Wanneer daar nie meer kos op die tafels is nie…

Foto ter illustrasie van Suid-Afrika se sitrusbedryf. (Foto: Vaalbos Trust)

Terwyl ek my “vinnig-bak”-frikkadelle in die oond sit om daarna gou die groenboontjies en pampoen in hulle onderskeie potjies te kry, is die aartappels in die mikrogolfoond besig om vir vyf minute vinnig vooraf gaar te word voordat dit as waaier-aartappels ook oond toe gaan.

ʼn Mens se gedagtes dwaal dan rond tussen verbruiker en boer, want hier waar ek as boer in die kombuis besig is, is ek nou ook die verbruiker.

Met soveel vraagstukke wat wêreldwyd in raadsale die gesprekke oorheers, besef ʼn mens opnuut dat daar dalk nie genoeg aandag gegee word aan die verhouding tussen boer en verbruiker nie. Hier by TLU SA sê ons nog al die jare dat die twee saakmakende rolspelers in die waardeketting gewis die boer en die verbruiker is.

Al die ander mense in die waardeketting het ʼn rol om te speel, maar sonder die boer en die verbruiker het hulle geen rol nie. Die belangrikheid van verbruiker en boer kan nie geringgeskat word nie – die twee is elkeen in eie reg inderdaad noodsaaklik vir die ander om te kan bestaan. Wanneer daar die dag nie meer kos op die tafels is nie, sal daar baie vinnig ʼn rewolusie uitbreek; aan die ander kant sal die boer met al die kos in die wêreld niks kan doen indien daar nie ʼn mark is nie, met ander woorde die verbruikers wat die produkte koop.

Natuurlik sê ons dankie vir al die rolspelers wat elkeen op hulle manier ʼn bydrae maak om te help dat daar voldoende voedsel van gehalte geproduseer en versprei word na waar dit benodig word. Die afstand tussen boer en verbruiker gee vir baie instansies die geleentheid om betrokke te raak en te help met heelwat van die aspekte wat ʼn invloed uitoefen op die gladde en effektiewe produksie en verskaffing van voedsel om uiteindelik te kan sê dat daar kos op die tafel is.

Voedselsekerheid is seker een van die mees strategiese aspekte wat enige verantwoordelike regering moet nastreef. Voedselsekerheid gaan nie net oor die produksie van voedsel en of daar voldoende voedsel in die land beskikbaar is nie, maar ook oor die gehalte, beskikbaarheid en bekostigbaarheid daarvan.

Baie mense in Suid-Afrika en regoor die wêreld gaan slaap honger. Daar is kommer oor kinders wat nie gebalanseerd eet nie se fisiese en verstandelike ontwikkeling. Kinders wat aan belemmerde groei ly, herstel nooit na behore nie en sal die res van hulle lewe ʼn agterstand in hulle ontwikkeling behou.

In hierdie lig beskou is die grootste bate wat enige land vandag kan hê inderdaad hulle produserende kommersiële boere. In Suid-Afrika sit ons reeds met ongeveer 68% van ons land se inwoners wat verstedelik is. ʼn Mens sou dus verwag dat die regering alles in sy vermoë sou doen om ʼn omgewing daar te stel waar die kommersiële boere hulle taak met so min as moontlik hindernisse kan uitvoer.

Die afstand tussen verbruiker en boer is in baie gevalle onnodig lank en elke instelling wat daarbinne ʼn rol speel, bring ʼn bykomende kostefaktor saam. Soos TLU SA reeds jare gelede die Pretoria Boeremark met groot sukses begin het om juis daardie afstand te verkort, kan elke gemeenskap in die land dit ondersoek om te kyk of hulle nie ook ʼn soortgelyke mark volgens hulle behoefte en eiesoortige omstandighede kan begin nie. Enige gemeenskap is welkom om by Pretoria Boeremark te kom kers opsteek in dié verband.

