Voorgeskrewe bates is deel van ʼn kommerwekkende patroon

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Deur Theuns Eloff

Die debat oor voorgeskrewe bates het onlangs weer opgevlam, nadat die DA ’n parlementêre debat daaroor aangevra het. Die ANC het op sy beleidskonferensie in Desember 2017 besluit dat ondersoek ingestel moet word na die moontlikheid om spaar- en pensioengeld vir ontwikkelingsdoelwitte te gebruik.

In die parlementêre debat is oor die breë buitelyne gepraat en detail van die ANC se kant af was skaars. Dit lyk nie asof daar sedert die besluit van Desember 2017 veel meer werk oor die saak deur die ANC gedoen is nie. Maar dit maak die saak nie onbelangrik nie – onteiening sonder vergoeding (OSV) was ook vir ’n paar jaar op die rand van ANC-besluite, maar nou is dit die kern.

Die stelsel van voorgeskrewe bates beteken dat die regering in ’n regulasie voorskryf dat ’n persentasie van enige aftreespaargeld wat deur pensioenfondse, aftree-annuïteite, voorsorgfondse en bewaringsfondse bestuur word, in staatseffekte of effekte van staatsentiteite belê moet word. Die staat skryf dus voor in watter bates aftreefondse moet belê. Dit word oor die boeg van die noodsaaklikheid van ontwikkelingskapitaal gegooi – en tans oor die groot skuld van die staat en sy entiteite.

Die Nasionale Party-regering het die stelsel ook tussen 1956 en 1989 met wisselende intensiteit gebruik, ten tye met ’n persentasie van meer as 50%. Die hoofrede was dat Suid-Afrika as gevolg van finansiële sanksies nie toegang tot internasionale finansiële markte gehad het nie. Ander verskille is dat ons toe in ’n tyd van baie hoër rentekoerse geleef het en dat die meeste staatsondernemings effektief bestuur is en markverwante opbrengste gegee het.

Regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse bepaal reeds dat slegs 30% van aftreefondse in buitelandse bates buite Afrika belê mag word, as ’n meganisme om kapitaal in die land te hou. Daar is egter tans geen voorskrifte oor waarin sulke fondse plaaslik mag belê nie. Maar dit kan met ’n regulasie oor voorgeskrewe bates oornag verander.

Dit is bekend dat enige beleid, hoe goed bedoel ook al, onbedoelde (en soms nadelige) gevolge het. Wat sal die onbedoelde gevolge van ’n nuwe beleid van voorgeskrewe bates wees? Finansiële kenners het aangetoon dat die eerste onbedoelde gevolg die grootskaalse verkoop van aandele op die Johannesburgse Effektebeurs sal wees, om aftreefondse in lyn met die voorgeskrewe persentasie te bring. Dit kan die beurs in geheel en voortgesette belegging in die land, ernstig knou. Daarby sal pensioenhouers eenvoudig besluit om uit aftreefondse te tree of op te hou met bydraes, met negatiewe gevolge op daardie sektor en aftreevoorsiening oor die algemeen. Natuurlik sal sommiges, soos staatsamptenare en dié wie se aftreegeld reeds in bewaringsfondse is, geen keuse hê nie.

Daar is regskenners (soos Paul Hoffman van Accountability Now) wat meen dat ’n beleid van voorgeskrewe bates die staat mag blootstel aan grondwetlike hofsake ingevolge art 25 (die eiendomsregsklousule in die Grondwet). As die staat iemand dwing om ’n deel van sy swaarverdiende aftreegeld in ’n entiteit te belê wat minder as markwaarde sal verdien en waar die moontlikheid bestaan om alles te verloor, kom dit volgens Hoffman op onteiening sonder vergoeding neer. Die meriete van hierdie argument is nie nou ter sake nie, maar dit bly ’n besliste moontlikheid.

Die probleem is deels dat die beplande besonderhede van voorgeskrewe bates nog nie bekend is nie. En soos die gesegde lui: die duiwel gaan in die detail wees. Die belangrike punt is dat die beginsel nie ’n goeie een is nie – of dit nou 5% of 50% van aftreefondse gaan wees, dit is in ’n markekonomie die swakste dryfkrag vir beleggings.

Dit is ’n drastiese ingreep op die vrye markstelsel, ’n ernstige beperking op individuele vryheid van keuse en is waarskynlik ongrondwetlik.

Maar die mees kommerwekkende is dat dit deel van ’n ANC-patroon is – ten minste vir die Zupta-deel van die ANC. Dit volg die patroon van OSV en die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel (NGV). Dit probeer mislukkings in staatsbestuur, korrupsie en staatskaping reg te stel deur nabelaste geld en bates van gewone Suid-Afrikaners weg te neem en in skemas in te pomp wat geen kans op sukses het nie.

As die staat nie eens ’n paar groot staatshospitale kan bestuur of regruk nie, hoe gaan hulle ’n NGV van miljarde rande bestuur? As die staat in dertig jaar nie ’n sukses van grondhervorming kon maak nie, hoe gaan hulle dit deur OSV laat slaag? As staatsondernemings soos Eskom, Denel en die SAUK met al die aandag wat dit nou kry, nie reggeruk en ordentlik bestuur kan word nie, hoe gaan die aftreegeld van gewone Suid-Afrikaners help?

Die antwoord is dat dit nie gaan help nie, maar, net soos ons belastinggeld van die afgelope nege jaar, in ’n donker gat gaan verdwyn. En dan word dit die oorsaak en deel van ’n nuwe siklus van armoede – die armoede van pensionarisse en staatsamptenare en gewone Suid-Afrikaners wat al dekades lank vir hulle oudag spaar – ʼn oudag waartydens hulle gedoem gaan wees om armer te wees en meer te sukkel.

