Waarheen nou met die Israel-Hamas-konflik?

(Foto: MAHMUD HAMS/AFP)

Die jongste oorlog in die Midde-Ooste is nou reeds amper twee weke aan die gang en dis dalk nou gepas om te kyk wat tans aan die verwikkel is en dan te probeer sin maak daaruit.

Veranderende media-omgewing

Soos met die oorlog in Oekraïne is dit nogal insiggewend hoe oorloë in die moderne era aangebied word aan ons; die publiek. Ek onthou nog duidelik toe die Eerste Golfoorlog in 1990 uitgebreek het hoe ons 24 uur per dag na CNN-uitsendings kon kyk, wat natuurlik 100% eens was dat die slegte ouens die Irakese was (spesifiek Saddam Hussein); en die goeie ouens die Amerikaners. Ek herinner my dat die Amerikaanse troepe, gelei deur “Stormin Norman” Schwarzkopf, ʼn klinkende oorwinning oor Irak behaal het.

Saddam het egter aanhou regeer en is eers jare later in die Tweede Golfoorlog omvergewerp.  Hussein het oënskynlik vir maande in ʼn stormwatersloot weggekruip en is later tereggestel. Dit was net na die 9/11-terreuraanslag in New York en redelik duidelik wie as goed en sleg voorgestel is in die (Westers-gedomineerde) media. Hoeveel miljoene mense in die burgeroorlog in Irak daarna dood is, kan net geskat word. Die land was vir jare onstabiel en word tans deur ʼn regering wat as pro-Iranees bestempel word, regeer.

Rusland-Oekraïne-sosialemedia-oorlog

Israeliese soldate. (Foto: Aris MESSINIS / AFP)

Teen 2022 het oorlog egter anders gelyk nadat die Russe Oekraïne binnegeval het. Ons is nou in die era van sosiale media en daar is letterlik duisende “kenners” wat ons daagliks vertel hoe die Russe of Oekraïners nou eintlik besig is om die stryd te wen. Sosiale media se simpatie was gou verdeeld oor redes vir die oorlog.

Wat wel duidelik was, is dat Westerse media (wat die mantra van Wladimir Poetin as die skurk propageer), nie meer so suksesvol is/ was om die publiek te oortuig dat die Russe noodwendig die slegte ouens is nie.

Daar is/ was nou uiteenlopende menings oor die konflik. Die oorlog het ook blatante leuens aan beide kante blootgestel en ons is met heelwat “vals” video’s gekonfronteer – selfs grepe uit video-speletjies afkomstig uit vorige oorloë/ veldslae in daardie deel van die wêreld wat “afgestof” is vir die jongste oorlog.

Nou, 18 maande later, is die oorlog steeds aan die gang, maar eintlik al bietjie vergete. Die Weste en veral die VSA, het reeds honderde miljarde dollars in die oorlog ingepomp en van vredesamesprekings is daar nie veel sprake nie.

Hamas-aanvalle

Israel se nooddienste bekyk die toneel van ‘n vuurpylaanval in die stad Ashdod.
(Foto: Ahmad Gharabli / AFP)

Nietemin is die jongste Israeli-Palestynse-oorlog op almal se lippe. Die Palestynse terreurgroep, Hamas, het op Saterdag 7 Oktober honderde militante oor die goed-bewaakte grens tussen die Gasa-strook en Israel ingestuur. Vir ure lank is Israeli-burgerlikes basies gejag, gemartel en vermoor in hul huise, in hulle motors en ook by ʼn dansbyeenkoms. Volgens die Israeli’s is sowat 1 500 burgerlikes vermoor en nog omtrent 200 ontvoer na Gasa. Daar is ook duisende vuurpyle op Israelse teikens afgeskiet uit die Gasa-strook.

Hamas se optrede laat meer vrae as antwoorde. Hoe is dit moontlik dat die Israeli’s so stadig en traag gereageer het en een van die besbewaakte grense in die wêreld eenvoudig binnegedring is? Hoe is dit moontlik dat honderde Hamas-terroriste vir maande lank die operasie kon beplan (sonder dat die Israeli’s daarvan weet) en eenvoudig Israel binneval met motorfietse, Toyota-bakkies en hangsweeftuie?

Soos verwag word, het Israel gemobiliseer en dreig met ʼn volskaalse troepe-inval in die piepklein Gasa-strook. Hulle het ook met dodelike bomaanvalle reeds honderde geboue in Gasa aan flarde geskiet. Honderde, en dalk selfs duisende, Palestynse burgerlikes is in die proses gedood.

