Vlugtelingkrisis: Is 2020 ’n herhaling van 2015?

Duisende vlugtelinge is haweloos ná brande hulle vlugtelingkamp verwoes het. (Foto: Petros Giannakouris, AP)

Die jaar 2015, reeds vyf jaar gelede, was ’n waterskeidingsjaar vir Europa, maar veral vir Duitsland. Dit was die jaar van die instroming van vlugtelinge en migrante op massiewe skaal, nadat die Duitse kanselier, Angela Merkel, sonder enige besluit daaroor deur die parlement of kabinet, die grense vir Siriese vlugtelinge, wat in Hongarye vasgekeer was, oopgestel het.

Dit is verkoop as eenmalige noodhulp en ʼn gebaar van menslikheid. Die mag van beelde, naamlik foto’s van menslike lyding (en joernalistieke seleksie, om eerder hulpelose vroue en kinders as fris jong mans te wys) was vir Merkel blykbaar bepalend en het ’n massiewe vermeerderingseffek gehad deurdat (praktiese gesproke) almal wat wou, na Duitsland kon immigreer omdat grensbeheer tersyde gestel is.

So veel soos 2 miljoen migrante het sedert September 2015 onbeheers na Duitsland (asook Swede, wat eweneens verwelkomend was) gestroom. Die massatrek is eers verlangsaam nadat die lande langs die Balkan-roete, by name Hongarye en Oostenryk, die grense vir die deurbewegende migrante gesluit het.

’n Halfgebakte ooreenkoms wat Merkel met Turkye onderhandel het, het ook meegebring dat talle vlugtelinge daar teen finansiële vergoeding vasgehou is. Die instroming het egter op kleiner skaal voortgeduur.

Ná die aanvanklike euforie oor die immigrante wat as heilsbringers deur die media en talle politici geprys is (“Ons kry mense geskenk!”) was byvoorbeeld die opgewonde uitspraak van die destydse leier van die Groenparty, Karin Göring-Eckardt) het daar ontnugtering ingetree in 2016 en daarna, toe daar al hoe meer voorvalle van aanranding, verkragting, moord en selfs terreur deur die einste migrante gepleeg is.

In 2017 se algemene verkiesing het ’n swaai na regs plaasgevind, met die intog van die regsgesinde Alternative für Deutschland (AfD) vir die eerste keer in die nasionale parlement. Die regerende Christen-Demokratiese Unie (CDU) het beklemtoon dat gebeure soos in 2015 hulself nie moet herhaal nie, sonder om egter Merkel se fatale blaps te erken.

Die vlugtelingevraagstuk het egter in die volgende jare weer meer in die agtergrond getree, met die klem nou sterk op klimaatverandering en ander omgewingskwessies en later op veral die koronavirus.

Migrante bly in tente op straat in Lesbos, Griekeland. (Foto: Petros Giannakouris, AP)

Middel September het daar, toevallig (of dalk nie so toevallig nie), ná ’n betoging ten gunste van die inbring van die vlugtelinge van die Griekse kamp Moria, in die einste kamp ’n brand uitgebreek wat dit totaal verwoes het. Weer, soos in 2015, het die media en politici gepoog om deur middel van beelde en berigte van ellende die harte van die Duitsers sag te maak om so veel as moontlik migrante uit Moria in te neem. Die feit dat die brand deur migrante selfs gestig is om daarmee op die Europese gewete te speel, is egter in meeste gevalle verswyg.

In die parlement was die slagordes opgestel: Die Linke-party en Groenes het geëis dat al die sowat 13 000 migrante uit Moria asook van ander Griekse kampe om menslikheidsredes en weens Europa se verbintenis tot menseregte en demokrasie, ingebring moes word, ongeag of hul aanspraak op asiel het of nie. Die AfD het gewaarsku teen die gevaarlike boodskap wat dit uitstuur, naamlik dat brandstigting beloon word en dat Europa manipuleerbaar is deur beelde.