Dit is om hierdie rede dat alle Suid-Afrikaners hul teenkanting teen hierdie swak en dom voorstel in die openbaar bekend moet maak, met al die goeie redes hoekom dit ’n uiters slegte idee is. Dit sal dalk die hervormingsgesindes in die ANC se hand versterk en help dat dit nie beleid word nie.

Maar dit is ook belangrik om alternatiewe te bied. Want niemand kan ontken nie dat die staat se geld op is en dat dit ons almal in dieselfde lekkende bootjie plaas.

Die eerste alternatief is dat die regering die staatsfinansies stadig, maar seker moet regruk deur, onder meer, die salarisuitgawes vir staatsamptenare en parlementariërs baie beter te bestuur en nie meer sinlose “lewensboeie” na mislukte staatsondernemings moet gooi nie – in elk geval nie sonder die nodige verskerings dat dit beter bestee sal word in ’n herstruktureerde organisasie nie.

Dit kan net gedoen word as Tito Mboweni, minister van finansies, se ekonomiese regrukplan sonder verwyl en met entoesiasme toegepas word. En dit sal daarvoor sorg dat staatsondernemings ook reggeruk word en dan vrywillige beleggings trek. Die opbrengs op Eskom se effekte is steeds naby 20%, hoofsaaklik omdat die risiko hoog is, maar ook omdat staatswaarborge steeds bestaan. Proaktiewe insentiewe, soos dié vir hernubare energie en die “groen” effekte wat Stad Kaapstad onlangs uitgereik het en wat volledig deur die private sektor opgeneem is, is ook nodig.

As daar goeie redes en insentiewe is, sal gewone Suid-Afrikaners bereid wees om in hul eie en ander se toekoms te belê. Maar om, soos die gesegde lui, “goeie geld agter slegte geld aan te gooi”, gaan nie werk nie. Sommige mag sê dit is nog lank nie beleid nie, moenie bekommerd raak nie. Maar dit is reeds (na Desember 2017) deel van die debat en deel van ‘n reeks faktore wat onsekerheid skep. Pres. Cyril Ramaphosa en die Mboweni mag nie toelaat dat iets wat inherent nie ‘n goeie idee is nie, hulle goeie ekonomiese planne in die wiele ry nie.

  • Theuns Eloff is voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk Stigting

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

PJR ·

Nou ja wigte en teenwigte.
Do you support continuation of the reform process which the State President began on 2 February 1990 and which is aimed at a new Constitution through negotation?
Die oorlewendes van die 68.73% begin nou eers koue voete kry.
Daar breek vir julle ‘n baie moeilike tyd aan, ek kry julle jammer. Die magte wat julle losgelaat het is onhanteerbare perde – PW tydens laaste kabinetsvergadering toe hy genoodsaak was om te bedank.

NS – Ons sien nou nog hoe gallop daardie perde deur die politieke landskap in die vorm van onteiening sonder vergoeding, Nasionale gesondheidsversekering, voorgeskrewe bates vir pensioen fondse en hoë misdaad syfers.

Albert ·

Moenie van die mooiklinkende “magsdeling” feeverhaaltjie vergeet nie.
Dankie tog ek het my pensioen laat uitbetaal en dit oorsee belê. Al 100% van dit wat oorgebly het nadat SARS hulle deel gekry het.

Gemaskerde Sopbeen ·

Toe ek hierdie punt aan Dawie Roodt ge-opper het, was sy reaksie “dit sal nie gebeur nie”…..en ek is ‘n hande-arbeider en hy’s ‘n ekonoom!! Ek wonder nog of ek die e-pos het waarin hy my geantwoord het……

Wim ·

Ja hier by ons kom hou Dawie Roodt ook vir die Boere n ekonomiese praatjie en hoe goed dit nog sal gaan met die Boere en boerdery.Sy een groot uitspraak daardie aand toe iemand hom vra oor Zimbabwe. Half ergelik en opgeruk antwoord hy dit sal nooit in SA gebeur nie.Ek sien hy het ook noual van deuntjie verander,moet nooit sê nooit nie

Jerry ·

Die ANC sal aanhou totdat die ANC sy sin kry. Die ANC se staatskaping het doelbewus plaasgevind om die klimaat vir verandering te skep en die herstel van die skade van staatskaping is alles deel van die plan om verandering (nasionalisering) te implementeer. Staatskaping was uitgevoer deur belastingbetalers te verarm en die ANC elite te verryk en die uitbrei en vestiging van mag met botallige onregmatige kaderstrukture en die ANC het gesien dat dit werk. Die herstel van die staatskaping skade volg dus outomaties en gaan uitgevoer word deur die belastingbetalers verder te verarm deur, bo en behalwe verhoogde belasting, hulle spaarfondse en pensioenfondse ook te kanaliseer vir verryking van die botallige onregmatige ANC kaderstrukture by SOE’s en vir die implementering van verandering (nasionalisering) van kolonialisme na kapitalistiese sosialisme waar die ANC skatryk en meer gelyk as die res sal wees. Korrupsie met die herstel van die staatskaping skade gaan op n baie groter skaal plaasvind as staatskaping self ten einde die koei heeltemal leeg te melk vir die verryking van die ANC ten einde die res se weerstand teen verandering te laat verkrummel deur Suid Afrikaners te verarm en te ontmagtig. Sodra die ANC in sy doel geslaag het om SA te paai, te mislei en finaal leeg te melk, eers dan gaan die ANC wie die rand laat val het deur staatskaping asook deur die herstel van die skade, die rand optel vir die ANC met buitelandse investering (hoofsaaklik China) vir die ANC kapitalistiese sosialistiese staat!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.