Dit blyk dat Hamas se gewaagde aanval gerig was om die Palestyne se jarelange stryd teen die Israelse regering weer in die kollig te plaas. Die meeste Moslemlande was na ongeveer 75 jaar se stryd tussen die Israeli’s en die Palestyne al keelvol vir die Palestynse kwessie en sommige het selfs bande met Israel aangeknoop.

Kan die oorlog eskaleer?

‘n Vuurbal ontplof na ‘n Israelse lugaanval op Gazastad. (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Hamas het dit wel reggekry om simpatie oral te ontlok nadat Israel Gasa gebombardeer het. Dit wil voorkom of Hamas se ou bondgenoot, Iran, gereed staan om Israel aan te val en dat hul ook kan staatmaak op hulp uit Sirië en selfs van Turkye, wat dreig om Israel aan te val. Die Arabiese state (selfs die Palestyne in die Wesbank) staan egter en kyk wat gaan gebeur, alhoewel hul bevolkings sat is vir Israel wat hul Arabiese “familie” in Gasa so bombardeer.

Aan die ander kant het die Westerse state amper soos een onmiddellik Israel se reg tot selfverdediging ondersteun. Israel se groot bondgenoot, die VSA, het ook sommer ʼn vliegdekskip na die area gestuur en daar is sprake van enorme bedrae geld en meer militêre hulp wat aan Israel verskaf kan word.

Ons wag nog om te sien of die oorlog gaan eskaleer. Daar is gedurige dreigemente dat as die pro-Iranese groep, Hezbollah, Israel sou aanval vanaf Libanon, Israel en selfs die VSA Iran sal moet aanval.  Dan is daar ook dreigemente dat, indien Israel troepe in Gasa instuur, die “Moslemlande” Israel sal aanval.

Baie van die sosialemediakenners voorspel ook sommer dat Rusland en China (beide tans net toeskouers in die konflik) ook betrokke kan raak en dat Armageddon voor die deur lê.

So ʼn scenario is teoreties moontlik, maar aangesien almal lugtig is vir ʼn streeksoorlog, gaan dit myns insiens nie sommer plaasvind nie. Dis nie in enige land se belang om oor die Palestyne ʼn internasionale oorlog te ontketen nie.

Weste verloor propaganda-oorlog

Beskadigde geboue aan die Gaza-strook. (Foto: Jack Guez/AFP)

Die sosiale- en ander media propaganda-oorlog is egter iets om te aanskou. Beide partye se ondersteuners dring daarop aan dat die ander uitgewis word. Die konflik is egter kompleks en daar is geen onskuldige partye nie – nie na 75 jaar waarin oorloë tussen Israel en die Palestyne en hul Arabiese bondgenote sporadies plaasvind nie.

Wat wel besig is om duidelik te word, is dat in die nuwe wêreldorde wat ons ingaan, die Amerikaanse pro-Joodse propaganda-masjien sukkel om eensydig die Palestyne as die slegte ouens voor te stel, ten spyte van die slagting van Israelse burgerlikes. Miljoene Moslems wat al dekades lank na Westerse lande emigreer, hou skielik ongekende pro-Palestynse betogings.

Die pro-Palestynse beweging in Westerse state kry ook mildelik ondersteuning van linkses – hetsy anti-kapitalistiese linkses, anti-rassistiese groepe, selfs ondersteuners van die pro-klimaatkrisis groepe en ook linksgesinde identiteitsgroepe. Hoewel die meeste konserwatiewes in die Weste (soos hier in SA) Israel ondersteun, is daar nou ook toenemend konserwatiewes wat die Palestyne begin ondersteun, wat ook onverwags is.

Daar was al vroeër anti-Israel steun van die linkses, maar Westerse regerings is onkant gevang deur die pro-Palestynse groei op tuisbodem. Die gevolg is toenemende anti-Joodse retoriek teenoor die anti-Moslem retoriek, wat natuurlik ʼn resep is om die sosiale eenheid van die Weste verder van binne te rysmier.

Skielik is die Amerikaanse propagandamasjien swakker as ooit tevore en die globale Suide (oftewel Derdewêreld) amper bankvas pro-Palestyne.

ANC-regime lê ook ʼn eier

President Cyril Ramaphosa het gesê hy staan in solidariteit met Palestina (Foto: VF Plus)

Dis nogal insiggewend dat in Suid-Afrika, die pro-Israeli en pro-Palestynse groepe bitter gou na vore getree het. Partye in die sg. Veelpartypakt (soos die DA, ACDP en VF+) is pro-Israel en die linkse ANC en ultra-linkse EFF onbeskaamd pro-Palestyne.

