‘n aantal Afrikanerleiers. Hierdie byeenkoms was in opvolging van ʼn soortgelyke een wat in 2008 plaasgevind het, in aanloop tot die verkiesing van Jacob Zuma as president van die land daardie jaar.

Die feit van die saak is dat 75% van die skole in Suid-Afrika disfunksioneel is. Met ander woorde: Daar gaan net mooi niks aan in 75% van die land se skole! Onwillekeurig kom die vraag by ʼn mens op: wat kan die waarde en standaard dan wees van die matrieksertifikaat wat elke jaar deur Umalusi aan honderde duisende leerlinge uitgereik word?

Tydens ʼn onlangse byeenkoms in Soweto waar die onderwys onder die vergrootglas gekom het, is dit bekend gemaak dat in hierdie disfunksionele skole, onderwysers dronk by die skool opdaag. Of laat. Of onderwysers stuur leerlinge in skooltyd om drank te gaan koop.

Wat nog erger is, is dat onderwysers in dié skole seksuele verhoudings met skoolkinders het.

Elders was daar gerapporteer dat 17 000 skooldogters verlede jaar, net in Natal, swanger geraak het!

Afrikaners moet besef dat hierdie toestand nie binnekort gaan verbeter nie.

Die onderwyskenner, Graeme Bloch, skryf in sy boek The Toxic Mix, dat die onderwys in Suid-Afrika ontspoor het, en dat dit dertig jaar sal neem om te herstel, op dié voorwaarde dat die regte persone nou aangestel word. Destyds, toe sy boek op die rakke verskyn het, was Naledi Pandor die minister van onderwys. Intussen het ons twee ministers vir onderwys gekry: Angie Motshegka vir basiese onderwys (skole) en Blade Nzimande vir hoër onderwys.

Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys

Angie Motshegka, soos almal weet, is bekend vir die 14 skole wat in Soweto alleen in haar tyd as minister van onderwys in Gauteng gesluit is. Dui dit op bevoegdheid?

Die ander rede (en waarskynlik die bedroewendste) waarom die toestand in Suid-Afrika se skole nie gou aansienlik gaan verbeter nie, is oor die geweldige negatiewe invloed van die swart onderwysvakbonde soos Sadou. Sadou is ʼn lid van Cosatu wat op sy beurt ʼn alliansie vennoot is van die ANC-regering. Ons onthou hoe hulle kort voor die rekordeksamens in 2010, na ʼn lang skoolvakansie weens die Wêreldbekersokker, die land op horings geneem het met stakings vir hoër lone. Daardeur het hulle gewys dat hulle niks vir die kinders omgee nie.

Zuma weet dat indien hy ʼn volgende termyn as staatspresident verkies wil word, hy nie met onderwysers en vakbonde moet sukkel nie. Dit verklaar dan ook hoekom die matriek slaagsyfer verlede jaar met byna 7 persentasiepunte gestyg het ten spyte van alles.

Onderwys: die laaste loopgraaf vir Afrikaans

Hoe lyk die Afrikaneronderwys en wat is die toekoms vir Afrikaneronderwys?

Ons het die afgelope aantal jare gesien dat openbare skole toenemend verengels het. In Junie 2009 was daar nog net 667 Afrikaans-enkelmediumskole oor teenoor 1 396 in 1993. Minder as die helfte van ons skole het nog suiwer Afrikaans gebly.

Afrikaanse onderwysers in Afrikaanse skole word nou selfs gedwing om hulle verslae wat na die Onderwysstreekkantore gaan, in Engels te skryf. Ook hulle voorbereiding moet in Engels gedoen word.

Verder moet ons kennis neem dat onderwys as beroep in die Nuwe Suid-Afrika sy aantreklikheid verloor weens die ongedissiplineerdheid van skoolkinders, swak salarisse en swak vooruitsigte. Al minder Afrikaanse blanke begaafde en intelligente jong studente kies onderwys as ʼn beroep.

Volgens mnr. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), is die Afrikaanse onderwyser ʼn spesie wat kan uitsterf! Jaarliks verlaat tussen 600 en 700 Afrikaanse onderwysers die beroep terwyl slegs sowat 200 Afrikaanse onderwysers afstudeer.

Afrikaneronderwys stuur op ʼn krisis af wat ons volk nadelig sal raak.

