Waar staan ons na die Nkandla-saak?

prof-koos-malan

Prof. Koos Malan, ‘n professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, was ‘n spreker by die VRA se seminaar oor die Nkandla-uitspraak. Foto: Morné Prinsloo.

Die Konstitusionele Hof het op Donderdag, 31 Maart, uitspraak gelewer in die saak EFF v Speaker of the National Assembly and Others; DA v Speaker of the National Assembly and Others, oftewel in die Nkandla-saak. Die hof het beslis die bevindings van die Openbare Beskermer (OB) oor die president se privaatwoning op Nkandla in Kwazulu-Natal is bindend en die President moet die redelike bedrae, wat met staatsfondse op nie-veiligheidsverwante items aan die woning bestee is, terugbetaal.

Die Tesourie moet vasstel wat hierdie bedrae beloop. Veral vyf nie-veiligheidsverwante items is hier ter sprake, naamlik ʼn amfiteater, swembad, beeskraal en hoenderhok.

Die hof het ook beslis die Nasionale Vergadering het strydig met die Grondwet opgetree. In plaas daarvan om die OB se verslag en bevindings te gebruik, het die Nasionale Vergadering daarenteen onder meer deur middel van komitees juis die OB se bevindings in die wind geslaan.

Dit is natuurlik juis die ANC in die Nasionale Vergadering (en nie die opposisie-lede nie) wat die skuld hiervoor dra, aangesien dit hulle is wat op hierdie ongrondwetlike wyse met die OB se verslag te werk gegaan het.

Die uitspraak het intussen omvattende gevolge. Op die inisiatief van die opposisiepartye op Dinsdag, 5 April, kragtens artikel 89(a) van die Grondwet, gepoog om die President van sy amp te onthef omdat sy optrede, om te weier om aan die OB se bevindings te voldoen, na die oordeel van die opposisie op ʼn ernstige skending van die Grondwet neergekom het. ʼn Tweederde meerderheid is daarvoor doel nodig. Die ANC in die Nasionale Vergadering het hom egter eendragtig hierteen verset en die mosie is met 233 teen 143 stemme verslaan.

Dis egter nie die einde van die saak nie. Teenstand teen die president laai op, meer bepaald in die georganiseerde burgerlike samelewing en in die ANC self. Die mislukking van die opposisiepoging om die president langs die weg van artikel 89 verwyder te kry, was dus klaarblyklik nie die laaste poging om die President uit sy amp te kry nie. Inteendeel het dit klaarblyklik net meer olie gegooi op die vure gegooi wat rondom die President brand.

Ek bespreek graag die volgende van die uitspraak en die nadraai daarvan.

  1. Die hof het onomwonde beslis die President en die Nasionale Vergadering het versuim om die OB se bevindings in werking te stel en sodoende strydig met hul grondwetlike verpligtinge opgetree. Nogtans sal dit verkeerd wees om die uitspraak te beskryf as buitengewoon selfgeldend en ʼn voorbeeld van regterlike aktivisme. Dít is dit nie. Daar is twee redes hiervoor.

Eerstens het die president en die Nasionale Vergadering klaarblyklik strydig met die Grondwet opgetree, met die gevolg dat die hof se uitspraak bykans vooraf bepaal is. Die hof het nouliks ʼn ander keuse gehad. Dit is juis daarom dat dit eenparig was.

Tweedens en aansluitend by die eerste is die feit dat die president reeds by die verhoor wesenlike toegewings gemaak het. Hy het naamlik van sy aanvanklike standpunt (blykbaar op grond van regsadvies), dat die OB se bevindings bloot aanbevelings was, afgewyk en die toegewing gemaak dat dit na alles tog bindend was en hy gevolglik soos wat die OB bevind het, terugbetalings sal maak.

In ʼn konsepbevel komende van die president se regspan, het hy (die president) reeds ingestem om wesenlik aan alles wat die OB bevind het te voldoen. Hierdie konsepbevel, waarop die partye ooreengekom het, was die grondslag van die hof se uiteindelike bevel. (Vgl. paragrawe 14, 100 en 101 van die uitspraak.) Die hof was derhalwe, met betrekking tot bevel, nie op ongekarteerde terrein nie. Inteendeel, die hof het wesenlik op die spoor van die partye, met inbegrip van die president, geloop.

