Waarheen kronkel die stemtou in SA?

Hoekom beweeg ons nie?  Ek staan Woensdagoggend, 18 Mei 2011, reeds net na sewe in die stemtou by die Laerskool Fairways, in Corletterylaan, ‘n klipgooi van die Wanderers af.  Die landwye verkiesing vir stadsrade moes al begin het.  Pedi-sprekende OVK-stembeamptes drafstap senuweeagtig hek toe en terug.  Ons sou heelwat later hoor: Daar was nie krag vir die zip-zip-skandeerders nie – is nie vooraf getoets nie.  Die langdurige stemtou was gelukkig ‘n kans vir dagdroom: Sal die regerende ANC tweederdes haal?  En waar sal my taalgenote hulle kruisies trek?

Foto: Mediaklub van Suid-Afrika

‘n Verkiesing met 23,6 miljoen geregistreerde kiesers was inderdaad die moeite werd om oor te dagdroom.  Dit was Suid-Afrika se grootste.  Die burgery kon hulle verteenwoordigers kies in ‘n wye verskeidenheid strukture: in 8 metrorade, 44 distriksrade en 226 plaaslike rade.  Nie minder nie as 4 555 verskillende soorte stembriewe is gedruk vir 20 859 stemlokale.

Teen die naweek was die hooftendense in partyvoorkeure tussen die plaaslike verkiesings van 2006 en 2011 duidelik.  (Kyk die ingeslote tendenstabel, wat ek hier kortliks vertolk.)  Die regerende party – die ANC – het toe nie tweederdes gehaal nie. Inteendeel. Hy het steun verloor: vanaf 66 persent (65.67) in 2006 tot 63 persent (62.93) nou.  Selfs al sou al die kiesers wat die ANC se wegbreekparty Cope steun (2.22 persent) weer vir hulle ou party gestem het, was die ANC steeds kleiner as vyf jaar gelede.

Buitelandse waarnemers met ‘n skerp geheue is selde verbaas oor Suid-Afrikaanse verkiesingsuitslae.  Dis nie veel meer nie as ‘n sensus van rasse, sê hulle gou: omdat die meeste kiesers swart is, stem hulle vir ‘n swart beheerde party, veral, so voel hulle, omdat hy hulle van ‘n blanke regering bevry het.

Die talle klein partye het amper agter die horison verdwyn.  Dié wat in 2006 minder as twee persent steun gehad het, val op 18 Mei tot onder een persent.  Dit geld die partye wat ras-eksklusief is naamlik Azapo en die PAC; dit geld ‘n party wat godsdienstig eksklusief is naamlik die ACDP; en dit geld partye wat etnies min of meer eksklusief is soos die UDM, die UCDP en die MF.  Nispartye wat intussen boonop deur die ANC gekoöpteer is, soos die Vryheidsfront, het dieselfde skemerkelkie gedrink wat die NP in die 1990s verlam het.

Selfs al het die eens belowende Inkatha-Vryheidsparty (IVP) (3.56 persent) en sy wegbreekparty die Nasionale Vryheidsparty (NFP) (2.38) sáám minder stemme gekry as die IVP in 2006, was hulle, naas die ANC en die Demokratiese Alliansie (DA), ironies genoeg, die enigste partye om stadsrade te wen.  Net dié vier partye kon dit regkry.

 PLAASLIKE REGERINGSVERKIESING :

PROPORSIONELE STEMBRIEFUITSLAG :

2006 EN 2011 : VERANDERING IN STEUN

Samesteller : L du Plessis.   Bron : www.elections.org.za

 

2006

2011

Toename / Afname

Party

Stemme

%

Stemme

%

Stemme

%

ACDP

128,990

1.31

78,737

0.59

-50,253

-0.72

ANC

6,469,420

65.67

8,405,429

62.93

1,936,009

-2.74

APC

54,332

0.41

54,332

0.41

AZAPO

30,321

0.31

26,300

0.20

-4,021

-0.11

COPE

0

296,624

2.22

296,624

2.22

DA

1,608,154

16.32

3,216,006

24.08

1,607,852

7.76

ID

217,761

2.21

0

0

-217,761

-2.21

IVP

744,486

7.56

475,621

3.56

-268,865

-4.00

MF

42,530

0.43

53,042

0.40

10,512

-0.03

NFP

0

318,352

2.38

318,352

2.38

PAC

109,816

1.11

54,846

0.41

-54,970

-0.70

UCDP

62,459

0.63

25,971

0.19

-36,488

-0.44

UDM

129,047

1.31

84,623

0.63

-44,424

-0.68

VF+

94,140

0.96

53,931

0.40

-40,209

-0.56

Ander

214,975

2.18

213,697

1.60

-1,278

-0.58

Totaal

9,852,099

100.00

13,357,511

100.00

3,505,412

0.00

Die sterkste opposisieparty van 2006 – die DA – groei op 18 Mei 2011 met 7.76 persent.  Dié groei is veel hoër as die beskeie bydrae van die ingelyfte Onafhanklike Demokrate, wat in 2006 net 2.21 persent stemme gekry het.  Die DA-steun onder kiesers verhoog vanaf 16.32 persent na 24.08 persent, afgerond 16 tot 24 persent.  Die kiesers se wantroue in die ander gevestigde partye, maak die DA se sprong uitsonderlik.

Wat noemenswaardig is aan die sukses van die DA, is nie die feit dat die party op alle vlakke – hoofkantoor en provinsies, kiesafdelings en takke – doeltreffender as sy teenstanders georganiseer is nie, want dit kan ‘n mens verwag van ‘n party met soveel kundigheid.  Dit verbaas ook nie dat die DA sy boodskap sou fokus op die werklike dienste wat hy lewer in daardie stadsrade waar hy reeds aan bewind is nie.  Dis trouens sy troefkaart: sy bestuursrekord.  Maar wat inderdaad noemenswaardig is, is dat die party ‘n kandidaat gestel het en ‘n veldtog gevoer het in elke enkele wyk in die land.  Sodoende het die geesdriftige steungolf van vryheidsliewende, dikwels verontregte, minderhede – vanaf Indiërs tot werkskeppers, gays tot taalaktiviste – skouspelagtig tot in die townships gespoel.  Van die DA se magsbasis van 3.2 miljoen, het op 18 Mei min-of-meer ‘n kwart bestaan uit swart kiesers.  Dít is noemenswaardig.

Wat van my taalgenote?

