Vryspraak: Geen selfstandigheid sonder energieselfstandigheid

Argieffoto (Foto: Jukka Niittymaa/Pixabay)

Die meeste van ons sien tydens beurtkrag êrens in die buurt ‘n sakeonderneming of huishouding waar die ligte brand en wat dus glad nie daardeur geraak word nie. En as dit nie ons s’n is nie, is ons nogal jaloers. Ons weet naastenby wat dit behels: ‘n aantal sonpanele, batterye, ‘n omsetter … en nie meer so onbekostigbaar as voorheen nie. Om van die ongerief en skade wat die gedurige onderbrekings meebring, nie te praat nie.

“As ek net in die posisie was om die sprong te maak,” hoor jy mense sê – en dan geld dit waarskynlik ook vir jou. Die vraag is eintlik, gegewe die dinamiese ontwikkelings op die terrein van elektriese opwekking en verbruik hoe moeilik dit in werklikheid nog is om inderdaad oor te skakel. Maar ook, wat jou groter strategie moet wees. Moet mens, byvoorbeeld, vir jouself ‘n energie-eiland vestig of steeds by die plaaslike netwerk ingeskakel bly? Hoe gaan mens stapsgewys te werk en met watter deel van die stelsel begin jy? Waarop moet jy probeer spaar en waarop liewer nie? En hoe finansier mens dit as jy nie die kontant voorhande het nie?

Dit is vrae waarop daar tallose antwoorde rondsweef, maar waarvan mens nie altyd weet hoeveel gewig dit dra nie. Intussen is dit ook nie maklik om verskaffers in die mark se antwoorde te beoordeel nie, want hulle stel aan die een kant baie kundigheid ten toon, maar aan die ander kant het hulle ‘n belang by die keuses wat jy maak – hulle kan dit dalk in hul guns probeer beïnvloed.

Waar kry mens betroubare en toepaslike inligting? Dit is die vrae wat HP Steyn en sy span 13 jaar gelede in 2008 laat begin het met ‘n byeenkoms wat intussen ‘n tamaai ekspo geword het en nou as Sakeliga KragDag bekendstaan.

Onderliggend aan die hele projek lê meer as net die deurlopende afhanklikheid van elektriese energie wat ons moderne lewenswyse kenmerk; dit gaan om die behoud van ons bestaanswyse in ‘n omgewing wat al minder aan die voorwaardes daarvoor voldoen. Wat vir kragvoorsiening deur Eskom geld, geld ook vir ander vorme van infrastruktuur, bv. pad- en spoornetwerke, veiligheidsdienste, gesondheidsdienste, onderwys, eintlik elke aspek van staatsadministrasie. Sakeliga praat van sake-omgewing wat staatsbestand is.

Uiteindelik behels dit in ’n omvattende sin ‘n selfstandige bestaan en dui die energie wat daarvoor nodig is, op beide fisieke én geestelike energie. Praat mens dan oor sonpanele en waterpompe, of ekonomiese teorie en onderwysprodukte, is die gees van ‘n boer maak ‘n plan al klaar weer aan die werk. Daarom lui een van KragDag se leuses: “Hier word jy vry!” En oor die jare het dit ‘n aantrekkingskrag op ‘n groeiende getal Afrikaners gehad – natuurlik nie uitsluitlik nie, maar tog opvallend! En juis daarom dat die hele inisiatief ook al ver buite die perke van ‘n blote ekspo gegroei het.

(Grafika: Verskaf)

Soos talle ander ondernemings is KragDag ook deur die grendelstaat belemmer en belet, maar hierdie geval het beide die produkte én die waardes waaroor dit gaan, net méér aktueel geword.

Mense wil graag weet óf en hóé KragDag die afgelope jaar oorleef het en wat ons vir 2021 uit daardie oord kan verwag.

Hieroor gesels Carel Boshoff en HP Steyn, bestuurshoof van KragDag Donderdagaand 18 Maart om 19:00 in die Vryheidstigting se Vrysending op ons Facebook-blad, wat daarna op Facebook en YouTube beskikbaar sal wees.

  • Die Vryheidstigting beeldsend Donderdagaand 18 Maart 2021 om 19:00 ‘n gesprek tussen Carel Boshoff en HP Steyn, bestuurshoof van KragDag oor “Geen selfstandigheid sonder energieselfstandigheid”. Die gesprek is daarna op Facebook en YouTube beskikbaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.