  1. Een van die sterkste aspekte van die hof se uitspraak is dat dit beheer oor sy bevel uitoefen, deur naamlik te gelas die Nasionale Tesourie moet binne sestig dae na die uitspraak aan die hof verslag doen wat die bedrag is wat die President moet terug betaal. Die hof sal dan beslis of hy met die bepaling tevrede is en die president moet dan dié bedrag binne 45 dae aan die staat terug betaal.

Dit was nie nodig vir die hof om dit te doen nie. Die hof kon bloot gelas het dat die president die bedrag, soos deur die Tesourie bepaal word, terug betaal, sonder om enige terugrapportering te vereis en sonder om enige tydperke van voldoening aan die bevel te koppel.

Die feit dat die hof dit wel nodig gevind het gevind het om dit te doen, is myns insiens ʼn duidelike aanduiding dat die hof nie werklik veel vertroue het in die president en die uitvoerende gesag se bereidwilligheid om flink aan die bevel te voldoen nie, selfs in weerwil van die feit die president byvoorbaat sy tevredenheid met die bevel uitgespreek het.

Die wantroue is natuurlik goed gegrond, want daar is talle gevalle waar die staatsadministrasie juis voete sleep om aan hofbevele te voldoen of dit glad nie doen nie. Trouens, die howe het reeds herhaaldelik hul verontwaardigheid hieroor betuig. In die lig hiervan wou die hof dié keer seker maak sy bevel word nougeset nagekom. Daarom stel y hom homself in staat om by wyse van sy bevel beheer uit te oefen.

  1. Die Nasionale Vergadering was, op die keper beskou, besonder skreiend in die bystand wat dit aan die president verleen het om van aanspreeklikheid te ontkom om enige van die onregmatig bestede staatsfondse op sy privaat woning terug te betaal.

Die feit dat die Nasionale Vergadering ʼn ad hoc-komitee aangestel het om die OB se bevinding te oorweeg en toe op aanbeveling van die komitee bevind het die president was nie aanspreeklik nie, beteken die Nasionale Vergadering het in wese vir homself die bevoegdhede van ʼn geregshof aangematig.

In die lig van die feit dat die Parlement self oor regsadviseurs beskik, wat hom oor regs- en grondwetlike kwessies van raad moet bedien, is dié optrede nie net ʼn klad op die Nasionale Vergadering se naam nie, maar dit werp ook ʼn donker skadu oor die gehalte van die regsadvies waarop die Nasionale Vergadering hom op staatskoste verlaat. Dis ʼn kwessie wat verdere ondersoek verdien.

  1. Vanselfsprekend skep die uitspraak verleentheid vir die president en sy ondersteunerskorps in die ANC. In dieselfde asem sterk dit die hand, nie net van die opposisiepartye om van hom ontslae te raak nie, maar van die faksie/s in die ANC (buite meneer Zuma se patronaat) om hom uit die kussings te lig.

Dis egter van groot belang om te begryp dat die uitspraak beswaarlik enige uitwerking kan hê op die ernstige toestand van swak regering, plundering van die staatskas en korrupsie wat die land toenemend teister. Die president is weliswaar ʼn opvallende simptoom van daardie probleem, maar hy is nie daardie probleem nie.

Korrupsie, slegte regering en wanadministrasie het sistemiese eienskappe van die staat, onder die leiding van die ANC, geword oor die afgelope dekades. Daardie sistemiese probleem kan nie met ʼn hofuitspraak opgelos word nie. Howe is glad nie in staat (en ontwerp) om sistemiese probleme van dié aard op te los nie. Howe reageer ten beste eintlik slegs op individuele probleme en geskille.

ʼn Oplossing vir die sistemiese probleem van korrupsie vereis omvattende wetgewende, uitvoerende en administratiewe ingryping, hetsy deur ʼn nuwe regering of die bestaande regering wat homself met betrekking tot sy wetgewende, uitvoerende en administratiewe handelinge grondig bekeer het. Dit vereis uiteraard ook heelwat tyd om so ʼn korrupte siektetoestand, waarvan die staatsadministrasie deurtrek is, te genees. Dit sou derhalwe ʼn totaal oorskatte sienswyse wees om die uitspraak as ʼn kentering in die  gehalte van regering in Suid-Afrika te beskou.

