Waar is die morele maatstaf by die Universiteit van Kaapstad?

frans-cronje-irr

Dr. Frans Cronje, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. Foto: Instituut van Rasseverhoudinge/Youtube.com

Deur Frans Cronje

Vermoor al die blankes.

Dit is waar ons ons mag bevind indien die morele maatstaf wat by die Universiteit van Kaapstad (UK) gestel is oor ons samelewing heen aanvaar word. ’n Ingeskrewe student aan die UK het verlede week die erkenning-afdeling van sy proefskrif afgesluit met die frase “One settler one bullet’.

Nuusberigte het aangedui dat prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die universiteit, die student lof toegeswaai het en gesê het hoe trots sy op hom was. Ek het by die Universiteit navraag gedoen of bogenoemde waar was en het verneem dat die visekanselier haar van die dreigement van geweld in die student se proefskrif gedistansieer het. Maar dit is ’n halwe waarheid omdat sy haar net gedistansieer het nadat die storie aandag getrek het.

Haar aanvanklike kommentaar was onbevange lof sonder enige voorbehoud.

Toe het ek die universiteit gevra waarvoor die visekanselier se lofuiting was indien sy nie saamgestem het met die student se proefskrif nie, maar is meegedeel dat die universiteit nie verder met my kon kommunikeer nie.

Die universiteit het in sy aanvanklike reaksie (teenoor my) die student se opmerkinge as “tweedragsaaiend en nie konstruktief nie” gekritiseer. Dit is egter ook ’n halwe waarheid omdat die opmerkings baie ernstiger as dit was. Toe Penny Sparrow gesuggereer het dat swart mense ape was, was dít tweedragsaaiend en rassisties (en is sy beboet). Toe Vicki Momberg ’n swart polisieman, wat haar probeer help het, herhaaldelik die K-woord toegesnou het, was dit tweedragsaaiend en rassisties en is sy daarvoor tronk toe gestuur. Maar die UK-insident is op ’n ander vlak – ’n naakte rassistiese aanhitsing tot moord.

Die universiteit het my ook daarop gewys dat “spraakvryheid in die Grondwet verskans word” en dat individue persoonlike verantwoordelikheid moet aanvaar om dié reg uit te oefen (nadat ek gevra het of die universiteit enigsins teenoor die skuldiges sou optree). Maar dit is, weer eens, net ’n halwe waarheid. Dit was nie individue wat in hul persoonlike hoedanigheid opgetree het nie. Die visekanselier het ’n student van die universiteit gelukgewens met sy proefskrif, wat onder die toesig van universiteitspersoneel geskryf is, om ’n kwalifikasie wat deur die universiteit toegeken sou word, te verwerf.

Ons het hier dus drie halwe waarhede: dat die visekanselier haar van die opmerkings gedistansieer het, dat die opmerkings net tweedragsaaiend was, en dat diegene wat die kommentaar gelewer het, persoonlike verantwoordelikheid moes aanvaar – wat impliseer dat dit nie ’n universiteitsaangeleentheid was nie. Wanneer dit saamgevoeg word, het ons ’n verbloeming en die poging om die erns van hierdie uiters ernstige kriminele oortreding – die opsweping om elke wit man, vrou en kind in hierdie land dood te maak – as onbelangrik af te maak.

Indien die UK ’n agtenswaardige instelling was, sou hy die visekanselier geskors het, en saam met haar die student, en enige personeel wat betrokke was by die produksie, aanprysing, verdediging en verspreiding van die inhoud van dié proefskrif, of enige poging om wat later rugbaar geword het, af te water of te verdoesel. Hy sou ’n onafhanklike ondersoek ingestel het oor wat die gewenste optrede moes wees, waaronder die instel van kriminele aanklagte teen diegene wat die proefskrif geskryf of geredigeer het.

Maar met die indien van hierdie artikel het dit nog nie gebeur nie.

Wees dus dankbaar dat die standaard wat by die UK geld, nog nie die morele waterskeiding is waarvolgens Suid-Afrikaners die streep tussen reg en verkeerd trek nie. Ons meningspeilings toon dat 7 tot 8 uit elke tien mense, swart en wit, ryk en arm, wil saamwerk om van ons land ’n sukses te maak. Hulle gewone ordentlikheid, in die lig van die armoede wat so baie mense ervaar, ontbloot beter as enigiets anders in watter dieptes die Suid-Afrikaanse akademiese omgewing versink het.

  • Frans Cronje is die uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ’n liberale dinktenk wat ekonomiese en politieke vryheid bevorder. Indien u saamstem met wat u so pas gelees het, kan u hier klik of u naam na 32823 SMS (SMS’e kos R1, bepalings en voorwaardes is van toepassing).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

WL ·

Soos ek al voorheen genoem het, “justified racism” is ‘n werklikheid in ons land.
Niks sal aan hierdie persone gedoen word nie.

lewies ·

Die waghond sal hierdie saak vat. Nog ‘n kostebevel-saak.

humor ·

As daar dan geen morelewaardes is nie dan is daar sekerlik ook geen Bybel nie. Aan watter maatstaf meet hierdie instansie hom.?

Fortis ·

Die UK was nog altyd ‘n kommunistiese hool. Tydens my studentedae op Stellenbosch het ons na hulle verwys as ‘Moskou op die bult.’ Moet dus nie dink dat die Bybel ooit vir hulle ‘n maatstaf was of sal wees nie. Eerder Das Kapital, of iets in dier voege.
Hoe jammer dat die US klaarblyklik op dieselfde pad is. Geen wonder dat ek my deesdae heeltemal van my alma mater distansieer nie. Hul versoeke om finansiële ondersteuning val by uitstek op dowe ore.

Diefie ·

Ek glo en vertrou dat ons blankes nie meer hul kinders na die universiteit sal stuur nie en ek hoop al die blanke professers verlaat die universiteit

Piet ·

Presies, ons blankes moet help met die dekolonisasie deur ons heeltemal van UK te vervreem.

Hans ·

Stem 100% saam die vise-kanselier,betrokke dosente en student moes geskors gewees het. Die toekenning van die graad moet ook tersyde gestel word.

Jack Klok ·

Puik artikel, Frans Cronje. Ek hou duim vas dat een of ander organisasie (Afriforum?) hierdie saak verder sal neem. Tereg as Penny Sparrow en Vicky Momberg vervolg is oor aanstootgewende taalgebruik behoort die betrokke student asook vise-kanselier ook vervolg te word. Slaan hulle waar dit die seerste maak – in die beursie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.