Dis egter duidelik wat die ANC-regime probeer bereik deur Israel as ʼn haatlike “apartheidstaat” voor te stel. Die ANC/ Suid-Afrika het deesdae bitter min internasionale aansien en hul opsaal van die “apartheid”-perd sal plaaslik hul mislukkings verbloem en baie meer gewild wees as die pro-Israeli perd van die Veelpartypakt.

Dis ook deel van die ANC se pogings om hul anti-Westerse retoriek uit te brei. President Cyril Ramaphosa se regime sien Brics as die toekoms en doen skynbaar sy bes om bande wat die afgelope 30 jaar met die Weste verstewig is, uit te rafel.

Dit het ook nie ongesiens verby gegaan dat die Nederlandse koning Willem-Alexander en koningin Maxima oor die naweek deur anti-Westerse protesteerders uitgeskel is tydens ʼn besoek aan die ou slawelosie in Kaapstad nie. Nederland, wat die ANC in die buiteland ondersteun het in sy stryd teen apartheid, is voorheen altyd goed ontvang in Suid-Afrika. Verwag maar meer anti-Westerse retoriek in die toekoms.

Hoe dit ook al sy, die ANC se anti-Israel en anti-Oekraïense standpunte gaan implikasies hê. Dit sal nie verbaas as Westerse maatskappye een vir een gaan disinvesteer soos ons laas in die 1980’s ervaar het nie. Westerse maatskappye word in elk geval deur korrupsie, misdaad, SEB en gebrek aan elektrisiteit ontmoedig om met Suid-Afrika sake te doen.

Vredespogings nodig

Israel en Palestina se vlae in Jerusalem, die hoofstad van die land (Foto: ANP XTRA LEX VAN LIESHOUT)

Om terug te keer na die Israeli-Palestynse-konflik: Hamas het dit wel reggekry om hernude aandag te vestig op die Israelse okkupasie van sogenaamde Palestynse gebiede. Hamas en die Palestyne se gronde vir hul aanvalle in Israel, wen meer veld soos die Weste se wêreldpolitiek stoom verloor.

Israel, wat die konflik moontlik as ʼn gulde geleentheid gesien het om die Palestyne uit Gasa te verdryf en klaar te speel met Hamas, het ook nie die teenkanting verwag uit die Weste self nie.

ʼn Volskaalse Israelse inval in Gasa gaan nou eerder ʼn laaste opsie wees en net as die VSA instem (wat tans nie moontlik lyk nie). Vredespogings sal nodig wees om gemoedere te kalmeer. Die VSA/ Weste se steun vir Israel sal sekerlik voortduur, maar hul geldelike/ militêre steun vir beide Israel en Oekraïne kan op die lange duur die Weste se agteruitgang versnel.

Die ontploffing van die invloed van sosiale media is egter die VSA/ Weste/ Israel se grootste vyand. Alternatiewe menings wen nou toenemend veld en die Westerse oorheersing van die propaganda-oorlog is verby.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Truman Burbank ·

Die vorige reset was ook n oorlog wat gevolg het op n pandemie.

Harley Davidson ·

Die eerste minister moet doen wat hy gesê het en dit is om hamas totaal uit te wis ,en hopelik stuur SA sy hele weermag om hamas te gaan help twee vlieë met een klap.

annie ·

Ons Christene het ‘n handboek en toekomsgerigte nuusblad, die Bybel, wat die gebeure uitspel vir die jare wat kom. Dit is duidelik dat die meeste mense wat reageer op die gebeure wat afspeel, nie in die Bybel belangstel nie en graag die afloop self wil rig. Hoe sake presies gaan verloop en uitdraai en wanneer weet ons nie maar daar kom ‘n erge tyd en diegene wat nie in Israel hoort nie gaan vlug en hol dat die stof so staan.

Jack ·

Die Hamas Israel konflik is die voorloper vir die weergebore kinders van God se wegraping, dan die openbaarmaking vd Antichris, dan die sluit van die vredesverdrag in Israel, dan die 7 jaar oorheersing vd Antichris en dan die slag van Armageddon, waarna die satan vir n 1000 jaar gebind word terwyl Jesus vir 1000 jaar in Jerusalem heers. (Wereldgebeure moet altyd binne bybelse profesie bestudeer word)

Autobahn ·

‘n Mens kan reeds beweer dat Vanguard maar weer een van die winsgewers van die oorlog is, sonder om kante te kies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.