  1. Die uitspraak beteken nie dat die hoogste hof teen die basiese ideologiese uitgangspunte van die regering standpunt inneem nie. Dit het glad nie daarop betrekking nie. Trouens – en dis baie belangrik om helder insig hierin te hê – howe is (behalwe vir vlietende oorgangstydperke, waarin een regerende elite met ʼn volgende vervang word) deurlopend deel van die res van die regerende elite in die wetgewer, uitvoerende gesag (en die regerende party).

Wanneer kwessies wat op ideologiese uitgangpunte betrekking het derhalwe beslis moet word, sal die hof konsekwent ten gunste van die regerende elite (waarvan dit ʼn produk is en waarvan dit ʼn integrale deel uitmaak) uitspraak gee. Die Konstitusionele Hof se beslissings in die Barnard-saak oor regstellende aksie en die AgriSA-saak oor die ontneming van minerale regte, is maar twee van die treffendste voorbeelde wat hierdie waarheid illustreer.

Aangevuur deur ʼn klompie juriste, wat geen insig in die wisselwerking tussen die hoogste howe en die politiek het nie (en gepopulariseer deur baie van ons mediamense), is dit vir lank nie in Suid-Afrika begryp nie. Die Nkandla-uitspraak verander niks aan hierdie basiese waarheid nie. Die Konstitusionele Hof is steeds ʼn integrale element van die heersende elite onder die leiding van die ANC, geanker in dieselfde uitgangspunte en aangedryf deur dieselfde doelwitte.

  1. Die feite van die saak waaroor die Konstitusionele Hof hier moes beslis, dui op die swakheid van parlementêre kontrole as ʼn rem en teenwig (check and balance) oor die uitvoerende gesag, meer bepaald in ʼn eenpartydominante stelsel soos hier in Suid-Afrika, waar die ANC so sterk en konstant aan bewind is.

Die oorgrote meerderheid parlementslede (meer bepaald in hierdie geval, lede van die Nasionale Vergadering) is lede van die ANC, wat almal op die een of ander wyse onder die patronaatskap van die president en die topleiding van die ANC verkeer en natuurlik ook aan die ANC se parlementêre koukusdissipline onderworpe is.

Die lede kan dit nie waag om teen die president te stem nie, al wil hulle ook. Hulle beskerm dus die president soos hulle deur die hele verloop van die Nkandla-sage met betrekking tot die OB se verslae gedoen het en soos wat hulle die afgelope Dinsdag met die debat oor sy ontheffing gedoen het. Dit is dus duidelik daar is heeltemal te veel gemaak van parlementêre kontrole as doeltreffende teenwig. In ʼn eenpartydominante opset beteken dit weinig, veral as die regerende party en sy leierskap self in die gedrang kom.

  1. Die ontheffingsdebat en die stemming daarna, verg ietwat meer kommentaar. As die ANC teen die opposisie opgeweeg word, was eersgenoemde pateties teenoor laasgenoemde, wat in bepaalde opsigte selfs indrukwekkend was. Nogtans het die ANC-lede die ontheffingsmosie en bloc afgestem.

Die leier van die opposisie en sy opposisiekollegas was hierna verenig in hul verontwaardiging toe hulle die raadsaal verlaat en die media buite die Parlement toegespreek het.

Dit lyk asof die DA en die res van die opposisie dalk weer op pad hof toe is. Die aanduidings is dat hulle wil aanvoer die president is, volgens die beste vertolking van die Konstitusionele Hof se uitspraak, skuldig aan ʼn growwe skending van die Grondwet (soos bedoel in artikel 89). Dis die artikel wat betrekking het op die ontheffing van die president uit sy amp. Die artikel bepaal onder meer:

Die Nasionale Vergadering kan, met ʼn besluit geneem met ʼn ondersteunende stem van minstens tweederdes van sy lede, die president van die amp van president onthef op grond van ʼn ernstige skending van die Grondwet of die reg (en enkele ander gronde).

Die opposisie meen die president het die Grondwet inderdaad ernstig geskend, al het die hof nie in soveel woorde beslis die skending was ʼn ernstige skending nie. Nogtans gee ek die opposisie het gelyk in hulle sienswyse dat die skending inderdaad ernstig was. Dit beteken egter nie die president se verwydering uit sy amp is ʼn voldonge feit nie.

