Vryheid vereis ysere vasberadenheid

Ernst van Zyl.

Ons leef in onstuimige, dog interessante tye. Die eise van ons dag verg kreatiewe, vernuwende en baanbrekersdenke, wat stewig in beproefde waardes uit ons verlede gewortel is.

Hoe sterker die stormwinde word wat om ons woed, hoe beter moet ons toue en hoe stewiger moet ons tentpenne geanker wees. Ons fokus hoef nie uitsluitlik op ons eindbestemming gevestig te wees nie, want daardie droom is ons dalk nie in ons leeftyd beskore nie. Ons moet koers hou, met ons oë op die pad voor ons gerig. Soos Joost Strydom gereeld sê: “Die enigste ding naastenby so soet soos vryheid, is die stryd vir vryheid.”

Totale eensgesindheid tussen alle vryheidstryders is ʼn onbereikbare hersenskim. Soos met die Groot Trek en met die Boereoorlog, gaan daar verskillende leiers, idees, modelle en visies na vore kom. Die geskiedenis van Afrikaners se vryheidsbewegings bestaan uit baie meer idees wat misluk het, as uit suksesse, maar dit is juis die harde lesse wat uit daardie mislukkings geleer word wat die fondasies van die daaropvolgende suksesse vorm. Die geskiedenis het ons geleer dat die prys van ʼn suksesvolle vryheidstryd altyd die volgende drie noodsaaklike bestanddele insluit: vasberadenheid, geduld en weldeurdagte planne.

Ons moet dit wat Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, onlangs uitgewys het ook heeltyd in gedagte hou: “As mense nie iets kan doen aan diegene wat die probleem veroorsaak het nie, beveg hulle diegene wat die probleem probeer oplos”.

Die Solidariteit Beweging se weldeurdagte plan wat klaar die praktiese uitvoerbaarheid daarvan bewys het, is gemeenskapsfederalisme. Hierdie begrip verwys na die praktiese toepassing van die federale beginsel op gemeenskapsvlak op die volgende manier: In ʼn sosiale orde, soos byvoorbeeld ʼn gemeenskap of nasie, moet bestuursverantwoordelikhede eerstens toegestaan word aan die laagste moontlike sosiale eenheid of assosiasie wat dit kan hanteer.

Slegs wanneer daardie eenheid nie in staat is om daardie verantwoordelikheid na te kom nie, behoort dit deur ʼn sosiale eenheid op ʼn hoër vlak oorgeneem te word. Indien ʼn dorp of ʼn streek byvoorbeeld sy eie krag kan opwek, moet hulle nie gedwing word om afhanklik te wees van ʼn ondoeltreffende staatsmonopolie soos Eskom nie. Gemeenskapsfederalisme stel dus voor dat die grootste moontlike outonomiteit en magte aan die kleinste moontlike gemeenskapstruktuur verleen moet word. Dit sal doeltreffendheid en verantwoordbaarheid bevorder en gemeenskappe weerbaar teen staatsverval maak.

Geen vryheidsplan kan egter suksesvol wees sonder vasberade, gemotiveerde en doelgerigte mense wat bereid is om dit toe te pas nie. Helder, beginselvaste denke moet tot weldeurdagte planne lei, wat gevolg moet word deur daadwerklike aksie. Ons moet diegene wat aan ʼn toekoms vir ons nageslagte bou, met ʼn fondasie van weldeurdagte idees en beproefde waardes ondersteun en saam met hulle skouer aan die wiel sit. Vryheid is baie mense se droom, maar dit is beslis nie slegs een mens of selfs net ʼn paar dapper mense se taak nie.

Daar heers ongetwyfeld omvangryke onregverdigheid in ons geslag Afrikaners se lewensomstandighede, maar kon ons voorouers nie ook maar presies dieselfde gesê het nie? Hoe vergelyk die opofferings wat ons vryheidstryd van ons vandag van ons vereis, met die opofferings wat deur ons voorouers van die Boereoorlog of die Franse Hugenote en Voortrekkers gemaak is? ʼn Dosis nugter perspektief op die Afrikaner se geskiedenis, wat as een groot vryheidstryd opgesom kan word, kan baie help om die regte kanniedood-oorlewingsingesteldheid weer by ons aan te wakker.

CJ Langenhoven het hieroor die volgende te sê gehad: “Van die paaie wat ek gister gekom het, dink ek vandag met die meeste genot aan die swaar opdraande wat ek uitgesukkel het, en met die minste genot aan die maklike afdraande wat ek afgerol het”.

By AfriForum is daar geen twyfel dat ons vanuit ʼn historiese perspektief na ons volk se hedendaagse uitdagings moet kyk nie. Miskien is ons struikelblokke ʼn reeks toetse wat ons moet slaag, om te bepaal of ons kultuur nog ʼn bestaansreg verdien, sodat ons met trots ons voorouers se kultuurfakkel mag voortdra, voordat ons dit vir ons nageslag aangee. Ons generasie moet dringend tot die besef kom dat ons doen en late, per slot van sake, ook ons nalatenskap en die impak van ons hoofstuk op die verdere verloop van ons geskiedenis gaan bepaal. Ons moet doen wat ons moet met wat ons het, want ons gaan nie ʼn tweede kans kry nie.

Om meer te wete te kom oor die Solidariteit Beweging se toekomsplan, gebaseer op gemeenskapsfederalisme, kyk gerus na AfriForum se jongste dokumentêre film, genaamd Selfbestuur:

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marius ·

By die vurke in jou pad is daar altyd ‘n moeilike smal weg en ‘n maklike breë weg. Die meeste mense kies die maklikste uitweg en beweeg saam met die stroom. Eers as hul by die teleurstellende eindpunt kom kom hul spyt gewoonlik te laat. Mag ons geslag Afrikaners die regte keuses maak en nie die maklikes nie.