Op 8 Junie 2008 berig Rapport dat Naledi Pandor, voormalige minister van onderwys, gesê het dat te veel skole te min regstellende aksie doen veral betreffende skole se onderwyserskorps; en dat daar miljoene swart beroepslui is wie se moedertaal Afrikaans is.

Met ander woorde, die ANC wil hê dat die personeelkamer van Afrikaanse skole moet transformeer sodat dit lyk soos die demografie van die land. Ons moet derhalwe verwag dat die model-C skole al hoe meer gaan verswart en verswak.

ʼn Skool is nie net die plek waar kinders geleer word om te lees, te skryf en somme te maak sodat die kind eendag as volwasse suksesvol in ʼn beroep kan staan nie. Dit is ook die plek waar sy identiteit gevorm word – sy taal, geskiedenis, godsdiens, kultuur en tradisies asook die volk se hoë waardes soos dissipline, werkywer, getrouheid en leierskap ingeprent word.

En daarom is volksvreemde onderwysers nie aanvaarbaar in ons skole nie.

En terwyl ons dankbaar is (en dit met alle mag ondersteun) vir die BCVO inisiatief, AROS, SOLTECH en die nuwe Afrikaanse tersiêre akademie wat Solidariteit in Verwoerdburg oprig, is daar tans sowat 480 000 Afrikanerkinders in openbare skole omdat hulle ouers nie die geldelike vermoë het om hulle in privaatskole te sit nie, of nie van beter weet nie, of sommer net nie omgee nie. Ons mag hierdie kinders nie vir die wolwe gooi nie.

Die toekoms van Afrikaner-onderwys

Elke ouer en grootouer moet hulle verantwoordelikheid besef. Ons sal ons moet beywer vir ʼn onafhanklike Afrikaner Onderwysowerheid ten einde te verseker dat ons kinders en kleinkinders gehalte moedertaalonderrig kry. Die Afrikaner as onderskeibare volk en etniese groep in Suid-Afrika het die reg om sy kinders op te voed en te onderrig ten einde sy taal, kultuur, hoë waardes, godsdiens, tradisies en geskiedenis te kan beskerm en uit te bou.

Die toekoms van die Afrikaner se onderwys lê nie binne die huidige onderwysbedeling nie.

Net so min as wat ons inspraak op ander volke se onderwys wil hê, so min wil ons dat ander inspraak op ons onderwys sal hê. Oor die afgelope 17 jaar het ons ʼn dure les geleer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

André Alkema

Meer oor die skrywer: André Alkema

André Alkema is voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Louis du Plessis ·

André ~

1  Die feit dat, van 1 396 Afrikaansenkelmediumskole in 1993, daar teen Junie 2009 slegs 667 oor was, dus, min of meer die helfte, bevestig hoe korrek jou oordeel is oor die verengelsing van onderwys.  As ons ‘n toekomsscenario visualiseer, kan ons net raai hoeveel sulke skole oor nóg sestien jaar gaan oorbly, en oor nóg vyftig jaar.  As dié tendens voortduur, lê die einde van Afrikaans as intellektuele taal om die draai.

2  Maar meer as dit.  Dat jy tereg aanvoer dat Afrikaanse skole nie net onderrig gee nie, maar ook ‘n Afrikaanse identiteit oordra, beteken dat veel meer as intellektuele begrippe besig is om te verdrink in die see van ‘n swart Engelstalige samelewing, wat elke dag die proses van afsterwe met sy regstellingsaksiebeleid aanhelp. 

3  Die gevolg is dat:  Met die uitsondering van enkele gebiede, soos in die Wes-Kaap, lê Afrikaanstaliges intussen soos ‘n dun lagie melk oor die hele land uitgestrooi.  André, as jy met jouself openhartig in gesprek tree, hoe antwoord jy die volgende vraag vir jouself:   

Hoe kry mens jóú onderwys
onder beheer
as jy so ‘n handjievol is
tussen soveel meer? 

André Alkema ·

Beste Louis,
 
Op jou vraag: Hoe kry mens jóú onderwys onder beheer as jy so ‘n handjievol is tussen soveel meer? wil ek antwoord: Nie maklik nie.
 
Dit sal beslis groot moeite, opoffering en oorreding verg om dié doelwit te bereik.
 
Ons moet egter nie terugdeins vir hierdie uitdaging nie, want die lewe van die Afrikaner en sy taal hang daarvan af. Ook die toekoms van ons kinders en hulle kinders wat wag.
 