Iemand vra my:  Maar wat van ons Afrikaners?  Hoe het óns gestem?  Omdat daar nie ‘n kieserslys is vir diegene wat hulleself Afrikaners noem nie, is dit nie maklik om so ‘n vraag te beantwoord nie.  Jy moet so ‘n groep uit die breë kieserslys abstraheer.  Verder, indiwidue van watter groepe ook al, stem uiteraard nie almal dieselfde nie; dus Afrikaners ook nie.  Om ‘n antwoord op so ‘n uitdagende vraag te verken, is dit voorts raadsaam om te onderskei tussen Afrikaanssprekendes in die algemeen, en diegene wat na hulleself verwys as Afrikaners, wat meestal ligter van kleur is, dit is blanke Afrikaanssprekendes.  Hiermee probeer ek geensins kant kies in een of ander debat nie, maar probeer alleenlik ‘n gesprek moontlik maak deur begrippe effens af te baken.

Afrikaners, wat ons pas vir besprekingsdoeleindes as blanke Afrikaanssprekendes, omskryf het, was vanaf 1910 tot 1994, die meerderheid op die Suid-Afrikaanse kieserslys – meestal sestig persent of meer.  Op die nuwe kieserslys wat sedert 1994 alle Suid-Afrikaners insluit, vorm die Afrikaners skaars ses persent.  Hierdie tienvoudige verskraling van hulle bedingingsvermoë as kiesers – vanaf meer as sestig tot ses persent – het nie net die Afrikaner se politieke selfbeskikking opgehef nie, maar hom ook ekonomies beperk en lewenskoulik getraumatiseer.  Omdat die bruin Afrikaanssprekendes nie vir die Volksraad kon stem nie, is hulle nie op dieselfde wyse getref nie.

Om te weet hoe Afrikaanssprekendes geneig sou wees om te stem, is egter wel ‘n belangrike vraag, enersyds omdat ‘n antwoord ons kan help om ons eie taalgemeenskap beter te verstaan en andersyds omdat ons eie taalgemeenskap getalsgewys ‘n invloedryke kategorie in Suid-Afrika uitmaak.  Naas die Zoeloesprekers van 24 persent en Xhosasprekers van 18 persent, vorm Afrikaanssprekendes die derde grootste taalgemeenskap in die land, op waarskynlik so 13 persent.

Wie so objektief moontlik na gesprekke van Afrikaanssprekendes luister, kom agter dat die regerende ANC nie besonder gewild is nie.  Wat deurlopend ter sprake kom, is enersyds voorbeelde van finansiële korrupsie deur die regerende elite en andersyds wetgewing wat strukturele diskriminasie teen minderhede wettig, soos die Diensbillikheidswet.  Ook oor die DA word indringend vrae gestel.  Bruin Afrikaanssprekendes wil weet:  Hoe ernstig is die DA in die Wes-Kaap om ons met huise en opvoeding by te staan?  En bruin sowel as wit Afrikaanssprekendes vra:  Hoekom is daar deesdae betreklik min Afrikaanssprekendes in DA-leiersposisies?  Wat in die afgelope munisipale verkiesing vir Afrikaanssprekendes die deurslag gegee het, was egter die vergelyking van die diensrekord van die twee hoofpartye – soos die rioolwater en slaggate onder ANC-stadsrade met die skoon sypaadjies en werkende verkeersligte in DA-beheerde stadsrade, soos Midvaal en Overberg.  As ‘n kulturele voordeel van ‘n DA-stadsraad het Afrikaanstaliges verwys na die beskerming van Afrikaanse monumente en straatname, soos in Kaapstad.

‘n Maklike metode om te probeer vasstel of Afrikaanse kiesers identiese partyvoorkeure het en indien wel, wat dit is, is om onpartydig te luister wat hulle sê as hulle Nescafé-koffie of sauvignon blanc wegslaan.  Ook besprekings op radio en TV help.  ‘n Meer veeleisende metode is om jou in populêre en akademiese artikels te verdiep.  ‘n Bevinding wat werklik betekenisvol is, is dat meer as ‘n driekwart van die lede van meeste groepe of organisasies met Afrikaansprekendes, hulle met die DA vereenselwig.  In die opwinding van die verkiesing en agter die veilige karton van die stembus, is die persentasie dikwels selfs hoër.

‘n Bekende historikus, wat spesifiek die gedrag van Afrikaners ondersoek, het onlangs die wenkbroue laat lig met sy opmerking: ‘In hulle partypolitieke voorkeure is die Afrikanerkiesers vandag (2011) bykans net so eensgesind soos in die 1966-verkiesing onder leiding van dr HF Verwoerd.’  Wie verkiesingsuitslae volg, sal agterkom hierdie sienswyse is waarskynlik nie ver uit nie.

In die provinsie Wes-Kaap, waar die meerderheid kiesers Afrikaans praat, het die DA-steun die afgelope vyf jaar die hoogte ingeskiet en beheer die party tans rade vanaf die Weskus tot by Plettenbergbaai.  Selfs in die kosmopolitiese metroraad van Kaapstad het die DA sy steun verhoog vanaf 42 persent (2006) tot 61 persent (2011).

Oral in die land het stemdistrikte met oorwegend wit Afrikaanssprekende kiesers, in wyke soos Rand-en-Dal, sowel as stemdistrikte met oorwegend bruin Afrikaanssprekende kiesers, soos Manenberg op die Kaapse Vlakte, op 18 Mei weer deurgaans 80 persent of meer stemme op die DA verenig.

Toekoms

Naas die afgelope verkiesing, waarop hierdie bydrae kortliks gefokus het, roep ‘n netwerk van vrae oor die toekoms om antwoorde: Hoe kan Afrikaanssprekendes, spesifiek Afrikaners, hulle nog beter in die partypolitiek posisioneer?  Sal Afrikaanssprekendes vir altyd deel vorm van ‘n land waarvan die grootste deel deur nie-Afrikaanssprekendes regeer word?  Wat is die alternatiewe?  Dis noodsaaklik om in hierdie Groot Debat ook sulke toekomsvrae so positief moontlik te beantwoord.  Omdat die geskiedenis van die nuwe Suid-Afrika nog skaars begin het, lê die toekomstige eeue oop voor almal wat ons unieke taal praat, om uitdagende, konkrete selfuitlewingsdoelwitte na te strewe.