Kokkie ·

Ek hoor wat jy sê, Marius. Maar dis juis daar by die vurk in die pad waar die moeilikheid lê. In die vroeë tagtigs het ek al met ‘n groot mate van sekerheid kon sien waarop ons land besig was om af te stuur. En nou is ons nog nie by die teleurstellende eindpunt waarna jy verwys nie, en kyk hoe lyk ons land, ten spyte van al die wigte en teenwigte wat dit sou verhoed. Ek het destyds besluit om die ‘moeilike smal weg’ te kies omdat ek baie oortuig was van waarnatoe ons op pad is. Dit was inderdaad ‘n moeilike weg. Ek en enersdenkendes is absoluut verguis, as ‘melaats’ behandel, as rassisties en veel erger uitgemaak. En dit wat ek voorsien het, het gebeur, en veel erger wag op ons. Weer terug by die vurk in die pad: waak teen die media, waak teen die onbereikbare gerusstellings van pollitici. ontbeer die kritiek , selfs verwerping van famile en vriende. Gebruik jou gesonde verstand en vat dan die paadjie van jou eie oortuigin, maklik of moeilik…en stap hom.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners is ‘n minderheid in ‘n mislukte en ekstrimisitiese staat met verkeerde vriende. Dis ‘n tripple whammy, met verreikende gevolge vir Afrikaners. Dis ‘n oorlewingstryd en meer opsies is dringend nodig. Anders as vorige generasies het ons nie die luukse om geduldig te wag vir die goue skip nie. Ons gaan binne een generasie deur die massas en hul probleme verswelg word, en moonlik die land se vyande. Gemeenskapfederalisme is wel ‘n gerieflike opsie om ons daaglikse bestaan draaglik te maak. Maar sonder ‘n duidelike politieke en staatkundige visie wat met breë konsultasie van gewone mense ontwikkel en eerlik gekommunikeer word, sal ons voort ploeter. Ons herhaal nou die foute van die verlede waar die AB die enkele denkers was. Om nie eers te praat van die Afrikaner fiasko by Kodesa nie. Die risiko is dat Solidariteit se wa nou in ‘n rigting jaag met party Afrikaners op die wa, ander wat afval en dié wat toekyk. Dink weer, dink groot, konsulteer wyer en kommunikeer deurlopend.

Marius ·

Soos ek Afriforum verstaan moedig hul elke gemeenskap aan om volgens hul eie behoefte en vermoë die graad van hul gemeenskapsfederalisme te bepaal en na te streef sonder om voorskriftelik te wees. Afriforum sal alle gemeenskappe ondersteun soos wat hul met Orania doen maar kan weens beperkte mannekrag en hulpbronne nie alles vir alle gemeenskappe doen nie. Sit jou staatkundige plan op die tafel en kyk hoeveel steun kry jy in jou gemeenskap en gaan praat dan met Afriforum en vra hul raad en ondersteuning.

Goldy ·

Onafhanklike weskaap sal absoluut noodsaaklik wees om hulle te red. Orania sal moet groter wees, nie baie nie, maar genoeg vir energieopwekking en n stuk seefront sal ideaal wees. As genoeg boere grond eerder aan so n eenheid gee eerder waar hulle grondregte beskerm sal word, eerder as om dit inelkgeval zim styl te verloor, sal ook n goeie oplossing wees, met seen van internasionale wette en konstitusie.

gatgogga ·

“Geen vryheidsplan kan egter suksesvol wees sonder vasberade, gemotiveerde en doelgerigte mense wat bereid is om dit toe te pas nie.”
Verstaan ek reg? Om slegs te murmureer en bid is nie genoeg nie?

OW ·

Jy verstaan heeltemal reg.Ons is nie hier op aarde geplaas om alles te vergeestelik en te kla nie.Ons het ook verstand gekry om planne te maak en probleme op te los.

Goldy ·

Presies reg. christengemeenskappe in amper alle midde oosterse lande is reeds uitgedruk. Ons het n brein en hande gekry en moet doen, nie passief met hande gevou sit nie. Opstaan en nie op kniee wag nie.

Kokkie ·

Dit is volkome waar. Dit gaan dikwels nie maklik wees nie. Jy gaan verwerping en teenstand van die liberale en agteroorbuigers ervaar. Die versoeking gaan kom om maar gods water oor gods akker te laat vloei, die weg van die minste weerstand te volg en jou maar saam met die stroom te laat wegsleur. Maar dan durf jy nie agterna kla nie. ‘n Vryheisdsplan moet egter ook voortspruit uit ‘n samesnoerende kennis van waarvandaan jy kom: geskiedenis, kultuur, waardes, oortuiging en waarnatoe jy oppad is, ‘n duidelike en werkbare plan vir die toekoms. Dis die dinge wat ons moet motiveer en doelgerig maak.

skurweberg ·

‘n Stelling met Motivering:

Leiers in verskillende samelewingsverbande bv. kerke, politiek en Burgerlike organisasies verloor tred met die realiteite op grondvlak waar gewone mense moet oorleef.

Motivering: Spreuke 30: 7-10

“Oordeel vir jouself”

annie ·

Afrikaners. Waar en wie is hulle? Hier op papier is ons Afrikaners, maar buite is almal vreemdelinge, effektief vyande en opponente. By werkplekke is Afrikaners syfers en mense wat probeer oorleef. ‘n Unie soos Solidariteit is ‘n idee met ‘n eie visie maar eensgesindheid is ‘n vae begrip. Families en kerkgenootskappe is losse idees. Oorlewing dmv samewerking gaan moeilik wees om te realiseer in die huidige opset wat deur ANC se volgehoue aanvalle verbrok word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.