Die Afrikaner was nog altyd in die minderheid. Tog het ons hierdie land mak gemaak en uitgebou tot die sterkste land in Afrika.  Verder moet ons onthou dat ons voorouers daar waar die Ryndelta in die Noordsee inloop ‘n land geskep waar daar geen land was nie deur die bou van kanale, windmeulens en dyke, en die drooglê van vleilande. Daardie genialiteit vloei nog steeds deur ons are.
 
Ons kan ook hier waar daar nie ‘n land is nie ‘n nuwe land vir ons skep:
 
1.   Ek glo dat elke Afrikanerouer (en grootouer) verlang na gehalte moedertaal onderrig vir hulle kinders en dat hulle bereid sal wees om moue op te rol vir die verkryging en behoud daarvan.
 
2.   Verder is ek van mening dat gehalte onderwys, net soos ons taal Afrikaans, ‘n gemeenskaplikheid is wat ons deel en saambind bo-oor party-politieke en kerklike verskille, en dat ons met ‘n nuwe ideaal die Afrikaners kan saamsnoer in ‘n magtige eenheid tot voordeel van ons almal.
 
3.   Net soos ‘n ouer ‘n plig en verantwoordelikheid, maar ook ‘n reg het om sy kinders te onderrig en op te voed, so het ‘n volk (of gemeenskap) ook ‘n kollektiewe plig, reg en verantwoordelikheid om sy kinders op te voed en te onderrig ten einde sy taal, godsdiens, tradisies en kultuur te handhaaf en om die kind te vorm tot ‘n waardevolle, verantwoordelike en selfstandige volwassene en getroue, hardwerkende wetsgehoorsame landsburger met integriteit, selfrespek, en leiereienskappe.

Daardie reg moet ons opeis.
 
4.   Onderwys is ‘n eie saak!  Die Afrikaner het tans (op hoë vlak) geen inspraak op sy onderwys nie. In ander demokratiese lande het ‘minderheidsgroepe’ minstens ‘n vetostem oor sake wat hulle as gemeenskap raak….
 
5.   Dog word etniese groepe in die RSA erken. ‘Tradisionele’ leiers word in Kontralesa deur die staat in stand gehou en deur ons Grondwet beskerm. Tans is daar sewe swart koningshuise (voorheen 11 of 13) wat deur die belastingbetaler gedra word. Die Afrikaner (ook belastingbetalers) het geen soortgelyke ‘voordele’ nie.
 
6.   As teenprestasie dan daarom die eis vir ‘n (selfverkose) onafhanklike Afrikaner Onderwys-owerheid (AO) wat beheer sal hê oor die sogenaamde model-C skole (Afrikanerskole) en wat ook beskerming sal verleen aan privaatskole soos BCVO, opleidingsentrums soos SOLTECH en tersiêre inrigtings soos AROS en Solidariteit se nuwe Akademie, en ook Afrikanerouers wat hulle kinders tuis wil onderrig.
 
7.   Uit die aard van die saak sal die AO self die salarisse van sy onderwysers betaal. Die bedrag wat die owerheid in elk geval jaarliks aan onderwysers sou betaal het, word oorgedra na die AO. Addisionele geldelike hulp sal van Afrikanersakemanne gekry word wat graag tot so ‘n groot saak sal wil bydrae met die wete dat die geld nie in ‘n groot swart gat verdwyn nie.
 
8.   Verder sal ons ons eie eksamenraad en matrikulasie vrystellingsraad, onderwysopleidingsentrums, vakadviseurs en beheerstelsels hê. Ons sal dan ook die toelatingsvereistes, taal en onderrigmedium, leerplanne en vakinhoude, voorgeskrewe boeke, onderrigmetode (beslis nie UGO nie), en die gehalte en standard in ons skole bepaal.
 
PLAN VAN AKSIE
 
1.   Ons teikenmark is ouers, grootouers en skoliere. Dan ook Afrikanerbeleidmakers met invloed. Die eerste stap is om hulle in te lig oor die stand van sake betreffende die land se onderwys en die alternatief daarvoor. Derhalwe die boekie AFRIKANER se eis vir ‘n onafhanklike ONDERWYS-OWERHEID. Dit, soos u miskien sou kon aflei uit die stuk hierbo, is ‘n voorloper vir ‘n omvattender publikasie met standpunte oor die onderwys deur verskeie akademiese, kulturele en politieke Afrikanerleiers wat hopelik vanjaar nog sal verskyn. Openbare vergaderings sal landwyd gehou moet word.
 