Slotsom

Ten spyte daarvan dat die regerende ANC in die afgelope verkiesing 63 persent van die stemme kry, daal sy steun.  Die klein nispartye verdwyn bykans agter die horison.  Die enigste groeiende party, die DA, maak indrukwekkende winste, en stoot sy steun op van 16 na 24 persent.  Onder die redes vir sy sukses, is die wyse waarop hy die behoeftes van vryheidsliewende groepe weerspieël en sy bewese prestasie in die owerhede waar hy aan bewind is.  Ook Afrikaanssprekendes, wat nou min of meer dertien persent van stemgeregtigdes vorm, stem oorweldigend, dikwels meer as tagtig persent, vir die party wat hulle demokratiese regte beskerm.  Ondanks talle vrae oor toekomstige doelwitte wat ons myns insiens nog moet beantwoord, vereenselwig Afrikaanse kiesers hulle tans met die DA tot so ‘n mate dat, daar waar hulle die meerderheid vorm, dié party die stadsrade beheer.  In die Wes-Kaap, waar die DA reeds sedert 2009 die provinsiale regering vorm, neem hy op 18 Mei 2011 ook die meeste stadsrade oor.  Wie sy ore spits, kon die Afrikaanse stem landwyd hoor.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Louis du Plessis

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

29 Kommentare

Anoniem ·

Die werksywer van die DA het beslis ‘n groot rol gespeel in hul sukses gedurende die afgelope verkiesing.

Die kleiner partye beskik eenvoudig nie oor die vermoë om soveel drempels deur te trap, verkiesingstalletjies te beman, ondersteuners aan te ry en uiteindelik die nodige werk te doen in munisipale, provinsiale en nasionale raadsale om die kieserspubliek se aandag te trek nie.

Ongelukkig vir diegene wat belangepolitiek voorstaan lyk dit nie asof die kleiner partye die nodige organisatoriese strukture daar kan stel om hoegenaamd noemenswaardige vertroue by die kieserspubliek in te boesem nie. 

Die sewentien jaar sedert 1994 is egter nog te kort om tendense geloofwaardig te kan voorspel.  Indien die 2011 munisipale verkiesing vergelyk word met die van 2000, blyk dit asof die DA slegs verlore aansien herwin het terwyl die ANC vandag groter steun geniet as in 2000.

Indien die DA daarin slaag om sy onlagse opwaartse groeikurwe voort te sit, sal die party uitgedaag word om homself te bly onderskei van die ANC, wat ‘n voorvereiste sal wees indien die party sy Afrikaanse steunbasis wil behou.

Indien bevolkingsyfers soos saamgestel deur Statistiek Suid-Afrika in beskouing geneem word, blyk die tendens te wees dat die Afrikaanse kieserskorps van krimpende belang in die Suid-Afrikaanse demokrasie is.

Die getal swart Suid-Afrikaners jonger as 19 word huidiglik op 17.8 miljoen geraam.  Prof. Flip Smit toon aan dat slegs 280,000 uit 954,000 bruin kinders in Afrikaans skoolgaan.  In die wit bevolkingsgroep, waarvan na raming 60% Afrikaanssprekend is, is die ouderdomsgroep tussen 0-4 jaar slegs 80% van die ouderdomsgroep tussen 50-54 jaar.

Indien Afrikaanse kiesers hul toekomstige rol in die Suid-Afrikaanse politieke landskap wil bedink, moet dit bedink word vanuit die perspektief dat hulle ‘n drasties al kleiner wordende belang verteenwoordig wat al minder aandag vanaf politici gaan trek.  Die samestelling van die leierskap van beide die ANC en DA het reeds hierdie werklikheid ingereken.

Alle middele wat tot die Afrikaanse gemeenskap se beskikking is moet ten volle benut word.  Daarom is dit belangrik dat Afrikaanse kiesers bly stem vir die partye wat hulle belange beskerm. 

Parlementêre verteenwoordiging en verteenwoordiging op munisipale rade is egter nie voldoende om Afrikaanse belange te beskerm nie.  Die afname van Afrikaans in die publieke ruim onder die wakende oog van die huidige verteenwoordigers van Afrikaanse belange toon dit duidelik.

Daar is egter geen rede om wanhopig te raak nie. Effektiewe organisasie op burgerlike vlak en die ondersteuning van kultuurorganisasies bied aan Afrikaanssprekendes die geleentheid om hulself te laat geld.

Afrikaanssprekendes in die algemeen en Afrikaners spesifiek sal egter baie meer uit hul gemaksone moet beweeg as ander Suid-Afrikaners.

Anoniem ·

Geagte prof du Plessis,

Hierdie stelling van u prikkel my: “Sal Afrikaanssprekendes vir altyd deel vorm van ‘n land waarvan die grootste deel deur nie-Afrikaanssprekendes regeer word?”

Watter opsies is daar volgens u?

Heinrich Matthee ·

‘n Baie deeglike artikel. Ek hou van die nuutskepping “selfuitlewingsdoelwitte”.

Louis du Plessis ·

1  Die Groot Debat, beste Gemsbok, sal indringend aandag moet skenk aan daardie kwessie wat jy opper, omdat die oorlewing van die Afrikaanse denke self daardeur bepaal mag word:  “Sal Afrikaanssprekendes vir altyd deel vorm van ‘n land waarvan die grootste deel deur nie-Afrikaanssprekendes regeer word?”  Ek sal trouens graag jou eie antwoorde op dié vraag wou hoor. 

2  Moontlik sal ons ontdek dat alle toekomsopsies gerangskik kan word tussen twee pole.  In die scenario aan die linkerkant word die Afrikaanssprekendes oor eeue geassimileer deur ‘n veral Engelssprekende swart regeerde samelewing in Suid-Afrika.  Aan die regterkant ontwikkel die Afrikaanssprekendes selfbeskikking met ‘n eie staat.  Tussen dié pole vind ons ‘n lang reeks opsies wat in grade van mekaar verskil, waarin Afrikaanses in ‘n mindere of in ‘n meerdere mate ‘n gemeenskap met sy eie ekonomie, kultuur, politieke stelsel is. 

3  Loer na voorbeelde van net twee volke uit die Midde-Ooste, in die twee millennia voor Christus:  Sal die Afrikaanstalige gemeenskap verdwyn soos die Mesopotamiërs verdwyn het of sal die Afrikaanstalige gemeenskap homself kan laat geld, soos die Jode.  Oor ‘n paar eeue sal historici die storie vertel. 