Die afgelope tyd moes die boere met hulle produksieproses in vele opsigte dramaties hoër koste beding. Voedselpryse het vir die verbruiker skerp gestyg en produkte in die waardeketting wat afhanklik is van die koue ketting se raklewe is soms nie meer dieselfde as waaraan ons gewoond was nie. Nadat die produkte die plaas verlaat, is die hantering daarvan buite die boere se beheer. Beurtkrag het ook ʼn groot invloed op die raklewe, wat uiteindelik vir die verbruiker ʼn swakker produk daarstel.

Boere is aan die inset- sowel as die uitsetkant prysnemers, wat hulle veral met groente, maar ook ander produkte, soms in ʼn posisie stel waar hulle produkte teen verliese moet verkoop. Dit is hier waar dit van groot waarde kan wees indien gemeenskappe ʼn eie boeremark begin ten einde die pad tussen boer en verbruiker so kort as moontlik te maak. Natuurlik sal daar skoolgeld betaal moet word om ʼn eiesoortige mark volgens plaaslike behoefte daar te stel.

Hoe gouer iemand in ʼn gemeenskap die inisiatief neem en behoorlike huiswerk doen om te kyk hoe die boer en verbruiker baie nader aan mekaar kan beweeg ten opsigte van die voorsiening van voedsel, hoe vinniger kan die verbruiker hulleself in ʼn posisie van bekostigbare voedsel van hoë gehalte bevind.

Ons bring vandag hulde aan al die verbruikers in ons land en selfs oorsee, met dié dat heelparty produkte uitgevoer word. Dit het dalk tyd geword dat, soos wat ons boere op ons forums sake bespreek oor hoe ons volhoubaar in produksie kan bly, daar dalk ʼn gespreksforum tussen die verbruikers en die boere moet ontstaan ten einde seker te maak dat voldoende, bekostigbare voedsel van gehalte op die tafels van die verbruikers sal land.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nommer 7 ·

Volgens “Trade Map” vermeerder SA voedsel produsente se uitvoere jaarliks. Tans word 50% van ons plaaslike landbou produkte uitgevoer. Die grootste risiko vir “nie meer kos op die tafel”, is dan voedsel uitvoere, tesame met invoerbelasting op voedsel invoere.

annie ·

Boere is die goud op die aarde, maar hulle het ook ‘n verantwoordelikheid tov gif-misbruik en die uitbuit van die verbruiker. Kos op die winkelrakke moet eers bekostigbaar wees voor dit kos op die tafel word. Boere sit met mag in hul hande van Bowe gegewe. Dit is ‘n voorreg en nie ‘n reg nie. Winkeliers as die middelman kan slu of verantwoordelik wees. Etiek is ter sprake. ‘n Massa hongeres is ‘n groot mag wat ‘n regering tot ‘n val kan dwing.

Manie ·

Boere moet aan ‘n legio internasionale standaarde voldoen om hulle produkte te kan uitvoer, onder andere gif gebruik ook.

Gert ·

Bring terug ouma se groente tuin van ouds. Vat 5 of 10 vierkante meter in die hoek van jou pragtige tog nuttelose grasperk en begin self jou kinders leer van groente tuin maak, selfs al doen jy dit net in “Plant bins” op jou stoep. Leer hulle dat dit al is hoe geld aan plante groei. Want elke ding wat jy eet uit jou groente tuin is geld wat nie uit jou beursie gehaal is vir daai ete of porsie daarvan nie. Ek dink ook dat net vrugtebome geplant moet word op boomplant dag.

Manie ·

Heeltemal reg, ‘n mens sal verbaas wees oor hoeveel groente jy uit ‘n “plant bin” van 6m x 1m kan kry.

OW ·

Dit is ‘n goeie idee,maar in die stede is dit baie moeiliker om ‘stuk van jou erf te neem en dink jy gaan ‘n groentetuin of vrugteboord begin.Alles moet toegemaak word met sifdraad of skadunet,want al wat eet,pes en plaag is hier.Dit laat ‘n mens wonder of die kool die sous werd is.

Kobus ·

Dankie vir die berig. Dit het my n briljante idee gegee hoe om koste in die ketting tussen die boer en verbruiker te verminder. Ek gaan gou my somme maak! Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.