2.   Kry ‘n ondersteunersbasis, want namens wie praat jy? Die GHA is besig met ‘n veldtog om 1 000 000 persone te kry (met kontakbesonderhede soos vonkposadres en selfoonnommer) om ‘n DEKLARASIE te onderteken, waarin hulle onderneem om hulle te beywer vir ‘n onafhanklike Afrikaner Onderwysowerheid. (Die GHA het in 2006 nagenoeg 96 000 handtekeninge gekry teen die SABC-nuus se Tshwane breinspoeling….)
 
3.   Omdat onderwys ‘n kultuursaak en volksaak is, word daar reeds met individue uit Afrikanerbemande Kultuurorganisasies gepraat met die oog om saam te staan en saam te werk aan dié saak. Verder is daar ‘n liggaam op die been gebring, die Afrikaner Onderwys Direktoraat (AOD), wat as voertuig kan dien om alle organisasies wat ‘n belang het, by die onderwys te betrek. Die AOD is nog aan die oppervlak doenig, maar ons moes iewers begin.
 
4.   Naas die aandrang op ‘n Afrikaner Onderwysowerheid, moet daar prakties beslag gegee word aan ons eie onderrig instellings soos die wat deur Solidariteit geïnisieer is en die BCVO.
 
5.  Geen organisasie kan sonder geld funksioneer en soos Flip Buys onlangs opgemerk het: Geld vloei na instellings waar resultate behaal word. Ek glo dat ons geldelike steun sal kry van die 1 000 000 ondersteuners vir die AO. Daar is ander moontlikehede waarop ek nie nou wil ingaan nie.
 
VOORDELE.
 
1.   Indien ons suksesvol is met hierdie aksie en slaag in ons doelwit, sal ons die selfrespek van die Afrikaner herstel. Dit sal vir ons nuwe deure open met nuwe moontlikhede soos bv ‘n onafhanklike Afrikaner staat (en selfbestuurde gebiede in die NSA).
 
2.   Die Afrikaner sal weer vertroue in sy leiers ontwikkel wat gewys het dat hulle ‘n visie het en weet waarheen hulle gaan.
 
3.   Die Afrikanerouer sal weer moed skep en vertroue in die toekoms ontwikkel wat op sy beurt oor sal spoel na die kind wat weer respekvol teenoor sy onderwyser sal optree wat hom of haar help bou aan ‘n nuwe toekoms.
 
4.   Die gesin, die kleinste bousteen van die volk met taal, kultuur, geskiedenis, godsdiens en tradisie as die sement sal gedy en die volk op sy beurt versterk en uitbou.

Louis du Plessis ·

André ~

1  Wat ‘n omvattende agtergrond, aksieplan en voordele vir die Afrikaner se beheer oor die onderrig van sy kinders spel jy uit!  Jy verbind dit voorts aan die reeds bestaande Afrikaneronderwysdirektoraat (AOD) wat – daarna strewe jy – op pad is na ‘n gesaghebbende Afrikaneronderwysowerheid (AO).  Dit sou ook kan bydra tot die verwesenliking – voorsien jy – van selfbesturende gebiede en ‘n onafhanklike Afrikanerstaat. 

2  Dat jy dit so deeglik uiteengesit het, word opreg waardeer.  Dié van ons wat nog nie soveel tyd soos jy en die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) aan dié model gewy het, kry nou kans om daaroor te besin en dit te steun.  Nogmaals waardering vir die wyse waarop jou artikel sowel as jou antwoord pleit vir moedertaalonderrig, spesifiek in Afrikaans.

Met dank en agting

André Alkema ·

Beste Louis,

Dankie vir die geleentheid om verder uit te brei oor die onderwerp. Ek hoop van harte dit sal mense inspireer om meer betrokke te raak, want daar is hoop.

Ook dat die Bruin gemeenskap sal aandring op hulle eie onderwys owerheid om hulle eiesoortige behoeftes te pas. Dit kan beide die Bruin en Afrikaner gemeenskap tot voordeel strek.

Fanie ·

Louis,

Ek stem saam met jou vraag. Ons weet almal wat die probleem is, en ja die Internasionale Reg bied minderheidsregte, maar staatspraktyk gee eindelik die deurslag.

Ek het baie simpatie met Andre se sienings, maar die oplossing onder hierdie regering is moeilik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.