4  Dat magtige golwe, soos bevolkingsgetalle, ons in ‘n rigting dryf, beteken nie die Afrikaanstaliges is heeltemaal magteloos nie.  Inteendeel.  Ons kan verstommend baie regkry as ons die eerste beginsels van strategie begryp.

Met agting

Louis du Plessis

Anoniem ·

Geagte prof du Plessis,

U gedagtes is prikkelend en ek sal beslis meer daaroor peins.

Ek dink dit is belangrik om die omstandighede waarin ons ons bevind te leer ken. 

Die verlede is seker nie ‘n akkurate voorspeller van die toekoms nie, maar soos met die Mesopotamiërs en Jode is daar voorbeelde wat ons kan help verstaan.

In hierdie opsig is die val van die Wes-Romeinse ryk vir my interessant. 

Opeenvolgende invalle van Germane en Hunne het die kohesie wat die Romeine gevestig het vernietig. 

Tog is hul beskawing bewaar in die gemeenskappe van kloosters en kampe wat deur vlugtelinge gebou is, soos Venesië wat eens ‘n moeras was en danksy sy ligging nie aantreklik vir die veroweraars was nie.  Maar Venesië het gegroei met die aankoms van vlugtelinge en uiteindelik ‘n invloedryke republiek geword wat deels Europa uit die donkereeue kon lei met die Renaissance.

Ander stede soos Florence was op betwiste grond en het gedurig van heerskappy gewissel, maar kon eweneens die Renaissance help inlei.

Die grootste gedeelte van die Romeinse ryk het egter nuwe eienaars gekry.  Die Romeine moes maar daarby inval en assimileer of trek na ‘n veilige hawe soos Venesië.

Suid-Afrika, met sy oop uitgestrekte gebied, talle etniese hartlande, voormalige heersersklas wat wyd verspreid is en smeltkroes van handelsentra, verteenwoordig in baie opsigte eerder ‘n ryk as ‘n nasiestaat.

Dalk sal, soos in die ou Romeinse Ryk, al die verskillende toekomsopsies tussen u pole werklikheid word? 

Maar dit is seker ook nie uitgesluit dat Afrikaners dalk ‘n beter gekoördineerde strategie sal implementeer na genoeg gesprek op Dié Groot Debat nie?

Wat sou vir u meer verkieslik wees? ‘n Versplinterde reaksie elk met sy eie kanse op sukses of ‘n meer gekoördineerde strategie met skaalvoordeel?

Louis du Plessis ·

Gemsbok ~

1  Wat ‘n plesier om te luister na jou historiese insig (hieronder) oor Europa eerder as na die skinderstories van kleuters.  Terwyl ons Germaanse voorouers die Romeinse Ryk geplunder het, asook tydens die daaropvolgende Donkereeue en Renaissance, het, soos jy tereg aandui, “verskillende opsies” gelyktydig en dus langs mekaar bestaan.  Hierdie is ‘n waardevolle insig in veeldimensionaliteit.

2  Inderdaad sal daar nie net eendag sulke verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika bestaan nie, maar is dit rééds die geval:  vergelyk die bedreigte Afrikaanstaliges op plase in Muldersdrif met die onbevange boere in die Paarl.  Die voorbeelde is legio.  Die assimilasiedruk in Muldersdrif is byvoorbeeld aansienik hoër as in die Paarl, waar eiendomsreg sowel as partypolitieke selfgelding sterk staan.

3  Terloops, dis lekker om te sien hoe jy die rol van Venesië en Florence – ek praat saam met die Italianers eerder van Firenzi – as dryfvere in die Europese Renaissance uitlig.  Was onlangs in Firenzi en het my asem opgehou toe ek in die Santa Grocé-katedraal in die skadu staan van die digter Danté en die skilder Michelangelo, die wetenskaplike Galileo en die kompomis Rossini, en, glo dit of nie, die politieke denker Machiavelli.  Dis verstommend hoe hulle beskawingsproses ons wilde voorouers se onderbewuste groeipotensiaal kon stimuleer.   

4  Jy het ook gelyk Gemsbok:  na nog bydraes op die Groot Debat, kan ons Afrikaanstaliges in die algemeen, dalk ook ons Afrikaners in die besonder, soos jy sê ‘n “beter gekoördineerde strategie” ontwikkel.  Ek sou wou voorstel:  daar’s twee onmisbare maar teenstrydige vereistes daarvoor:  ons kom vlymskerp realisme kort wat die feite van ons land verantwoord, verbind aan radikale idealisme wat eers sal rus as ons gemeenskap werklik vry is.  (Enkele neurotiese kleuters mag dalk sukkel om dié twee ysters sáám op te tel.)   

Met agting

Louis du Plessis

Hannes ·

Louis, ek hou baie van jou vlymskerp realisme en radikale idealisme!

Wat jou vertolking van die verkiesing betref, hoor ek een van Solidariteit se mense het in ‘n ligte luim opgemerk dat die Afrikaners se sentiment by die VF le, hulle stemme by die DA en hulle lidmaatskap by Solidariteit en sy vennote!

Jou statistieke oortuig my weer dat ons heil nie in die politiek le nie. ZB du Toit het tereg gese dat ‘n minderheid hom nie  moet laat tel nie. Ja, ons moet stem, maar anders as die meerderheid wat na die verkiesing regeer is dit nie genoeg nie. Kiesersgedrag is nie kopersgedrag waar mense op meriete keuse maak nie. Huntington het gese identiteit is soos sonde, jy kan nie daarvan wegkom nie al probeer hy hoe?

Prof David Welsch het nog in sy UCT dae gese Groepsidentiteit bepaal stemgedrag, en nie waardes en beleid nie.

Louis du Plessis ·

Hannes ~

1   Met jou frase “ons heil nie in die politiek lê nie”, raak jy ‘n belangrike dimensie aan: Wanneer volke, nes indiwidue, in engtes beland, kies hulle graag weë waarop hulle vinniger kan beweeg. Hulle kanaliseer hulle energie elders heen. Dis een rede hoekom die Afrikaners deesdae eerder geld maak en musiek maak.

2   Desondanks kwalifiseer jy jou stelling dat “ons heil nie in die politiek lê nie” met die byvoeging “Ja, ons moet stem”.  Dit wys op ‘n tipiese dilemma van etniese minderhede wêreldwyd:  Die feit dat ‘n volk klein is tussen groter getalle, sal dié met min moed, verder ontmoedig, maar dié met meer moed, verder aanmoedig. 