Die Nasionale Vergadering (meer bepaald die ANC-meerderheid in die Vergadering) kan per slot van sake oordeel die president se optrede is nie ʼn ernstige skending nie, maar bloot ʼn geringe glipsie. Meer nog, selfs al meen die Nasionale Vergadering (met inbegrip van die ANC-lede) die president se skending was wel ernstig, is dit nie verplig om die President uit sy amp te verwyder nie.

Hulle het ʼn keuse. Hulle kan (sê die Afrikaanse teks of may in die Engelse teks) en nie moet (must of shall) nie. As hulle dus tevrede is om hul leier in die amp van president te hou, in weerwil van die feit dat hy ʼn growwe skender van die Grondwet is, is hulle op daardie besluit geregtig. Niks kan daaromtrent gedoen word nie.

Die Konstitusionele Hof sal ook nie met die besluit inmeng nie, want dit is klaarblyklik ʼn politieke kwessie met besluitnemingsbevoegdheid wat ten slotte by die wetgewer (in praktyk die leidende komponent in die wetgewer) berus en nie by die hof nie. Die vraag oor die lot van die President sal derhalwe binne die interne strukture van die ANC beslis word.

  1. Vanuit die burgerlike samelewing is daar tans wydlopende en oënskynlik groeiende teenstand teen die president en die ANC. Die energie in die burgerlike samelewing maak daarvan ʼn toenemend belangrike vertakking van konstitusionalisme in Suid-Afrika, belangriker in bepaalde opsigte, as die amptelike meganismes wat deur die grondwet self aangewys word, soos die wetgewer, uitvoerende gesag, die howe en dergelike ander amptelike liggame. Dit is trouens ʼn wêreldverskynsel.

In Suid-Afrika word die burgerlike samelewing onder meer belangriker vanweë die mislukkende en verorberende (amptelike) staatsektor. Daarom sien ons hoe die burgerlike samelewing – gemeenskappe – toenemend self verantwoordelikheid vir hul belange aanvaar, na mate die staatsektor verder retireer.

Die belangrikste nadraai van die Nkandla-uitspraak is moontlik om juis die selfstandige optrede van gemeenskappe verder te stimuleer. Ongelukkig moet die einste burgerlike gemeenskap steeds pa staan vir die staat se vermorsing, soos die enorme bedrae wat die staat en ten slotte dus die publiek, vir die regering se mislukking, ook met betrekking tot die regskoste in hierdie saak, moet betaal. Hoe om daardie las te verlig, behoort hoog op die sakelys van die burgerlike samelewing te wees.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Henry ·

Baie dankie ook vir hierdie logiese en gefundeerde uiteensetting deur ‘n regskundige wat vir leke soos ek, die lig oor die bevindinge en implikasies van die Nkandlasaak laat skyn, op ‘n verstaanbare wyse en in ons pragtige moedertaal.
Mynsinsiens word die noodsaaklikheid vir die toenemende betrokkenheid en aanwending van burgerregte organisasies soos Afriforum en Solidariteit in hierdie artikel bevestig.

JC ·

Burgerregte Organisasies is die toekoms! Viva Afriforum en Solidariteit !

Hendrik ·

Burgerregte organisasie het veel groter effek gehad in ons samelewing in die laaste vyf jaar as enige opposisie politieke party. Met die massiewe meerderheid kan die opposie politieke partye eenvoudig net raas en die waarskuwingsflaggies in die rade en die parlement op hou as daar iets fout is. Met die komende verkiesing reken die analiste dat die ANC se steun sal afneem, EFF se steun sal toeneem, en die DA se steun se steun sal dieselde wees. Die situasie sal waarskynlik dieselde by in die rade. Die EFF sal waarskynlik in die opposie banke sit en saam met die ANC alles wanbestuur. Ons enigste oplossing is om die Burgerregtegroepe te ondersteun en die situasies te bestuur deur die howe, aksies en … boikotte (soos Etol) te gebruik .

alida ·

Ek hoop wie ookal die volgende hofaansoek bring vra in hulle bedes dat Zuma afgedank moet word met onmiddellike effek want hy het die land miljarde gekos en is nie geskik vir sy pos nie.

Charmaine ·

Help ‘n bietjie hier asseblief. Hoe werk die 2/3 van stemme wat die meerderheidstem is as 233 + 143 = 376 en dus 2/3 = 250.66 ???????

Christo ·

Baie dankie vir ‘n volledige uitleg in verstaanbare taal. Kan die artikel nie in Engels vertaal word en aan alle parlementslede gestuur word nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.