In die regerende koalisie uit CDU en Sosiaal-demokrate (SPD) was daar ’n toutrek oor hoeveel migrante ingeneem moet word. Daar is uiteindelik ’n kompromis van 2 750 bereik – almal na bewering gesinne en hulpbehoewendes en mense wat aanspraak op asiel het. Ook die koalisieregering het saamgestem dat 2015 homself nie mag herhaal nie, iets wat Die Linke en Groenes blykbaar doelbewus wil doen om Europa se demografie vinnig en ingrypend te verander.

Vlugtelinge het skuilings langs die pad gebou. (Foto: Petros Giannakouris, AP)

Anders as in 2015 is Duitsland, wat die inname van vlugtelinge betref, in Europa nou geïsoleerd. Nadat destyds eers gepoog is om as deel van ’n sogenaamde Europese oplossing vlugtelinge tussen die lidlande van die EU te versprei, wat misluk het weens die weerstand van veral Oos-Europese lande, het Merkel en die Franse president Emanuel Macron ’n “alliansie van die gewilliges” uit lidlande, wat bereid was om vlugtelinge in te neem, gesmee.

Toe Merkel egter nou weer met die voorstel kom dat die gewillige lande moet help met die migrante uit Moria, moes sy agterkom dat sy alleen staan. Oostenryk se kanselier, Sebastian Kurz, het (ten spyte van ’n koalisie met die Groenparty) kategories geweier om selfs net een vlugteling in te neem, en ook uit ander, voorheen gewillige lande soos Frankryk, Denemarke, Swede, Italië en Spanje, het daar net stilswye gekom.

Trouens, amper geen Europese land was bereid om nog meer migrante in te neem nie (Italië het wel onlangs aangebied om 300 Moria-migrante in te neem). Meer nog, Griekeland, anders as in 2015, nou onder ’n konserwatiewe regering, het voet by stuk gehou dat mense wat geen aanspraak op asiel het nie, nie ’n gratis kaartjie na Duitsland sal kry nie, veral nie as hulle betrokke was by brandstigting en plundering nie.

Realpolitiek en die ervarings sedert 2015 het die idealisme en die bloeiende harte getroef en gekeer dat die foute van 2015 herhaal word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Therese ·

Insiggewend!
Lees gerus ook dié breedvoerige artikel in ‘Spiegel International’:
“The Moria Catastrophe and the EU’s Hypocritical Refugee Policy”.
‘n Katastrofe wat direk toegeskryf word aan Merkel se “halfgebakte ooreenkoms” met Turkye.
Merkel se lof is destyds besing en kritiek is nie geduld nie.
Verwys na: 12 Julie 2016 ” ‘n Oorlog kan uitbreek!”- Maroela-artikel.

Autobahn ·

Hallo Therese,
die Spiegel artikel is vir my ´n klassiese voorbeeld van emosionele afpersing, soos genoem in die Maroela artikel, as ek reg verstaan. Almal in die kamp het geweet dit gaan brand. Niemand is beseer nie. Die sogenaamde ooreenkoms met die Turkye was inderdaad halfgebak. En die EU se onvermoë om situasies soos Moria te vermy is meins insiens gekalkuleer.
„Doctors without borders“ staan eintlik vir doctors without ethics.

Hier ´n onderhoud by youtube wat jou mag interesseer wat oa emosionele afpersing en sogenaamde morele waardes tematiseer. Word gevoer met die voormalige hoof van die binnelandse geheimdienste (Verfassungsschutz), Hans-Georg Maaßen wat 2018 deur Merkel (via die minister van binnelandse sake) ontslaan is nadat hy Merkel weerspreek het oor haar aantuigings teen die bevolking van Chemnitz:
Maaßen: So tarnt sich Kommunismus – Antifaschismus, Antirassismus, Ökologismus & Co.

Therese ·

Doodreg.
Politieke implikasies is die hóófoorweging in alles , soos nou weer duidelik blyk in die Covid-19-konsert, met die bevooroordeelde media in die hoofrol om die toon aan te gee.

Vrijburger ·

Duitsland en Swede se geslagte wat kom gaan nog die prys betaal vir hul ‘bleeding hearts’ regerings se emosionele besluite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.