3   Soos jy tereg impliseer:  elke stem tel steeds.  Ook die partypolitiek bly steeds ‘n werktuig van selfgelding.  Weens die Afrikaanssprekende se relatiewe demografiese krag in die suide, is dit tans veral daar, in die Wes-Kaap, waar die Afrikaanssprekendes homself op dié gebied uitleef. 

4   Elke keer dat Afrikaanssprekendes egter landwyd hande vat, soos Wannie Carstens met die Afrikaanse Taalraad regkry, verhoog hulle bedingingsvermoë:  Uit eenheid krag!  

Louis du Plessis

Anoniem ·

Geagte prof du Plessis
 
Ek wonder nogal wat die Lombarde (Langbaarde) Firenzi genoem het terwyl hulle daar vertoef het.
 
Die invloedrykste familie van Firenzi, die De Medici’s, maak vir interessante leesstof.  Hulle het hul rykdom in wolhandel verdien, ’n bank opgerig en later die politiek van Firenzi gedomineer.  Uiteindelik sou hulle familie ook 4 Pouse en 2 koninginne van Frankryk oplewer.
 
Een van hierdie Franse koninginne, Marie de Medici, was die moeder van koning Lodewyk XIII.  Hy het as eersteminister die alombekende Kardinaal Richelieu gehad. 
 
Die Kardinaal is te siene in die avonture van Die Drie Musketiers van Dumas, maar in die werklike lewe word na hom verwys as die vader van die moderne nasie-staat, die beginsels van nasionale soewereiniteit en internasionale reg. 
 
Hy het daarin geslaag om Frankryk die dominante Europese moondheid van die sewentiende eeu te laat, ‘n rol gespeel met Nederland se onafhanklikheid van Spanje en Duitse unifikasie so vertraag dat dit 120 jaar en ‘n Bismarck sou verg om die invloed van sy buitelandse beleid om te keer.  
 
‘n Britse dramaturg het die woorde “die pen is magtiger as die swaard” in die Kardinaal se mond gelê en daardeur ‘n idioom gemunt.
 
Kardinaal Richelieu se doopname was Armand Jean du Plessis, en sy broer: Alphonse Louis du Plessis.
 
Ek sien daarna uit om saam met u die ysters van realisme en idealisme te probeer optel.
 
Welkom by Dié Groot Debat.

Ja-maar ·

Die Groot Kardinaal is ook deur ons eie Sakekoning vereer met ‘n wereldbekende handelsnaam! Saam met ander groot Realiste soos Metternich (?), Bismarck, Churchill en Kissinger, het hulle al by baie kruispaaie in die geskiedenis die Wolf van die deur af gehou toe die idealiste dit oopgelos of -vergeet het. As ons maar by ons eie Groot Kruispad een van hulle aan die stuur gehad het….

Prof Louis, die vraag is wat ons by hierdie Groot Geeste kan leer wat strategie en die uitvoering van strategie betref? Planne maak is nie so moeilik nie, maar ek het Genl Wavell se antwoord gelees toe iemand opgemerk het dat Malborogh se strategie by Blenheim voor die hand liggend lyk. Wavell het toe opgemerk ja, maar net Malborogh kon dit uitvoer!

Louis du Plessis ·

Ja-maar ~
 
1   Wat ‘n stimulerende opmerking!  Die uitvoering is altyd deurslaggewend, nie die maak van planne nie.  In Mei 1940 byvoorbeeld het die Franse weermag ‘n plan vir als gehad, maar kon niks uitvoer nie.  Die Duitse weermag daarenteen, met minder infanterie en kanonne, tenks en vliegtuie, het een uitmuntende sekelsnitplan ontwerp en stapsgewys deurgevoer.  In Junie is die Duitse vlag in Parys gehys.  Die uitvoering is inderdaad deurslaggewend!
 
2   Trouens, jy hoef nie eers ‘n sogenaamde strategie voor die tyd uit te skryf om dit effektief uit te voer nie.  Vra vir genl Christiaan de Wet.  Die betekenis van strategie as ‘n dokument in ‘n laai, word oorskat, en van strategie as uitvoering, onderskat.  Dankie vir ‘n groot waarheid!

Louis du Plessis

Louis du Plessis ·

 

Geagte kollegas ~

 

1  
Hoekom reageer Pieter Mulder op die ontleding van verkiesingstendense
met soveel bitterheid?  Die antwoord
is:  As iemand in die voetspore van
Marthinus van Schalkwyk drentel en sy party deel maak van die regerende
alliansie van die ANC en die SA Kommunistiese Party, is dit voordelig om jou oë
vir die feite toe te druk.

 

2   Nadat
die DA sy steun in die afgelope plaaslike verkiesing verhoog, van 16 na 24
persent, doen Mulder sy bes, in alles wat hy sê, om die DA skeef voor te stel,
selfs te beledig, ten gunste van sy alliansievennoot, die ANC, wat, volgens sy lofgesange
op die Groot Debat 99.9 persent van die noordelike stadsrade beset.  Hoe gerieflik is dit om op die speelgrond agter
die ANC-boelie te skuil – die een wat strukturele geweld gebruik – as jy maar
net .4 persent groot is!

 

3  
Mulder reageer breedvoerig op ‘n verkiesingsontleding “Waarheen
kronkel die stemtou in Suid-Afrika?” waarin ek een keer terloops kortliks
na die VF verwys het.  Hoekom so venynig?  En hoekom skryf hy aan my ontleding uitsprake
toe wat ek nooit gemaak het nie.

 

3.1   Mulder
meen byvoorbeeld dat ek “kort termyn tendense oor die lang termyn
projekteer”.  (Terloops, volgens die
Afrikaanse spelreëls is “korttermyntendense” een woord.)  Die waarheid is:  Die ontleding bevat geen enkele langtermynprojeksie
nie.

 

3.2  
Mulder sê my artikel “skep duidelik die verwagting dat ‘n DA
oorwinning oor die ANC binnekort bereik sal word”.  (Terloops, volgens die spelreëls word
“DA-oorwinning” met ‘n koppelteken geskryf.)  Die waarheid is:  Ook dié Mulderstelling het met my
verkiesingsontleding niks te doen nie.

 

3.3   Mulder
skryf:  “Volgens Du Plessis was
hierdie verkiesing die groot deurbraak wat die ANC se houvas gebreek
het”.  Die waarheid is:  Ek het geensins so iets beweer nie. 

 

4   Ook
in meeste ander uitsprake wys Mulder hoe hy voeling met die werklikheid verloor
het.  Byvoorbeeld:

 

4.1   Mulder
misken die deurslaggewende rol wat die DA-rade in die Wes-Kaap speel om
Afrikaanse straatname te handhaaf en wek die indruk die bykans onsigbare VF het
iets daarmee te doen. 

 

4.2   Verder,
eerder as om die DA te bedank dat hy die Verwoerdbeeld in Midvaal deur die
Afrikaanse gemeenskap in veilige bewaring laat neem het toe ANC-vandale die nag
reeds opgedaag het om dit op te kap, val Mulder die DA daarvoor aan.  Moes die DA-stadsraad die beeld daar gelos
het en die stukke die volgende oggend opgetel het?  Dalk sal dit in elk geval beter wees dat
iemand wat langs Zuma slaap liewer nie die naam van Verwoerd op sy lippe neem
nie.

 

4.3  
Hy beweer die DA het deelgeneem aan die grondwetlike
onderhandelings.  Sowaar!

 

5   Slotsom.  In die plaaslike verkiesing op 18 Mei 2011
het die Afrikaansspekende in die algemeen, en die Afrikaner in die besonder,
gewys:  om vir sy eie regte te veg, werk
hy graag met mede-Suid-Afrikaners saam. 
Wat hy egter nie sal doen nie, is om, soos Pieter Mulder, hom te laat
koöpteer deur die outoritêre, rassistiese en korrupte regerende alliansie van
die ANC en die SA Kommunistiese Party.Louis du Plessis

 

johann B ·

Mulder maak ‘n paar uiters geldige punte waarvan ons kan kennis neem.  

Gwen ·

Jy is self lekker kleinlik met jou reaksie mnr. Du Plessis.  As ‘n mens in ag neem waar jou vrou haar mee besig hou (dit is DA-propaganda skryf) is ek nie werklik verbaas nie.

Jy lieg ewe lekker as jy meen die VF+ is deur die ANC gekoöpteer en dat Mulder dieselfde pad as Van Schalkwyk geloop het.  As julle by die DA ophou leuens versprei is ek seker dat die VF+ meer gemoedelik in hulle reaksie sal wees.

Jy is nie die naam Afrikaner werd nie.  Julle ja-stemmers dink steeds aan getallepolitiek.  Dit is futiel.

Met groot walging
Gwen

Piet le Roux ·

Dis nie moontlik om ‘n mening te lieg nie. Du Plessis huldig – ten regte of nie – die mening dat die VF+ deur die ANC gekoöpteer is. Sy mening hou water of nie, is verwerplik of nie; jy is welkom om dit aan te spreek, soos jy ook ten dele in jou kommentaar doen.

Die vraagstuk oor getallepolitiek en die nut daarvan is baie belangrik en ons moet dit nog goed deurtrap – ek verwelkom jou verwysing daarna. 

Om egter te praat van walging – en of Du Plessis nou die naam Afrikaner werd is of nie – pas nie in by ons belangrikste riglyn vir kommentaar nie, naamlik dat ons graag ‘n beskaafde toon wil handhaaf. Nie Mulder of Du Plessis het mekaar op hierdie wyse aangevat nie. Dis persoonlik van aard en doen afbreuk aan juis die belangriker vrae, soos oor die nut, al dan nie, van getallepoltitiek wat jy ook aanraak.

Ons trap nog die kommentaarbeleid deur, so ek hoor graag wat jy hiervan dink.

Gwen ·

Dit is geen mening nie.  Dit is ‘n blatante leuen, jy weet dit so goe soos ek.  Ek laat my nie vertel dat ‘n kamstige professor nie die moeite sal doen om die feite te bepaal voordat hy sy bek rek nie.  Einige akademikus wat sy sout werd is weet daar is twee kante van die storie.

Dit is kwaadwillig van julle om die VF+ en dr. Mulder te verkleineer.  Dink jy werklik dit is beskaafd om die enigste party wat namens die Afrikaner praat se naam te skaad?

Julle by Solidariteit doen presies dit buiteparlementêr wat die VF+  binneparlementêr doen.  Waarom is julle dan te bang om met die VF+ te assosieer.

Gwen

Piet le Roux ·

Daar is gewoonlik meer as twee kante aan ‘n storie. 

Hier is niks kwaadwilligheid van Maroela Media betrokke nie – een van ons skrywers het sy mening gegee en ons het dr. Mulder genooi om te reageer. Dit het verlede week verskyn, hier: http://maroelamedia.co.za/blog/die-groot-debat/repliek-stembusoorwinning-onrealisties-vf-tree-vir-belange-in/

Daar is nie vir ons ‘n rede om self ‘n mening oor hierdie saak uit te spreek nie. Maar ek huldig veral die volgende mening:

Dit is heeltemal aanvaarbaar om enige party of groep wat “namens die Afrikaner praat” te bevraagteken. Om die waarheid te sê, jy doen dit eintlik self. Jy sê – of ek nou saamstem of nie – “julle by Solidariteit doen presies dit buiteparlementêr wat die VF+ binneparlementêr doen.” As dit so is dat ons presies dieselfde, maar net op verskillende terreine, doen, dan behoort jy volgens jouself nie enigiets te doen of sê wat sleg op Solidariteit reflekteer nie.

Wat my betref is jy egter welkom om kritiek na hartelus uit te spreek, ook teenoor Solidariteit. 

Wat die aard van hierdie forum betref wil ons graag ‘n toon van die gesprek vestig waar mense nie verraaiers/leuenaars/walgers genoem word nie.

Dink jy nie dat ons andersins die gevaar sou loop dat mense later nie meer die argument en die feite onder oë sou hou nie? Nie Louis du Plessis of Pieter Mulder is as persoon in hierdie geval belangrik nie – die vraag is oor die waarde van hulle argumente.

Gwen ·

Jou eie reëls:

Onbillikheid: Die Groot Debat plaas ʼn hoë premie op billikheid.
Enige klagtes van onbillike bewerings word met erns hanteer en wanneer
dit, na oordeel van die redakteur, meriete het, word die saak met die
betrokke blogskrywer opgeneem. Alhoewel daar altyd daarna gestreef word
om oplossings te vind wat vir alle partye aanvaarbaar is, is die
redakteur se besluit uiteindelik deurslaggewend. Regstelling behels
normaalweg die aanbring van ʼn prominente nota met die tersaaklike
besluit by die oorspronklike inskrywing.
Gwen

Louis du Plessis ·

Gwen ~

1  Die data oor hoe Suid-Afrikaners in die algemeen, en Afrikaanssprekendes in die besonder, op 18 Mei gestem het, het ek in die bespreking hierbó probeer vertolk.  Ten spyte daarvan dat die naam van die betrokke politikus nêrens genoem is nie en dat sy party net terloops gemeld is, het hy ‘n uiters negatiewe artikel geskryf waarin hy my bespreking op elke moontlike manier wanvoorstel.   

2  In my reaksie wou ek drie sake uitwys:  Eerstens wou ek toon hoe hy my verkiesingsvertolking wanvoorstel – en glo my daar is ook talle ander sake wat hy verkeerd weergegee het.  Tweedens, wou ek toon dat sy toetrede tot die regerende alliansie van die ANC en die SA Kommunistiese Party nie tot sy voordeel strek nie.  En derdens wou ek weer bevestig wat tans die partypolitieke voorkeure is van Afrikaanssprekendes en spesifiek ook Afrikaners.   

Met agting

Louis du Plessis

Gwen ·

Die feit is dat jy gelieg het deur te sê die VF+ is gekoöpteer deur die ANC en dat dr. Mulder dieselfde as Van Schalkwyk gedoen het.  Dit is kwaadwillig, agterbaks en agteraf (maar ek verwag nou nie juis veel meer van jou nie).  Ek sou waarskynlik ook so gereageer het indien jy my goeie naam deur die modder sleep.  As jy ‘n probleem met dr. Mulder het (soos dit ook blyk te wees), hoekom praat jy nie persoonlik met hom nie, eerder as om hom in die openbaar deur die modder te sleep.

Dr. Mulder se reaksie was nie besonder negatief nie, eerder realisties.  Einige regdenkende sal weet dat die DA nooit groter sal word as wat hy in die Wes-Kaap is nie.

Soos genl. Malan bewys het moet militariste hulle liewer nie ophou met politiek nie. Dit skyn bo hul vuurmaakplek te wees.

Gwen

Anoniem ·

Gwen,

Die ontslape generaal Magnus Malan het al sy pligte, insluitend in die politiek, met lof uitgevoer.

Die enigste tekortkoming waaroor militariste wel beskik wanneer dit by politiek kom, is dit hulle opregtheid.

Ek vind die kommentaar wat jy lewer, met spesifieke verwysing na woorde soos lieg en walging met die konteks waarin jy hulle gebruik, asook jou ontsiering van die nagedagtenis van genl. Malan, as benede die standaard wat tot op hede op hierdie forum gehandhaaf is.

Louis du Plessis ·

Gemsbok ~
 
1  Jy stel ‘n moeilike vraag maar een van kardinale belang. 

2  Die DA verklaar onder meer: “Die uitspraak deur Regter Colin Lamont in die Julius Malema-haatspraaksaak is werklik interessant en nuttig.  In die eerste plek lewer dit ‘n goed gemikte teregwysing aan ‘n onverantwoordelike opsweper wat geen normale mens kan glo regtig besig was om struggle-liedere te sing nie.”  Dié standpunt word dan gemotiveer, soos mens by jou skakel kan lees.  Aan die end van die mediaverklaring deur Dene Smuts, die DA se skaduminister vir justisie, merk sy op dat Lamont se uitspraak op ‘n tweede manier egter verkeerd kan wees en wel “omdat dit probeer om die verbod uit te brei na alle persone toe in alle omstandighede en dit sodoende moontlik maak om die Gelykheidswet te bevraagteken.”
 
3  Ek vertolk Smuts as volg:  Sy steun die verbod daarop om die lied in die openbaar te sing, maar wonder of dit wys is om dit oral te verbied aangesien dit uitdrukkingsvryheid mag aantas.  Sy voorsien dat hierdie totale verbod daartoe kan lei dat die Gelykheidswet gewysig word.
 
4  My oordeel is as volg:  Die DA het die haatspraakuitspraak tereg ondersteun.  Ook die waarskuwing teen onderdrukking van meningsuiting maak vir my sin.  Kyk na ‘n omgekeerde voorbeeld:  As wilde jong Afrikaners dalk eendag vryheidsliedere sing wat vir swartes aanstoot gee en hulle word verbied om dit in die openbaar te doen, sal ons dit aanvaar, maar ons mag dalk besonder opstandig raak as ALMAL verbied word, selfs om dit in ‘n klein privaat groepie te sing of te bestudeer.  Ons sal ons uitdrukkingsvryheid in die privaat, waar ander nie teenwoordig is nie, ten alle koste wil verdedig.  Ek raai dis vir daardie kosbare reg – uitdrukkingvryheid – waarvoor Smuts pleit.

5  Tog Gemsbok, dink ek jy slaan die spyker op sy kop:  die DA-verklaring is “teleurstellend”.  As die inhoud dan korrek is, hoekom is dit dan vir my “teleurstellend”?  Die rede is:  die breë publiek.  Die grootste persentasie lede van die publiek is waarskynlik nie in staat om veeldimensioneel te dink nie: Hulle kan nie ja sê vir ‘n verskynsel, maar terselfdertyd een uitsondering op die verskynsel huisves nie.  Daarom, vir die breë publiek, geld die volgende wenk:  Moenie ingewikkeld wees nie!  Lig ‘n kwessie toe uit een duidelike gesigspunt!  Alles wat effens meerdimensioneel is, maak die man op straat senuweeagtig.  Kyk net hoe kou rugbygeesdriftiges hulle naels as die Springbokke één wedstryd verloor! 

6  Dus:  Die DA moes volstaan het met die eerste deel van die mediaverklaring – die kern, waarin hy regter Lamont se uitspraak steun.

Anoniem ·

Louis,

Die gedagte dat ‘n verbod op haatspraak ondergeskik behoort te wees aan die reg op private meningsuiting is baie interessant.

Tot watter mate kan dit vir ‘n hof aanvaarbaar wees dat haatspraak op ‘n massavergadering van die ANC jeugliga gebesig word?

Behoort die hof, Afrikaners en die DA insgelyks bereid te wees om Darren Scott se reg om die k-woord tydens ‘n private geleentheid te gebruik, te verdedig?

Dit wil darem voorkom asof die DA wel die geleentheid gegun gaan word om sy standpunt te verduidelik wanneer die Jeugliga die parlement gaan vra om die sing van “Skiet die Boer” te beskerm.

Louis du Plessis ·

Gemsbok ~

1  “Jy stel net so baie vrae soos ‘n man se derde vrou” lui die Zoeloespreekwoord.  Ek sal nie sê óf ek óf iemand anders ken noodwendig die antwoorde daarop nie.  Maar dis skerp vrae en ons moet probeer.  Op jou eerste vraag, oor wat vir die hof aanvaarbaar is, kan ek nie antwoord nie; die hof moet self sê. 

2  Wat die tweede vraag betref, oor die reg om te sê wat jy wil:  Vir seker ja!  Denke, taal en woorde is die kenmerke van my en jou bewussyn.  As ons die uitlewing daarvan in ons eie privaat kring onderdruk, is dit die einde van ons denke, soos in kommunistiese stelsels, soos konsentrasiekampe.  Ons smoor dood.  Beskaafde mense sál noodwendig en instinktief uitdrukkingsvryheid beskerm.  Primitiewes, in die mate waarin hulle primitief is, sál saam met die stroom swem.  Primitief beteken konformisties:  soos ‘n stroomvis.  Deel van die massa.  Onindiwidueel.  Onselfstandig.  Reaktief.  Soos die lede van die stam, in NP van Wyk Louw se sielkundige drama “Raka”. 

3  Voorts, binne die raamwerk van uitdrukkingsvryheid sal verreweg die grootste persentasie van ons volksgenote nie aan ander aanstoot gee nie.  Hulle is te ontwikkel daarvoor.  Trouens, mense wat heeldag ander loop en kritiseer (of agter ander aanloop en hulle aanbid) het nog nie hulle eie koers ontdek nie.  Wie onsmaaklike negatief gelade woorde besig, vorm, in ontwikkelde samelewings en volke, soos die Afrikaner, ‘n onbenullige minderheid.  Dis hulle wat in die openbaar aanstoot gee en dus in die openbaar aan bande gelê moet word.  Tog moet ons hulle reg om hullself te buite te gaan, as hulle in ‘n klein groepie Black Label drink, handhaaf.

4  Ons moet álmal se regte beskerm.  Een van die kernwaarhede van menslike gedrag is dít:  As jy jou vriende verbied om te vloek as hulle alleen is, hou hulle voor kersfees ook op om ander te komplimenteer en hulle te help en is hulle voor nuwejaar begrawe.  Lewe verg vryheid.  Lewe hang selfs saam met innerlike teenstrydighede.  In dieselfde 1850s, toe die latere vader van kommunisme, die kwaksalwer Karl Marx, sy tirades teen menslike ondernemingstalent, gepubliseer het, het ‘n ander bewoner van die Britse eilande, John Stuart Mill “On Liberty” die lig laat sien.  “On Liberty”, met oneindig baie historiese voorbeelde om sy argumente te illustreer, is ‘n meesterwerk oor vryheid as voorwaarde vir enige ontwikkeling van indiwidue of gemeenskappe. 

5  Viva uitdrukkingsvryheid!

Anoniem ·

Ek het ‘n opsomming van regter Lamont se uitspraak gevind op Beeld se webwerf hier:http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Woorde-is-n-magtige-wapen-regter-20110912

Hiervolgens word Julius Malema en die ANC verbied om die lied met die frase “Skiet die Boer” in “openbare en private byeenkomste wat hulle hou” te sing.

Aangesien die uitspraak spesifiek na twee respondente asook spesifiek na hulle byeenkomste verwys, lyk dit vir my na ‘n verbeeldingsvlug om voor te gee dat hierdie uitspraak hoegenaamd individuele uitdrukking beperk.

Die res van ons word slegs daaraan herhinner dat “die moraliteit van die samelewing dikteer” dat ons ons moet “weerhou om daardie woorde te uiter of te sing.”  ‘n Gewone herhinnering aan goeie maniere dus.

By die herlees van mev Dene Smuts se persverklaring blyk dit vir my asof sy bloot van die geleentheid wou gebruik maak om ‘n appeltjie met Afrikaners te skil.

Hierdie Zulu vrou volstaan hiermee en sal nie nog ‘n vraag vra nie.

Louis du Plessis ·

WIE MOET REG SPEL?

Aan Deon Opperman, goeiemôre ~

1 Jy skryf gister woordeliks: “Ek verwys hier spesifiek, en baie spesifiek, na u kleinlike aanval op Pieter Mulder se spelfoute. Hierdie is ‘n informele forum. “Wat” gese^ word is meer belangrik as die korrekte spel daarvan. Ek verwys u graag na ‘n ou gesegde (en jammer, dis in Engels maar ek dink korrek gespel): “When the sage points at the stars, the fool looks at his finger”.”

2 Ek was bevoorreg om “Ons vir jou” en “Tree aan!” te sien – meer as een keer. Jy maak doodseker elke mikrofoon, elke dekor en dekorasie, is op sy plek en sak op die regte tyd af. Dat selfs die rook op die beplande sekonde vrygestel word. Sal jy ooit die volgende opmerk? Nee wat, daardie geel lig kan maar dood bly. Of: Nee wat, daardie musieksnit kan maar bietjie vals wees. Nee, jy sal nie! Jy verwag die hoogste standaarde in elke faset van jou boodskap. Jy duld geen wanklank nie.

3 Dieselfde geld ook die Groot Debat en sy lewensbloed Afrikaans.

4 Die VF-leier was só teleurgesteld en woedend oor die Mei-verkiesingsuitslag, dat hy in sy reaksie nóg sy feite nóg sy taalgebruik nagegaan het. En hoe moeilik is dit om die volgende aan te skaf: ‘n speltoetser van die Potchefstroomse Universiteit; en die Afrikaanse woordelys en spelreëls van die Taalkommissie, by Pharos Woordeboeke, Kaapstad, 2009, Tiende uitgawe.

5 In jou standbeeld hierbo staar die selfaangestelde heilige na die sterre met die goue pensioenring aan sy vinger wat sy regeringsvennote – die SA Kommunistiese Party en die ANC – vir hom gegee het. Daarom het 24% kiesers hulle tot die DA gewend – meer as 80% van Afrikaners – sestig keer meer as die .4% kiesers wat voor dié standbeeld gaan kniel het.

6 Lank leef nie net wát ons sê nie, maar ook hóé ons dit in ons moedertaal sê!

Met agting

Louis

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.